ben du toit

Die onlangse saak in die NG Kerk waarin Dr Ben du Toit vrygespreek is van leerdwaling deur die Ring van die Paarl laat ‘n mens nogal ver terugkyk in die geskiedenis van die NG Kerk in Suid Afrika. Daar was al ‘n paar gevalle waar prominente leiers in die NG Kerk aangekla is van leerdwaling. Hierdie uitspraak, maar meer nog die reaksie van ander leiers van die NG Kerk daarna, laat ‘n donker wolk oor die teologiese gesondheid van die NG Kerk. In sy terugblikke op ‘n onlangse besoek aan Suid Afrika, skryf Kevin DeYoung onder andere:

“Bad theology destroys and keeps the gospel from people. South Africa, like most of sub-Saharan Africa, is overwhelmingly Christian. The state of the church can seem impressive, but mature Christians in South Africa will tell you a different story. The Dutch Reformed Church is weak and getting weaker, awash in theological liberalism and secular agendas.”

Prof. Nelus Niemandt het dievolgende te sê gehad oor die vryspreek van Du Toit:

“Voortdurende ongegronde klagte teen teoloë van die NG Kerk oor vermeende dwaalleer strek tot nadeel van die evangelie.”

Die bevinding is dat “Du Toit se standpunte val binne die raamwerk van die NG.”

Die interessante opmerking is dat sy standpunte val binne die “raamwerk” van die NG Kerk. Dit laat nogals die vraag opkom na wat hierdie raamwerk van die NG Kerk dan is. Wel die amptelike standpunt staan nog steeds volgens die belydenis van die NG Kerk dat die Skrif aanvaar word as die onfeilbare, God-geïnspireerde Woord van God en in ooreenstemming hiermee is daar die Drie Formuliere van Eenheid en die drie Ekumeniese Belydenisse wat erken en aanvaar word. Trouens, enige lidmaat, sowel as leraar, moet hierdie dinge bely alvorens hulle tot die NG Kerk toegelaat kan word. Leraars belowe op grond hiervan dat hulle enige leer wat hiervan verskil en afwyk, met hand en tand sal beveg.

Dit is nie onbekend dat Du Toit nie die Skrif aanvaar as God se onfeilbare en geïnspireerde Woord nie. Die wetenskap het daardie opinie lankal reeds “verkeerd” bewys en is voorwetenskaplik. In sy oë is dit maar net nog ‘n boek wat oor godsdienssake handel. Lees maar net sy werk God? Geloof in ‘n postmoderne wêreld en jy sien ‘n hele klompie dwalinge wat opmekaar gestapel lê. Sy Godsbeskouing is meer panenteïsties as teïsties, sy Christologie word ontneem van die bonatuurlik elemente van die maagdelike geboorte, maar in navolging van Pannenberg moet ons darem die opstanding erken omdat dit ‘n “belangrike” Christelike moment is (hiermee weerspreek hy natuurlik sy eie wetenskaplike ontkenning van wonders en tekens). Sy mensbeskouing laat ook maar wenkbroue lig aangesien ons deel is van een groot kosmiese siel. Natuurlik vloei al hierdie dwalinge voort uit ‘n skrifbeskouing wat God se “theopneustos”, sy “uitaseming”, totaal ontken. Hiermee saam is sy siening van die duiwel en die geesteswêreld nader aan dié van die Sadduseërs van ouds as aan die belydenis van die NG Kerk (ten minste die amptelike belydenis).

Dit vat nie baie om agter te kom dat Du Toit se leringe strook nie met die amptelike seining en belydenis van die NG Kerk nie. Daarom is dit kommerwekkend dat daar gesê word dat sy standpunte val “binne die raamwerk van die NG Kerk.” Beteken dit dus dat lidmate die bogenoemde standpunte van Du Toit dan moet sien as die aanvaarbare standpunte van die NG Kerk? Indien dit die geval is, dan is DeYoung presies in die kol met sy waarnemings oor die NG Kerk.

Ds. J.J. Kotzé 1

Daar is veral drie soortgelyke verhore in die NG Kerk oor dwaalleer. Die eerste was dié van die Kaapse Sinode teen Ds. J.J. Kotzé van Darling in 1862. Leraars van die NG Kerk is baie sterk op die hart gedruk om die Heidelbergse Kategismus tydens eredienste te hanteer. Hierdie Kategismus is ingedeel in 52 Sondae, sodat dit gerieflik in die verloop van ‘n jaar deurgewerk kon word. Kotzé het egter beswaar gemaak teen die bewoording van vraag en antwoord 60.2 Hy het geargumenteer dat hierdie woorde walglik is en dat sou hy dit moes hanteer in die gemeente, hy eerder sou moes sê die Kategismus verkeerd is in hierdie geval.

Na mislukte pogings deur die Sinode om hom sover te kry om van opinie te verander, is hy geskors en later finaal van sy pos as leraar onthef. Hy het hom egter tot die Hooggeregshof gewend, wat hom eerder ondersteun het en die Sinode geforseer het om hom in die amp te herstel.

In hierdie saak het dit dus die belydenis van die Ng Kerk direk geraak, iets wat die Sinode nie sou duld nie en dit is dienooreenkomstig hanteer. Ongelukkig moes die NG Kerk vanweë verhoudinge met die regering gehoor gee aan die hofbevel.

Dit wil dus blyk dat in beide hierdie bogenoemde twee sake die Sinode by die raamwerk gehou het, naamlik die Skrif as God se geïnspireerde Woord en die belydenisse in ooreenstemming hiermee. Hulle sou nie duld dat die waarhede van die Woord en belydenis verdraai word deur die liberale stemme nie.

Ds. T.F. Burgers en die NG Kerk3

Die volgende is die saak van die NG Kerk teen Dr T.F. Burgers van die Hanover gemeente. Hy is in 1862 aangekla van dwaling deur ‘n ouderling van Colesberg. Die klag het onder andere gehandel oor Burgers se liefde vir die Rasionalisme, en spesifiek sy ontkenning van die persoonlike aard van die duiwel. Die klag het ook gehandel oor sy ontkenning van die sondelose aard van Christus se menslike natuur, die opstanding en die voortbestaan van die siel na die dood. Hy is in 1864 skuldig bevind (alhoewel nie aan al die klagtes nie) en van sy pos as leraar onthef. Die onvermoë van die Liberalisme om aan die gesagstrukture binne die kerk te onderwerp sowel as die verhouding tussen kerk en staat het hom egter laat aanklop by die destydse Hooggeregshof van die Kaapkolonie en hulle het hom in 1865 onskuldig bevind en die Kaapse Sinode forseer om hom weer in diens te neem.. Die Sinode het met hierdie toedrag van sake wysheid aan die dag gelê om te verseker dat toekomstige leraars leerstellig by die destydse “raamwerk van die NG Kerk” sou inpas.

Prof. J.J. du Plessis4

‘n Derde saak wat natuurlik ‘n paar jaar later sou afspeel, is dié tussen die NG Kerk en Prof. J.J. du Plessis. Sy inbring van die historiese kritiek as manier van skrifuitleg, het hom diep in die moeilikheid laat beland, maar sou blywende impak binne die NG Kerk hê wat betref die hantering van die Skrif. Hiervolgens is sekere gedeeltes in die Skrif, aan die hand van die histories-kritiese metodes, nie meer letterlik verstaan nie, maar anders geinterpreteer (hetsy figuurlik of mitologies). Gedeeltes soos die Skeppingsverhaal is nou nie meer letterlik geïnterpreteer nie, maar moes plek maak vir onder andere die evolusieleer. In ‘n klaspreek van hom uit 2 Korintiërs 4:7 maak hy die stelling “our faith rests on no external authority: it rests upon neither errorless Bible nor infallible Church.”Hy het dan ook gepoog om onderskeid te maak tussen die Bybel (as literêre dokument) en God se Woord. Na baie speelruimte en talle klagtes, was die outoriteite verplig om die klagtes te ondersoek. In 1930 is hy deur die Ring van Stellenbosch wat die saak hanteer het, onskuldig bevind. Die Sinode het egter anders daaroor geoordeel en hom skuldig bevind aan “onregsinnigheid in die leer”. Hy is van sy posisie as hoogleraar aan die Kweekskool in Stellenbosch onthef. Dit sou egter nie daar eindig nie. Hy het hom tot die burgerlike hof gewend en in 1932 is uitspraak gelewer in sy guns. Die Sinode moes hom weer in diens neem. Daar is egter deur die Sinode besluit dat hulle ter wille van die vrede nie meer van sy dienste gebruik sou maak nie. Dit was vir hulle die enigste uitweg uit hierdie baie moeilike situasie.

Die feit dat die Ring hom aanvanklik onskuldig bevind het, toon reeds ‘n verandering aan die raamwerk waarmee die betrokkenes beoordeel het. Dat die Sinode anders geredeneer het oor die klagtes is belangrik, want hiermee is die krake in die raamwerk des te meer belig.

Vier sake, almal te make met dwaalleer en Liberalisme binne die NG Kerk. Daar blyk progressie te wees in die hantering van die NG Kerk wat betref hierdie sake, en dan progressie in die verskuiwing van die “raamwerk” van die NG Kerk. Daar was baie meer akkommodasie by Du Plessis as by Kotze en Burgers, maar die grootste akkommodasie is seker te vinde by die saak van Du Toit. Ironies dat hy instrumenteel was in die opstelling van die aanbeveling oor die Bediening van Bevryding, waarin die persoonlike aard van die duiwel as opsie aanvaar word, en nie meer as die enigste geldige geloofsoortuiging en –belydenis nie. Saam met al die ander dwalinge wat hy propageer, is dit verstommend dat hy binne die “raamwerk” opereer.

Beslis is daar kenmerke van verslapping te sien in die leerstellige mondering van die NG Kerk. Dit opereer baie aan die hand van akkommodasie en moet beslis ook die gevolg wees van die sogenaamde “luisterseisoen” van die NG Kerk. ‘n Mens wonder net hoe baie vog ‘n spons kan suig. Hoeveel dwaling wil die NG Kerk nog akkommodeer voordat dit verwoes word? Wanneer die kernsake van die Evangelie begin ontken word, dan het jou leerstellige raamwerk se heinings gebreek en almal weet wat die logiese gevolge is vir ‘n kerk sonder leerstellige grense. Die grootste teiken van die vyand van die begin van tyd is die Waarheid soos deur God geopenbaar. “Het God werklik gesê?” Daardie tegniek is nou nog aan die werk. Breek die bron van die raamwerk af, en daardie raamwerk staan op los fondamente.

In al hierdie sake was die suiwerheid van God se Woord, die beginsel van Sola Scriptura, in die spervuur. Dit is altyd die geval waar dwaalleer by betrokke is, omdat dwaling ‘n direkte aanval is op die beginsel dat God se Woord die finale en gesaghebbende bron is vir leer en lewe. Indien jy dus die duiwel se persoonlik aard wil ontken, moet jy verby die feit kom dat hy met Jesus gepraat het en Hom versoek het. Jy moet dus verduidelik of Jesus ‘n skisofreen was met ‘n gesplete persoonlikheid of interne boosheid, of ‘n leuenaar wat mense probeer swaai het ter wille van ‘n gevolg, of jy moet erken dat Hy werklik God se Seun is, en dat die duiwel ‘n werklike persoonlike wese is.

Dit is ook ‘n duidelike wegbeweeg van die Gereformeerde identiteit van die NG Kerk, wat primêr bestaan in die aanvaarding dat God se Woord sentraal is en die Belydenisse daarmee ooreenstem. Al hierdie sake toon ‘n duidelike herinterpretasie van die Gereformeerde identieit van die NG Kerk. In die verhore van Kotze en Burgers het die Sinode hulle Gereformeerde Belydenis hoog geag. By die verhoor van Du Plessis kan ons al krake sien, maar in die geval van Du Toit is daar duidelik wegbeweeg van die Gerformeerde Belydenis en raamwerk ter wille van liberalistiese dwalinge wat die idenititeit van die kerk duidelik bevraagteken.

Tyd sal leer wat die effek hiervan op die toekoms van die NG Kerk in Suid Afrika gaan wees, maar vir die onmiddelike is dit ‘n ongelukkigheid dat dwaling op so ‘n growwe wyse toegelaat word as binne die kerk se huidige raamwerk.

Voetnotas

1 Du Plessis p215-223

2 “en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is”

3 Du Plessis p223-229

4 AR Olivier

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *