Ook bekend as Marcion van Pontus. Hy was biskop in Sinopus. Hy is een van die bekendste ketters (sien kettery) van die vroeë kerk en die leier van die groep wat bekend sou staan as die “Marcioniete”. Hy het die gnostiek vermeng met sy idees oor die Christelike leer, om te kom tot ‘n heeltemal skeefgetrekte leer oor veral God, Christus en die Skrif. Omdat hy geglo het die God van die Ou Testament was ‘n wrede god vol haat, het hy die hele Ou Testament verwerp. Dit is wel belangrik om te weet dat hy nie die Ou Testament as vals verwerp het nie. Dit sou essensieël lei tot ‘n vorm van politeïsme.

Van die Nuwe Testament het hy ook nie veel oorgehou nie. Slegs ‘n gedeelte van die Evangelie van Lukas (die geboorteverhale het hy uitgehaal), en tien van Paulus se briewe (Galasiërs, die briewe aan die Korintiërs, Romeine, die briewe aan Tessalonisense, Efesiërs, Kolossense, Filippense en Filemon) was vir hom aanvaarbaar. Sy weergawe sou bekend staan as die Kanon van Marcion en volgens Tertullianus was Marcion die eerste persoon wat die Ou en Nuwe Testamente geskei het.

As gevolg van die invloed van Marcion is die vroeë kerk gedwing om te besluit wat as die gesaghebbende geskrifte vir die kerk sou geld en alhoewel dit in sy tyd nog nie amptelik so vastegstel was nie, vind ons in die Kanon van Muratori die eerste samevatting van die lys van gesaghebbende dokumente. In 144 n.C. is hy tot ketter verklaar. 

Marcion het die volle menskikheid van Christus verwerp. Vandaar sy verwerping van die geboorteverhale in Lukas. In hierdie opsig was hy dosetisties in sy opvattings. Vir hom was Jesus se liggaam slegs ‘n nabootsing van die materiële wêreld en nie ‘n werklikheid nie.

Terwyl Marcion se leer glad nie positief was vir die kerk nie, was die uiteindelike uitwerking van sy hantering van die Skrif positief vir kerk daarin dat dit die kerk begin dwing het om gestruktureerd te kyk na die kanon vir die kerk.
 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: