Oorsprong: Grieks duo, “twee” + pleuron, “kant, sy” = tweekantig, tweesydig

In die Gereformeerde Teologie is daar twee begrippe wat baie belangrik is vir die verstaan van die ontstaan, aard en voortbestaan van die verbond. Die eerste verwys na die ontstaan en aard. Hiervoor word die term monopleuries gebruik, met ander woorde, die verbond in sy geheel met die voordele daarvan (ook beloftes), die nadele (ook straf) en die voorskrifte, het sy inisiatief by God alleen.

Die monopleuriese ontstaan onthef egter nie die mens van sy aandeel nie, en daarom is die uitgangspunt dat die verbond is dupleuries in sy voortbestaan. Dit beteken dat die administrasie en nakom van die voorskrifte verbind beide partye, in hierdie geval God en mens, tot elkeen se onderskeie verantwoordelikhede. Dus die bekende frase as dit by hierdie saak kom, is naamlik die verbond is monopleuries in sy ontstaan, maar dupleuries in sy voortbestaan.

Daarom is die verbond ook so nou verweef met die verlossingswerk in Christus, wat volgens Hebreërs 8:8 en 13 die nuwe verbond genoem word. Dit val natuurlik terug op Jeremia 31:31-34 wat die belofte van die nuwe verbond inhou. God se reddingsplan, die uitvoer daarvan en die effektief maak daarvan, is alles die inisiatief van God (dus monopleuries in sy ontstaan). Die mens kan in hierdie aspekte daarvan geen aandeel hê nie. Tog, as die mens redding ontvang as ‘n genadegawe, dan is daar die roeping tot ‘n heilige lewenswandel in ooreenstemming met God se Woord, met ander woorde gehoorsaamheid tot ‘n heilige lewe. Hierin beloof God sy betrokkenheid en sy teenwoordigheid deur sy Heilige Gees. Dus, dupleuries in sy voortbestaan.
 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *