Titel

Die brief is vernoem na Judas, die skrywer van die brief.
 

Skrywer

Die skrywer noem homself “‘n dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus”. Hy was na alle waarskynlikheid een van die half broers van Jesus. Matt. 13:55 en Mark. 6:3 noem die name van die broers van Jesus: Jakobus, Joses, Judas, Simon.

Hy was self nooit een van die apostels nie, en verwys ook in die brief na die apostels op so ‘n wyse dat dit duidelik is dat hy nie deel van hulle was nie. Een van die kriteria vir aanvaarding in die kanon, was apostoliese gesag, hetsy self ‘n apostel of baie naby aan een van die apostels. Jakobus, sy oudste broer, was ook nie ‘n apostel nie. Al die broers van Jesus het Hom aanvanklik verwerp (Joh. 7:5). Na Jesus se opstanding het Hy aan Jakobus verskyn voordat Hy aan sy apostels verskyn het (1 Kor. 15:7). Jakobus en die ander broers het gevolglik almal tot inkeer gekom na Jesus se dood en opstanding (Hand. 1:14). Jakobus sou later ‘n prominente leier in die kerk in Jerusalem word en was volgens Gal. 2:9, saam met Petrus en Johannes, as ‘n pilaar van die kerk beskou. Judas verbintenis met sy broer Jakobus sou hom so as gesaghebbend bestempel. Ook omdat hy ooggetuie was van Jesus se lewe, dood en opstanding maak sy brief gesaghebbend.

In dieselfde wyse as sy broer Jakobus, identifiseer hy homself nie as die “broer van Jesus” nie, maar as “‘n dienskneg van Jesus Christus”. Hiermee dui hy sy geestelike verhouding tot Jesus eerder as gesinsverhouding aan.
 

Datering

‘n Sleutel in die datering van die brief lê in die gebruik van 2 Petrus:
 

  • Die inhoud van 2 Petrus 2:1-3:4 korrelleer baie nou met vv. 4-18; 

  • 2 Petrus waarsku duidelik dat valse leraars sal kom (2:1,2; 3:3) terwyl met Judas hulle alreeds gearriveer het (vv. 4, 11, 12, 17, 18); 

  • Judas haal 2 Petrus 3:3 byna woord vir woord aan in v18 en skryf dit toe aan apostels (v17).

Petrus is volgens oorlewering dood onder die bewind van en vervolging deur Nero wat in 68 n.C. dood is. Die brief is geskryf terwyl Petrus baie bewus was van sy komende dood (2 Pet 1:14). 2 Petrus is geskryf ongeveer 67-68 n.C. Indien ons dan aanvaar dat Judas van 2 Petrus gebruik maak, moes dit na hierdie datum geskryf wees. In 70 n.C. word Jerusalem verwoes. Aangesien Judas glad nie melding hiervan maak nie, lyk die mees aanvaarbare datering na 2 Petrus en voor 70 n.C., dus ca. 68-70 n.C.

 

Ontvangers

Histories wil dit voorkom asof Judas vir ‘n oorwegend Joodse gemeenskap skrywe. Die sterk Joodse verwysings in die brief verwys hierna. Wat wel duidelik is, is dat die gehoor vir wie hy skrywe gebuk gaan onder ‘n sterk invloed van valse leraars (v4).

Hy identifiseer wel die geestelike karakter van sy gehoor in vers 1:
 

  • hulle was geroep: “aan die wat geroep”

  • hulle was afgesonder in God die Vader: “in God die Vader geheilig”

  • hulle is veilig bewaar: “en vir Jesus Christus bewaar is”

Hierdie geestelike karakter het sterk betekenis binne die konteks van die brief aan ‘n groep gelowiges wat gepla is deur dwaalleraars. Wat ook opval is die ongeforseerde verwysing van die Drie-Eenheid, naamlik die Heilige Gees wat roep, die heiliging in die Vader en die bewaring vir Jesus Christus.

 

Historiese Agtergrond

Met die datering van ca. 68-70 n.C. skrywe Judas hierdie brief in ‘n tyd toe die Christendom onder geweldige politieke aanslag van Rome moes deurloop en geestelike aanvegtinge van valse leraars moes verduur. Behalwe vir Johannes, is al die apostels gedood vir hulle geloof in die Here Jesus Christus. Met die apostels nie meer beskikbaar nie, was dit moeilike tye vir die kerk en moes hulle veg vir die leer wat die apostels aan hulle oorgelewer het. Die verwaarlosing hiervan, sou noodwendig lei tot verval in leer en lewe.
 

Doel

Die oorkoepelende doel van die brief word vervat in v3:

“… om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.”

Dit is ‘n afwyking van die oorspronklike doel, naamlik 

“om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe” (v3).

Die rede vir hierdie afwyking word in v4 ingelui:

“Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.”

Dus het daar ‘n situasie ontstaan waarin sekere persone ingekom het en met hulle leefwyse die Here Jesus Christus verloën het. Daarom was dit nodig vir Judas om sy oorspronklike doel met sy skrywe aan te pas om die gelowiges te vermaan om te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.
 

Teologiese Temas

Judas is gefokus op die probleem van dwaling, wat bestaan in ‘n afwyking van bybelse geloof. Daarom is dit belangrik dat die gelowiges ernstig stry vir die behoud van “die geloof eenmaal aan die heiliges oorgelewer” is.

Hy maak mildelik gebruik van illustrasies uit die Ou Testament geskiedenis om die oordeel oor en karakter van die dwaalleraars te beskryf. Hierdie illustrasies sluit in 
 

  • die uittog (v5)

  • die rebellie van die geesteswêreld (v6)

  • Sodom en Gomorra (v7)

  • Moses se dood (v9)

  • Kain (v11)

  • Bileam (v11)

  • Korag (v11)

  • Henog (vv. 14-15)

  • Adam (v14)

Judas beskrywe ook in detail die korrupte morele karakter van die dwaalleraars. Hy verduidelik nêrens die inhoud van hulle valse leerstellings nie, maar die uitwysing van die morele karakter en nuttelose bediening is genoeg om hulle valsheid aan die lig te bring.

 

Plek in die Kanon

Judas is die laaste van die 8 sogenaamde algemene briewe in die Nuwe Testament. Die ander 7 is Hebreërs, Jakobus, 1 en 2 Petrus, 1, 2 en 3 Johannes.

In die Kanon van Muratori word Judas aanvaar as een van die kanonieke, met ander woorde gesaghebbende, dokumente wat in die kerk gelees behoort te word. Die familieverbintenis met Jakobus, die leier van die kerk in Jerusalem, die feit dat hy ooggetuie was van die lewe, dood en opstanding van Jesus en die inhoud van die brief het beslis bygedra tot die aanvaarding van die brief in die kanon.

Verder is daar die bevestiging deur Klement van Rome (ca. 96 n.C.) en Klement van Alexandrië (ca. 200 n.C.) dat die brief van Judas outentiek is.

Kwessies wat die kanonisiteit bevraagteken het, was die feit dat 2 Petrus deur Judas aangehaal word en nie andersom nie. Sou dit andersom wees, sou dit beteken Judas is deur die Apostel Petrus as gesaghebbend beskou. ‘n Verdere kwessie is ook die verwysing van “buitebybelse” bronne, naamlik 1 Henog (v14) en die Hemelvaart van Moses (v9).
 

Literêre Vorm

Die oorkoepelende is dié van die Nuwe Testamentiese brief, met duidelike struktuur:
 

  • Opening en seëngroet (vv. 1-2)

  • Liggaam (vv. 3-23)

  • Afsluiting (vv. 24-25)

 

Struktuur

1. Opening en Seëngroet (vv. 1-2)
2. Vermaning om te veg vir die waarheid (vv.3-4)
    2.1 Vermaning (v3)
    2.2 Rede is valse profete (v4)
3. Immorele karakter en gevolglike oordeel oor die valse leraars (vv. 5-16)
    3.1 Oordeel gereserveer vir valse leraars (vv. 5–7)         
         3.1.1. Die analogie van Egipte  (v5)         
         3.1.2. Die analogie van die rebelse engele (v6)         
         3.1.3. Die analogie van Sodom en Gomorra (v7)     
    3.2 Die aard van die valse leraars (vv. 8–13)         
         3.2.1. Die valse leraars is lasteraars (vv. 8–10)         
         3.2.2. Die valse leraars gemotiveer deur gierigheid (v11)         
         3.2.3. Die valse leraars toonbeeld van verdorwenheid (vv. 12–13)     
    3.3 Oordeel oor die valse leraars vervat (vv. 14–16)         
         3.3.1. Beskrywing van die oordeel (vv. 14–15)         
         3.3.2. Verdere redes vir oordeel (v16)
4. Slot vermanings (vv. 17–23)     
   4.1 Die apostoliese waarskuwings (vv.17–19)     
   4.2 Die teenvoeter teen valse leraars (vv. 20–21)
   4.3 Betoning van barmhartigheid (vv. 22–23)     
5. Lofrede en afsluiting (vv. 24–25)

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: