In die Romeinse reg het die goewerneurs nogal redelik hoë gesag gehad. Johannes skrywe dat die Joodse leiers Jesus wou doodmaak, maar hulle kon dit nie regkry nie, omdat net die goewerneur die reg gehad het om die doodstraf oor iemand aan te kondig (Johannes 18:31). Dit wil voorkom asof Pilatus nie baie lus was vir hierdie skynbaar sinnelose regsaak wat voor hom gebring is nie.

Na ‘n hele paar keer op en af met Jesus en die Jode, konfronteer Pilatus Jesus reguit oor die gesag wat hy oor hom het:

Van waar is U? Maar Jesus het hom geen antwoord gegee nie. En Pilatus sê vir Hom: Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie? (Johannes 19:9-10)

Hy maak aanspraak daarop dat hy mag oor die lewe van Christus het. Hoekom dan nou nie – hy is immers die goewerneur en het dit al herhaalde kere bewys. Hy gaan dit weereens aan die Jode bewys deur sy gebruiklike vrylaat van iemand tydens die Paasfees! Op sy woord word iemand of ter dood veroordeel of vrygemaak. Dis hoe gesag in die kop van Pilatus gewerk het.

Jesus antwoord egter met ‘n ongelooflike gedagte:

Jesus antwoord: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie. (Johannes 19:11)

Volgens Jesus is Pilatus se gesag oor Jesus nie direk nie, maar afgeleide gesag. Wat hy hier vir Pilatus sê is dat Hy nie hier is omdat die Jode hom wou doodhê nie, ook nie omdat Pilatus gesag het nie, maar OMDAT dit God is wat Hom oorlewer in die hande van mense om Sy volmaakte plan uit te voer. God gebruik die aardse gesagsdraers om sy plan tot vervulling te bring.

Dit moes nogal vir Pilatus ‘n baar bewerasies gegee het om te dink dat waarmee hy besig is, is waaroor hy nie veel beheer (en gesag) gehad het nie behalwe om tot uitvoering te bring waartoe hy bestem is.

Hierdie laat ‘n mens nogals terugdink aan die begin van Jesus se bediening in Nasaret toe Hy ‘n paar “onortodokse” stellings gemaak het oor sy eie identiteit en gesag in die lig van die Skrif. Ons word in Lukas vertel wat die reaksie was:

En almal in die sinagoge is met woede vervul toe hulle dit hoor; en hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle stad gebou was, om Hom van die krans af te gooi. Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan. (Lukas 4:28-30)

Hoekom het niemand Hom hier gegryp en Hom afgegooi nie? Hulle was dan so briesend kwaad! Tog klink dit of Hy net rustig weggeloop het sonder weerstand. Dit is eenvoudig. Die tyd en die geleentheid deur die Vader bepaal vir Hom om aan die kruis verheerlik te word in sy dood, het nog nie aangebreek nie.

Jesus was in sy lewe nie geïntimideer deur mense se aanspraak op gesag nie. Hy het geweet wat gesag beteken en dat dit nie aan die mens gegee word sonder die outoriteit van God nie. God is volkome in beheer van dit waardeur Hy op daardie punt voor Pilatus sou moes deurmaak. Was dit vir Hom maklik? Beslis nie! Op hierdie punt was Hy al erg gemartel en bespot. Tog was sy berusting in die gesag van sy Vader en nie in dié van mense nie.

Hy het dieselfde besef gehad as Josef toe hy sy broers na al die jare weer moes ontmoet nadat hy deur al daardie swaarkry moes gaan. Sy belydenis is geweldig:

Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God? Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou. (Genesis 50:19-20)

God het dit te goede gedink. Hy was altyd in beheer deur die hele lewe van Josef. Dit laat mens dink aan wat Paulus in Romeine 8:28 skrywe:

En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

Vir die roeping van die kerk beteken die gesag van God ongelooflik baie. Jesus sê in Mattheus 28:18-20:

Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies … En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

Ons het hierdie berusting dat wat ons aanpak in sy diens ter wille van sy Koninkryk onder sy gesag en heerskappy is, in sy teenwoordigheid. Daarom skrywe Paulus ook:

Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. (Romeine 8:31-37)

Pilatus het aardse gesag uitgeoefen en God het hom dit toegelaat om Christus ter dood te veroordeel. Hierin was Jesus se krag deur die pyn: Sy Vader was in beheer! Alle gesag is onderworpe aan die gesag van die soewereine God wat alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet en na sy voorneme gekies is.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *