Is die sogenaamde “maagdelike geboorte” van die Here Jesus werklik so groot issue vir ons geloof in Hom? Kan ons nie maar net verby die onmoontlikheid daarvan kyk, dit rasionaliseer en maak asof dit nie ons geloof raak nie? Immers, ons is tog in ‘n postmoderne wêreld waar die wetenskap tog al bewys het dat sulke goed werklik nie kan gebeur nie. 

Dr. Ben du Toit is hiervan oortuig. In sy postmoderne kyk na die Skrif, kan hy net eenvoudig nie sien dat so iets hoegenaamd moontlik is nie. Hy probeer ook die belangrikheid van hierdie moment vir die geloof in Christus wegredeneer as dat dit in elk geval nie sentraal staan vir die kerk nie. Of Christus dan nou tog wel ‘n aardse pa sou hê aldan nie, maak dus vir hom geen verskil oor wie Jesus van Nasaret was nie. Hy skryf hieroor onder andere:

“Daarom sou ons vandag in die postmoderne kon vra: Is dit regtig nodig om in die maagdelike geboorte te glo as voorvereiste om Jesus as Verlosser te sien…? Hierop sou die antwoord wees: Dit maak nie regtig saak nie. Jesus se verlossingswerk berus nie op die maagdelike geboorte nie, maar op sy kruisdood en opstanding.”[1]

Prof. Andries van Aarde huldig natuurlik dieselfde oortuiging. Hy skryf die boek “Fatherless in Galilee”, waarin hy met oortuiging verwys daarna dat Jesus net ‘n gewone mens was met ‘n gewone aardse pa en ma. Die maagdelike geboorte is dus hoegenaamd nie nodig in ons verstaan oor wie Christus is nie. Jurie le Roux het nie ‘n probleem met Van Aarde se resultate nie:

“Sy boek vernietig inderdaad bestaande sieninge, maar dit help ons ook om ander nuwe perspektiewe op Jesus raak te sien.”[2]

Marcus Borg, lid van die Jesus Seminar en uitgesproke “Progressive Christian”, is ook hiervan oortuig. Jesus was volgens hom ‘n doodgewone Joodse mistikus wat homself beskou het as profeet van God.

Daar word beweer dat die Skrif baie stil en eintlik onduidelik is oor die maagdelike geboorte en juis as gevolg van hierdie stilswye en skynbare verwarring daaroor, word dit as onbelangrik beskou. Tog is die Skrif nie so onduidelik daaroor soos wat hulle dit wil hê nie. Dit is wel so dat daar nie baie verwys word na die maagdelike geboorte nie.

Beide Mattheus en Lukas verwys direk hierna, en val terug op profetiese uitsprake in Jesaja 7. Markus verwys glad nie hierna nie, en Johannes het ‘n ander inslag as hy oor die menswording van die Woord skrywe. In Mattheus 1:18 lees ons die volgende:

Die geboorte van Jesus Christus was dan só: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees.

Hier is ‘n paar sleutels in hierdie vers wat vir ons belangrik is. 
 

  • Maria en Josef was verloof en nie getroud nie. Alhoewel die verlowing as bindend beskou is in die midde-oosterse kultuur, was dit nog steeds nie ‘n huwelik nie. Daarom was die wette duidelik dat seksuele omgang nie toelaatbaar was nie. 

  • Dit is dan ook die tweede sleutel uit hierdie vers, naamlik “voor hulle saamgekom het”. Tussen Josef en Maria was daar dus tot op hierdie stadium geen sprake daarvan om oor die spreekwoordelike tou te trap nie. Ons lees ook iets hiervan in Josef se karakter in vers 19, naamlik “omdat hy regverdig was en onwillig om haar openbaar te maak”, was hy bereid om in die geheim van haar te skei. 

  • Die derde sleutel is dan die skokkende oorsaak van die swangerskap, naamlik die Heilige Gees. Wat hierdie vers dus duidelik uitspel is die maagdelike swangerskap van Maria wat deur die Heilige Gees bewerk is. Vers 20 bevestig dit weereens: want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees

Mattheus verklaar dit aan die hand van die vervulling van Jesaja 7:14:

En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd[3] sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons. (1:22-25)

Die vraag is nou wat word hier in Jesaja 7:14 bedoel met maagd. Die Hebreeus gebruik die woord “almah”[4], en hou die betekenis van jong meisie in. In Hebreeus is die spesifieke woord vir maagd dan ook “bthuwlah”[5]. Die gevolgtrekking word dan baie gemaklik gemaak dat die verwysing hier nie spesifiek na “maagd” is nie, maar na “jong meisie”. Met die vertaal van die Hebreeus na Grieks wat die LXX tot gevolg gehad het, het die vertalers dan gekies om die die woord “parthenos” soos deur Mattheus gebruik, in te span. Dus verstaan die LXX vertalers dit as ‘n maagd en word Mattheus deur die Heilige Gees ook so gelei om dit so te verduidelik.[6]

Lukas vertel vir ons die verhaal met meer fokus op Maria:

En in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na ‘n stad in Galiléa met die naam van Násaret, na ‘n maagd wat verloof was aan ‘n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria. En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue. En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken. En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie? En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word. En kyk, Elisabet, jou bloedverwant, het self ook ‘n seun ontvang in haar ouderdom, en hierdie maand is die sesde vir haar wat onvrugbaar genoem is. Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie. (1:26-37)

In vers 27 kry ons basies dieselfde gedagte as wat Mattheus vir ons verduidelik oor die meisie Maria wat ‘n maagd was en verloof was aan Josef:

na ‘n maagd wat verloof was aan ‘n man met die naam van Josef…

Verse 34, 35 en 37 verduidelik meer oor hierdie gebeur. Maria erken haar eie seksuele onskuld in vers 34. Sy erken dat sy geen man het nie. Die logiese interpretasie is dat sy hier verwys daarna dat omdat sy nie getroud is nie, daar nog geen seksuele omgang was nie, dus in haar oë is swangerskap buite die kwessie. Daarom die vraag “hoe kan dit wees”. Dan is daar die bevestiging van die derde punt hierbo, naamlik dat dit die werk van die Heilige Gees sal wees. Wees 37 is natuurlik ‘n doodskoot vir die skeptikus:

Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.

Dit word bevestig deur Elisabet se swangeskap wat ook onmoontlik is as gevolg van haar ouderdom, maar deur die ingrype van God is enigiets moontlik – selfs Maria se maagdelike swangerskap.

Dit wil tog blyk dat die maagdelike geboorte nie so vinnig van die tafel af gevee kan word as dat die Bybel nie erns maak daarmee nie. Die feit dat die Bybel nie baie daarna toe terugkom nie, maak dit egter nie minder of dan onbelangrik nie. Daar is ‘n paar belangrike aspekte wat hieruit belangrik is. Sou hierdie sake weggeneem word, dan laat dit ‘n geweldige gaping in die gelowige se mondering. Daarom dink ek ook dit is nie sonder meer dat die vroeë kerke juis die belydenis van die maagdelike geboorte van Christus in hul belydenisse opgeneem het nie. Die maagdelikheid van Maria was belangrik vir God in verlossingsplan. Hier is dan ‘n paar aspekte wat die maagdelike geboorte belangrik maak:  

– Dit bevestig die Skeppingsmag van God

Die Bybel leer ons dat natuurlike menslike voortplanting deel van die mens se lewe op aarde sou wees en God se seën ontvang het. Tog is dit nooit buite die kragtige hand van God wat selfs betrokke is by die vorming van die mens in die moederskoot as ‘n uitdrukking van sy skeppingsmag. Psalm 139:13-15:

Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.   

In die swangerskap van Maria, word dit tot die uiterste geneem. Die natuurlike proses word omseil en God doen direk ‘n skeppingswerk in die liggaam van hierdie jong maagd. By Hom is niks onmoontlik nie, selfs nie hierdie swangerskap nie. 

Dit wil my voorkom dat waar jy God nie meer as Skepper kan waardeer nie – wat die evolusieleer se direkte gevolg is, dan kan jy ook nie meer waardeer dat God selfs deur die natuurlike prosesse en grense kan breek en ‘n swangerskap kan skep wat onmoontlik is in die oë van die mens nie. In die maagdelike swangeskap van Maria het ons niks minder nie as ‘n skeppingswerk van God, wat net so groots en onmoontlik is as die opstanding uit die dood. Iemand stel dit tereg:

If miracle is rejected, then nothing impor­tant to Christianity can be retained.[7]

– Dit is ‘n bewys van die getrouheid van God aan sy beloftes

Amos is reg as hy oor God skryf dat Hy nie ‘n mens is dat Hy sou lieg nie! Inderdaad is die maagdelike swangerskap ‘n getuienis van God wat aan sy Woord getrou bly. Hy het vantevore deur die profete oor hierdie gebeure en dag gepraat. Dit is alles in die Skrif opgeteken. Selfs het Hy oor die maagdelikheid daarvan belowe (Jesaja 7:14). Die detail van God se beloftes is in die fynste besonderhede in vervulling gebring. God hou sy woord!

Indien die maagdelike geboorte nie belangrik is nie, dan is ook God se eie integriteit onbelangrik, en maak dit nie saak of Hy vandag sus of so sê nie. In die liberale teologie sien ons hierdie god wat nie getrou is aan sy woord nie. Trouens, hy het geen woord om op te staan nie. Die God van die Skrif daarenteen is in sy wese standvastig, getrou en wat Hy beloof, dit vervul Hy in die fynste besonderhede.

Dit versterk natuurlik die geloof van sy kinders in Hom en sy beloftes vir dié profesieë en beloftes wat nog in vervulling moet gaan. Om in ‘n wisselvallige leuengod te glo is vernietigend, maar die integriteit van God bevestig dat wat Hy nog moet vervul, sal Hy doen.

– Dit leer ons oor die goddelike aard van die genade van God

Nie alleen die beloftes en vervulling is deur God nie, maar ook die genade wat daarmee saam in die wêreld ingedra word se oorsprong is by God. Nêrens lees ons dat Maria of Josef gewilliglik aangemeld het vir ‘n moontlike gebruik hiervoor nie. Ons lees by albei van hulle menslike reaksies van skok, bevraagtekening, selfs wil Josef in die stilligheid die verlowing verbreek! 

Tog, lees ons in Lukas se vertelling telkens die gedagte van genade. Wees gegroet, begenadigde … want jy het genade by God gevind. Die hele sending van die Here Jesus spel die openbaarmaking van die vrye genade van God. Maria was maar slegs aan die ontvangkant. God het hierdie saak gedryf van begin tot einde en dit is hoe sy genade ook lyk. Geen mens kan dit verdien nie, geen mens kan opsign daarvoor nie, geen mens kan dit bestuur nie. Dit kom van God alleen en word deur Hom gegee.

Die genade van God word juis ook veronderstel in die woorde van Gebriël aan Josef:

…  en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.

Die verlossing van sondes is niks anders nie as ‘n geweldige genadewerk van God se kant, aangesien die juiste aard van sonde verhoed dat die mens op sy eie vermoëns kan vertrou om daarvan bevry te word. Wanneer Maria swanger word met Jesus, lê God se genade aan die basis daarvan.

– Dit lig die uniekheid van Christus uit

Ons kan nie twyfel daaraan dat enigeen wat kan sê hy is deur die Heilige Gees verwek ‘n groot UNIEK oor Hom geskryf het. Jesus Christus se maagdelike geboorte het sy hele lewe en bediening alreeds van die begin gemerk as iets wat nog nooit was nie en trouens ook nooit weer sal wees nie. Johannes vertel van sy menswording op ‘n unieke wyse, en veral 1:14 is treffend:

En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Die woord wat Johannes hier gebruik vir “eniggebore” dra nie alleen die gedagte van die enigste nie, maar het ook die idee van uniek, of dan “enig in sy soort”[8]. Dit is die juiste aanduiding van wie Christus is. Hy is uniek in verskillende aspekte:
 

  • Sy geboorte was uniek;

  • Sy lewe was sonder sonde en die chaos daarvan;

  • Die skares was verwonder oor die gesag wat Hy uitgeoefen het in lering, oor natuurelemente, siekte, bose geeste;

  • Sy offer aan die kruis was uniek;

  • Sy opstanding was uniek;

  • Sy hemelvaart was uniek;

  • Sy rol in die teenwoordigheid van God is uniek.

In kort, voor Hom was daar niemand soos Hy nie en daar sal ook nooit weer iemand wees soos Hy nie.

– Dit is bevestiging van die Godheid van Christus

Gabriël verduidelik iets belangriks aan Maria as hy vir haar sê dit wat met haar sal gebeur deur die werking van die Heilige Gees.

Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.

Hier verklaar die Skrif op aangrypende wyse wat agter die beskrywing / titel “Seun van God” bedoel word. Hy is Seun van God omdat Hy nie ‘n aardse pa het nie. Elke keer dat ons van Ho lees, oor Hom praat, tot Hom bid as die Seun van God, spring die maagdelikheid van Maria voorop. Interessant is dat die versoeking deur die duiwel juis gefokus het op Jesus as die “Seun van God”.

In die geskiedenis van die vasstelling van die leer van die Kerk, was daar die stryd oor die twee nature van Christus, naamlik die goddelike en die menslike en hoedat Jesus tegelyk God en mens kon wees. Die geloofsbelydenis van Nicea reflekteer hierdie stryd en die oortuiging van die kerk dat Jesus wel tegelyk God en mens in sy aardse bestaan was. Hierdie oortuiging word teruggevind in sy maagdelike geboorte. 

Dink aan die konsekwensies indien Jesus se pa ‘n normale mens was. Hy sou nie die beloofde Messias kon wees nie, Hy sou nie ‘n sondelose natuur gehad het nie, hy sou nie die perfekte plaasvervangende offer kon wees nie, hy sou nie kon bevry van die sondigheid nie omdat hy self daardeur verdorwe sou wees! Juis die goddelikheid van ons Here maak die boodskap oor Hom sinvol en bekragtig dit.

– Dit belig die perfektheid en sondeloosheid van Christus

Die perfekte offer om die mens met God te versoen kon nie minder as perfek wees nie. Ons leer hieroor in Hebreërs 9:11-14:

Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring. Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.

As Seun van God volgens geboorte, was Hy die perfekte, sondelose offer. Sonde het aan Hom geen vashou plek gekry nie. Die duiwel probeer Hom versoek tot sonde, maar kon die Seun van God nie daartoe oorhaal nie. Tot aan die kruis hoor die versoeking tot sonde:

As U die Seun van God is, kom af van die kruis! (Mattheus 27:40)

Maar Hy was nie die seun van ‘n man nie, Hy was juis die Seun van God wat sonder sonde in die wêreld ingekom het juis om die sonde van die wêreld weg te neem. Hy was die perfekte offer, en daarom kon Hy nie van die kruis afkom nie. Dit sou sy hele bedoeling hoekom Hy mens geword het vernietig.

– Dit sanksioneer ook die sending van Christus

Ten slotte moet ook opgemerk word dat die maagdelike geboorte aan die basis lê van sy goddelike sending. Gabriël sê ‘n paar dinge oor hierdie Seun wat so gebore sou word:
 

  • Hy sal die volk van hulle sonde verlos;

  • Hy sal groot wees;

  • Hy sal die Seun van die Allerhoogste genoem word;

  • Hy sal die troon van Koning Dawid ontvang vir ewig;

  • Hy sal die Heilige wees;

  • Hy sal die Seun van God genoem word;

Hierby ook nog die vervullingsperspektief van Mattheus en Jesaja, naamlik die teenwoordigheid van die Seun by sy volk.

Dit is duidelik dat sy roeping ‘n geweldige groot taak was. Hy was tegelykertyd die vervulling van profesiëe, die een wat die volk se toekoms in sy hande hou en die sonde op Hom sou neem. Al hierdie dinge word van Hom gesê in dieselfde asem as wat daar na die wyse van sy konsepsie en geboorte vewys word. Dit kan nie anders as samehangend gelees en verstaan te word nie. Hy sal  dit alles wees juis OMDAT Hy maagdelik gebore sou word. Die identiteit van sy hele bestaan op aarde was hierdeur bepaal.

Neem ons al hierdie gegewens in ag, kan ons nie anders as om te sê die maagdelike geboorte van Christus maak saak en dit speel ‘n geweldige groot rol in ons verstaan van Christus, sy persoon, sy sending, en ook ons eie identiteit as sy volgelinge. Ek wil amper sê dat indien ons hierdie leerstelling begin beveg, beveg ons die wese van ons verlossing. Dit is so dat ons nie aldag en heeldag hiernatoe terugverwys nie. Maar dit beteken nie dat dit nie fundamenteel deel van die mondering van die kerk is nie. Trouens, die kerk het dit so belangrik geag dat dit opgeneem is in die geloofsbelydenisse.

Die gevaar om dit te ontken word soos volg opgesom:

But to reject the virgin birth is to reject God’s Word, and disobe­dience is always serious. Further, disbelief in the virgin birth may lead to compromise in those other areas of doctrine with which it is vitally connected.[9]

Ons kan saam met die kerk deur die eeue bely dat ons glo in Jesus Christus, die Seun van God, gebore uit die maagd Maria.

 

Voetnotas

1. Dr. Ben du Toit, God? Geloof in ‘n postmoderne tyd, CLF Uitgewers, 2000, p148.
2. Jurie H. le Roux, Andries van Aarde se vaderlose Jesus, HTS Teologiese Studies / Theological Studies; Vol 58, No 1 (2002), 77-98 
3. παρθένος, (par-then’-os). Dit kan verwys na ‘n maagd, ‘n meisie wat nog nooit seksueel aktief was nie, of ‘n meisie wat in die huwelik afgegee kon word. Die konteks waarbinne Mattheus en Lukas dit gebruik dui op die seksuele reinheid van Maria ten tye van die gebeure. Sien Thayer’s Greek Definitions.
4. עַלמָה, (al-maw’)
5. בְּתוּלָה, (beth-oo-law’)
6. Ons het hier ‘n klassieke voorbeeld waar ons versigtig moet wees om sonder meer die leksikale betekenis te gebruik ten koste van die konteks waarbinne dit gebruik word.
7. http://www.frame-poythress.org/virgin-birth-of-jesus/
8. μονογενής (mon-og-en-ace’). Sien Thayer’s Greek Definitions; http://concordances.org/greek/3439.htm.
9. http://www.frame-poythress.org/virgin-birth-of-jesus/

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *