Openbaring 2:1-7   
  1 Skryf aan die engel van die gemeente in Éfese: Dít sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, wat wandel tussen die sewe goue kandelaars:  2 Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het;  3 en dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie.  4 Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het.  5 Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.  6 Maar dit het jy, dat jy die werke van die Nikolaïete haat, wat Ek ook haat.  7 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is.  

 

Die brief aan die gemeente in Éfese is seker die moeilikste brief om te lees vir enige geloofsgemeenskap wat erns maak met die suiwerheid van beide geloof en lewe. Hierdie was die model gemeente wat beide hierdie aspekte aangaan.  

Wat betref leer, sou jy dit nie wou waag om naby hierdie kerk se deure te kom met ‘n dwaallleer nie. Hulle was so goed gegrondves in die bybelse waarheid, dat Jesus hulle prys vir hulle onverdraagsaamheid teenoor valse apostels en leringe.

“… en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het …”

Hierdie is nie maklike woorde vir ‘n liberale, postmoderne samelewing waar verdraagsaamheid juis een van die wagwoorde is nie. Die aanhangers van die die Ontluikende Beweging sou hulself moeilik tuis kon vind in hierdie milieu, vanweë die duidelike teenkanting teen enigiets dogmaties en fundamentalisties. Om hierdie suiwerheid van leer te kon handhaaf, moes hulle ‘n baie hoë premie op die waarheid van God se Woord gestel het. Ongetwyfeld was dit hulle maatstaf. Let wel, hulle het die sogenaamde apostels “op die proef gestel”. Dus het hulle nie sommer uit hulle duime kom suig dat iemand ‘n valse apostel was nie. Sy leer is teen die suiwer leer getoets en te lig bevind.

Hulle eksklusiwiteit wat betref hulle leer sou verseker nie aanklank vind in ‘n kultuurgedrewe kerk nie. Dit is onaanvaarbaar in sulke geledere dat “gelowiges” weggewys word omdat hulle leer nie suiwer is nie, veral aangesien waarheid nie meer waarheid is nie, maar ‘n sosiale twyfelagtigheid. Dit akkommodeer verseker nie die soekers-ingesteldheid van vandag se postmoderne Ontluikende Beweging nie. 

Dit is insiggewend dat hierdie leersuiwerheid juis toegepas is ten opsigte van dié wat wou lering gee, te weteapostels. Die kerk in Éfese het geweier om leraars toe te laat wat suurdeeg kon versprei. Ek wil myself verstout om te sê dat sou hierdie kerk vandag nog bestaan het met dieselfde ywer vir suiwerheid van leer, daar baie minder leraars deur opleidingsentrums sou beweeg wat aan die ander kant ‘n kerk se leer kan lamlê. 

Wat betref hulle lewe, was dit net so prysenswaardig. Hulle het 

“die werke van die Nikolaïete [ge]haat, wat Ek ook haat.”

Die Nikolaïete was ‘n gnostiese groep wat redelike vryheid van lewenswyse voorgehou het, ‘n soort van “anything goes” benadering. Vryheid in Christus was vir hulle vryheid tot in so ‘n mate dat selfs ‘n andersinds sondige lewenswyse ook aanvaarbaar was. Genade was genoeg. Selfs dit het die gelowiges in  Éfese gehaat – nogals iets waarin hulle Christus sou navolg, omdat Hy dit ook haat. Hulle het immoraliteit gehaat en dit hoegenaamd nie geduld in hulle geledere nie. Dis moeilik om te dink homoseksuele sou toegelaat word om in die kerk lidmate te wees, selfs lering gee as bedienaars van die Woord. 

Hierdie is natuurlik ‘n probleem vir die Ontluikende Kerk se verwatering van die lering oor sonde en die verdorwenheid van die mens. Hierdie belangrike leer word nie ag op gegee nie, ten minste nie in die selfde sin as wat die Skrif daaroor praat nie. 

Die gelowiges in Éfese se leer het ook hulle lewenswyse bepaal. Dit bly maar ‘n gegewene dat as jy onsuiwerhede toelaat in die kerk se leer, dit een of ander tyd neerslag sal vind in die lewe van die kerk. Ook andersom, waar ‘n onsuiwere lewenswandel begeer word, sal daar een of ander tyd verander word aan die dogma van die kerk om die onsuiwerheid te akkommodeer. Hierdie wisselwerking tussen leer en lewe is ‘n spanningsdraad wat die heeltyd in balans gehou moet word sodat die harmonie nie verbreek word nie. 

Vir beide hulle leer en hulle lewe word hierdie kerk geprys deur Christus. Daar was egter ‘n diepliggende probleem by hulle. Hulle het hulle eerste liefde verlaat (2:4). Hulle diep fokus op suiwerheid van leer en lewe het hulle fokus op die fonfament daarvan weggeneem. Hulle eerste liefde was nie meer in hulle visier nie. Hulle het nie meer vanuit liefde vir Christus hulle suiwerheid behou nie, maar vanuit hul eie behoudendheid. Hierdie is ‘n gevaar vir gelowiges wat hulle leer en lewe suiwer wil hou, en dit is een van die redes waarom filosofieë soos die postmodernisme en para kerklike bewegings soos die Ontluikende Kerk soos paddastoele opspring. ‘n Klem op suiwer leer en lewe sonder liefde vir God en mens is net so verkeerd en gevaarlik as liefde vir God en mens sonder begeerte na suiwer leer en lewe. 

Enige stryd teen onsuiwerheid op enige terrein, moet aangepak word vanuit ‘n diepgewortelde liefde vir God en die mens wat daardeur geraak word. Sonder liefde is dit ‘n groot geraas wat eerder afstoot as aantrek. Die Fundamentaliste (let wel, ek bedoel dit nie in biblisistiese wyse nie, maar kerkhistories) mag dit nooit vergeet nie. Die stryd vir die bybelse waarheid moet gebou wees op liefde vir die God van Waarheid.

Die oplossing vir die Kerk in Éfese was nie om die dogma te drop, inklusief te raak deur ‘n sogenaamde “seeker-friendly” omgewing te skep, en om te soek na ‘n dieper geestelike ervaring van God se liefde deur mistieke praktyke nie, soos die dwalinge vandag leer nie. Dit was duidelik:

“Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke.” (2:5)

Met ander woorde, kom weer op daardie plek waar julle liefde vir God die basis vorm vir die hele christelike leer en lewe. Hulle word nie versoek om hulle suiwerheid te laat vaar nie, eerder om dit te behou deur terug te keer na hulle eerste liefde.

Hoe relevant is hierdie eerste kerk in Klein-Asië se situasie nie vir die kerk in Suid Afrika vandag nie! Liefde vir God en mens, suiwerheid van leer en lewe: hou hierdie in die regte verhouding en die kerk sal weer relevant wees – sonder kulturele fieterjasies en tierlantyntjies.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *