Oorsprong: Latyn sola, “alleen” + gratia, “genade” = “genade alleen”

Teen die tyd dat Martin Luther sy 95 stellinge teen die kerk se muur gaan vasspyker het, het die Rooms Katolisisme ‘n redding voorgestaan wat nie meer op die voltooide werk van Christus alleen gebou was nie, maar die mens medeverantwoordelik gemaak het vir sy verlossing. Die Semi-Pelagianisme was diep gewortel in die kerk, en die mens kon sy eie redding bewerk, en selfs koop. Daar het maar bitter min van die evangelie se genade oorgebly in hierdie stelsel. Dit het in alle opsigte verval tot ‘n redding deur werke sonder genade soos die Skrif dit gedefinieer het. Die biegpraktyk, aflaatstelsel, die klem op die morele vermoëns en sogenaamde vryheid van die mens se wil, het alles saamgewerk om die genadegawe van God se redding in Christus heeltemal te vertroebel.

Hierteen het die Reformasie opgestaan en bely dat redding is die werk van God alleen en dit uit vrye genade, sonder byvoegings van die mens se kant. Die kontras is duidelik. Die mens het uit homself niks om te bied om sy redding moontlik te maak nie, terwyl God dit aan die mens skenk sonder om teenprestasie te verwag.

Sola Gratia veronderstel die volgende belangrike aspekte (waarby nie in detail hier ingegaan sal word nie)

  • Die voltooidheid / volledigheid / afgehandeldheid van die verlossingswerk – met ander woorde, dit wat Christus in sy kruisdood gedoen het moet die volledige verlossingswerk verteenwoordig sonder die nodigheid om enigiets ekstra aksies of vereistes by te voeg. Hiervoor sou dit nodig wees om ‘n studie te doen wat nodig sou wees om verlossing te bewerk.

  • Die genoegsaamheid van die verlossingswerk – met ander woorde die verlossingswerk moet genoeg wees om die beplande effek te hê sonder ekstra hulp. Daar mag dus geen ekstra stukrag daaraan gegee word nie. Hier sal moet gesê word wat die interne kwaliteite van die verlossingswerk is wat dit voldoende maak om die beplande effek te hê.

  • Die effektiwiteit van die verlossingswerk – met ander woorde die eindresultaat van die verlossing moet die beplande effek / uitkoms verteenwoordig sonder enige tekortkominge of afwykings van die oorspronklike. Hier sal moet gekyk word na die beplande effek en die werklike resultate moet daaraan gemeet word.

  • Die totale onvermoë van die mens – met ander woorde die mens is in / uit en deur homself nie daartoe in staat om hierdie verlossing aan te neem, van krag te maak of effektiewelik toe te eien nie. Die mens is dood in sonde en lyke kan nie self opstaan nie. Vergelyk hierteenoor die Pelagianisme en Semi-Pelagianisme se beskouings oor die mens se morele vermoëns. Hier sal moet gekyk word wat die Skrif sê oor die mens se toestand voor die sondeval, na die sondeval en hoe dit verander word deur die verlossingswerk.

Wanneer daar dus verwys word na die verlossing van die mens as Sola Gratia, dan lê hierdie aspekte aan die basis daarvan. Enige afwyking hiervan verwring die vrye genadegawe tot Christus-plus (en hier is dit wat onder plus verstaan kan word legio, van werke, bieg, afkoop van sonde tot die morele aksies, vrye wil, ens.). Sola Gratia reken dus effektief af met al hierdie plus-komponente en bring die skenk van reddende geloof weer vol in die hande van God.

Die klassieke verwysing vir hierdie oortuiging word gevind in Efesiërs 2:1-9:

 

“En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander. Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus–uit genade is julle gered— en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” (Sien ook Handelinge 15:11 en Titus 3:5).

 

Verder Romeine 3:23-24:

 

“want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”

 

Hierdie oortuiging sou die kerk van die hervorming bevry van die Rooms Katolisisme se valse aanbieding van verlossing, maar sou ook verder die kerk dra in die stryd teen enige stelsel wat sou ontwikkel en ‘n ander wyse voorhou oor hoe die redding in Christus die mens se deel raak.

Dit sou ‘n fout wees om die oortuiging wat opgesluit is in Sola Gratia op die rekening van die Reformasie te plaas. Soos met Sola Scriptura was dit ‘n terug gryp op die leer van die Skrif soos deur die profete, Christus en die Apostels geleer is. Die Reformasie was geensins van plan om ‘n nuwe leer te vestig nie, maar het slegs die eeue oue behoudende boodskap herbevestig.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: