Ook genoem “Vrye wil teologie”. Hierdie uitgangspunt handhaaf die standpunt dat God nie juis baie nougeset beheer uitoefen oor die heelal nie, maar ‘n groot deel oorlaat aan die mens om uit vrye wil besluite te maak wat verhoudings tussen mense en met God beïnvloed. Hiermee saam is daar ook die siening dat God nie die toekoms vooruit bepaal het nie en impliseer dus ‘n gebrek aan voorkennis by God.

Die vertrekpunt is ‘n persoonlike God wat kies om in verhouding met die mens saam te werk. Daarom, al is God byvoorbeeld in staat om die moontlike toekomsroetes te ken, weet Hy nog nie watter een dit sal wees nie. Dit berus by die mens wat in vryheid kan kies en die keuse wat die mens uitoefen bepaal die toekoms. Dit is belangrik om die mens se aandeel raak te sien teenoor God se onderworpenheid aan die mens en sy besluite.

Die benadering impliseer dus ‘n persoonlike god wat oop is vir beïnvloeding deur die mens, onder andere deur middel van gebede, besluite en optrede. Op grond van hierdie uitgangspunte, word die klassieke eienskappe van God volgens die Teïsme in twyfel getrek, of ten minste anders geïnterpreteer, aangesien dit mekaar volgens hierdie benadering sou weerspreek. Hierdie eienskappe sluit onder andere in God as onveranderlik, almagtig, alomteenwoordig en alwetend.
 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *