Oorsprong: Latyn sola, “alleen” + scriptura, “skrif” = “bybel alleen”

Die begrip word terug herlei na die tyd van die hervorming en moet in daardie konteks verstaan word. Die Rooms Katolieke het in die verloop van tyd allerhande ander bronne van gesag vir leer en lewe begin aanhang, byvoorbeeld die uitsprake van die pous (ex catedra) is gesien as gelyk met die Skrif (soms hoër). Daar is ook na die tradisies verwys as op gelyke vlak met die Skrif. Dit het later so verword dat die algemene man op straat gebuk gegaan het onder die diktatorskap van die pous en sy trawante. Die Skrif was nie meer toeganklik vir die gewone lidmaat nie en so is allerhande gebruike in die kerk ingevoer waaroor die hoi poloi geen insig en seggenskap gehad het nie. Die aflaatstelsel was een hiervan. Die Skrifgesag is dus totaal afgewater tot menslike vlak.

Luther het hierteen opgestaan en gesê so kan dit nie meer aangaan nie en uit hierdie opstaan het ontwikkel wat sou bekend staan as die 5 Solas. Elkeen hiervan moet dus verstaan word teen die agtergrond van die Rooms Katolisisme se dwalinge, magsmisbruik en tirannie. Sola Scriptura was die Reformatore se manier om te sê hulle keer terug na die oorspronklike lering van die Skrif, naamlik dat die Skrif alleen die finale gesag het wat betref leer en lewe. Alle ander gesag is dus beskou as afgeleide gesag (selfs die kerkleiers het hierby getel in opposisie teen die Roomse gesagsdraers wat gereken dat waar die biskop is, is die kerk (ubi papa, ibi ecclesia).

Die konsep agter Sola Scriptura is egter nie uniek Reformatories nie. Dit gaan al sover terug as die Ou Testament self. Josua word byvoorbeeld in Josua 1:8 gemaan om die Wet te onderhou. Lees maar die talle voorbeelde in die eerste 5 boeke van die Ou Testament. Hierdie beginsel van die Skrif as finale bron van gesag vir leer en lewe was dus ‘n konsep uit die Skrif self. Die Reformatore het hierop teruggeval en gesê dat onder Rome se bewind het die kerk hiervan afgewyk.

‘n Paar konsepte dien as basis vir die beginsel van Sola Scriptura en dit is wat die Reformatore weereens vars op die tafel geplaas het. Hierdie beginsels is onder andere:

  • Goddelike Inspirasie

  • Goddelike gesag

  • Duidelikheid

  • Effektiwiteit

  • Onfeilbaarheid

  • Genoegsaamheid

Elkeen van hierdie aspekte dra by tot die volle krag van die waarheid waarvoor Sola Scriptura staan.

Beteken dit nou dat “Sola Scriptura” beteken “Solo Scriptura”, met ander woorde SLEGS die Skrif? Sou dit beteken dat die belydenisse geen plek meer het nie, die dogmas van die kerk moet afgetakel word omdat dit deur kerkvergaderings so besluit is? As ons dit onder “Sola Scriptura” gaan verstaan, dan gaan ons baie verkeerd wees, want “Sola” is nie “Solo” nie. 

Deur die geskiedenis is dit duidelik dat die regsinniges wat aan die gesag van die Woord as van God vasgehou het in die sin waarna in hierdie artikel verwys word, ook ‘n hoë agting gehad het vir die kollektiewe besluite van die leiers van die kerk. So byvoorbeeld is die belydenisse van Nicea, Athanasius en die bekende Apostolise Geloofsbelydenis erken as – en hier is die belangrike kwalifiseerder – in ooreenstemming met die Skrif. Wat die kerkleiers besluit is, is nooit as die finale gesag beskou nie. Dit het altyd verwysde gesag, met ander woorde die Skrif het nog steeds die finale sê. 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: