Prof. Johan Janse van Rensburg

1 Die implisiete leser as die teiken

Dit is ‘n lywige dokument wat pas bekend gestel is. ‘n Deeglike en omvattende teologiese refleksie is dus op hierdie stadium nie moontlik nie. Aangesien die dokument aan die Algemene Sinode voorgelê word, is dit dringend noodsaaklik om enkele opmerkings te maak. Let daarop dat hierdie opmerkings net oor die inleiding tot die dokument handel. Dit word as belangrik beskou omdat dit die benadering, metodiek en doelwitte van die dokument bepaal. Paragraaf 1 verduidelik self: “Dié implisiete lesers bepaal sowel die inhoud as formaat van die uitleg – vanaf temas en vrae wat bespreek word tot die vlak van aanbieding wat gevolg word”. Dit is vreemd dat die inhoud van die interpretasie van die Apostolicum deur die “implisiete leser” bepaal word. Die vertrekpunt is dus nie die hermeneutiese verstaan van die relevante Skrifgedeeltes nie, maar “die implisiete leser”. Paragraaf 13 en 14 sluit hierby aan deur daarop te wys dat die wye verskeidenheid van mense se behoeftes en verwagtinge’n groot rol speel in die aard van die eietydse uitleg. Nie minder nie as vyf verskillende verwagtings van ‘n eietydse interpretasie word genoem. Dit dek so ‘n groot veld en wye verskeidenheid dat dit onmoontlik is om te hoop dat aan al dié verwagtings voldoen sal kan word. Wanneer alles gesê en gedoen, beskryf en verduidelik is, sal daar nog steeds onvergenoegdheid, ontevredenheid en frustrasie wees. Die knellende vraag is: “Hoe los so ‘n poging soos hierdie die problem wat aan die begin geïdentifiseer is, op? Meer nog: “As die doel is om aan die wye verskeidenheid van verwagtinge te voldoen, wanneer gaan daar ‘n situasie bereik word waar almal se verwagtinge beantwoord word?” Is dit nie ‘n klassieke geval van “almal tevrede probeer stel beteken dat niemand uiteindelik tevrede is?” nie. In opsigtelike teenstrydigheid skryf die opstellers dan tog: “Dit is gevolglik ’n tragiese eietydse misverstand om dié eie aard van die credo te misken en dit te wil benader en beoordeel as iets van ’n ander genre of aard as waarvoor dit bedoel is”. Die vraag is uiteindelik: “Bepaal die eie aard en doel by die opstel van die Apostolicum die eietydse interpretasie of die verwagtinge van die implisiete leser?”

2 ‘n Dialektiese styl

Die dialektiese (lees: teenstrydige) styl van die dokument duik telkens op. By paragraaf 7 word die samebinding ondanks alle onderlinge verskille, “wat ‘n onderskatte bydrae tot die eietydse interpretasie gee”, aan die einde van die paragraaf gekontrasteer met die stelling dat die ekumeniese simbole “oop is vir ’n onoorsigtelike rykdom en veelvoud van interpretasies – in liturgie, leer en lewe”. Hoe op aarde kan die onoorsigtelike rykdom en veelheid van interpretasies ‘n samebindende effek op gelowiges hê? Tóg waarsku die opstellers “Dit sou gevolglik eweneens ’n tragiese eietydse misverstand wees om spesifieke uitlegte van dié simbole – hetsy van liturgie, leer of lewe – te vereenselwig met die simbool self en om ander strominge, sieninge of lewenstyle alte maklik te wou uitsluit van dié gemeenskaplike geloof” . As die uitleg dus wegbeweeg van spesifieke vaste inhoudelike uitlegte, kan die ekumeniese doel van samebinding bereik word. Maar dan word die eie aard en doel van die credo weer prysgegee ter wille van die ekumeniese samebinding terwyl dit juis deur die opstellers bepleit word dat hierdie eie aard en doel gehandhaaf moet word.. Só word juis teen die doel van die credo verraad gepleeg .

3 Eietyds die hermeneitiese sleutel.

Paragraaf 9 wys op die noodsaaklikheid dat die kerk voortdurend krities sou vra of die ekumeniese belydenisse as credos “steeds sinvol is, toereikend, nuttig, genoegsaam, geloofwaardig, of watter norm ook al aangelê sou word in elke eietydse oomblik. Ook die ómgekeerde kritiese vrae het dus hulle goeie reg en noodsaaklike plek. As historiese en menslike dokumente is die geloofsbelydenisse immers nie self bo kritiek verhewe nie. Laat hulle reg geskied aan die Bybelse getuienis aangaande die evangelie – of behoort hulle aangevul te word ten einde hulle meer omvattend te maak? Is hulle duidelik genoeg – of behoort die insigte van die kerk-geskiedenis daarná ook ingesluit te word ten einde uitsluitsel te gee oor omstrede sake? Is hulle taal, hulle woordgebruik, hulle terme en uitdrukkings, hulle voorstellings nie vir eietydse hoorders onbegryplik en vreemd, of selfs onaanvaarbaar en steurend nie? Is hulle uitsprake en aansprake nie vir eietydse mense verouderd, ongeloofwaardig, agterhaal nie? Is die kennis waarvan hulle uitgaan en die waarheid wat hulle verkondig nie reeds as primitief, selfs as vals, ontmasker deur die ontwikkelinge van navorsing en wetenskap nie? Behoort hulle nie as geheel by ’n gedateerde wêreldbeeld wat vandag nie meer eietydse mense aan-spreek nie? Teen die agtergrond van sulke vrae is dit goed begryplik en volkome legitiem, selfs noodsaaklik dat die kerk telkens weer, ook vandag in vele kontekste, gedring word om nié net te vra na hoe die ekumeniese belydenisse steeds kan funksioneer nie, maar nog méér fundamenteel te vra of dié ekumeniese belydenisse inderdaad steeds as belydenisse (as eksistensiële credo’s, as samebindende simbole, as normatiewe spreekreëls) behóórt te funksioneer, en of hulle nie ten minste deur die filter, die sif, die kritiese toetsing van eietydse wêreldbeelde behoort te gaan ten einde vas te stel wat nog van hulle oorbly nie” Hierdie formulering laat geen twyfel nie dat die Apostolicum aan die hand van die hermeneutiese sleutel van kontekstualiteit gemeet word. Die aard en formulering van die vrae is duidelik afgestem op die betwyfeling van die bestaansreg en bruikbaarheid van die credo in ‘n postmoderne tyd. Weliswaar is dit tipiese vrae wat oor die credos gevra word, maar die opstellers laat hierdie vrae eenvoudig in die lig hang sonder om krities daarop te reflekteer terwyl later opmerkings die indruk skep dat die opstellers simpatiek teenoor hierdie kontekstuele vertrepunt staan. As die credos deur die sif van ‘n kontesktuele hermeneutiek gegaan het, sal vasgestel kan word “wat nog van hulle oorbly”, skryf die opstellers!

4 ‘n Digotomistiese hantering van die Apostolicum

Die opstellers van die dokument maak ‘n vreemde onderskeid in paragraaf 14 tussen die Apostolicum as dokument en die apostoliese geloof. Dit word verwerp dat die Apostolicum ‘n dokument is “wat om een of ander rede spesiale gesag geniet, en elke keer weer eietyds uitgelê moet word sodat gelowiges vandag opnuut kan weet wat hulle behoort te glo, of sterker nog, wat hulle móét glo. Van werklike gewig en belang is eerder die apostoliese geloof in en agter die dokument, die apostoliese geloof wat sowel in die Apostoliese Geloofsbelydenis (en al sy vele voorlopers en vroeëre variante) asook in Nicea ’n neerslag gevind het en wat as persoonlike (credo), gemeenskaplike (simbool), normatiewe riglyn (reël) vir die geloof óraloor gegeld het en geld”. Daarenteen, as die oorspronklike eie aard, doel en inhoud van die Apostolicum gehandhaaf word, kan die inhoud van die dokument nie van die dokument geskei word nie.. Hierdie skeiding word deur die opstellers soos volg gemotiveer: “Baie mense het die vertroue verloor om langer te bely dat wat hulle glo wáár mag wees. Vir hulle is dit genoeg om met lojaliteit te staan by wat hulle uit vrye keuse besluit het om te glo en te wees. Vir baie mense is die inhoud van die apostoliese geloof gevolglik nie soseer beloftes waarop hulle vertrou nie, maar veeleer menings wat hulle besluit het om te huldig”. Maar dán word die misbruik van die Apostolicum deur sommige die maatstaf waarvolgens die skeiding tussen die dokument en die belydenis gemotiveer word. Natuurlik moet die inhoud van die Apostolicum nie net “opgesê” word nie, maar ook in leer en lewe geglo word. Hulle staan dus nie teenoor mekaar nie, maar verteenwoordig twee kante van dieselfde saak. Op die vraag :”Wat glo jy” kan na die inhoud van die Apostolicum verwys word. Die vraagsteller sal dan aan die lewe en gesindheid van die persoon kan sien of die geloof werklik is. So word die eenheid tussen fides qua en fides quae gehandhaaf (paragraaf 24).

By paragraaf 45 vind ons nóg ‘n ongemaklike digotomie. ‘n Onderskeid word tussen ‘n belydeniskerk en ’n belydende kerk getref. Hiervolgens slaan belydeniskerke op dié kerke wat belydenisse (en belydenisskrifte) het en selfs hoë waarde daaraan mag heg, maar op dié manier dat dit as ’n soort wetboek funksioneer, met woorde en uitsprake wat presies gehandhaaf en netso herhaal moet word (ten einde nie te dwaal nie), maar sonder dat dié belydenisse konkrete riglyne bied in eietydse krisisse. Daarteenoor dui ’n belydende kerk dan op dié kerke wat eerder klem lê op die konkrete uitlewe van hulle diepste oortuigings in die aangesig van die nuwe, eietydse uitdagings. Hierdie onderskeid gaan nie in alle opsigte op nie en is ook nie ewe bruikbaar nie. ‘n Belydende kerk moet tog ook ‘n belydenis hë om te kan getuig en saam te stem oor wát bely en geleef word. ‘n Ware belydeniskerk is en moet dus ook ‘n belydende kerk wees. Hulle staan nie teenoor mekaar nie maar behoort in tandem hanteer te word. Die doel van ‘n belydenis is immers wél om saam te vat en te formuleer wat ons glo (‘n belydeniskerk). Dit moet egter ook in konteks geglo, geleer en geleef word (belydende kerk). Eersgenoemde sonder laasgenoemde maak van ‘n belydenis ‘n kragtelose dokument. Laasgenoemde sonder eersgenoemde laat die willekeur oop vir elkeen om self te besluit wat en hoe hulle glo. Daarmee is die eenheidsdoelstelling van ‘n belydenis, wat deur die eietydse uitleg van die Apostolicum bepleit word, gerelativeer.

5 Net een inhoud?

Die opstellers van die eietydse interpretasie se metodiek is veral verdag wanneer uitdruklik gesuggereer word “dat dit in die Apostoliese Geloofsbelydenis gaan om één belydenis aangaande God Drie-enig, en nié om ’n aantal losstaande artikels, stellings, formuleringe, uitsprake of feite wat los van mekaar, een-een en elkeen afsonderlik, sin maak en geglo moet word soos items op ’n lys nie”. En weer: “Dit gaan nie om twaalf afsonderlike artikels nie maar om die enkelvoudige belydenis van die apostoliese geloof dat God Drie-enig is”. Hierdie hermeneutiese benadering is so ingrypend dat afsonderlik enkele opmerkings gemaak moet word:

5.1 Die wyse waarop Calvyn by paragraaf 25 ingespan word om die sogenaamde enkelvoudige belydenis te regverdig, is hoogs bedenklik. Immers, daar word in dieselfde paragraaf gesê dat Calvyn nie wou teken nie (ter wille van die ondersteuning van ‘n enkelvoudige belydenis) en dan weer dat Calvyn wél later geteken het.

5.2 Dit is onmoontlik om te konkludeer dat dit in die Apostolicum om die Drie-enige God handel indien die onderskeie artikels van die Apostolicum nie ook individueel ernstig geneem word nie. Hoe kan tot God as ‘n Drie-enige God gekonkludeer word as die Seun nie saam met die Vader “Seun van God “ genoem word nie en as die Gees nie in dieselfde asem met die Vader en Seun genoem is nie?

5.3 Hoe kan dit hoegenaamd beweer word dat dit “nie om twaalf afsonderlike artikels” handel nie, terwyl die kerk van die vroegste tye af die belydenis van die afsonderlike artikels as geloofsoortuiging gehandhaaf het? Die afsonderlike artikels staan tog immers in die lig van die Skrif vas.

5.4 Wat is die verskuilde bedoeling om te beweer dat die Apostolicum nie oor afsonderlike waarhede handel wat geglo moet word nie? Word die weg daarmee voorberei om later by die afsonderlike interpretasies ‘n post-moderne interpretasie van die geboorte uit die maagd Maria, die opstanding uit die dode, ensovoorts te gee? Relativeer dit nie die waarheid van die onderskeie artikels nie?

5.5 Waarom spandeer die opstellers dan soveel aandag aan die eietydse interpretasie van die onderskeie artikels van die Apostolicum as dit nie om afsonderlike artikels gaan nie maar om die een belydenis van die die Drie-eenheid?

6 ‘n Spekulatiewe benadering

Paragraaf 40 sê: “Die uitleg van die Apostoliese Geloofsbelydenis kan ook ’n verduideliking behels van wat inderdaad nié daar staan nie” Hoe op aarde kan die uitleg van die Apostolicum bepaal word deur wat nie daar staan nie. As alles wat nie in die credo staan nie, opgenoem en behandel moet word, soos inderdaad by paragraaf 41 opgenoem word, het jy juis ‘n lywige dokument soos die eietydse uitleg. Die opstellers sê juis dat hulle nie ‘n kleine dogmatiek wil skryf nie. Om egter aan alles wat nie daar staan nie, aandag te gee of in aanmerking te neem, sal niks minder as ‘n kleine dogmatiek verg nie. Dit is trouens ‘n kenmerk van die opstellers se skryfstyl dat hulle vraag op vraag en spekulasie op spekulasie opstapel. Lees ‘n bietjie die dokument en sien self hoeveel vrae aanmekaar opgestapel word. Verskeie moontlikhede word vir een navraag genoem. Dit kan só of só wees; dit kan dit of dát behels; daar kan dié of daardie moontlikhede wees; die behoefte aan ‘n eietydse interpretasie kan sus of so wees, nimmereindigende moontlikhede. As sodanig raak dit kant nog wal en word ‘n mens in die duister gelaat oor waarheen dit alles op weg is. Wat is nou eintlik die bedoeling met hierdie eietydse uitleg en wat word nou presies met hierdie interpreatsie bereik?

7 Die gebruikswaarde

Die praktiese vraag wat oor alles hang is die volgende: “Vir wie is die dokument geskryf?” Die skryfstyl is ingewikkeld; die vertrekpunte is verstrengeld; die gegewens en beredenering dikwels spekulatief, met ‘n oop einde in tipies post-moderne styl. Daarbenewens is die dokument baie lank. Dit is hoogs onwaarskynlik dat lidmate dit sal lees. Dit is selfs te betwyfel of die bedrywige gemeente-predikant dit sal deurwerk en bestudeer. Vir wie is die dokument dus bedoel? Waarskynlik vir ‘n Algemene Sinode wat dit moet goedkeur om daarmee die volgende doelwitte te bereik:

  • Om ‘n radikaal nuwe beskouing oor die status van ‘n belydenisskrif te gee. As hierdie dokument deur die Algemene Sinode aanvaar word, sal die manier waarop ons belydenisskrifte verstaan en hanteer, vir altyd verander en sal ons waarskynlik met die res van die gereformeerde wêreld uit pas wees. Die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika het reeds geweier om op grond van leerstellige verskille met die N.G. Kerk ‘n dokument van ooreenkoms te teken.
  • Om nuwe en wyer interpretasies van bestaande geloofswaarhede moontlik te maak en te snaksioneer.
  • Om die bindende karakter van ‘n belydenisskrif te onttroon. Daarmee is die quae-aanvaarding van die belydenis van die baan en word die weg voorberei om die Belydenis van Belhar ‘n opsionele belydenis te maak. Uiteiendelik sal alle belydenisskrifte opsioneel word met ‘n eie(tydse) interpretasie.
  • Om aan die gereformeerde belydenis en identiteit ‘n wyer inklusiwiteit te gee sodat die beginsel van diversiteit tot die uiterste deurgevoer kan word.

8 SLOTOPMERKING

Ek het in hierdie reaksie op die dokument slegs op die inleidende opmerkings gekonsentreer omdat die benadering van die opstellers hieruit baie duidelik blyk. Die sake wat genoem is (en ek vermoed dat daar ook ander probleme uitgewys kan word), maak dit baie duidelik dat hierdie ‘n dokument is met soveel angels dat dit onnoembae skade, verwarring en verdeeldheid in die kerk gaan veroorsaak. Dan het ons nog nie eens ‘n woord oor die individuele artikels gesê nie!

Ek bied hierdie dokument aan as my bydrae tot die teologiese gesprek, aangesien ek nie by die Algemene Sinode sal wees nie.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: