Hierdie vertrekpunt lê aan die hart van die Reformasie en word ondersteun en onderskrywe deur alle gelowiges en kerke wat die gees van die Reformasie navolg. Die uitdrukking is eerste gebruik deur Jodocus van Lodenstein (1620-1677) en kan letterlik uit die Latynse taal vertaal word as “die kerk hervormd, steeds hervormend.” Dit spel die pleit van die protestantse gereformeerdes uit en verwys na die oortuiging dat die kerk nooit mag stagneer nie. Terwyl die kerk in die reformasie wel bevry is van die Roomse dwalinge, het dit nie beteken dat die proses van reformasie ooit sou ophou nie. Die kerk onder die hoofskap van Christus en die ouderlinge moet voortdurend daarna streef om verder te hervorm.

Die vraag is waartoe word gereformeer of hervorm en die antwoord is duidelik na die Woord (Sola Scriptura). Daarom het die 5 Solas so ‘n prominente plek in die Gereformeerde teologie. Die kerk moet altyd hervorm om die Skrif en die leringe daarvan so suiwer as moontlik te hou en dit so noukeurig as moontlik na te volg. Daar moet dus voortdurend self-ondersoek ingestel word of leer en lewe nog gereguleer word deur en ooreenstem met die Woord van God.

Een van die krete wat die Reformasie voorafgegaan het, was Ad Fontes, of te wel “terug na die bronne” en hiermee is verwys na die Woord van God, wat dan ook die maatstaf van hervorming, verandering en vernuwing is. Dit alleen verhoed die soeke na hervorming by die verkeerde oorde. Om te bly strewe na vernuwing, beteken vernuwing gereguleer en bestuur deur die Skrif.

Hierdie begrip beteken dus nie “nuut” is altyd beter of die beste en daarom moet die nuutste gesoek en geïmplimenteer word nie. Dit lei gewoonlik tot humanisme en liberalisme. Waar nuut nie deur die Skrif gereguleer en as’t ware geïnisieer word nie, is dit nie hervorming nie. Hervorming is ook nie ‘n werk van die kerk of die lidmate nie. Dit vind plaas onder die regerende hand van die Here van die Kerk wat lei deur die Woord en die Gees.

Hervorming is nodig omdat die kerk bestaan uit mense wat tegelyk geregverdig en sondaars is (simul justus et peccator). Die sondaar komponent maak kwesbaar, terwyl die nuwe lewe hoopvol maak. Die spanning tussen hierdie twee vra om voortdurende hervorming. Dit is ook nodig omdat God voortdurend met sy kinders in verhouding is en Homself telkens deur sy Woord en Gees laat ken. Tye verander, kulture verander, mense verander, maar God nie, en hierdie konstante moet binne die konteks van die veranderlike geken word. Daarom is hervorming onder God se beheer, uitgeoefen deur sy Gees en gereguleer deur die Woord, en altyd gerig op God en sy karakter.
 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: