Dit is altyd ‘n moeilike vraag wat jou te doen staan wanneer jy dwaling raaksien. Dit is ook gewoonlik so dat dit nie sommer skielik op jou afstorm en jou oorval nie. Die insypeling daarvan gebeur gewoonlik oor tyd. Mense is maar “creatures of habit”, en enige skielike verandering maak onmiddelik onrustig. Maar geleidelike aanpassings is gewoonlik meer aanvaarbaar, want dan raak jy gewoonlik gaandeweg gewoond aan die “nuwe” idees wat so naby aan die oorspronklike klink. Die probleem kom egter as jy dit begin sien vir wat dit is en dan moet besluite neem. 

Die probleem verdiep natuurlik wanneer jy aan een of ander geloofsgemeenskap behoort en besef die effek is nie slags persoonlik nie, maar dit raak ‘n hele geloofsgemeenskap. Hoe moet jy jou rol in hierdie situasie sien? Wat staan jou te doen as gelowige wat oortuig is daarvan dat valsheid besig is om jou en jou geloofsgemeenskap te oorrompel? 

 

Martin Luther was op sy dag met so ‘n situasie gekonfronteer. Die magtige Rooms Katolieke (RK) beweging het ‘n ysterklou in die samelewing gehad. Kerk en staat was erg inmekaar verstrengel, die roomse ringkoppe het die Bybel van die hoi poloi weerhou. Slegs hulle het die wysheid en vermoë gehad om die Skrif te hanteer. Dan was daar ook die aflaatstelsel waar jy kon betaal om jou sondes vergewe te kry (en hopelik ‘n gemakliker vagevuur belewenis te hê). Om alles te kroon het Luther ‘n ontmoeting met die genadige God deur sy Woord gehad (dis nou terwyl hy Romeine bestudeer het). Hierdie ontmoeting met die God van die Woord het hom uit sy sokkies geskok en die dwaling van die RK laat sien. Ons weet wat die uiteinde hiervan was, waarvan ons vandag die vrug is! Luther het nie onmiddelik sy kloostertassie gepak nie (wonder nogals wat sou alles in so tassie wees). Dit was ‘n lang  en 

moeisame stryd wat op die ou einde opgeëindig het in ‘n baie direkte breuk weg van die RK om ‘n beweging aan die gang te sit wat tot vandag nog vrug dra (al het dit in die tussentyd ook al deur baie stryd gegaan).  

‘n Mens sal dalk nie alles weet en verstaan waardeur Luther gegaan het terwyl hy midde in daardie stryd was nie. Wat wel duidelik is, is dat hy daarvan oortuig was dat dit waarvan hy oortuig is in skerp kontras met dit wat hy in die RK geken het EN dat hulle gedwaal het. Hy moes sy pad hiermee loop, en loop het hy! In hierdie proses is baie mense oortuig van die waarheid, losgemaak van die houvas van die RK, en Luther self radikaal verander in sy denke en teologie. 

Dit is maar een voorbeeld van ‘n pad wat geloop word met die raaksien van dwaling. Ons lê so baie klem op die wat van dwaling, dat ons vergeet dat daar is ‘n hoe rondom dwaling. Hoe hanteer jy dit as kind van God wat deel is van ‘n groter geloofsgemeenskap? Die brief van Judas gee nogals hier waardevolle leiding. Alhoewel Judas baie grafies is oor hoe dwaling lyk en valse leraars optree, is dit duidelik dat sy fikous nie net daar lê nie. Deur hom wil die Here tog ook vir sy kinders wys hoe dit hanteer behoort te word.

– Stry vir die geloof 

Vers 3:

Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.

Vir Judas is die geloof so belangrik dat hy selfs die oorspronklike bedoeling met sy brief verander. En dit gebeur. Die grafiese werklikheid van dwaling bring jou eintlik op ‘n ander baan as jy die diepte en omvang daarvan begin raaksien. 

Let daarop dat Judas nie hier verwys na die reddende geloof nie, maar van die leringe, die fondasie waarop die kerk gebou is, wat Paulus ook noem die “leer van die Apostels en Profete”. Hy vermaan die gelowiges om “kragtig” hiervoor te stry. Dwaling is nie iets wat in die verbygaan met ‘n besem opgevee kan word nie. Dit vreet tot aan die wese van die kerk se bestaan en as dit nie gekeer word met ‘n kragtige poging nie, kan dit die leer van die kerk wegvreet tot daar van hom niks oor is om op te staan nie. Neem die leerstellings van die kerk weg, en jy ruk hom tot in sy fondament.

Ek verwys nie hier na ‘n aanbidding van die belydenisskrifte nie – dis wat die dwaalleraars graag wil voorhou. Die “leer van die Apostels en Profete”, is niks anders nie as ‘n ander manier om te verwys na wat Jesus genoem het “om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mattheus 28:19); dit raak die wesenlike oortuigings van die kerk, byvoorbeeld die Skepping, God as Skepper en Onderhouer van die Skepping, die sonde en vernietigende effek daarvan op die mens, God as Regverdige wat sonde haat en straf, God se oneindige groot liefde en genade, die maagdelike geboorte van die Here Jesus, die eenheid van God en mens in Christus, die fisiese opstanding uit die die dood, hemel, hel, ewige oordeel. So kan ons aangaan. Die belydenisse verwoord maar net alles wat die Skrif hieroor leer.

Hierdie is nie slegs die taak van die geleerdes of ‘n uitgelese paar ouens wat bereid is om hulle koppe op ‘n blok te sit nie. ELKE gelowige word vermaan om kragtig te stry. Dit is wel so dat nie almal dit op dieselfde wyse sal doen nie, maar elkeen moet stry. Luther moes opstaan en sy 95 stellinge teen die heilge planke van die kerk gaan vas timmer. So moet elkeen weet wat om met sy / haar “95 stellinge” te doen, maar dwaling kan slegs afgeweer word as daar by suiwer leer gehou word. Suiwer leer kry ons uit die Woord van God.

– Hou by die Woord

Vers 17-18:

Maar julle, geliefdes, moet die woorde onthou wat tevore gespreek is deur die apostels van onse Here Jesus Christus, dat hulle vir julle gesê het: In die laaste tyd sal daar spotters wees wat volgens hul eie goddelose begeerlikhede wandel.

Dit was interessant genoeg nie die Reformasie wat gesê het “Sola Scriptura” nie, maar die Bybel homself. Die Reformasie het maar net teruggegryp na hierdie belangrike beginsel (dis nou saam met die ander Solas). Selfs Jesus het gesê die Sadduseërs dwaal omdat hulle die Skrifte nie ken nie, en was die nie die profeet Hosea wat die geweldige woorde geopper het nie:

My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet. (Hosea 4:6)

Ouch! Dis nie maklike woorde om te hoor nie. Judas sê ons moet onthou wat die apostels geleer het, en spesifiek oor die kwessie van dwaling. Die Woord is ons enigste riglyn vir waarheid. Wat ander ouens leer moet getoets word daaraan. Die liberale teologie wil hê dat die Bybel feilbaar, vol foute, subjektief, mitologie, selfs snert moet wees. Glo ons dit, is ons hele bestaan as protestantse kerk ‘n klug, want die Reformasie het gesê Sola Scripture, keer terug na die Woord van God. Nehemia het teruggekeer na Jerusalem en daar is die Wet weer in ere herstel. Dan is nie net die protestantisme ‘n klug nie, maar die hele bestaan van die kerk ‘n sirkus en ‘n leuen en bestaan dit net vir die plesier van saamwees.

Die Skrif is kern tot die wese van die kerk. Dit is die bron van suiwer leer, maar ook die openbaring van God Drie-Enig aan die mens. Dit is deur die Woord dat ons God leer ken. Hy het dit so gewil. Dit is ook deur die Woord dat ons ‘n dieper geestelike lewe met Hom het en die Heilige Gees speel hierin ‘n geweldig belangrike rol. Dit bring ons dan by die volgende aspek in ons hantering van dwaling.

– Maak seker jy groei geestelik

Vers 20:

Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof …

Die Woord wil ons vermaan om nie te vergeet dat onsself geestelik moet groei nie. Hy verwoord dit as “opbou in jul allerheiligste geloof”. In vers 3 het hy vermaan om daarvoor te stry, hier vermaan hy om toe te neem in jou kennis én praktiese uitleef daarvan. Dus, jy kan nie stagneer in jou kennis en uitlewing daarvan nie. Die aard van dwaling dwing jou reeds om seker te maak dat jy nie stagneer nie, want dwaling stagneer nie en dwaalleraars is slim genoeg om die volgende argumente gereed te hê. Jy moet hulle dus een voor wees.

Tog is dit nie slegs die dinamiese aard van dwaling wat dit van jou vra nie, ook is dit nie die primêre rede nie – dit sou darem te eng wees! Nee, die primêre rede is dat dit jou bring by ‘n dieper verhouding met die God wat waarheid liefhet omdat Hy waarheid is. Sy Seun het die waarheid kom leef. Die Gees het die waarheid laat opteken en herinner sy kinders ELKE oomblik daaraan. Hoe dieper jy dus soek na die waarheid en hoe ernstiger jy begeer om opgebou te word in die allerheigste geloof, hoe beter sal jy God leer ken uit daardie selfde geloofsbasis. Hy is getrou daarin. Sorg dat jy erns begin maak met dit – en nie slegs kopkennis wat moegmaak nie, maar ‘n lewe wat waarheid laat grondvat. 

Dit is in elk geval wat die kerk moet wees, die verpersoonliking van waarheid in praktiese terme. Waarheid verander byvoorbeeld enige kultuur na die beste. Waar waarheid verwaarloos word soos in ons postmoderne kultuur, daar raak die kerk kultuurkerk en penetreer die kerk nie meer die samelewing nie, maar andersom. Dit is nie wat kerk is nie. Is die probleem in ons huidige situasie nie dalk dat ons nie meer opgebou word in ons allerheiligste geloof nie, maar gevoed word deur ons onheilige kultuur?

Natuurlik is dit nie moontlik as ons nie geconnect is met die God van ons geloof nie. Hierdie konneksie word moontlik deur die gebed. 

– Maak ook seker van jou gebedslewe

Vers 20:

Maar julle, geliefdes, moet … in die Heilige Gees bid 

Dit is insiggewend dat Judas vir ons die ware essensie van gebed hier kom aandui as dat dit “in die Heilige Gees” is. Selfs gebed is nie iets wat die mens uit sy eie kan vermag nie. So totaal afhanklik is die mens van die reddende werk van God, dat selfs sy gebedslewe van die Gees van God afhanklik is. Enige gebedslewe buite om hierdie waarheid, is uit die mens self en gevul met die vlees.

Dit maak ook sin as ons in gedagte hou dat God is Gees, en wie Hom aanbid, moet Hom in gees en waarheid aanbid, en wie beter as die Gees van God om ons hierin te begelei en te ondersteun. Dit beteken egter nie mistieke ervarings wat so geredelik vir ons opgedis word nie. Lectio Divina, kontemplatiewe gebede – dit is alles tegnieke uitgedink deur mense om jou sogenaamd naby aan God, selfs een met God te laat wees. Interessant dat toe Jesus se dissipels Hom gevra het om hulle te leer bid soos Hy, Hy vir hulle ‘n redelik “straight forward” voorbeeld gegee het. Hy het hulle nie maak sit en mediteer oor een of twee gedagtes en hulle gevra of hulle ‘n wonderlike ervaring gehad het nie. Nee! Sy les was reguit en op die punt.

Paulus self sê in Romeine 8 ons weet nie mooi wat om te bid nie, maar die Gees ondersteun ons in ons gebede. Die punt is dus duidelik, maak seker dat jou gebedslewe gerig word deur die Gees van God self en nie jou eie resepte en metodes nie. 

Nie alleen is God Gees nie, maar ook is daar ‘n geesteswêreld wat teen God en sy kerk gemik is. Ons stryd is inderdaad nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte in die lug! Dit noop ons om in totale afhanklikheid ons gebedslewe afhanklik te maak van die Gees van God. Jesus kon die Satan afweer omdat Hy so in afhanklike gebed voor God was. Gebed in die Gees is ‘n manier waardeur die Gees ons herinner aan die Woord van God en ons daarheen terugneem en dit gee ons ‘n Geesvervulde krag om dwalinge te beveg. Ek lees dievolgende aanhaling:

We will only advance in our evangelistic work as fast and as far as we advance on our knees. Prayer opens the channel between a soul and God; prayerlessness closes it. Prayer releases the grip of Satan’s power; prayerlessness increases it. That is why prayer is so exhausting and so vital. If we believed it, the prayer meeting would be as full as the church.[1]

Uit die voorafgaande is dit baie duidelik dat ‘n lewe wat erns maak met die Woord van God, wat groei in die dieptes daarvan en wat in afhanklikheid van die Gees van God in gebed voor God is, verdieping sal ervaar in sy verhouding met God. Dit bring jou tot die besef van die ongelooflike liefde van God.

– Maak seker jy is veilig in God se liefde

Vers 21:

Maar julle, geliefdes, moet … julleself in die liefde van God bewaar

Judas gee ‘n twist aan die verhaal. Hy sê nie jy moet die die liefde van God ken nie – dit word uiteraard geimpliseer hier. Hy sê jy moet jouself in die liefde van God BEWAAR. Ons dink gewoonlik aan die reddende en genadige kant van God se liefde, maar baie min aan die beskermende kant daarvan. Dit is wat Judas hier wil hê, dat jy ook daardie kant sal ken en ondervind. John Gill sê onder ander hieroor:

“preserve yourselves by the love of God”; against Satan’s temptations, the snares of the world, and the lusts of the flesh; whenever Satan solicits to sin, and any snare is laid to draw into it, and the flesh attempts to be predominant, saints should betake themselves to the love of God, as to a strong hold and preservative against sin, and reason as Joseph did … [2]

God se liefde hou veilig. Lees gerus die Psalms om die talle voorbeelde hiervan te sien uitspeel in die ouens wat dit geskrywe het. God se wese is liefde skrywe Johannes, en sy liefde gaan so ver as om aan sy kinders veiligheid en sekuriteit te bied. Romeine gee ook dievolgende hieroor:

Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. (Romeine 8:31-39)

Dit gee natuurlik vir ons ‘n geweldige versekering wat ook ons toekomsverwagtinge bepaal. So skrywe Judas dus verder.

– Jy moet ‘n toekomsperspektief hê

Vers 21:

… terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag.

‘n Groot deel van die leuen van die slang daar in die mik van die Edenboom was om vir Eva te sê dood is ‘n leuen. Sedert daardie dag maak die mens nog steeds hierdie groot fout waarvoor Eva haar lewe op die spel geplaas het. Dood is baie versag, terwyl die realiteit daarvan is dat die God se oordeel op straf is. Elke keer wanneer iemand doodgaan, word ons opnuut herinner aan die werklikheid van hierdie oordeel. 

Natuurlik, word ook die lewe na die dood dus verontagsaam en bespot. Hemel en hel word afgemaak as versindsels, wensdenkery, ‘n pie in the skie as jy wil. Daar is ‘n geweldige druk in die rigting van ‘n Koninkryk-hier-en-nou teologie. Die volmaakte wat God beloof het vir sy kinders moet nou gerealiseer word. So word ons natuurlik stelselmatig gewoond gemaak aan hierdie bose gedagte en word ons hoop op die uiteindelike beloftes oor ‘n ewige en heerlike bestaan in die teenwoordigheid van God vaag.

Die eerste Christene het geleef met hierdie verwagting dat Christus binnekort sou terugkeer! Vir hulle was dit motivering. Dis presies wat Judas hier skrywe. Al die voorafgaande dinge is nodig TERWYL ons die ewige lewe en die barmhartigheid daarvan verwag.

Ek hoor hierdie gedeelte vermaan dat as ons nie ‘n hoop op die ewigheid saam met Christus het nie, het ons ook nie ‘n hoop om vas te staan in die waarheid in hierdie aardse lewe van ons nie. Stefanus is dood terwyl hy die Seun van die Mens aan die regterhand van God gesien het en die hemele geopen gesien het. Hebreërs 11 beklemtoon hierdie geweldige groot krag wat die vooruitsig op die toekoms het om ons in die hede staande te hou. 

Die impak daarvan is so geweldig dat ons selfs daardie barmhartigheid waarna ons uitsien nou al aan ander kan deel.

– Bewys die barmhartigheid waarna jyself uitsien

Vers 22:

En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys;

Nou skuif die fokus na dié wat prooi geval het vir dwaling. Vir Judas is daar twee benaderings, die een minder kragdadig as die ander. Sommiges sal twyfel skrywe hy. Hulle sal nie so diep wegsink in die verdwaaldheid nie. Hulle sal wel met diep fronse op die voorkop rondloop al wonderende of die valse nie dalk die ware is nie. 

Dit is belangrik om te besef dat ons huidige klimaat wel onderskeiding ontvang in die kuns van twyfel. Die hele postmoderne kultuur is een van twyfel en die omverwerping van alles wat vas en waar is. Die skokkende is dat voorstanders hiervan dit openlik aan die lidmate van hulle kerke voorhou as edel om te twyfel. Lees maar die reeks oor die effek van die Ontluikende Kerk op die evangeliese kerk om die realiteit hiervan te besef. So vervall ons in ‘n twyfelkerk.

Natuurlik is twyfel aan die wortel van dwaling, want daardie selfde glibberige gedierte in die mik van die boom het twyfel by Eva geskep en haar laat frons oor God, sy Woord en haar eie plek in die skepping.

Nou skrywe Judas ons moet aan hierdie span twyfelendes barmhartigheid bewys, dieselfde barmhartigheid wat ons verwag ons deel gaan word in Christus in die ewige lewe. Wat beteken dit? Ons moet die voordeel van die ewige lewe nou as realiteit ken en vanuit daardie hoop die twyfelaars terugbring na dieselfde hoop in Christus. Daarom is dit so belangrik dat ons wat die valsheid sien die hoop op die ewigheid sal ken en beleef. Daarsonder kan jy dit nie vir die twyfelaars kan gee nie.

Wees dus sensitief vir die vrae wat iemand jou vra. Dalk is hy nie ‘n dwaalleraar nie, maar iemand wat twyfel en saggies deur jou vastigheid in die hoop teruggebring moet word na veilige plekke waar hy / sy weer die waarheid kan ervaar en ken en leef.

– Soms moet jy nie so sagmoedig te werk gaan nie

Vers 23:

maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk

Dan is daar die ander groep. Hierdie span is ver verby twyfel. Hulle is in die vuur sê Judas en hulle moet uitgeruk word. Judas se woorde is duidelik – daar gaan tye wees wat jy jou pantoffels en sagte kleertjies sal moet uittrek, jou sal moet bewapen tot die tande toe, jou vuurvaste klere sal moet aantrek en daardie ouens uit die vuur van dwaling sal moet gaan uitruk. Soms beteken dit dalk dat jy soos ‘n Luther van ouds sal moet breuk met die establishment en ouens sal moet wegruk daarvan om weer by waarheid te kom. 

Tog doen jy dit nie in jou eie krag nie, maar met vrees omdat jy besef jy is mens. Dit dwing jou tot afhanklikheid van God en nie jou eie kop en vermoëns nie. Ook doen jy dit terwyl jy die sonde van dwaling haat en dit ten alle koste vermy.

Om dwaling so te beveg is welliswaar gevaarlik en moet dus met versigtigheid hanteer word, maar die gedagte is ‘n kragdadige toetree tot die voorste linies van die stryd om daar die magte van die duisternis in die krag van die Koning van die konings aan te durf. Met vrees en met haat – vrees om nie te swig voor die krag daarvan nie, vrees om nie in jou eie krag te stry nie; haat omdat dwaling vuil maak en besoedel en God in sy wese daardie selfde sonde haat.

– Weet waar lê jou krag en behoud

Vers 24-25:

Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen.

Judas sluit af met ‘n loflied aan Christus, en in hierdie loflied sien ons ons behoud en krag. terwyl jy dan besig is om hierdie geweldige stryd te stry, weet waar kom jou krag vandaan. Ons word gedra deur Hom wat magtig is om van struikeling te bewaar en ons sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig!

Martin Luther het in sy dae dwaling raakgesien, dit hanteer op so ‘n wyse dat ons vandag met trots en dankbaarheid teenoor God kan terugkyk op hierdie man en sy lewe (met al sy menslike foute). Ons is die vrug op een man wat bereid was om op te staan en te sê: “Hier staan ek!” Mag God ons genadig wees in ons stryd teen die valsheid wat ons kerke binnedring – soms onwetend, soms skielik, en mag ons dit elke oomblik hanteer in die lig van wat Judas hier neergepen het onder die inspirasie van die Gees van Christus.

 

Voetnotas

1. Alan Redpath (January 9, 1907-March 16, 1989), British evangelist, pastor, and author 
2. John Gill, Exposition of the Entire Bible

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: