plaaslike kerk

Onlangs is ek die vraag gevra of dit werklik nog nodig is om aan ʼn kerk1 te behoort. Die vraag is nie so vreemd in die lig van die huidige stand van sake nie. Daar is die geweldige ontploffing in die digitale wêreld. Die internet bedien duisende gelowiges daagliks van onhanteerbaar baie geestelike inligting wat insluit preke, artikels, video’s, kort boodskappe, boeke, en nog baie meer. Met iTunes op jou rekenaar is jy “toegerus” met soveel geestelike materiaal dat jy vir jare net daarvan sou kon “oorleef” sou kerkwees net die luister na preke sou behels. Hierby is daar die massiewe sosiale netwerke wat by die dag net groter en groter raak – elkeen met sy eie opinies en benadering. Hierdie seekat met al sy tentakels wat oral daar is, maak dit moeilik om te dink dat ʼn mens werklik nog nodig het om aan ʼn plaaslike kerk te behoort. Wat kan die plaaslike kerk jou bied wat die digitale wêreld nie al reeds bied nie?

Voeg hierby die teologiese uiteenlopendheid van al die verskillende kerke, sommige daarvan dwalinge in terme van die tradisionele – of dan ortodokse – hantering van die Bybel, en die geldigheid van kerklidmaatskap staan maar op skynbaar “losse fondamente”. Wie wil in elk geval aan ʼn kerk behoort wat dwaling verkondig? Dit is so dat dwaling binne die kerk talle kerkloos laat, juis omdat valsheid so sterk op die voorgrond is in ons dag. Die argument wat baie gehoor word is dat dié wat die kerk verlaat as gevolg van dwaling moeg is om aan te hou soek vir die waarheid op plekke – en by name kerke – waar dwaling so maklik inkruip en mense aan die stuur is. Die wêreld van “Tablets”, “Smartphones” en dies meer, bied die perfekte “geestelike tuiste” waar die gelowige in beheer kan wees van dit wat gelees en geglo word.

Selfs die kultuur van die dag maak ʼn aanspraak op die lewe van die gelowige en dwing as’t ware die keuses tussen kerk en alledaagse lewe op ons af. ʼn Argument wat hier nogal handig te pas kom is dat ons nie net Sondag gelowiges moet wees nie, maar ons moet elke dag ons geloof uitleef. Hiermee sal ons nie kan stry nie, maar die uitvloeisel hiervan is dat die betrokkenheid by die plaaslike gemeente eerder beskou word as verbreking van hierdie beginsel in plaas van ʼn verdieping daarvan. Dus is gelowiges nie meer gefokus op die plaaslike gemeente nie, maar eerder op die alledaagse. ʼn Ongesonde dualisme tussen godsdiens en die praktiese alledaagse lewe is verseker iets om eerder te vermy. Tog beteken dit nie die pendulum moet heeltemal na die anderkant swaai om die sogenaamde verkeerde van die “ou tyd” te herstel nie.

Ek dink nie dit is te vergesog om te sê dat die kerk wel ʼn wesenlike bedreiging het in hierdie wêreld waarin ons onsself bevind nie. Baie kerke het natuurlik hierdie aanvegting raakgesien en so probeer om hulle identiteit te verander, ongelukkig weg van die ware identiteit volgens die Woord van God. ʼn Wesenlike aanpassing wat ons duidelik opmerk, is die aanvaarding van die kerk as ʼn kultuurgedrewe instelling wat die kultuur van die dag bedien. Daar is verandering van “missionêr”2 na “missionaal”, wat in wese ʼn aanpassing is na ʼn “sosiale evangelie” wat meer belangstel in die sosiale welsyn van die kultuur en omgewing, as die geestelike welsyn van die mense wat binne die kultuur leef.3 Kerke poog om hulle belydenisgrondslag te verander, om hul identiteit meer in lyn te bring met die sosio-politieke druk wat toegepas word.4 Verder is daar byvoorbeeld die druk om homoseksualiteit volledig te aanvaar binne die raamwerk van die kerk.5 Wat vantevore vanuit die Skrif as verkeerd en sonde beskou is, word sonder grondige teologiese oorwegings nou as reg aanvaar, selfs al moet die Bybel kultureel geïnterpreteer word om dit te verantwoord.

Die mens se oordrewe soeke na ervarings word ook al meer beklemtoon en geakkommodeer binne die ruimte van die kerk. Geestelike mistieke praktyke wat die mens tot een of ander vorm van “hoër” belewenis behoort te bring, word ingevoer en geleer asof dit die gewenste uitwerking sal hê om mense te hou by die “nuwe geloofsgemeenskappe”. Wie egter die menslike natuur ken, sal weet dat uiterlike foefies nie die drakrag het om mense geestelik vervuld te laat nie. Inteendeel, mense raak vinnig verveeld met foefies en bedink dan die volgende om die uitgediende programme te vervang.

Die vraag of “behoort aan die kerk” nog nodig is in ons dag is dus ongelooflik relevant gesien teen die agtergrond van wesenlike grensverskuiwings. Om by ʼn antwoord uit te kom, wil ek kyk na wat die Skrif ons leer oor die wese van die kerk. Ek reken dis maklik om pragmaties na die onderwerp te kyk, maar dit bied nie vir my die rede waarom daar so iets is wat kerk genoem word nie. ʼn Pragmatiese benadering is uitkomsgebaseerd, met ander woorde wat werk om ʼn bepaalde einddoel te verwesenlik, is aanvaarbaar. Tog laat dit weereens ruimte vir ʼn benadering waar “die doel heilig die middele” voorop staan. Ek reken dis weer nodig om te vra “hoekom is die kerk?” want dit sal vir ons die vraag antwoord “is die kerk nog relevant?” en rigting gee op die “wat is die gestalte van die kerk?”. Hierdie drie sake is grondliggend aan die vraag wat gevra word.

In hierdie artikel wil ek dan ook veral fokus op wat Paulus se brief aan die Efesiërs ons leer oor die kerk. Die gemeente in Éfese is seker die gemeente waarmee Paulus ʼn baie intensiewe pad moes loop. In sy eerste brief aan die Korintiërs skrywe Paulus dat hy in Éfese gaan bly tot Pinkster toe (16:8). Sy rede hiervoor is ʼn geopende deur wat oopgegaan het, ten spyte van hewige teenkanting (16:9). In Handelinge 19 kom Paulus op sy reis by Éfese aan (vers 1). Na ʼn baie vrugbare, maar ook moeilike tydperk wat beskrywe word in Handelinge 19, vertrek hy weg hiervandaan. In Handelinge 20:17 word vertel dat Paulus vanaf Miléte die ouderling van Éfese laat roep. Uit vers 31 word ons vertel dat hy vir drie jaar lank onder hulle gearbei het. Dit is duidelik dat hy ʼn baie spesiale plek vir hulle in sy hart moes hê. Hy laat die ouderlinge kom juis om hulle te vermaan om te waak en toesig te hou oor die “gemeente van God” (20:28). Uit Handelinge 20:18-38 is dit duidelik hoe Paulus oor hierdie kerk en die gelowiges daarin gevoel het. Sy besorgdheid was hulle geestelike welsyn en daarom die dringendheid van sy vermaning.

Paulus se betrokkenheid by hierdie kerk het nie hier geëindig nie. Hy sou nog steeds ʼn groot rol speel in die gelowiges daar se geestelike welstand. Later stuur hy dan ook die jong Timoteus hierheen om hulle te bedien in en deur ʼn tyd van dwaling (1 Timoteus 1:3). In ʼn sekere sin het dit waaroor hy besorg was (Handelinge 20:29-30) ʼn werklikheid geword en moes Timoteus in hierdie mynveld ingaan met die suiwer leer van die Skrif. Dus, selfs na sy vertrek uit Éfese, was Paulus nog net so betrokke by hierdie kerk soos wat hy was terwyl hy self onder hulle gewerk en bedien het. Voeg hierby dan nog die brief wat hy aan hulle geskrywe het, en dit is duidelik dat in die oortuiging van Paulus was die kerk nie sommer net nog iets om van die tafel af te vee nie. Behalwe dan ook vir die twee briewe aan Timoteus, die brief aan Titus en dié aan Filemon, is al sy ander briewe gerig aan plaaslike kerke. Trouens, Paulus is nie uniek in hierdie oortuiging van hom nie. Die hele Skrif adem die boodskap van God wat vir Homself ʼn unieke mensheid versamel.

Die Sigbare en Onsigbare Kerk

ʼn Argument wat baie gebruik word onder diegene wat verkies om nie aan ʼn kerk te behoort nie (vir watter rede dan ook al), is dat die ware kerk eintlik maar die “onsigbare kerk” is. Dis “sigbare kerk” is institusioneel en vol menslike swakheid en foute en kan daarom nie ondersteun word nie. Trouens, almal wat die Here Jesus as Verlosser aangeneem het en dien, behoort immers aan die onsigbare kerk en dit is al wat nodig is.

Hierdie dualisme, waar die “goeie” onsigbare met die “bose” sigbare vergelyk word, het eintlik maar min grond wanneer dit gemeet word aan beide wat die Skrif leer en hoe die gedagte rondom die “sigbare” en “onsigbare” kerk histories ontwikkel het. Die Skrif weet natuurlik niks van die begrippe sigbaar en onsigbaar nie. Hierdie is begrippe wat histories ontwikkel en verstaan is, en dit dan ook binne bepaalde historiese konteks.

Die Skrif praat nooit oor die kerk in dualistiese sin nie, maar altyd as die sigbare groepering van mense onder die heerskappy van Christus. Paulus, soos die ander skrywers van die Nuwe Testament, rig ALTYD sy briewe aan die plaaslike kerk. Hy maak nooit ʼn onderskeid wanneer hy skrywe om te kwalifiseer dat die brief is nou vir die “onsigbares” bedoel nie. Die Bybel ken maar net die een, sigbare volk van God. So was dit ook in die Ou Testament. God het met die volk as geheel gewerk, al was daar altyd die teenwoordigheid van die bose in hulle midde. Daarom leer die Skrif dat midde in, en deel van hierdie mensheid van God daar ʼn teenwoordigheid is van die sonde en die wêreld van die duiwel. Die beginsel van “nie almal is Israel wat aan Israel behoort nie” is hier van toepassing. Paulus het dit maar terdeë besef. In sy vermaning aan die ouderlinge van Éfese, kom dit mooi na vore as hy sê

“Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Handelinge 20:29-30).

Die Apostel Petrus verwys terug na die geskiedenis van die volk Israel om hierdie beginsel tuis te bring:

“Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ʼn vinnige verderf oor hulleself bring” (2 Petrus 2:1).

Die Apostel Johannes skrywe oor die Antichris en sy gees wat al aan die werk is wanneer hy die volgende neer pen:

“Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie” (1 Johannes 2:19).

Die beginsel is duidelik. Daar is maar een kerk wat die sigbare vergestalting is van die verlossing in Christus, maar nie almal wat aan hierdie kerk behoort, is gered nie en dit raak ook op die regte tyd duidelik vir die kerk sodat die kerk sy suiwer karakter kan bly nastreef. Trouens, ʼn studie van die aard van die verskillende kerke aan wie die briewe in die Nuwe Testament geskrywe is – insluitend die sewe briewe in Openbaring 2-3 – laat ons nekhare rys wanneer ons sien hoe diep die sonde tog wel in die mensdom gewortel is en hoedat dit selfs midde in die unieke groepering onder Christus se heerskappy tot uiting kom.

Dit is hierdie beginsel wat die kerkvaders, en veral dan die Reformasie, probeer vasvang het. Veral in die tyd van die Reformasie is die gedagte van die sigbare en onsigbare tot ʼn teologiese spits gedryf.6 Selfs die Westminster Confession bely in Artikel 25 die sigbare en onsigbare kerk, maar kwalifiseer dan dat die kerk nie in dualisme bestaan nie, maar as ʼn sigbare eenheid. In die Nederlandse belydenisse word daar nie onderskeid gemaak tussen onsigbare en sigbare kerk nie, maar wel tussen ware en valse kerk.

Om dus die gedagte van die onsigbare kerk, gekwalifiseer as die eintlike gelowiges, te gebruik as rede om nie aan ʼn kerk te behoort nie, is om die Bybelse beskouing van die kerk te verdraai. Daar is volgens die Skrif maar net een kerk, en dit is die een wat ons sien. Daar is wel elemente in hierdie kerk wat nie daar hoort nie, maar dit is dan tog nie die rede om terug te val op ʼn dualisme waar net die onsigbare eg is en die sigbare vals nie. Dit sou die identiteit, die rol en roeping van die kerk op soveel aspekte ontken. Dit sou in effek sanksionering gee aan ʼn nuwe soort kloosterdom, waar daar weer ontsnap word na die geestelike (internet) kloosters en onttrek word van die wêreld rondom ons.

Ek is oortuig daarvan dat die digitale wêreld waarin ons leef hierdie nuwe kloosterdom aanhelp. Dit bied vir talle wat ontnugter is deur wat hulle rondom hulle sien gebeur ʼn “veilige hawe”, ʼn “geestelike tuiste”, ʼn regverdiging om nie meer betrokke te wees by die wêreld rondom hulle nie. Soos in die kloosters van ouds, kan hulle kies wat hulle wil lees en hoe hulle wil lees sonder om “vervuil” te word deur die “sigbare” kerk wat so vol gebreke is. Vir ander is dit nie die internet nie, maar net die veilige skuilplek van hul eie huis. Daar waar niemand hulle hoef te konfronteer met die realiteit van die wêreld nie. Ons onbetrokke samelewing maak dit moontlik om monnike en nonne te wees binne ons eie wonings sonder steurnisse van buite. Wie gee in elk geval om oor hoe jy jouself geestelik voed?

Paulus skryf die brief aan die Efesiërs aan ʼn fisiese, sigbare kerk met baie gebreke, selfs dwaalleraars wat poog om baie agter hulle aan te mislei om hulle aan te spoor om werklik kerk te wees. Deur die hele brief is daar ʼn ondertoon oor die wese van die kerk wat die drakrag is vir die praktiese uitlewing van die geloof. Van die staanspoor af lê Paulus ʼn fondasie vanwaar hulle moet dink oor hulleself as kerk van Christus. Hy vlieg nie sommer in met ʼn klomp idees oor hoe om sopkombuise en dies meer op te rig sonder om eers vir hulle te vertel wie hulle is in Christus nie. Die verstaan van die WIE vorm die basis vorm vir die HOE van kerkwees.

Die kerk is deel van God se plan

ʼn Eerste gedagte wat soos ʼn goue draad deur hierdie brief loop is naamlik dat die kerk is onlosmaaklik deel van God se plan. Die taal van die eerste hoofstuk is hier belangrik. In die eerste 14 verse word ons voorgestel aan die “welbehae van sy wil” (vers 5), die “verborgenheid van sy wil” wat Hy bekend gemaak het “na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het” (vers 9), en die “voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil” (vers 11). In hiermee gedeelte is daar die belangrike Griekse woordjie kata7 wat 15 keer in hierdie brief gebruik word en 4 keer in die eerste hoofstuk. Hierdie voorvoegsel word gebruik om aan te dui dat iets is soos dit is omdat dit “volgens” of “in lyn met” iets wat aan die basis daarvan is, gebeur het.

Die eerste hiervan is verse 4 en 5, waar daar duidelik melding gemaak word van die uitverkiesing en voorbeskikking van God waardeur ons kinders van God word. Dit gebeur op die gronde van, of voortspruitende uit, die welbehae van sy wil. Dit is duidelik dat God se uitverkiesing en voorbeskikking nie die gevolg is van iets wat uit die mens kom of bewerk is nie. Daar word eerder verwys daarna dat ons God se kinders is in Christus as die EFFEK wat die uitverkiesing op ons het. Met ander woorde, ons het nie ons uitverkiesing VEROORSAAK nie, maar is op grond daarvan deel van God se uitverkore mensheid.  Die werklike oorsaak hiervan is suiwer die goedheid van God in sy wil om mense te versamel as ʼn nuwe mensheid.

In verse 6 tot 10 word ons geleer dat God se verlossingswerk ons bereik het as ʼn openbaring en vervulling van sy wil soos in verse 4-5 verduidelik. Wat vir ons doel hier van belang is is die doel waarom God se plan so uitgerol is in die volheid van die tye, naamlik dat alle dinge in die hemele en op die aarde onder een Hoof verenig moes word, naamlik Christus. Wat hier geskrywe is het ten doel om vir die kerk te laat verstaan dat God met ʼn ewige plan, ʼn plan wat die openbaring is van sy goedheid en die gee van genade behels, besig is en dat Hy die tye bestuur om hierdie plan uit te rol. Sy plan behels die kerk waaroor Christus aangestel is en alle gesag daaroor uitoefen. Hierdie beginsel kom baie mooi na vore in Openbaring 1 waar Johannes die verheerlikte Christus sien tussen die kandelare wat die sewe gemeentes verteenwoordig.

Verse 11-14 van Efesiërs 1 bring dit alles in verband met die plek van die gelowiges in hierdie raadsplan van God. Hulle is wat hulle is en waar hulle is omdat alles uitrol volgens die voorneme van God en sy soewereine bestuur van sy plan. Binne hierdie plan maak hy van hulle “erfgename” en verseël Hy hulle met sy Heilige Gees as bewys dat hulle die erfdeel sal ontvang.8

Hierdie plan van God het verrykende gevolge vir die verstaan van die kerk. Dit wat Paulus hier in hierdie verse beskrywe, vorm die basis van alles wat hy verder sou sê in die res van hierdie brief oor die gemeente van God. ʼn Belangrike moment in hierdie eerste paar verse is natuurlik waarom die kerk deel is van God se plan, en dit klink soos ʼn refrein, naamlik om tot lof van God se heerlikheid te wees. Deur die kerk word God se heerlikheid duidelik en sigbaar. Hierdie gedagte laat mens wonder hoe dit sou moontlik wees as gelowiges in hulle kloosters in begin verdwyn. Sou ons dan nog steeds God se heerlikheid kon uitbasuin? Dit is sigbaar waar die kerk sigbaar is. Dit is so duidelik uit die geskiedenis van Israel. Onthou toe die volk Jerigo moes inneem. Ragab sê aan die spioene die volgende:

“Ek weet dat die HERE die land aan julle gegee het en dat die skrik vir julle op ons geval het en dat al die inwoners van die land vir julle bewe; want ons het gehoor dat die HERE die water van die Skelfsee voor julle by jul uittog uit Egipte laat opdroog het en wat julle die twee konings van die Amoriete, Sihon en Og, oorkant die Jordaan aangedoen het, dat julle hulle met die banvloek getref het. Toe ons dit hoor, het ons hart gesmelt, sodat daar by niemand enige moed meer oorgebly het teenoor julle nie; want die HERE julle God, Hy is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder.” (Josua 2:9-11)

Dink aan die verhaal van Biléam en Balak en die rede waarom Balak so aangehou het dat Biléam vir Israel moes vervloek.

In Handelinge lees ons dieselfde, naamlik dat die kerk op ʼn kragtige en sigbare wyse, te midde van vervolging en swaarkry, die heerlikheid van God uitgestraal het. Die geskiedenis leer ons dit, dat waar die kerk sigbaar is wat dit behoort te wees, daar is die heerlikheid van God teenwoordig.

ʼn Onsigbare kerk kon dit nog nooit regkry nie en sal dit ook nooit in hierdie bedeling van tyd en ruimte soos ons dit ken regkry om te wees tot lof en heerlikheid van God nie.

Die kerk as Christus se uitgeroepenes

Die waarheid van die kerk wat so prominente plek het in die goeie en ewige plan van God, is nou genoeg om Paulus tot dank te laat oorgaan. Daarom dank hy God vanaf vers 15. In vers 22 tel hy die gedagte van vers 10 op. Die doel van God in sy raadsplan is die aanstel van Christus as Hoof oor alles en almal, en sluit in die hemele en die aarde. In vers 22 verduidelik Paulus meer hiervan op die basis van dit wat hy in verse 20-21 skrywe. Daar word drie groot momente in die lewe van Christus saamgebring om as ʼn eenheid die posisie van Christus te beklemtoon. Sy dood, sy opstanding en sy hemelvaart het alles ten doel dat Hy aangestel is as Hoof oor alles. Deur die krag van die Heilige Gees is Hy uit die dood opgewek en in die hemele opgeneem om daar sy regmatige plek as Heerser oor alles in te neem. Dan lees ons in vers 22 dat die uiteindelike van al hierdie gebeure is dat Christus as Hoof gegee is “aan die gemeente, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”

Hierdie vers toon ʼn geweldige diep inhoud oor die wese en rol van die kerk. Die eerste wat hier aangedui word is die kerk as God se uitgeroepenes. Die begrip wat in die 1933/53 vertaling hier as “gemeente” vertaal word,9 is die Griekse begrip ekklesia,10 ʼn samestelling tussen twee begrippe, naamlik “ek”11 wat beteken “uit” en “kaleo”12 wat beteken “roep”. Met ander woorde die kerk is die uitgeroepenes. Dit eggo natuurlik die gedagtes van die eerste 14 verse oor die raadsplan van God uitkies (vers 413). Die uitgeroepenes is die versameling van uitverkorenes volgens God se ewige raadsplan. John MacArthur stel dit as volg:

“The church is not something that accidentally came into being. It is the result of God’s predetermined, sovereign call.”14

Ook in 2 Timoteus 1:9:

“wat ons gered en geroep het met ʼn heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is.”

In die konteks waarteen Paulus skrywe is ʼn ekklesia verstaan as ʼn vergadering van mense. Hierdie gemeente sou dus presies verstaan waarna hy verwys wanneer hy hulle God se ekklesia noem, naamlik God se versameldes. Dit opsig self impliseer ʼn samebinding van mense met gedeelde belange, in hierdie geval die verlossing in Christus. Op grond daarvan is hulle onlosmaaklik deel van mekaar en dus ook verantwoordbaar teenoor mekaar en verantwoordelik vir mekaar.

Groeperings ontstaan nie maar sommer net nie. Wanneer groepe gevorm word, is daar altyd rede en doel. In die geval van die kerk is dit God se uitverkiesende genade en sy onwankelbare bedoeling en plan wat die gronde daarvan vorm. Die bedoeling is die lof en eer van God wat ryk is in genade.

Hiermee saam hou die begrip ekklesia ook in die betekenis van afsonder, uithaal en eenkant sit. Die kerk is dus nie die breë massa nie, maar dié wat uit daardie massa geroep is om te versamel onder die Hoofskap van Christus. Dit is dus, om nou maar die hedendaagse vloekwoord te gebruik, ʼn eksklusiewe groep mense wat deur God versamel word op grond van hulle plek in sy goeie en genadebelaaide voorneme.

Dit is moeilik om te sien hoe hierdie aspekte uitgeleef kan word buite die ruimtes van die plaaslike kerk. Daar sou dalk kon redeneer word op grond van “informele” bybelstudiegroeperinge, ens. dat hierdie doel verwesenlik word. Tog bly dit ʼn feit dat hierdie informele groeperings nié voldoen aan die karakter van kerk soos dit in die Skrif geleer word nie. ʼn Paar sake hier ter sake is die hantering van tug, die bediening van die Nagmaal en die Doop, die bestuur van die kerk deur ouderlinge en die rol van diakens, om maar ʼn paar kritiese aspekte uit te wys.

Die kerk as Christus se liggaam

Paulus gaan nou in vers 23 verder om die uitgeroepenes te kwalifiseer as in die eerste plek Christus se liggaam. Die beeld van die liggaam het in hierdie verband die gedagte van outoriteit voorop. Christus as Hoof aan sy liggaam gegee. Dit is duidelik dat die liggaam hiervolgens nie kan funksioneer sonder die Hoof en sy besluite nie. Hy het die finale sê in hierdie liggaam en nie andersom nie. Die liggaam is aan sy oppergesag onderwerp.

ʼn Belangrike aspek in die kerk is dus die van outoriteit, wat uiteindelik primêr gesetel is in die Here Jesus. Die leierskap in die kerk het afgeleide gesag, met ander woorde hulle regeer onder die heerskappy van Christus. Die lede van die kerk onderwerp noodwendig aan die gesag van Christus as hulle hoof. Kolossense 1:18 beklemtoon ook die heerskappy van Christus as Hoof oor sy liggaam. Dit is deel van Paulus se lofrede oor Christus as die volmaakte Beeld van God en volg op sy verduideliking van die heerskappy van Christus oor alles in die heelal. Verse 15-17:

“Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping;want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.”

Hierop volg Paulus in vers 18:

“En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.”

Dus, op ʼn besondere wyse is Christus die Hoof van sy liggaam en oefen Hy sy gesag daarin en daaroor uit. Lees hiermee saam Efesiërs 5:22-24.

Natuurlik is die vraag hoedat Christus sy liggaam regeer. Hier is ʼn paar belangrike aspekte nodig om te noem. Die eerste is deur die gesag van sy Woord. Hierdie is ʼn belangrike aspek om in die oog te hou. Die Bybel is nie sommer net nog ʼn boek wat jy op jou boekrak het nie. Dit is God se Woord en dit is deur daardie Woord dat Christus sy kerk rig. Paulus skrywe aan Timoteus wat hierdie einste gemeente moet bedien die volgende:

“Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (2 Timoteus 3:14-17)

Duidelik verwys hy na die belangrike plek en outoriteit wat die Skrif in die lewe van die kerk moet inneem. In alle fasette is die Skrif dus genoeg. Dit is die Gereformeerde beginsel van Sola Scriptura. In alle sake van leer en lewe is die Skrif altyd die finale norm, so-ook in die inrigting van die gemeente se bediening.

Hiermee saam regeer Christus deur sy Gees. Die Gees en die Woord is nooit te skei van mekaar nie. Daar waar die Woord hanteer word, daar werk die Gees en die Gees werk nooit los van en buite die Woord nie. Dit sal ook nooit anders kan nie, want Hy word in die Skrif aangedui as die een wat dit geïnspireer het (2 Petrus 1:21).

Dan is daar ook die regering deur middel van die leiers in die kerk. Hieroor is die Skrif baie duidelik. 1 Tessalonisense 5:13-14 en Hebreërs 13:7 en 17 is hieroor baie reguit. Hulle regering is wel afgelei van Christus wat deur sy Woord en Gees regeer, maar iets wat nie verontagsaam mag word nie.

Waar die kerk gesond is, funksioneer hierdie drie aspekte van Christus se regering oor sy liggaam in die regte verhouding tot mekaar. Ons lees van die praktiese implikasies hiervan in die vierde hoofstuk van Efesiërs. In hierdie hoofstuk skrywe Paulus oor die eenheid wat daar in die kerk is. Hierdie eenheid is gebou op ʼn paar belangrike onverdeelbare leerstellings (verse 4-6). Hierna verduidelik Paulus prakties hoe die liggaam funksioneer en wat die resultaat is. In verse 7-11 verduidelik hy hoedat die Here Jesus (die Hoof van sy kerk) gawes (deur sy Gees) uitgedeel het soos vergestalt in leiers wat die lede moet toerus (die Woord en die leerstellings wat daaruit voortspruit). In verse 12-16 lig hy dan die uiteindelike gevolge van hierdie struktuur uit, naamlik die toerusting van die heiliges (lede van die liggaam), die groei van die liggaam tot volwassenheid en die gevolglike standvastigheid in Christus die Hoof. Die siklus word dus voltooi, uit Christus, deur Christus en tot Christus gebeur al hierdie dinge.

Sonder twyfel is die kerk as Christus se liggaam uiters belangrik vir Hom as Hoof daarvan. Om te onttrek daarvan, is om hierdie belangrike waarheid en prosesse as gering, selfs waardeloos te ag. Die eenheid waarna hierdie gedeelte verwys, is alleen moontlik daar waar mense met mekaar onderlinge verbintenis en koinonia het. Eenheid is baie moeilik as jy op jou eie mishoop sit en jouself isoleer van alles en almal rondom jou.

Die liggaambeeld impliseer juis dat verskillende ledemate aanmekaar vasgeheg is en hierdie samevoeging mag nie verbreek word deur te dink dat die kerk sinneloos en oorbodig is nie. Paulus tel die belangrikheid van die funksionering van die liggaam as ʼn eenheid op in Romeine 12:4-5 en 1 Korintiërs 12:12vv.

ʼn Nuwe Mensheid

Efesiërs 2 verduidelik die aard van die kerk op ʼn aangrypende wyse. In hoofstuk 1 het Paulus vir hulle geskrywe die kerk is uitgeroep. In vers 2 word hierdie uitroep verdiep en kom ons tot die indruk van God se geweldige groot plan met die kerk. Nie alleen verduidelik hierdie hoofstuk waaruit die gelowiges geroep is nie, maar ook waartoe.

Verse 1-10 wys dat ons is uitgeroep uit sonde en totale verdorwenheid wat ons as vyande van God gelaat het. Hieruit roep God sy gemeente. Dit opsigself is ʼn kragtige wonder wat geen mens kan namaak of inisieer nie.

Verse 11-16 wys op aangrypende wyse hoedat Hy sy kerk versamel het uit die twee uiterste kante van die besnedenes en onbesnedenes. Aan die een kant was daar sy volk Israel, aan die ander kant was daar dié wat uitgesluit was van die verbond van God. Paulus noem dat daar tussen hierdie twee uiterstes ʼn “middelmuur van skeiding” was (vers 14) wat vyandskap verteenwoordig het. In Christus is hierdie muur verwyder.

Verse 15 en 16 verduidelik dan nou waartoe, met ander woorde wat die effek hiervan is. Hy noem dit ʼn “nuwe mens”. Dit is interessant dat Paulus nie hier verwys na ʼn invoeging van die heidene in die Joodse nie, maar dat uit beide ʼn “nuwe mens” gevorm is, om hierdeur te wys op die totale andersheid en uniekheid van die kerk as Christus se liggaam.

Hiermee het God die ou bastions van vyandskap tussen die twee pole verpletter en is die kerk burgers van God se huishouding.

God se Tempel

Verse 19-22 van Efesiërs 2 volg op die vorige, om ʼn verdere dimensie van God se roeping van sy kerk te beklemtoon. In hierdie gedeelte leer die Skrif ons die kerk is uiteindelik die tempel van God en almal wat by die kerk gevoeg word, word deel van hierdie tempel.

Natuurlik bring hierdie beeld die hele Ou Testamentiese tempeldiens na vore. Die belangrike is die woorde waarmee vers 21 afsluit:

“ʼn woning van God in die Gees.”

Dit is wat die doel van die offers en dienste in die Tabernakel en Tempels van die Ou Testament verteenwoordig het. Dit was nie die offers as sodanig nie, maar die teenwoordigheid van God onder sy volk soos verteenwoordig deur hierdie geboue en konstruksies. Dit was God se rede waarom Hy die plan van die Tabernakel vir Moses gegee het. Dink maar aan die beskrywings van die inlywings van die Tabernakel en Tempel in die Ou Testament. God se heerlikheid het sigbaar daarin gegaan om so sy teenwoordigheid by sy volk te wys.

Nou word die kerk in dieselfde taal beskryf. Die woonplek van God in die Gees. Dit is deur sy Gees dat Hy onder ons woon en wandel en so sy kerk vul met sy goddelike heerlikheid.

Petrus tel hierdie motief ook op in 1 Petrus 2:4-5:

“Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is;en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ʼn geestelike huis, ʼn heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.”

Die praktiese hiervan is vir Petrus dat die deugde van God wat ons gered het verkondig word (1 Petrus 2:9-10). Hoe dan anders! God se heerlikheid was sigbaar in sy tempel, vir almal om te sien. Jesaja 2 verwys na die tempel van God as ʼn mylpaal vir die nasies aan die einde van die tye om daarmee die prominensie van die tempel van God in die volk van God aan te dui.

Christus se Bruid

Efesiërs 5:25-27 verwys na die kerk as die bruid van Christus. Dit word gedoen in Paulus se verwysing na die huwelik en dan ook as voorbeeld vir die man in sy hantering van sy vrou. In hierdie paar woorde sien ons die ongelooflike hart van Christus vir sy bruid, die kerk, wat daartoe gelei het dat Hy vir haar aan die kruis gesterf het en sy lewe afgelê het. Dit is nie ʼn klein prys wat Hy betaal het nie.

Slot

Indien ons dit wat ons hierbo oor die kerk hiermee saamlees, kan ons nie tot ʼn ander gevolgtrekking kom as dat die kerk belangrik is in God se plan. Die kerk is nie ʼn plan B of ʼn moontlike oplossing vir ʼn probleem nie. Dit is so ineengeweef in die plan van God, dat ons nie een van die twee, naamlik God se plan of die kerk los van mekaar kan en mag hanteer nie.

Dit is ook duidelik dat die noodwendige resultaat van redding die deel wees aan die kerk van Christus moet wees. Ons word nie gered tot ʼn lewe van afsondering van die res van die geloofsgemeenskap, of kerk, nie, maar juis daartoe.

Hierdie beginsels noodsaak ons om nie ons rug op die kerk te draai net omdat ons dink dit werk nie. Die geskiedenis het nou al vir die afgelope 2000 jaar gewys Christus is in beheer van sy kerk. Daar was al baie aanvegtinge, teenkanting, laksheid en louheid, maar God laat vaar nie die plan wat Hyself gemaak het nie. Die kerk was deur die eeue ‘n bron van groot seën vir die mensdom. Die hart van God vir die kerk en sy plan daarmee moet ons weer aanvuur tot ‘n nuwe ywer vir die kerk. Toegegee, daar is baie vrae, soos die ware en valse, hoe gemaak as jou kerk nie meer die waarheid verkondig nie, ens. Die doel van hierdie artikel is nie om hierdie vrae te antwoord nie, maar juis om bietjie terug te staan en te vra na die plek wat God het vir sy kerk in hierdie wêreld. Ons kan verseker nie hierdie relevante vrae antwoord as onsself nog nie God se hart verstaan vir die kerk nie. Ons kan ook nie weghardloop van hierdie moeilike vrae deur onsself te isoleer van die kerk nie.

Ek sluit hierdie artikel af met ‘n gewigtige woord uit 1 Timoteus 3:15:

“Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ‘n pilaar en grondslag van die waarheid.”

Voetnotas

1 Wanneer hier na kerk verwys word as die vergadering van gelowiges, word verwys na die plaaslike gemeente, en nie ʼn spesifieke denominasie nie.

Hierdie term is tradisioneel beskou as die fokus van die kerk op die verloregaande wêreld wat verlossing van sonde nodig het. Sosiale herstel het daarop gevolg, maar was nie die primêre fokus nie.

Dit is nie die doel van hierdie artikel om op die verband tussen hierdie baie belangrike aspekte te fokus nie.

ʼn Voorbeeld hiervan is die huidige druk wat tans in die NG Kerk is oor die aanvaarding van die sogenaamde Belhar Belydenis. Interessant genoeg is hierdie dokument onlangs deur die Reformed Church in America aanvaar as een van hulle belydenisse (http://rfpa.org/blogs/news/8926747-synods-and-general-assemblies-the-reformed-church-in-america-rca). Sien ook http://www.christianpost.com/news/church-of-england-envisions-christianity-centered-pagan-church-98578/.

Die NG Kerk aanvaar reeds nie-praktiserende homoseksuele leraars en die druk is groot om dit te verander sodat praktiserende homoseksuele ook leraars kan wees.

Dit moet verstaan word teen die agtergrond van die stryd met die Rooms Katolisisme waar die sigbare die toonbeeld van die bose was.

κατὰ

8 Die Nuwe Afrikaanse vertaling vertaal die “erfgenaam” gedagte weg deur die gelowiges slegs die “volk van God” te noem (verse 11 en 13). So gaan die belangrike gedagtes van die gelowiges as erfgename van God, wat so prominente plek in veral Paulus se briewe inneem, verlore. Daar is verseker die waarheid dat die gelowiges nou “volk van God” is, maar die gedagte aan erfenis plaas ‘n sekere en belangrike lig hierop.

9 Die 1983 Afrikaanse Vertaling gebruik die woord “kerk”.

10 ἐκκλησία

11 ]ἐκ           

12 καλέω

13 Die Griekse begrip hier is eklegomai (ἐκλέγομαι), saamgestel uit “ek” (ἐκ) wat “uit” beteken en “lego” (λέγω), wat “praat, roep, bedoel, besluit” beteken.

14 MacArthur, John F. The Master’s Plan for the Church. The Moody Bible Institute, Chicago. 1991, p119

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *