Oorsprong

Grieks: ὁμοούσιος; “van dieselfde wese”
Die begrip is ‘n samestelling van die Griekse woorde homos (ὅμος), “dieselfde” en ousia (οὐσία), “wese” of “substansie”. Dit kan dus vertaal word as “dieselfde wese”, “dieselfde substansie” of ook “dieselfde natuur”.

Kategorie

Teologie

Beskrywing

Vir behoudende gelowiges wat glo in die goddelikheid van Jesus Christus en die Eenheid van die Drie-Enige God, is hierdie begrip baie belangrik. Gedurende die vierde eeu n.C. is dit deur Athanasius van Alexandrië gebruik tydens die kerk se stryd teen die Arianisme.

Athanasius het geargumenteer Christus is in wese dieselfde as die Vader en die Heilige Gees. In geen opsig het Christus se natuur verskil of slegs in die geringste mate afgewyk van dié van die ander twee Persone in die Drie-Eenheid nie. Dit was ook die basis vir die eerste Sinode van Nicea (325 n.C.) in hulle formulering van die Belydenis van Nicea. Uit die aard van die saak vorm dit ook die kern van die Belydenis van Athanasius oor die Drie-Eenheid en die onderlinge verhouding wat daar tussen die drie Persone van die Drie-Eenheid bestaan.

Hierdie woord was nie baie gewild voor hierdie formulering nie. Dit het ruimte gelaat vir Sabellianisme, ‘n vorm van Modalisme, waar die eenheid van God behou word, maar die Vader, Seun en Heilige Gees nie as persone nie, maar as modusse bestaan. Die eenheid van God veronderstel volgens hierdie stelsel dat slegs een modus op enige gegewe oomblik in werking kan wees.

Athanasius, en saam met hom die Sinode van Nicea, het homoousios egter verstaan in die sin van die eenheid en gelykheid van die goddelike wese sonder die opheffing van die onderskeie personas in die Drie-Eenheid. Met ander woorde, die Vader is God, die Seun is God en die Heilige Gees is God. Hulle deel dieselfde goddelike wese. Verder is die Vader nie die Seun nie en die Seun is nie die Vader nie. So-ook is die Seun nie die Gees nie en die Gees nie die Seun nie. Ook is die Vader nie die Gees nie en die Gees nie die Vader nie. So is daar dus EEN goddelike wese, maar DRIE persone in die een Godheid.

Homoousios moet daarom onderskei word van die begrip en konsep homoiousios. Laasgenoemde behou nie die eenheid van die goddelike natuur nie en beklemtoon die “soortgelykheid” eerder as die “gelykheid”. ‘n Verdere onderskeid moet getref word met heteroousios. Waar homoiousios die “soortgelykheid” beklemtoon, verduidelik heteroousios die “andersheid” van die wese. Met ander woorde, homoousios is dieselfde goddelike wese, homoiousios ‘n soortgelyke wese en heteroousios ‘n totaal verskillende wese van die oorspronklike. Dit is hieruit duidelik dat slegs homoousios tegelyk die eenheid van God en die andersheid van die persone binne die Drie-eenheid kan handhaaf. Binne die ruimte van die Christelike geloof waar die eenheid van God, of dan monoteïsme, bely word, is daar nie ruimte vir ‘n persoon met ‘n “amper dieselfde, maar nie heeltemal dieselfde” wese nie. Nog minder vir iemand met ‘n “heeltemal ander” wese. Dus, by die laasgenoemde twee is dit onvermydelik om Christus nie as God nie, maar slegs ‘n belangrike persoon te beskou.

Bronne

Verwant

Athanasius van Alexandrië

Arianisme

Belydenis van Athanasius

Beleydenis van Nicea

Heteroousios

Homoiousios

Konsubstansiasie

Die eerste Sinode van Nicea

Leave a comment

Your email address will not be published.