Oorsprong: Latyns inspiratio en inspirare. Inspirare = in, “in” + spirare, “om te blaas”, dus “om in te blaas”. Van die vroegste tye is die begrip gebruik in die vertaling van die Griekse woord theopneustos. Theopneustos bestaan uit theos, “God” en “pneustos”, “uitasem”, wat dan die letterlik betekenis het van “deur God uitgeasem”. Juis as gevolg van die laasgenoemde Griekse betekenis verkies sommige om nie van die inspirasie te praat nie aangesien die Latynse begrip die klem laat val op die mens wat “inasem” eerder as die Griekse begrip waar God die Woord “uitasem”.

In die Christelike teologie verwys die begrip na die oorsprong van die Skrif as van God afkomstig onder die beheer van die Heilige Gees as derde persoon van die Drie-eenheid. Deur die Gees van God is die skrywers van die boeke onder bespreking gelei om dit wat God wou sê neer te skrywe. Hierdie boeke word daarom dan onderskei van die ander as die “Woord van God”.

Daar word onderskeid gemaak tussen die Gees wat die mens gelei het om te skrywe en sogenaamde “Goddelike Diktering”, waar die mens onder die direkte en fisiese beheer boodskappe sou neerskrywe. Dit is duidelik dat die Bybelskrywers nie hulle menslikheid verloor het in die proses nie, maar dat die Gees hulle volle menslikheid ingespan het om die goddelike boodskap neer te pen.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: