Die impak van die Remonstrante, of dan soos hulle later bekend sou staan die Arminiane, was duidelik voelbaar in die kerk. Die leiers in die Nederlandse kerke van Gereformeerde oortuiging, was verdeeld oor die twee uiteenlopende standpunte soos verteenwoordig deur die Remonstrante en die behoudendes. Dit sou lei tot een van die belangrikste kerkvergaderings in die geskiedenis van die gereformeerde kerk wêreldwyd. Tydens 1618-1619 het kerkleiers byeengekom om die standpunte van die Remonstrante te weeg. Die resultaat van hierdie vergadering is wat vandag algemeen bekend staan as die Dordtse Leerreëls.

Aangesien die Remonstrante se protes in die vorm van vyf artikels verwoord was, het die Dordtse Sinode elkeen van daardie artikels weerlê en die sogenaamde regsinnige leer aangebied. Vandaar die vyf punte wat deur die Dordtse Leerreëls aangebied word. Later sou hierdie vyf punte volgens die akroniem T.U.L.I.P. Bekend staan as gevolg die inhoud van elke punt.

Wat belangrik is, is om te besef dat hierdie vyf punte nie die volledige verteenwoordiging van die Gereformeerde Teologie is nie, maar wel die vyf punte waaroor die kontroversie met die Remonstrante gehandel het. Die Gereformeerde Teologie is baie wyer as dit, en veral die Afrikaanse kerke verwoord hulle leer na aanleiding van die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls, terwyl daar baie ander punte is om oor na te dink wanneer daar na die Gereformeerde Teologie verwys word.

Verder is dit belangrik om te besef dat wanneer mense gewoonlik verwys na Calvinisme, verwys hulle (ongelukkig) na hierdie vyf punte, wat ‘n wanopvatting is. Calvyn was nie eers op hierdie vergadering nie. Dit is ook interessant dat Calvyn nie die eerste een was wat die leer soos Dordt dit verwoord het, voorgehou en geleer het nie. Dit was wel danksy sy vernuf en die omstandighede rondom die Reformasie dat hy hierdie aspekte uit die geskiedenis kon konsolideer en sistematiseer.

Derdens is dit ook belangrik om te weet dat Calvyn en die ander Reformatore nie so gefragmenteerd na hierdie temas gekyk het nie, maar as ‘n geheelbeeld wat onlosmaaklik met mekaar te make het en mekaar direk beïnvloed. Die resultaat in vyf onderskeie dele moet gesien word teen die agtergrond van die Vyf Artikels van die Remonstrante as ‘n antwoord op elke punt daarvan.

Die akroniem word as volg uiteengesit (dit is die Engels, aangesien daar nie ‘n Afrikaanse blom is hiervoor nie):

T – Total Depravity (Totale [Volkome] Verdorwenheid)
U – Unconditional Election (Onvoorwaardelike [Soewereine] Uitverkiesing)
L – Limited Atonement (Beperkte [Spesifieke] Versoening)
I – Irresistable Grace (Onweerstaanbare [Effektiewe] Genade)
P – Preservation of the Saints (Volharding [Bewaring] van die Heiliges)

Terloops, hierdie is nie die volgorde soos dit in die Dordtse Leerreëls uiteengesit word nie. Die leerreëls hanteer dit as volg:

Hoofstuk 1 – Goddelike uitverkiesing en verwerping (U)
Hoofstuk 2 – Die dood van Christus en die verlossing van die mense deur sy dood (L)
Hoofstuk 3,4 – Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse waarop dit plaasvind (T, I)
Hoofstuk 5 – Die volharding van die heiliges (P)

Totale Verdorwenheid

Hierdie leer handel oor wat ook algemeen bekend is as die “Erfsonde”. Die uitgangspunt is dat na die val van die eerste mens in sonde, die hele menslike ras daarna met ‘n sondige natuur gebore word. Dit verwys dus na die konsekwensies van die sonde van Adam vir die hele mensdom.

In die Gereformeerde Teologie word hierdie verdorwenheid gesien as in sy totaliteit, met ander woorde die mens is in so ‘n mate geskend deur die effek van die sondeval, dat hy as geestelik dood beskou moet word. Selfs sy beste pogings om die goeie te doen, word hiervolgens gesien as in vyandskap met God.

Totaal Verdorwe beteken glad nie die mens tot in die uiterste mate korrup is nie, met ander woorde dat die mens gebore word as die opperste moordenaar en krimineel wat hy kan wees nie. Dit beteken sy wese en natuur is in sy totaliteit aangeraak deur die sondigheid. Die effek raak sy liggaam (vandaar siekte en dood); dit raak sy innerlike mens sodat die mens se wil, sy gees, sy siel, sy hart, alles wat die menslike bou opmaak, in sy totaliteit deur die sonde gedood is.

Die Pelagianisme het dit ontken en Augustinus het teenoor Pelagius die totale verdorwenheid geleer en verdedig. Die Semi-Pelagianisme het dit tot ‘n mate aanvaar, maar daar is tog daardie een deel, die vermoë om te kan kies, wat ongeskonde gelaat is. Die Reformatore, in navolging van hul voorgangers, het die totale verdorwenheid herbevestig en Dordt het in hulle voetspore gevolg. 

Onvoorwaardelike Uitverkiesing

Die essensie van hierdie leer in die Gereformeerde Teologie is dat God die mens kies sonder enige vooruitgesiene kwaliteite of werke aan die kant van die mens. Daar was dus by God geen voorwaardes op grond waarvan Hy die mens gekies het om gered te word in Christus nie. Die voorneme van God om iemand te red berus uitsluitlik in die soewereiniteit van God self, sodat die uitverkiesing en gevolglike redding geheel en al by God lê en niks daarvan by die mens nie.

En nie alleen dit nie, maar ook Rebekka was swanger uit een, naamlik Isak, ons vader. Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien. Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.” (Romeine 9:10-13)

Die belangrike punt hier is die feit dat God ‘n keuse gemaak het nog voor die tweeling gebore was óf goed of kwaad kon doen. Hy stel dit reguit dat die besluit nie uit werke is nie, maar uit God wat roep. Geen voorwaardes nie, slegs soewereine besluite van God se kant.

Dordt het hierdie onvoorwaardelikheid beklemtoon in Hoofstuk 1 punte 9-10:

9. Hierdie uitverkiesing het nie op grond van ‘n vooruitgesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of ooreenkoms tot stand gekom asof dit as rede of voorwaarde vir die uitverkiesing van die mens vereis is nie. Die uitverkiesing is immers die oorsaak van geloof en geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, ens. Daarom is die uitverkiesing die bron van alle saligheid waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende gawes, en uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en gevolge daarvan vloei. Die apostel getuig immers: Om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees (Ef. 1:4), en nie ómdat ons alreeds so was nie.

10. Die oorsaak van hierdie genadige uitverkiesing is inderdaad slegs die welbehae van God. Dit bestaan nie daarin dat Hy uit alle moontlikhede sekere menslike hoedanighede of dade as ‘n voorwaarde vir die saligheid uitgekies het nie. Dit bestaan wel hierin dat Hy sekere, bepaalde mense uit die hele menigte sondaars as sy eiendom aangeneem het.“

Dit teenoor die Remonstrante wat in Artikel 1 gestel het:

Dat God, deur ‘n ewige en onveranderlike besluit in Jesus Christus Sy Seun, voor die grondlegging van die wêreld bepaal het om uit die gevalle, sondige menslike geslag diegene in Christus en om Christus wil en deur Christus salig te maak, die wat deur die genade van die Heilige Gees in sy Seun Jesus Christus sal glo en sal volhard in die geloof en gehoorsaamheid van die geloof, deur dieselfde genade tot aan die einde; en aan die anderkant, die onbekeerde en ongelowige in sonde en onder toorn te laat en te verdoem as vervreem van Christus volgens die woord van die evangelie in Johannes 3:36: “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” en ander Skrifgedeeltes ook.”

Hierdie onvoorwaardelike verkiesing kan dus ook genoem word God se Soewereine verkiesing, omdat niks van die mens hierin gevind kan word nie, maar alles in die soewereine wilsbesluit van God, wat doen wat Hy wil.

Beperkte Versoening

Hierdie leer het alles te make met die doel van die lewe en kruisdood van Christus en die reikwydte hiervan. Teenoor die Remonstrante wat in hulle tweede artikel voorhou dat in ooreenstemming daarmee [voorwaardelike uitverkiesing], Jesus Christus die Verlosser van die wêreld, vir alle mense en elke mens gesterf het, sodat Hy vir almal deur sy dood aan die kruis die versoening van sonde verwerf het.”

Met ander woorde, die versoeningswerk%2ie standpunte van die Re2C universeel sonder inperking. 

Hierteenoor het Dordt die standpunt bevestig dat Christus se versoening wel “beperk” is. Hierdie beperking is nie in krag, genoegsaamheid en effektiwiteit nie, maar beperk tot die uitverkorenes.

“3. Hierdie dood van die Seun van God is die enigste en volmaakste offer en voldoening vir die sondes. Sy dood is van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen.

4. Hierdie dood het daarom so ‘n groot krag en waarde, omdat Hy wat dit ondergaan het, nie alleen ‘n ware en volkome heilige mens is nie maar ook die eniggebore Seun van God. Hy is saam met die Vader en die heilige Gees een en dieselfde ewige en oneindige Wese. So moes ons Verlosser dan ook wees. Boonop het sy dood so ‘n groot krag en waarde, omdat Hy geweet het dat Hy die toorn van God en die vloek, wat ons deur ons sondes verdien het, gedra het.

5. Verder is dit die belofte van die evangelie dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Hierdie belofte moet aan alle volke en mense aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder onderskeid en willekeur verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof.

8. Dit was immers die volkome vrye raadsbesluit, genadige wil en voorneme van God die Vader dat die lewendmakende en saligmakende krag van die uiters kosbare dood van sy Seun al die uitverkorenes tot voordeel sal strek. So het God slegs aan die uitverkorenes die regverdigmakende geloof geskenk om hulle daardeur onfeilbaar salig te maak. Dit wil sê: Dit was die wil van God dat Christus deur die bloed van die kruis – waarmee Hy die nuwe verbond bevestig het – uit elke volk, stam, geslag en taal hulle en hulle alleen kragdadiglik sal verlos wat van ewigheid af tot die saligheid uitverkies en deur die Vader aan Hom gegee is. Ook was dit die wil van God dat Christus aan hulle die geloof sal gee wat Hy, soos ook die ander saligmakende gawes van die Heilige Gees, deur sy dood vir hulle verwerf het. Verder dat Hy hulle van al hulle sondes – sowel die oorspronklike sonde as die werklike sonde wat na en voor die geloof begaan is – deur sy bloed sal reinig. Ten slotte dat Hy hulle tot die einde toe getrou sal bewaar en uiteindelik sonder enige vlek of rimpel in heerlikheid by Hom sal neem.”

Die Remonstrante het die effek en krag van die versoening beperk tot die sfeer van die menslike geloof, met ander woorde, alleen deur geloof word die versoening effektief. Dordt het egter volgehou by die punt dat daar aan die krag en effektiwiteit van die versoening niks kortkom nie, want dit is juis gewortel in die heilige wese en identiteit van Christus, maar die versoening is spesifiek (eerder as beperk) en afgestem op die uitverkorenes van God. Daar is dus geen beperktheid wat effek, genoegsaamheid en krag betref nie, maar wel wat reikwydte betref is dit spesifiek en gefokus omdat dit in God se ewige soewereine raad so besluit is.

Onweerstaanbare Genade

Hierdie leer moet verstaan word saam met die totale verdorwenheid van die mens. Plaas daarmee saam die onvoorwaardelike uitverkiesing, dan het jy die perfekte agtergrond om verlossing te verstaan.

Die mens is so totaal verdorwe dat hy nie in staat is om homself te red nie, selfs nie om uit sy vrye wil – wat ook getref is deur die doodsheid van die sonde – die geloof aan te neem of te kies nie. Aan die ander kant is daar die uitverkiesing van God, wat bepaal dat die mens wat God gekies het, die versoening deur Christus bewerk deelagtig sal word.

Dit is in hierdie sin dat die Gereformeerde Teologie die wedergeboorte beskou. Die mens kan homself nie bring tot vernuwing nie, maar God in sy genade maak die mens nuut in sy gees en skenk aan hom die geloof as genadegawe, sowel as die vermoë om te kan glo. Daarom is die redding wat God gee, die wedergeboorte, monergisties, met ander woorde, ‘n genade werk deur God alleen.

Hy bewerk nie alleen die wedergeboorte tot ‘n punt waar jy self kan kies om die volgende stap te neem nie (soos die Remonstrante en Semi-Pelagianisme sou leer). God neem die vernuwing deur sodat die volle effek van die versoening waar word. Dus, Hy maak nuut, skenk geloof en maak regverdig – alles op grond van sy genade.

Beteken dit die mens kan God se genade nie weerstaan nie? Glad nie. Hiervan is die geskiedenis vol. Dit beteken wel dat God se genade is kragtig genoeg om enige menslike weerstand te oorkom en die mens uit sy doodsheid lewend te maak. Sou die genade van God nie hierdie krag gehad het nie, sou die mens nie uit sy doodsheid opgewek kon word nie, en die versoening deur Christus kragteloos wees en God se soewereine uitverkiesing ‘n groot grap.

Toegegee, die term “onweerstaanbaar” skep die idee van iemand wat aan sy strot gegryp word en gedwing word om te doen wat vereis word. ‘n Beter begrip sou dalk wees “Effektiewe Genade” (“Effectual Grace”) wat die klem eerder op die krag van die genade laat val as die onweerstaanbaarheid daarvan.

Volharding van die Heiliges

Die logiese eenheid van hierdie punte wat Dordt uiteensit, loop uit op die laaste punt, naamlik die volharding van die heiliges. In Filippense 1:6 spreek Paulus die vertroue uit dat God die gelowiges sal bewaar tot op die dag van sy Seun. Hierdie tema kom telkens in die Skrif na vore, beide Ou en Nuwe Testament.

Die Remonstrante het die volharding in die hand van die “gelowige” geplaas (Artikel 1). Hulle was self onseker oor die volharding van die heiliges (Artikel 5). Dordt het ‘n sterk posisie ingeneem dat God nie die werke van sy hande laat vaar nie.

Dit is egter duidelik dat dit nie in die hande van die mens lê nie, anders sou niemand die poorte van die hemel eers kon ruik nie. Daarvoor is die mens te geneig om sy eie voordeel te soek. Dit is alleen die werk van God, op grond van die Here Jesus Christus se versoening, toegepas deur die Heilige Gees. Daarom is dit dalk beter om te dink hieraan as die bewaring van die heiliges, wat volhard tot die einde omdat God hulle in Christus deur sy Gees bewaar.

Dit is duidelik dat hierdie vyf punte nie los gelees en verstaan moet word wanneer oor die volle uitwerking van die verlossingsplan van God gedink word nie. Dit is ‘n geheel en moet so gelees word.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: