Oorsprong

Aan die begin van die 4de eeu n.C. het ‘n sekere Presbiter, Arius, in Aleksandrië begin leer dat Jesus nie van dieselfde wese van God die Vader is nie. Dit het hy geleer in teenstand teen Biskop Alexander van Aleksandrië. Alexander het geleer Jesus en die Vader was van dieselfde substansie (homoousios). Daarom was Jesus self God. Hierteen het Arius Alexander beskuldig van ‘n vorm van Sabellianisme, waarteen hyself ‘n stryd gehad het.

Kategorie

Teologie

Beskrywing

Historiese drywers

‘n Paar faktore het natuurlik sy denke hieroor gevorm. Hy het in Antiochië gestudeer onder ‘n man met die naam Lucianus van Antiochië. Lucianus het probeer hou by ‘n letterlike verstaan van die teks, teenoor die Alexandrynse skool wat ‘n meer allegoriese benadering gehad het. Laasgenoemde sou dan baie klem lê op die godheid van Christus. Hy het hierdie benadering in sy geheel verwerp en het self geleer Jesus was nie God nie. Sy studente en volgelinge is dan ook die Lucianiste genoem. Lucianus word ook in ‘n sekere sin die vader van die Arianisme genoem, omdat Arius en die voorgangers van die Arianisme studente van hom was.

‘n Omsendbrief van Biskop Alexander van Alexandrië in 321 n.C. verbind Lucianus met Paulus van Somsata, wat met die term homoousios die ewigheid van die Logos verwerp het. Dit wil wel voorkom asof die kerk Lucianus se posisie in ere herstel het alreeds in 285 n.C. Hoe dit ook al sy, dit wil voorkom asof sy studente sy vorige posisie oor Jesus behou het. Volgens Philip Schaff was Lucianus “a critical scholar with some peculiar views on the Trinity and Christology which were not in harmony with the later Nicene orthodoxy”. [History of the Christian Church] Paulus van Samosata het Jesus beskou as ‘n bonatuurlike mens bekragtig deur die Heilige Gees, maar slegs die Vader alleen was volkome God. Lucianus het die konsep van die Logos as ‘n tipe middelganger tussen God en mens ingespan. Die Logos is deur God geskep “out of that which is not” en in Jesus geïnkarneer. Daarom was Jesus die hoogste geestelike wese naas God, maar aan Hom ondergeskik. Jesus was dus die inkarnasie van die Logos, maar as mens het hy nie ‘n siel gehad nie. Dus, nie ten volle God nie, maar ook nie ten volle mens nie. Christus was dus ‘n skepping van God, maar ook God se agent in die skepping van alles na hom. Alhoewel hy nie die leer van Paulus van Samosata ondersteun het nie, is hy wel daarvan beskuldig en uit die kerklike gemeenskap gesit. Dit is, soos reeds genoem, in 285 n.C. herstel. Arius, Esebius van Nicomedia en ander leiers in die Arianisme het onder Lucianus studeer en hom geëer as die voorganger en stigter van hulle stelsel.

‘n Tweede faktor was die stryd teen die Sabellianisme, vernoem na Sabellius wat tydens die 3de eeu n.C. geleef het. Hierdie dwaling het ‘n absolute eenheid tussen die Vader en die Seun geleer, sodat die Seun en die Vader identies. Hierdie vorm van modalisme het so die eenheid van God bo die onderskeie personas binne die Drie-Eenheid verabsoluteer, sodat daar geen onderskeid sou wees nie. Die Vader was aktief in die skepping, die Seun in verlossing, en die Heilige Gees in heiligmaking. Noetus van Smirna was een van die eerstes wat hierdie siening gehandhaaf het. Sy leerlinge het sy leer na Rome gebring en sy leringe is dan opgetel deur Sabellius.

Hierteenoor het Arius gestry. Vir hom was daar ‘n onderskeid tussen die Vader en die Seun, maar die onderskeid het hy so ver geneem as om die goddelikheid van die Seun te verwerp. Die Seun het amper dieselfde, maar nie heeltemal dieselfde wese nie (homoiousios). Daar is onderskeid en onderworpenheid.

Die derde was die opkoms van die Gnostisisme tydens die 2de eeu n.C. Alhoewel sterk beïnvloed van buite die kerk, was daar tog gnostieke onderstrominge binne die kerklike geledere. Marcion het bv. sterk geleun op die gnostieke oortuigings. Die dryf van die “christelike gnostiek” was die ontkenning van die goddelikheid van Jesus. Arius het Christus beskou as ‘n verhewe, bonatuurlike agent, selfs demi-god. Hy was die eersgeborene oor die skepping en daarmee saam die belangrikste emanasie van die goddelikheid. Binne die konteks van wat Marcion geleer het, en die aanvaarding daarvan deur sommige binne die Christelike geloof, is die nie moeilik om te dink Arius se sienings sou aanklank vind nie. Daarom was die antwoord van Nicea beide gerig teen die invloede van die Gnostiek, sowel as dié van die Arianisme.

Kontroversie

Die leer van Arius het verdeeldheid onder die kerkleierskap gebring, asook die gevaar van onvrede vir Keiser Konstantyn se politieke ryk ingehou. Veral tussen die jare 321 n.C. en 321 n.C. is die stryd tussen Arius en Aleksander  tot ‘n spits gedryf. Biskop Alexander het herhaaldelik van Arius verwag om sy siening te verander. In 321 n.C. het Alexander ‘n sinode van 100 biskoppe byeengeroep en is Arius met ‘n 80 teen 20 stemming ge-ekskommunikeer. 

Dit was egter nie die einde van Arius en sy dwaling nie. Hy het die geleentheid gebruik om sy lering oor Jesus verder te versprei. Briewe is geskryf, liedere gekomponeer en dwalinge by die musiek gesit. Dit het tot grootskaalse onenigheid en verdeeldheid binne die kerk gelei. Natuurlik sou Konstantyn dit ook nie daar laat nie en onder sy kerklike raadgewer Ossius is die eerste Sinode van Nicea in 325 n.C. byeen geroep om hierdie kontroversie uit te klaar.

Tydens hierdie sinode is die leer van Arius as dwaalleer verwerp, veral onder die sterk invloed van Biskop Athanasius van Alexandrië. Die sinode het dan ook die belydenis geformuleer en daar is van al diégene teenwoordig verwag om hierdie belydenis met die sogenaamde “anthemas” te onderteken. Diegene wat dit nie wou onderteken nie, o.a. Arius, is uit die kerk ge-ekskommunikeer en uit die ryk gedeporteer.

Nog was dit nie die einde van die stryd nie. Na die dood van Keiser Konstantyn is die ryk tussen sy twee seuns verdeel. Hulle het self aan beide kante van die draad gesit. Met Konstans se dood het die hele ryk aan sy broer Konstantinus, ‘n ondersteuner van Arius, behoort. Arianisme was dus nie alleen die middelpunt van ‘n teologiese stryd nie, maar baie duidelik ook een wat die politieke terrein tot ‘n groot mate beïnvloed het. Na ‘n lang en moeisame wipplankryery, is Arianisme finaal by die Sinode van Konstantinopel in 381 n.C. as dwaalleer verwerp en is die Belydenis van Nicea bevestig as die amptelike belydenis van die destydse kerk oor die wese van Christus (homoousios).

Die Dwaling

Tydens die Sinode van Nicea is o.a. die Belydenis van Nicea opgestel en onderteken. As aanhangsel tot die belydenis, is daar ook die Oordele (Anathems), bygevoeg. Hierdie dokument som ‘n paar punte op wat die hooflyne van die Arianisme se teologie oor Christus verteenwoordig. Die oordele lui as volg:

But the holy, catholic, and apostolic church anathematizes those who say, “There was a time when he was not” and “He was not before he was begotten” and “He was made from that which did not exist,” and those who assert that he is of other substance or essence than the Father, that he was created, or is susceptible of change.

In die omsendbrief van Alexander aan sy biskoppe. som dit die posisie van Arius soos volg op:

God was not always a Father, but there was a time when God was not a Father. The Word of God was not always, but originated from things that were not; for God that is, has made him that was not, of that which was not; wherefore there was a time when He was not; for the Son is a creature and a work. Neither is He like in essence to the Father; neither is He the true and natural Word of the Father; neither is He His true Wisdom; but He is one of the things made and created, and is called the Word and Wisdom by an abuse of terms, since He Himself originated by the proper Word of God, and by the Wisdom that is in God, by which God has made not only all other things but Him also. Wherefore He is by nature subject to change and variation as are all rational creatures. And the Word is foreign from the essence of the Father, and is alien and separated therefrom. And the Father cannot be described by the Son, for the Word does not know the Father perfectly and accurately, neither can He see Him perfectly. Moreover, the Son knows not His own essence as it really is; for He is made for us, that God might create us by Him, as by an instrument; and He would not have existed, had not God wished to create us. Accordingly, when some one asked them, whether the Word of God can possibly change as the devil changed, they were not afraid to say that He can; for being something made and created, His nature is subject to change.

Hierdie kan opgesom word in die volgende punte:

  • Arianisme ontken die Seun se ewige bestaan saam met die Vader;
  • Arianisme leer dat daar ‘n tyd was toe die Seun van God nie bestaan het nie;
  • Arianisme leer dat voor Jesus gegenereer was het Hy nie bestaan nie;
  • Omdat die Seun ‘n geskape wese is, is hy onderhewig aan morele verandering en het alleen deur sy eie wil;
  • Arianisme leer die Seun is ondergeskik aan die Vader en is nie werklik God nie. Hy is van ‘n ander wese / hipostases.

Alhoewel Jesus volgens Arius hoë aansien en eer sou hê, was hy nietemin nie God nie, maar ‘n geskape wees. Jesus het wel uit die godheid voortgekom, maar was nie ten volle dieselfde nie (homoiousios). Dus kon goddelikheid nie aan Christus toegeskryf word nie (dus ook nie aan die Heilige Gees nie).

Arius het die godheid van Christus ontken, maar was tog bereid dat Jesus aanbid kon word en as Here bely word. Daarom het hy die oorspronklike doop belydenis (die voorganger van die Apostoliese Geloofsbelydenis) onderskryf.

Nicea se Antwoord

Die Sinode van Nicea (325 n.C.) se antwoord op Arianisme is die resultaat van baie jare se debatteer, vergaderings, en kan ons ook sê onderhandelinge en politiekery. Nogtans was hierdie sinode se besluit een wat nie net die rigting van die kerk in die 4de eeu verander het nie. Inteendeel, vandag nog gryp die behoudende kerk terug na hierdie vergadering om daaruit te put. Dink maar aan die meer onlangse stryd oor die Ewige Onderdanigheid van die Seun (Eternal Subordination of the Son – ESS in kort) wat op die spits gedryf is deur Prof. Wayne Grudem. Behoudende geleerdes het telkens na Nicea verwys as die bepalende stem van die kerk oor die goddelikheid van Christus en daarmee saam die posisie van elkeen van die Drie Persone in die Drie-Eenheid.

Wat was hierdie antwoord dan? Jesus is gelyk God en mens. Hy het dieselfde wese (homoousios) as God die Vader en God die Seun. Die Drie (Vader, Seun en Heilige Gees) is egter onderskei van mekaar. So het Nicea die Eenheid van God behou sonder om die onderskeid binne die Drie-Eenheid op te hef. Hierdie antwoord is geformuleer in die Belydenis van Nicea en is later by die Sinode van Konstantinopel in 381 n.C. herbevestig. Omdat dit dan ook so wyd aanvaar word, sorteer dit dan ook onder die Ekumeniese belydenisse, saam met die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Belydenis van Athanasius.

Bronne

Verwant

Athanasius van Alexandrië
Sabellianisme
Belydenis van Athanasius
Belydenis van Nicea
Homoousios
Homoiousios
Konsubstansiasie
Die eerste Sinode van Nicea

 

Leave a comment

Your email address will not be published.