Om die bestaan van Satan te ontken, is om die Here Jesus ‘n leuenaar te maak, vasgevang in sonde, en daarmee nie geskik om God se volkome, sondelose soenoffer vir die sonde van die mens te wees. Dit is die enigste logiese konsekwensie van ‘n teologie waar daar geen plek is vir die duiwel as ‘n engel met persoonlikheidseienskappe nie.

Post-modernistiese teoloë beroep hulself op die “wetenskap” van die post-modernisme om tot die gevolgtrekking te kom dat die duiwel nie bestaan nie. Hulle ontken nie dat daar boosheid is nie – daarvoor is al die ellende om ons heeltemal te ooglopend – maar die boosheid is niks anders nie as die boosheid waartoe die mens in staat is en waarvoor hyself verantwoordelik is. Die uitdaging van die wetenskap is egter dat daar op grond van sekere bewysbare en getoetste resultate tot ‘n konklusie gekom word. Gewoonlik begin die wetenskap met ‘n bepaalde hipotese en word daardie hipotese in die verloop van navorsing en resultate of ondersteun of verkeerd bewys.

Die liberale teologie het in hierdie geval tot die konklusie gekom dat die duiwel nie bestaan as ‘n persoonlike wese nie. Die probleem is egter dat daar geen bewyse is dat hy nié bestaan nie. Inteendeel, daar is geen riglyne vasgestel waarvolgens die hipotese getoets behoort te word nie. Dit bly steeds ‘n hipotese van die liberale teologie dat die duiwel nie werklik as persoon bestaan nie. Niemand het nog klinkklare bewyse op die tafel neergesit wat onweerlegbaar getoets is om met oorweldigende groot meerderheid te kan staaf dat hy nie bestaan nie – dit omdat niemand weet wat getoets moet word om hierdie hipotese te toets nie.

Natuurlik gaan hulle van ‘n Skrifbeskouing uit wat oortuig is die Bybel soos ons dit ken is nie die Woord van God nie, maar die woorde van mense oor God. In die postmoderne wetenskap is daar nie absolute waarheid nie. Dit is ‘n subjektiewe saak wat deur gemeenskappe aanvaar word op grond van hul eie bepaalde konteks. Hierdie benadering maak natuurlik die tipering van gedeeltes wat handel oor die duiwel as feëverhale – of dan in post-modernistiese taal, voor-wetenskaplik – moontlik en daarom kan sy bestaan so maklik verwerp word sonder wetenskaplike verifiëring. Enige wetenskaplike wat hipoteses moet toets sal vir jou kan sê dat hierdie benadering om op subjektiewe standpunte te steun, juis gevaarlik is en dat die resultate daarom nie betroubaar kan wees nie.

Ongelukkig het die Algemene Sinode van die NG Kerk hierdie onbewese hipotese oor die duiwel dan ook so aanvaar as klinkklaar uitgesorteer en bewys. Die duiwel hoef nie as persoon gesien te word nie. Hiermee het hulle die onvoldoende resultate van die wetenskap verkies bo die gesag van die Woord van God (wat nogal so bely word). Indien die konsekwensies van hierdie en soortgelyke besluite logies deurgetrek word, het dit geweldige gevolge vir die teologiese onderbou van die kerk.

Met hierdie standpunt word Jesus se hele identiteit direk belaster. Jesus het immers met die duiwel ‘n stryd gehad as voorloper tot sy openbare bediening (Mattheus 4). Indien ons die hipotese aanvaar, was Jesus se stryd met ‘n boosheid in homself, want volgens die hipotese is boosheid in die mens gesetel. Hy sou dus nie die sondelose Seun van God wees nie, maar net ‘n mens wat ‘n stryd teen sy eie boosheid moes voer. So gesien, sou Hy ‘n skisofreen met meer as een persoonlikheid wees, want duidelik het Hy met hierdie boosheid in Homself in gesprek gegaan! Nie net dit nie, maar met Petrus se opstandigheid oor Jesus se kruisiging, het Jesus vir Petrus as Satan aangespreek (Mattheus 16) en om dan sy gekkigheid verder te bewys, het Hy vir Petrus gesê die duiwel het versoek om vir Petrus te sif. Ook sou Jesus verkeerd wees in sy hantering van die besetenes uit wie Hy die demone gedryf het. Dit is duidelik dat die aanhang van hierdie onbewese, ongetoetste versindsels ons Here Jesus beledig, sy goddelikheid minag en geen respek het vir Hom as die Seun van God nie.

Die gevolge gaan egter verder as net die persoon van ons Here. Hieruit vloei die logiese konsekwensie dat ook sy verlossingswerk nutteloos en sinneloos sou wees, want indien Hy ‘n boosheid in Hom gehad het met wie Hy die heeltyd ‘n worstelstryd aangehad het, sou dit beteken dat Hy ook nie meer die sondelose soenoffer kon wees vir ons redding nie. Die dood aan die kruis sou dus oneffektief en kragteloos wees en ons as verlore sondaars in ‘n nog bedenkliker toestand laat, want ons vertrou vir ons verlossing op ‘n skisofreen wat ‘n wrede dood gesterf het om sy eie honger na godsdienstige vervulling wou bevredig. So iets maak natuurlik ons hele geloof ‘n wankelrige saak, want dit is gerig op hierdie persoon wat ons sogenaamd dan sou moes red.

Dit is duidelik dat die wetenskap, en veral die post-moderne wetenskap en spesifiek hierdie hipotese, onbevredigend is vir die kerk en haar voortbestaan. Ons is juis oortuig van ‘n paar uitgangspunte, naamlik dat die Bybel is die Woord van God; dit bevat die waarheid oor God en sy handelinge in die geskiedenis; Jesus is God wat mens geword het; Hy was die sondelose offer vir ons sondes; Hy is betroubaar in alle opsigte; die redding wat Hy bewerk het is 100% effektief om ons van die hel en die oordeel te red. Die wetenskap verstaan nie hierdie vertrekpunt nie, maar dit is wat die Bybel geloof noem – geloof wat gerig is op dié God wat sy Woord aan ons gegee het om ons in die volle waarheid te lei, wat aan ons sy Seun gegee het juis om ons vry te maak van die duiwel en sy heerskappy en wat aan ons sy Gees gegee het om ons te lei in die volle waarheid (wat ook die waarheid omtrent die duiwel insluit).

Bestaan die duiwel? Volgens die Woord van God is hy ‘n realiteit, ‘n werklike gevalle engel met die vermoë om te kan dink, te kan besluit en emosies te kan ervaar. Is dit belangrik om van hom te weet? Uit die fokus wat die Skrif aan hom gee, is hy verseker ‘n faktor om mee rekening te hou. Ek wil amper sê die feit dat selfs die liberale teoloë aan hom aandag gee – al is dit om sy bestaan te probeer ontken – beteken dat hy wel ‘n bepaalde rol speel wat nie verontagsaam mag word nie. Dit is nodig dat ons hom sal ken in die lig wat die Skrif hom aan ons voorstel – nie minder nie, maar ook nie meer nie. In die lig van die Skrif moet ons die hipotese dat die duiwel nie ‘n persoonlike wese is nie, as ‘n dwaling beskou en as ‘n uiters gevaarlike een daarby.
 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: