In sy dae moes Pilatus sekerlik baie besig gewees het met regsake. Tog dink ek nie dit was aldag dat hy ‘n saak soos dié van die Here Jesus moes hanteer nie. Hy was sekerlik opgewasse om die moeilikste van regsake te kan hanteer, maar hier beland ‘n saak met ‘n twist op sy lys. Dit is duidelik dat hy nie aanvangklik bewus was van die omvang en die ware aard van hierdie saak nie. In Johannes 18:31 probeer hy natuurlik die saak uitgooi:

En Pilatus sê vir hulle: Neem julle Hom en oordeel Hom volgens julle wet.

Hierop reageer die Jode met die dilemma dat hulle nie die reg het om iemand ter dood te veroordeel nie. Nou dit sou verseker Pilatus se hartsnare so effens aan die bewe gekry het om te hoor hier word gepraat van doodstraf! Al was die Romeine ‘n wrede volk, doodstraf moet darem nog steeds geregverdig wees.

Die volgende wat ons dan lees is ‘n gesprek tussen Pilatus en Christus. Tot op hierdie stadium het die Jode nog geen amptelike klag teen Christus ingebring nie. Dus moes Pilatus op sy eie probeer om uit te werk wat dit is waarvoor Hy aangekla word. Hy begin dus met Jesus praat oor sy koningskap wat eindig in die bekende vraag “wat is waarheid?” Tot hiertoe het Pilatus nog nie die vaagste benul gehad wat die eintlike aanklag teen Jesus was nie. Verseker was dit nie dat Hy ‘n sou claim Hy is ‘n koning nie. Pilatus vra self vir Hom: “Wat het U gedoen?”

Sonder ‘n konkrete aanklag en bewyse, was Pilatus teen hierdie tyd seker al redelik ongeduldig met hierdie situasie op sy hande. Hy gaan dus weer na die Jode toe met sy bevindig dat hy geen skuld in Jesus vind nie, maar einde ten laaste (ek dink meer as ‘n politieke skuif en om die saak verby te kry) laat hy Jesus gésel. Selfs na dit, het Pilatus volgehou dat hy Jesus onskuldig bevind. Onthou steeds dat tot hiertoe het Pilatus nog geen amptelike klag teen Christus ontvang nie. Hy tree nou slegs op uit ander motiewe. Jy kan amper die moedeloosheid in Pilatus hoor as hy vir die Jode sê:

Neem julle Hom en kruisig Hom, want ek vind geen skuld in Hom nie. (19:6)

Hy was bereid dat die normale gang van die reg omvergewerp word net sodat hy kon ontslae raak van hierdie saak! Hierop reageer die Jode dan uiteindelik met die klag teen Jesus:

Die Jode antwoord hom: Ons het ‘n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het. (19:7)

En net daar is die tammeletjie vir Pilatus. Die saak gaan oor identiteit en nie oor optrede nie. Hierin lê die uniekheid van die saak. Hoe vind jy iemand skuldig van identiteit? Tereg het die Jode ‘n verwysing na een van hulle wette (Levitikus 24:16) wat verwys na die laster van die Naam van Jahwe, en volgens die Jode se interpretasie van dié wet en die aansprake van Jesus het dit neergekom op ‘n lastersaak teen God. Probleem is egter dat Pilatus met ‘n ander wetstelsel werk onder ‘n ander beskouing van god en laster. Dus het ons klaar hier met potensiële konflik te make net as gevolg van twee verskillende wêreldbeskouings.

Van die vier Evangelies is Johannes dié een wat die meeste verwys na Jesus as die Seun van God. Hy begin sy Evangelie met die belangrike verwysing na die menswording van Christus:

Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar. (Johannes 1:18)

En hy sluit die Evangelie af met die doel waarom die hele Evangelie geskryf is:

maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam. (Johannes 20:31)

Tussen hierdie twee punte is daar nog 8 direkte verwysings na Jesus as die Seun van God. Dit is belangrik om te verstaan wat die begrip beteken. Ons het reeds in ‘n vorige artikel daarna verwys dat Gabriël aangekondig het dat juis op grond van die unieke maagdelike swangerskap en geboorte, Jesus die Seun van God genoem sou word. Dus was dit verseker ‘n aanduiding dat Hy op ‘n ander, goddelike wyse, sou mens word. Johannes leer ons egter meer oor hierdie gedagte, en dit is gelykheid aan God self, dus in wese God self! As Jesus Homself dus noem “Seun van God”, dan het Hy dit definitief ten doel om daarmee sy Godheid aan te dui.

Johannes 1:1-2 begin dit op aangrypende wyse:

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God.
  
Vers 14 tel dit verder op:

En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

En dan vers 18:

Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.

In hoofstuk 10:30 (na ‘n polemiek met die Jode) verklaar Jesus reguit:

Ek en die Vader is een.

Hierna loop emosies hoog en wil die Jode Hom weer onder klippe toegooi. Jesus konfronteer hulle oor die aanklag waarom hulle dit sou doen, en hulle antwoord was ‘n heenwysing na die einste rede hoekom hulle Hom nou voor Pilatus bring:

Dit is nie oor ‘n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat ‘n mens is, Uself God maak. (10:33; sien ook Johannes 5:18)

Jesus antwoord hulle met verwysing na Psalm 82:6:

Jesus antwoord hulle: Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie? As dit húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie, sê julle vir Hom wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het: U spreek godslasterlik—omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van God? (10:34-36)

Wat Jesus dus vir hulle sê is om hulle Skrifte konsekwent te hanteer, of dan in die woorde van Johannes 7:19:

Het Moses julle nie die wet gegee nie? En niemand van julle hou die wet nie. Waarom wil julle My om die lewe bring?

Dus, het hulle geen voet gehad om op te staan nie, want hulle hou self nie die wet nie, maar wil dit aanwend om Jesus te veroordeel!

As Seun van God het Jesus dus nou ook die mag om die ewige lewe te gee. Hy word nou die inhoud van geloof, want geloof in Hom as die Seun van God, beteken ook geloof in God as die Vader van die Seun. Johannes 1:12-13:

Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.

Pilatus se reaksie is interessant:

En toe Pilatus hierdie woord hoor, het hy nog meer bevrees geword (19:8).

Interessant dat Johannes sê hy het nog meer bevrees geword, wat natuurlik impliseer dat daar al reeds ‘n mate van vrees was. Nou is hy gerattle en gaan terug paleis toe. Ek dink op hierdie stadium het hy besef sy regstelsel is nie gereed om iemand se identiteit te toets nie. Hy laat Jesus inbring en vra ‘n ongelooflike vraag:

Van waar is U? (19:9)

‘n Uitroep van ‘n oorwonne goewerneur!

Pilatus het besef hy het die saak van sy loopbaan ontvang, en hy het geen antwoord daarvoor nie. Hy kon die Here Jesus nie skuldig bevind op grond van sy eie regstelsel nie, en ook nie op grond van die Joodse wette nie. Hy moes op hierdie stadium besef dat hy het in Jesus te make gehad met ‘n persoon wat so verskillend was as al die ander waarmee hy al in sy lewe te make gehad het.

Pilatus staan in skrille kontras met die oortuigings van die gelowige. Vir hom was Jesus aanvangklik ‘n irritasie en later ‘n politieke kopseer. Tog kon hy nie werklik ‘n greep kry op die ware identiteit van Christus, die Seun van God nie. Hierteenoor is die rede waarom iemand ‘n gelowige is juis omdat daar ‘n seker oortuiging is van die identiteit van die Here Jesus. Hy is die Seun van God. Petrus het dit al belei in Mattheus 16:16:

U is die Christus, die Seun van die lewende God.

En juis dit is die fondament vir die kerk en die geloofslewe, naamlik dat Hy op ‘n unieke wyse mens geword het, tegelyk God en mens in een was, aangekla is hieroor en as gevolg hiervan gekruisig is. Hy het opgestaan as die Seun van God en heers as die Seun van God.

Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is—God bly in hom, en hy in God. (1 Johannes 4:15)

As ons die getuienis van die mense aanneem—die getuienis van God is groter, omdat dit die getuienis is van God wat Hy aangaande sy Seun getuig het. Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie. En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God. (1 Johannes 5:9-13)

En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe. (1 Johannes 5:20)
 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *