Die oorsprong van hierdie dwaling is te vind in die gedagtes en teologie van ‘n sekere monnik met die naam Pelagius (354 – 420 n.C.) in die vyfde eeu. Dit is ontketen deur ‘n eenvoudige gebed van Augustinus wat soos volg lui: “O God, command what you wouldst, and grant what thou dost command.” Hierdie gebed het Pelagius so gegrief dat hy selfs sover gegaan het as om die leiers in Rome te versoek om hierdie gebed te sensor.

Sy probleem was nie met die eerste deel van die gebed nie, maar die tweede. Sy argument was basies dat as God iets van die skepsel vra of eis, dan moet die skepsel in homself oor die morele vermoë beskik om dit te kan uitvoer. Dus, volgens Pelagius was dit ‘n kwessie morele verantwoordelikheid vereis morele vermoë.

Augustinus het die standpunt ingeneem dat voor die val van Adam en Eva was daar die morele vermoë, maar na die val, is die mens in sy wese en natuur heeltemal onvermoënd en in effek dood in sonde. Alle mense word dus nie met ‘n neutrale natuur gebore nie, maar is van nature reeds deur die sonde aangetas in so ‘n mate dat hy uit homself nie daartoe in staat is om God se wil te kies nie. Die mens is van nature dood. Die mens se vermoë om te kan keuses maak is hom nie ontneem nie, maar as gevolg van die doodsheid is elke besluit wat hy neem, onderworpe aan die dood en dus slaaf van die sonde.

Pelagius het hiermee verskil. Vir hom was daar nie so iets soos “erfsonde” nie. Adam se sonde het hom alleen geaffekteer. Daar is dus geen oordrag van sonde, gevallenheid of korruptheid na die nageslag van Adam nie. Almal word gebore in die selfde staat van onskuld as wat Adam geskape is. Die gevolgtrekking is dat die mens uit homself van nature die vermoë het om in gehoorsaamheid aan God te leef. Die morele vermoë van die mens is dus onaangetas deur die sonde van Adam. Pelagius was in sy wese ‘n moralis en die gedagte aan van nature dood in jou sonde en onvermoënd om self morele keuses te maak het sy liberale hart kloppings laat kry.

Pelagius se sienings het verrykende gevolge vir die beskouing oor die verlossingswerk van Christus. Volgens Pelagius fasiliteer genade regverdigmaking, met ander woorde, dit is slegs ‘n hulp en nie ‘n noodsaaklikheid nie. Dus was die versoening wat Christus bewerk het ook nie werklik nodig nie, aangesien die mens in homself die nodige vermoëns sou hê om perfek te kan lewe.

Waar Augustinus die totale verdorwenheid van die mens as gevolg van die sonde van Adam voorgehou het, het Pelagius dit ontken. Volgens Augustinus is die mens dood in sy sonde; volgens Pelagius nie. Volgens Augustinus kan slegs die genade van God in die voltooide werk van Christus deur die Heilige Gees die mens weer lewend (nie gesond nie) maak; volgens Pelagius is dit nie nodig nie, want die mens is nie moreel en geestelik dood nie.

Pelagius en Pelagianisme is by ‘n hele klompie sinodes van die kerk verklaar tot kettery. Dit het egter nie die voortbestaan van die sienings daarvan gestuit nie, en sien ons dus in die verloop van die kerkgeskiedenis hoedat hierdie gedagtes telkens weer op een of ander wyse na vore kom, onder andere die Semi-Pelagianisme en Arminianisme.
 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: