Geagte mede-gelowige(s),

Sedert ons vorige omsendbrief, het ‘n paar dinge gebeur waarvan ons kennis moet neem.   Dr. Wynand Louw van Melkbosstrand het ‘n tug aksie teen dr. Ben du Toit aanhangig gemaak, maar hom later van die ondersoek onttrek omdat hy nie gelukkig was oor die hantering van die saak nie.   Prof. Johan Janse van Rensburg van Bloemfontein het die geleentheid gehad om die Skriftuurlike standpunt teenoor die Ontluikende kerk (Emerging Church) oor die radio te stel, wat ‘n wonderlike geleentheid was om die behoudende siening weer te gee.   Boonop het die Hoëveld Sinode besluite aanvaar wat na die volgende Algemene Sinode verwys word om die besluite van verlede jaar meer in ooreenstemming met die Skrif te stel.   Vir dié positiewe verwikkelinge is ons innig dankbaar.

Ons was verras oor die aantal persone wat op ons verklaring gereageer het en waarvandaan die antwoorde oral gekom het.   Daar was ‘n brief van Kuwait, een van Namibië en ‘n hele aantal van lidmate van ander kerke as die NG Kerk.   Daarom het ons op ons jongste vergadering besluit dat ons enige persoon wat die gereformeerde belydenis onderskryf, as medestander in dié saak aanvaar.

Met die oog op die NG kerke wat nie-Afrikaans verstaan nie (die vroeër sogenaamde Dogter kerke), het ons besluit dat die verklaring ook in Engels beskikbaar gestel moet word.   Aan die vertaling sal nou aandag gegee word.

Voorts is besluit om bondige studiestukke op te stel waarin die Skriftuurlike standpunt weergegee word oor sommige besluite wat die jongste Algemene Sinode geneem het.   Hierdie studiestukke sal aan ons medestanders gestuur word sodat ons as ondertekenaars van die verklaring ons standpunt duidelik kan stel.   U word dus versoek om asseblief daarop te reageer sodat ons dit wat ons aanbied, duideliker en so getrou as moontlik aan die Woord kan weergee.

Ons wil ook baie graag met ander groepe in ons land, wat dieselfde as ons oor die huidige toestand in die kerk voel, skakel sodat ons sodoende mekaar kan ondersteun en by mekaar kan leer.   As u dus van sulke groepe bewus is, laat ons asseblief hulle adres kry sodat ons met hulle kontak kan maak.

Laat ons asseblief enige nuus uit u omgewing kry sodat ons dit met mekaar kan deel.  

Intussen moet ons volhard om vir Jesus Christus te getuig, soos Hy beloof het dat dit na die uitstorting van die Heilige Gees die geval sal wees:  Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.(Hand. 1.8)

Hartlik gegroet in die Naam van ons Here Jesus Christus

Sien ook

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *