Om hierdie beweging te verstaan, is dit nodig om te weet waar hulle vandaan kom. Jakobus Arminius (1560-1609) het sy bediening begin as ‘n volbloed ondersteuner van die teologiese leerstellings soos verwoord deur Augustinus en later Johannes Calvyn. Gedurende 1582-1587 studeer hy te Genève onder veral Theodor Beza en vandaar is hy na Amsterdam as bedienaar van die Woord. Hier moes hy die teologie waarvoor hy gestaan het verdedig teen ‘n man met die naam Dirck zoon Koornheert. Hy het agter al meer die leerstellings van Koornheert begin aanvaar, wat hom direk in “opposisie” geplaas het teen die sogenaamde Calvinisme.

In 1602 word hy aangestel as professor in die Teologie aan die Universiteit van Leiden. Hier het hy die Calvinistiese standpunte van Francis Gomarus hewig teengestaan. Beide het die leer van die predestinasie (of dan die uitverkiesingsleer) ondersteun, maar vanuit verskillende verstaan daarvan. Die kern van hierdie verskil of die uitverkiesing gebaseer was uitsluitlik op die wil van God óf die voorkennis van geloof.

Volgens Gomarus was die uitverkiesing in die hande van God en het berus by Hom alleen. Niks in die mens het God daartoe beweeg om hom uit te kies tot redding nie. Dus is die basis hiervolgens die soewereine wil van God en gewortel in die vrye genade van God. Arminius het verskil. God het vooraf geweet wie sou positief reageer op die evangelie en daardie wat Hy geweet het het gaan glo, het Hy uitgekies.

Arminius is in 1609 dood en sy volgelinge sou bly voortbestaan onder die leiding van Janus Uitenbaert. Dit sou die begin wees van die groep wat ons vandag ken as die Arminiane. In 1610 verskyn ‘n protes dokument deur hulle waarin hulle protesteer teen die leer van die Calvinisme. So word hulle dan genoem die Remonstrante, wat letterlik beteken dié wat protesteer.

Hierdie dokument sit die “Vyf Artikels van die Arminiane” uiteen. Omdat hierdie vyf punte die kontroversiële aspekte van die Remonstrante omvat, is dit nodig om dit hier te plaas.1

Artikel 1

Dat God, deur ‘n ewige en onveranderlike besluit in Jesus Christus Sy Seun, voor die grondlegging van die wêreld bepaal het om uit die gevalle, sondige menslike geslag diegene in Christus en om Christus wil en deur Christus salig te maak, die wat deur die genade van die Heilige Gees in sy Seun Jesus Christus sal glo en sal volhard in die geloof en gehoorsaamheid van die geloof, deur dieselfde genade tot aan die einde; en aan die anderkant, die onbekeerde en ongelowige in sonde en onder toorn te laat en te verdoem as vervreem van Christus volgens die woord van die evangelie in Johannes 3:36: “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” en ander Skrifgedeeltes ook.

Kommentaar: Hieruit is dit duidelik dat die uitverkiesing is op grond van “vooruitgesiene” geloof by die mens en nie tot geloof nie op grond van die wil van God nie. Belangrik is om ook raak te sien dat volharding en gehoorsaamheid tot die einde ook ter sake is, met ander woorde, slegs dié wat sal glo en tot die einde volhard en gehoorsaam is, is deur God uitgekies. Dit kan dus genoem word “voorwaardelike uitverkiesing.”

Artikel 2

Dat in ooreenstemming daarmee, Jesus Christus die Verlosser van die wêreld, vir alle mense en elke mens gesterf het, sodat Hy vir almal deur sy dood aan die kruis die versoening van sonde verwerf het; egter so dat niemand hierdie vergifnis van sonde geniet behalwe die gelowige volgens die woord van die evangelie van Johannes 3:16: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” En in 1 Johannes 2:2: “En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.”

Kommentaar: Christus se versoeningswerk is universeel. Die standpunt in artikel 1 noodsaak dit. “Onbeperkte versoening” is dus deur Christus bewerk, maar is slegs van toepassing op en effektief vir die wat glo.

Artikel 3

Dat die mens die reddende geloof nie uit homself het nie, en ook nie die krag van sy vrye wil nie, in soverre hy in die toestand van afvalligheid en sonde, niks goeds, wat waarlik goed is (soos die reddende geloof duidelik is), uit en deur homself kan wil, dink of doen nie. Maar dit is nodig dat hy deur God in Christus deur die Heilige Gees weergebore en vernuwe word in verstand, gevoel, of wil, en in al sy kragte, sodat hy die ware goeie reg kan verstaan, dink, wil en volbring volgens die woord van Christus in Johannes 15:5: “Maar sonder My kan julle niks doen nie.”

Kommentaar: Hierdie artikel beskryf die mens as verdorwe en nie in staat om uit homself gered te word nie. Dit erken die noodsaaklikheid van die wedergeboorte wat toegepas word op die vermoë om besluite te maak. Die wedergeboorte is duidelik nie die toepassing van die reddende genade nie, maar die voorbereiding van die mens om in staat te wees om geloof te kies.

Artikel 4

Dat hierdie genade van God die begin, die voortsetting en die voltooiing is van alles wat goed is, in so ‘n mate dat die wedergebore mens homself, sonder die voorafgaande of toekomende, opwekkende, volgende en medewerkende genade, nie kan die goeie kan bedink, wil of doen en ook geen enkele versoeking ten kwade kan weerstaan nie. So dat alle goeie dade of werkinge wat die mens kan bedink, toegeskryf moet word aan die genade van God in Christus. Maar wat die wyse van die werking van hierdie genade betref, dit is nie onweerstaanbaar nie, aangesien daar geskrywe is oor baie dat hulle die Heilige Gees weerstaan het, Handelinge 7, en elders op baie plekke.

Kommentaar: Hiervolgens het die mens ‘n voorafgaande genade nodig om die genade van God te kan kies. Genade is weerstaanbaar en dus in wese oneffektief om die mens oor te haal tot redding. Die voorafgaande genade is nodig om die wedergebore mens in staat te stel om die genade te kan aanneem.

Artikel 5

Dat diegene wat in Christus is deur ware geloof, en derhalwe Sy lewendmakende Gees deelagtig geraak het, oorvloedige krag het om teen die Satan, die sonde, die wêreld en hul eie vlees te stry en die oorwinning te behaal, wel te verstaan: altyd deur die bystand van die Heilige Gees. En dat Jesus Christus hulle deur sy Gees in alle versoekinge bystaan, die hand bied, en wanneer hulle bereid is tot die stryd en Sy hulp verlang en nie in gebreke bly nie, hulle staande hou, sodat hulle deur geen liste of krag van die Satan kan verlei word of uit die hande van Christus geruk word nie, volgens die Woord van Christus, Johannes 10:28: ”Neither shall any man pluck them out of my hand.” Maar of hulle in staat is, deur nalatigheid, om die beginsel van hulle lewe in Christus te verlaat, of om weer terug te keer na die teenwoordige bose wêreld, of afwyk van die heilige leer wat eenmaal aan hulle oorgelewer is, of die goeie gewete te verloor, of in die genade te veragter, moet meer spesifiek uit die Heilige Skrifte bepaal word, voordat ons dit self kan leer met die volle oortuiging van ons gemoed.

Kommentaar: Oorwinning is moontlik vir dié wat die ware geloof het, maar hier is onsekerheid oor die behoud van die gelowige. Die feit dat hier huiwering is, toon dat hulle wel nie oortuig is van die standpunt dat Christus sy uitverkorenes veilig sal bewaar nie.

Hierdie standpunte van die Remonstrante is op die tafel geplaas by die Sinode van Dordt (1618-1619) en oorweldigend afgewys as dwaalleer. Hierteenoor het hierdie Sinode die Dordtse Leerreëls op die tafel geplaas in antwoord op elkeen van die vyf argumente wat die Remonstrante geopper het. Ons kan sê dat hierdie Sinode as ‘n waterskeidings oomblik in die geskiedenis van die Gereformeerde Teologie gesien kan word, want die amptelike aanwysing as dwaling sou ‘n permanente streep trek tussen die sogenaamde Calvinisme en Arminianisme, ‘n skeiding wat vandag nog waargeneem kan word.
 

Voetnotas

1. Hierdie is ‘n vertaling van die 5 Artikels. Vergelyk Phillip Schaff, The Creeds of Christendom, Volume 3, Baker Books, Grand Rapids, MI: 1996. Pages 545 en verder vir die Engelse weergawe. Kyk ook http://nl.wikipedia.org/wiki/Vijf_artikelen_van_de_remonstranten vir ‘n Nederlandse vertaling.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *