Oorsprong: Grieks mono, “alleen, slegs” + pleuron, “kant, sy, rib” = eenkantig, eensydig

Hierdie begrip word gewoonlik in die Gereformeerde Teologie gebruik wanneer daar oor die aard en ontstaan van die verbond gedink word. Verbonde tussen partye vir verskeie redes was algemeen in die tye wat die Bybel beskrywe. Omdat daar nie soos vandag skryfgoed was om die “kontraktuele ooreenkoms” mee te bekragtig nie, was dit op ander maniere gedoen om die ooreenstemming tussen partye in die verbond aan te dui, die bekendste die opsny van diere in twee dele en dan het beide partye deur die dele geloop om so kontraktuele / verbondsinstemming te bevestig. 

Die verbonde in die Bybel tussen God en mens het egter altyd hulle oorsprong en inisiatief by God en nie die mens nie, en daarom word daar dus gepraat van die monopleuriese ontstaan van die verbond. Hierdeur word gesê dat die mens glad nie ‘n aandeel in die oorsprong van die verbond het nie. Daar word byvoorbeeld verwys na Genesis 17:2, 7 as verwys word na die verbond met Abraham en Hebreërs 8:8 en Jeremia 31:31-34 wanneer oor die nuwe verbond gepraat word. In beide hierdie gevalle, so is die uitgangspunt dan, was die oorsprong, voordele en voorskrifte by God en dus monopleuries in hul ontstaan.

Dit het natuurlik konsekwensies vir hoe die verbond verstaan moet word. Belangrik om te sien is dat die monopleuriese aard die verbond se geldigheid en bestaan losmaak van die inisiatief van die mens. Die mens is dus aan die ontvangkant en nie die saamstelkant nie. Die verbond is dus nie afhanklik op enige wyse van die mens en sy vermoëns nie, maar alleen van God. Dit kan dus verder in verband gebring word met ‘n ander term wat reeds behandel is, naamlik monergisme, wat uitgaan van die standpunt dat God alleen redding bewerk en nie van die mens afhanklik is nie. Die verbondsverbintenis is dus ‘n genadegawe van God wat aan die mens geskenk word.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: