Drie-eenheid

Inleidend

Soms lees ons iets wat Jesus gedoen het en is ons tegelyk verstom en opgewonde oor sy wysheid of bonatuurlike krag. Tog mis ons die eintlike boodskap agter daardie verhaal. Een so verhaal is waar Jesus die verlamde man genees. Hierdie verhaal kry ons in Markus 2.

Jesus en ‘n verlamde

Jesus was besig om met die skares te praat. Die plek waar hulle bymekaar was, was heeltemal vol. Niemand kon selfs by die deur inkom nie.

Markus vertel 4 mans het gekom met ’n verlamde man. Hulle kon nie by Jesus uitkom op die normale manier nie en besluit toe maar om deur die dak te gaan. Waar daar ‘n wil is, is daar ‘m weg! Jesus sien hulle geloof raak en maak ’n baie gelaaide stelling: “Seun, jou sondes is jou vergewe!”

Die onmiddelike behoefte van hierdie span van 5 was om hierdie vriend van hulle op sy voete te kry. Hulle het geglo Jesus was in staat om sy liggaam te genees. Hulle het nie in die minste gedink aan sonde en vergifnis nie. Ten minste nie uit wat die teks ons vertel nie. Daar is ook geen aanduiding in die teks dat die man se fisiese toestand enigsins te make gehad het met sy sonde nie. Dit sou ’n fout wees om tot so ’n konklusie te kom.

Nietemin, Jesus se woorde is indringend: “Jou sondes is jou vergewe.” Die Skrifgeleerdes het hiervan niks gehou nie. Vir hulle was dit niks minder nie as godslasterlik. In die Joodse denke kan net God sonde vergewe. Hulle het die implikasie van Jesus se woorde verstaan. Hy het Homself 100% voorgestel as God. Nie minder nie en ook nie meer nie. ’ n Bietjie vryer vertaal het Jesus hier gesê: “Ek is God en omdat ek God is, vergewe ek jou sondes.”

Jesus doen ’n verdere ding met hierdie man. Omdat hy die harte van die skrifgeleerdes ken, konfronteer Hy hulle hulle met hulle eie teologie. In hulle teologie kan ook net God op ’n bonatuurlike wyse genees. Daarom konfronteer Hy hulle ook op hierdie siening. Indien Hy nie God is nie, sal Hy ook nie kan genees nie. Maar, indien Hy hierdie man kan genees, bevestig dit Hy is God. Daarom vra hy hulle wat makliker is, vergifnis of genesing. Die eerlike en teologies korrekte antwoord is albei is ewe moeilik en slegs God het die krag, vermoë en outoriteit om dit te doen. Hierop beveel Hy die verlamde om op te staan en huis toe te gaan – geestelik vergewe en fisies genees.

Hier steek ons baie keer vas en verwonder ons oor Jesus se vermoë om wonderwerke te doen, selfs om sondes te vergewe. Natuurlik moet ons hieroor bly en opgewonde wees. Ons besef egter nie altyd wat Jesus eintlik hier gedoen het nie. Ons sien die man wegloop, genees en vergewe, maar ons sien nie vir Jesus agterbly nie. Ons fokus skuif na die gesonde man, maar intussen het Jesus agtergebly en ’n geweldige teologiese stelling gemaak. Hierdie stelling het alles met sy identiteit te make.

Die aanloop

Hierdie verhaal volg op ’n paar geleenthede waar Jesus moes optree om sy identiteit te bevestig. Markus skryf prontuit wie Jesus is in die begin van sy Evangelie. Hy is “Jesus Christus, die Seun van God” (Markus 1:1) Om dit te bewys, verwys Markus na die Ou Testament se beloftes oor die boodskapper wat sou kom. Hierdie boodskapper was Johannes die Doper. Markus slaan die spyker verder in deur te vertel van Jesus se doop en die stem van die Vader:

“U is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het” (Markus 1:11).

Hy is hierna in die woestyn deur die Satan versoek en het nie ingegee soos die eerste Adam nie (Markus 1:12-13). Hierna het Jesus dissipels geroep (Markus 1:16-20) en in die sinagoges onderrig met gesag (Markus 1:21-22). Hy het duiwels uitgedryf (Markus 1:23-26) en baie siekes genees, onder andere Petrus se skoonma (Markus 1:29-34).

Markus het al hierdie gebeure opgeskryf met een oortuiging, naamlik dat Jesus die Seun van God is, met ander woorde God self. Daarom word dit tot spits gedryf hier in hoofstuk 2 waar Jesus vir die skrifgeleerdes sê:

“Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op die aarde sondes te vergewe…”

Die Jode het geweet die Seun van die mens is ’n Ou Testamentiese verwysing in die profeet Daniël. In hoofstuk 7 ontvang Daniël ’n visioen van God (verse 9-12) én die Seun van die mens (verse 13-14). Hulle het geweet aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap.

Jesus help in hierdie gebeurtenis die skrifgeleerdes om hulle siening oor sy identiteit reg te hê. Hy is nie slegs ’n gewone profeet wat kulkunsies doen om vir homself ’n gevolg bymekaar te kry nie. Hy is God. Hy doen wat nét God kan doen. Hy sê wat nét God kan sê. Alleen God kan vergewe en slegs Hy kan bonatuurlik genees.

Slot

Terwyl ons dan die jong man agterna kyk soos hy wegstap met sy mat onder sy arm (en ‘n huppel in sy stap), moet ons ook terugkyk na die Seun van God wat agterbly en die effek van wat sopas hier gebeur het indrink. Jesus self konfronteer ons met sy Godheid. Wat het die skrifgeleerdes hiermee gemaak? Ons weet Jesus is later aan ’n kruis vasgespyker omdat hulle nie bereid was om die egtheid van sy identiteit te erken nie. Die ironie is dat ’n heiden aan die einde van Markus moes bevestig wat deurentyd Markus se bedoeling was:

“Waarlik, Hy was die Seun van God” (Markus 15:39).

Hoe beskou jy Hom? Is Hy ’n wonderwerker? Is Hy die een wat jou sondes vir jou kan uitsorteer? Waar lê jou fokus as jy dink aan Jesus? Is jy vasgevang deur die die man wat gesond wegstap of deur Jesus wat agterbly? Is Hy God wat jou lewe kan herstel omdat Hy heerlikheid en eer en koningskap ontvang het?

Leave a comment

Your email address will not be published.