Alhoewel die kerk amptelik die leer van Pelagius en die Pelagianisme verklaar het tot dwaling, het dit nie die sentimente vir sekere eienskappe stilgemaak nie. Dit het ontwikkel as ‘n tipe kompromie tussen die volbloed Pelagianisme en die leer soos uiteengesit deur Augustinus.

Die uitgangspunt van Pelagius was dat die mens nie van nature dood is in sonde nie, maar dat hy homself kan reghelp op die pad van regverdigmaking. Adam se sonde en die gevolg daarvan is op van toepassing. Die verlossing in Christus en die versoening deur Hom bewerk, is dus nie nodig nie. Genade is slegs ‘n hulp en nie ‘n noodsaaklikheid nie.

Hierteenoor was die standpunt van Augustinus duidelik. Die mens is so totaal verdorwe en van nature sondig dat hy geestelik en moreel heeltemal dood is. Die enigste uitweg is die reddende genade van God wat die versoening in Christus effektief maak in die mens. God gee dus genade en nuwe lewe.

As kompromie tussen hierdie twee uiteenlopende gedagtestrominge, het die Semi-Pelagianisme ontwikkel. Hiervolgens het die mens in sonde geval en sy natuur is wesenlik deur die sondeval beïnvloed. Die sogenaamde Erfsonde word dus erken. Die omvang van hierdie invloed is egter waar die eie aard van die semi-pelagianisme lê. Die Semi-Pelagianisme hou voor dat die mens wel nie sonder die hulp (sinergisme) van die goddelike genade gered kan word nie. Anders as by die Pelagianisme, waar dit slegs ‘n moontlike hulp is, is die genade hier ‘n noodsaaklikheid. Die mens het egter nie sover geval dat daar by hom nie meer die vermoë is om die verlossing te kies of te verwerp nie. Hier sien ons dus nie meer ‘n totaal verdorwe mens wat dood is in sonde nie, maar ‘n verdorwe mens wat slegs siek is en kan kies of hy die medikasie wil neem of nie.

By Pelagianisme het die mens nie ‘n verdorwe natuur nie en kan homself dus help aan regverdigmaking. Dit kan wees dat die mens die genade inspan as ‘n hulp, maar vir alle praktiese doeleindes is dit nie nodig nie. Geloof is hier eintlik nie ter sake nie. By die Semi-Pelagianisme is die mens wel verdorwe maar nie so totaal verdorwe dat hy nie die genade kan weerstaan nie. Sy wil is dus vry om die genade van God te aanvaar of te verwerp soos hy dit nodig ag. Genade is wel ‘n noodsaaklikheid vir redding, maar dit lê in die mens se ongeskonde wil om dit te aanvaar al dan nie. Dit het ook die implikasie dat sou iemand dit vandag aanvaar, hy dit weer more kan verwerp en so weer verlore gaan. Geloof is dus ‘n menslike produk wat maklik weer afgelê of verwerp kan word. By die leer wat Augustinus voorgehou en wat later deur Thomas Aquinas geleer is en deur die kerk as die ware leer aanvaar is, is die mens so totaal verdorwe dat hy selfs nie meer die vermoë het om in vryheid die genadegawe van God te aanvaar nie. Die mens is dus per definisie volkome dood in sy sonde. Slegs God kan in sy genade die mens geestelik opwek uit hierdie doodsheid deur die werk van sy Heilige Gees in die wedergeboorte en regverdigmaking. Geloof is ‘n genadegawe wat God aan die sondaar gee en word in stand gehou deur die Drie-Enige God en die toepassing van die Woord van God.

Alhoewel die Semi-Pelagianisme aanvanklik net so ernstig verwerp is deur die kerk, het daar deur die eeue ‘n verskuiwing plaasgevind weg van die leer soos deur Augustinus en Thomas Aquinas verwoord en sien ons teen die sestiende eeu in die Rooms Katolisisme dat hulle verstaan van die mens se sondige aard en weg tot verlossing in sy wese Semi-Pelagiaans was. Tydens die reformasie was hulle groot verteenwoordiger van hierdie posisie, en dan spesifiek wat betref die vryheid van die mens se wil, ‘n man met die naam Desiderius Erasmus (1466-1536). 

Later sou daar ook uit die Protestantisme stemme opgaan vir hierdie standpunt, die bekendste hiervan ‘n man met die naam Jakobus Arminius (1560-1609). Sy volgers, die Remonstrante, het na sy dood hierdie stelsel uiteengesit in vyf standpunte of posisies. Hierdie posisies is deur die Sinode van Dordt (1618/19) verdedig en tot dawling verklaar. Die gevolg hiervan is die bekende Dordtse Leerreëls, wat algemeen in die Gereformeerde Teologie aanvaar word as die standpunt van die Gereformeerde Teologie.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: