Die term “Calvinisme” word losweg gebruik om te verwys na die voorstanders van die T.U.L.I.P. konsep. Die geskiedenis het egter sy eie storie te vertel oor hoe hierdie begrip tot stand gekom het. In die hedendaagse teologie word dit geredelik gebruik deur die sogenaamde “Arminians” as ʼn skelwoord om dan die breë spektrum van aanhangers van die tulpie te kategoriseer. Dit oorspronklike ontstaan van die begrip vertel egter ʼn ander verhaal.

Om die ontstaan te verstaan, is dit nodig om net so bietjie meer geskiedenis te verstaan. Na Martin Luther se breuk met die Roomse dwalinge, was daar ʼn opbloei van aanhangers van die sogenaamde “gereformeerde” teologie. Tog is dit duidelik dat die Reformasie nie ʼn eenvormige stroom gedagtes was nie. Toegegee, op kern punte is daar ooreengekom, maar op ander is daar deeglik verskil. Gaandeweg het die protestante wat in Duitsland was die leer volgens Martin Luther aangehang. Hulle sou later dan bekend staan as die Lutherane. Vir hulle was die Luther se leringe, sy kategismus en die Augsburgse Konfessie gesaghebbend.

Hierteenoor het die stede en dorpe van die Rynland en Switserland meer oorgeleun na Calvyn en sy dogma soos verwoord in die Institusie en dan veral die Heidelbergse Kategismus. Gaandeweg sou daar ʼn sterker bewustheid na vore kom dat hierdie twee groepe eintlik in heelwat opsigte nie met mekaar ooreengestem het nie. Die belydenisgrondslag – of dan die ontwikkeling van konfessionalisme – het hierdie onderskeid duideliker gemaak.

In die 1560’s het ʼn Lutherse teoloog, Joachim Westphal, die begrip “Calvinisme” gebruik om te verwys na die teologiese idees van Switserse Hervormers en dan Johannes Calvin in die besonder. Die verskil in sienings oor die sakramente was natuurlik ʼn katalisator in hierdie benaming deur Westphal. Sy bedoeling was dat dit eerder ʼn skelwoord moes wees as ʼn positiewe begrip. Teen die politieke agtergrond van Frederik III wat die Lutherse teologie “verlaat” het ten gunste van die Heidelbergse Kategismus, het hierdie begrip vinnig posgevat onder die Lutherane. So is die “Calvinisme” gebrandmerk as ʼn indringer in Duitsland. Calvyn het hierteen kapsie probeer maak as ʼn poging om Frederik III se oorgang na die Gereformeerde teologie te diskrediteer, maar dit was kort voor sy dood en sy besware kon nie deurgevoer word nie.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *