Oorsprong: Latyn sola, “alleen” + fide, “geloof” = “geloof alleen”

Die vraag wat ten diepste deur hierdie sola beantwoord word is naamlik hoe die mens kom tot die regte verhouding met sy god, wat in die Christelike leer bekend staan as regverdigmaking. Dit raak dus nie alleen die leer waarmee die hervormers te make gehad het in hulle dae nie, maar elke ander godsdienstige benadering.

Die hervormers moes opstaan teen die magtige Roomse leer van regverdigmaking, wat opgesom niks anders was nie as ‘n proses van regverdiging en wat selfs na die dood finaal afgehandel moes word in die sogenaamde vagevuur (engels: purgatory).1 Uit ‘n bestudering is regverdigmaking ‘n proses en geloof ‘n werk.2 Die Rooms katolisisme het dan ook nie geskroom om in eg semi-pelagiaanse styl, die mens as medeverantwoordelik te hou in hierdie proses nie.3

Ook was daar ‘n miskonsepsie by die Roomse groep oor die betekenis van “genade van God” as ‘n hulp, ‘n bystand in die proses van redding.4 Dus was dit vir die hervormers uiters belangrik om verder te definieer wat die verlossingswerk behels.

Die gedagte oor geloof was ook volgens Rome ‘n werk van die mens en nie uit God nie. Hieroor het die Konsilie van Trent dievolgende te sê:

 

“Of this Justification the causes are these: … the instrumental cause is the sacrament of baptism, which is the sacrament of faith, without which [faith] no man was ever justified.”5

 

Vir die Reformatore was dit alles ‘n genadegawe, selfs die geloof en hierdie geloof as geskenk van God was genoegsaam en effektief genoeg om die mens van sy dooie toestand in sonde uit te ruk tot ‘n posisie van geregverdig voor God, dus vrygespreek van die skuld van die sonde.

Die eerste kwessie is dan natuurlik wat bedoel word met regverdigmaking, en in kort kom dit neer dat die mens in die regte posisie met God gestel word. God spreek die mens vry van die skuld van sonde, vergewe die mens sy sonde en beskou hom nou as vrygespreek en deel van sy koninkryk van lig. Nou op die oog af klink dit na ‘n eenvoudige stelling, maar ‘n paar temas moet hanteer word om die volheid van die lering te skets, onder andere:

  • Waarom is dit nodig om geregverdig te word? – Hier moet gevra word waarom God dit sou nodig ag om dit te doen?

  • Wat is die gronde vir die regverdiging? – Hier moet ondersoek ingestel word op grond waarvan God so ‘n “bisarre” ding sal doen soos om die mens regverdig te verklaar, selfs sy regverdigheid te noem (2 Korintiërs 5:21);

  • Wat is die effek van die regverdiging? – Dit is belangrik om te weet wat die eindresultaat van die regverdigmaking is;

  • Wat is die effektiwiteit van die regverdigmaking? – Daar sal moet gekyk word of die toegepaste regverdigmaking voldoen aan die beplande / bedoelde. Slegs dan kan die effektiwiteit bepaal word.

Natuurlik bring dit die hele tema van die plaasvervangende dood van Christus aan die kruis op die voorgrond, ‘n tema wat belangrike implikasies het vir die regverdigmaking van die mens.

Wat het geloof alles hiermee te make? Martin Luther het hom beroep op Paulus se woorde in Romeine 1:17:

 

“Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.”

 

So-ook die geloof van Abraham soos Paulus dit verduidelik in Romeine 4 en Galasiërs. J.I. Packer omskryf dit soos volg:

 

“Faith is a conscious acknowledgment of our own unrighteousness and ungodliness and on that basis a looking to Christ as our righteousness, a clasping of him as the ring clasps the jewel (so Luther), a receiving of him as an empty vessel receives treasure (so Calvin), and a reverent, resolute reliance on the biblical promise of life through him for all who believe. Faith is our act, but not our work; it is an instrument of reception without being a means of merit; it is the work in us of the Holy Spirit, who both evokes it and through it ingrafts us into Christ in such a sense that we know at once the personal relationship of sinner to Saviour and disciple to Master and with that the dynamic relationship of resurrection life, communicated through the Spirit’s indwelling. So faith takes, and rejoices, and hopes, and loves, and triumphs.“6

 

Geloof is nie iets wat die mens kan bewerk, maar wat hy ontvang as genadegawe van God deur die Gees; geloof is nie die doel nie, maar die middel. Paulus sien die kombinasie van genade en geloof as genadegawe van God en die uiteinde van die werke waarop die mens kan roem:

 

“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” (Efesiërs 2:8-9)
 

Dit behoort klokhelder duidelik te wees dat sola fide nie ‘n uitvindsel of nuwe teologie is wat die Reformatore probeer vestig het nie. Hulle het maar net terug gegaan op die spore van die ware leer tot by die primêre bron, die Woord van God. 

 

Voetnotas

1 Vir volledige beskouing van die leer oor die regverdigmaking by Rome ten tye van die Reformasie, sien Schaff, Phillip, The Creeds of Christendom (CCEL), Volume II, 120-145 
2 Ibid, 126-128
3 Ibid, 120, 122-123
4 Ibid. 122-123
5 Packer, J.I., SOLA FIDE: THE REFORMED DOCTRINEOF JUSTIFICATION, http://www.the-highway.com/Justification_Packer.html

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *