Openbaring 3:7-13

 7 En skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfía: Dít sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie:  8 Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie.  9 Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg Ek sal maak dat hulle kom en voor jou voete neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het.  10 Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.  11 Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.  12 Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.  13 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

 

Die sesde brief in Openbaring word geskrywe aan die gemeente in Filadelfia. Die dorpie is gestig ongeveer 189 / 190 v.C. deur ‘n sekere Attalus. Hy was die koning van Pergamus. Blykbaar was hy baie lief vir sy broer en vandaar die naam van die dorpie, wat dan letterlik beteken “liefde vir broer”. Die doel met die dorpie was ‘n buitepos vanwaar die Griekse kultuur en taal moes versprei na die Oosterse kulture. Filadelfia was dus ‘n deur vir die verspreiding van die kultuur van die Griekse wêreldbeeld en kultuur.

Oor die ontstaan van die kerk hier weet ons ook niks buiten wat ons uit Handelinge 19:10 kan aflei. Tydens die drie jaar wat Paulus die evangelie in Efese verkondig het, is die boodskap van die Evangelie met groot krag versprei in Klein Asië. Dit kan goed moontlik wees dat hierdie gemeente juis vanuit hierdie tydperk ontstaan het, alhoewel inligting nie genoeg is om dit klinkklaar te bevestig nie.

Wat opval is dat hierdie brief, soos met Smirna, daar slegs goedkeuring is en géén teregwysing nie. Dit is veral verstommend gesien in die lig van wie dit is wat aan hulle skrywe. Soos die gebruik met al die ander briewe identifiseer Christus Homself spesifiek tot hierdie gemeente se bepaalde omstandighede. Wanneer ons lees hoedat Hy Homself voorspel, moet ons besef dat hierdie gemeente werklik besonders was aangesien daar geen fout te vinde was nie. Die Here Jesus openbaar Homself hier as:  

Die Heilige

Hiermee bevestig Hy Sy eie goddelikheid, aangesien niemand anders heilig was of is in die sin waarin Hy dit bedoel nie. Hy bedoel dit hier nie in morele sin alleen nie, maar as sy wese, of dan sy natuur. Dit is wie Hy is. Jesaja 6:3 besing Hom as “Heilig, Heilg, Heilig” (sien ook Openbaring 4:8). Jesaja 40:25: 

By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige. 

Hou in gedagte dat die grondbetekenis van “heilig” beteken “afgesonder” en dus is die vraag waarvan is Hy afgesonder. Dit impliseer dat Hy afgesonder is van sonde en onreinheid. Daar is in Hom geen ongeregtigheid nie. Hyself het geen sonde nie en kan ook nie sonde duld nie, want dit sou sy heilige natuur verwoes. 

Nou is dit juis verstommend dat hierdie Heilige God niks fout kon vind in hierdie kerk nie! Beteken dit hulle het nie sonde gehad nie? Ek sou reken uit die ondervinding is daar nie so iets soos ‘n kerk sonder sonde nie, want kerke word saamgestel uit mense wat sondig is. Wat ek wel dink in hierdie gemeente gebeur het, was dat sonde hanteer was vir wat dit was. So anders as in die vorige kerk Sardis, waar sonde toegelaat was en dit doodsheid tot gevolg gehad het. Ek glo ook hier was ‘n goeie rede voor en dit is naamlik hulle vashou aan die Woord van Christus (vers 8). Is dit nie so dat Christus self gebid het tot die Vader om sy kinders te heilig in die waarheid nie, en die Woord is die waarheid (Johannes 17)? Die Woord se heiligende effek was duidelik sigbaar is die lewens van die gelowiges hier, wat dan ook die kerklike lewe gesond gehou het.

Daar kan dus ook praktiese implikasies hier wees, naamlik dat ongelowiges nie toegelaat was tot die behoort aan die kerk nie, met ander woorde wat ons vandag sou noem “lidmaatskap”. Ons moet onthou dat sover die Skrif dit leer is die ongeredde mens verlore in sy totale verdorwe natuur en is daar geen lewe in hom nie. Dit is eers wanneer die Gees van God die wedergeboorte skenk dat die mens vryraak van die doodsheid en oorgaan in die nuwe lewe saam met Christus. Waar ongeredde mense toegalaat word tot die behoort aan die kerk, daar word geestelike doodsheid toegelaat en sonde verwelkom met ope arms. Behoort is anders as kennis neem van. Om te behoort is om verbind te wees aan, terwyl kennis neem van veronderstel jy hoef nie medeverantwoordelikheid te aanvaar nie. Daar waar lidmaatskap hanteer word op enige ander gronde as die belydenis van grondige geloof in Christus, daar word die sonde gevra om maatjies te kom raak met die kerk. ‘n Kerk wat die Woord bewaar, sal ekstra versigtig wees met wie toegelaat word om te behoort. So gemeente sal wel oop wees vir die wat “kennis neem”, want hulle moet bedien word met die Evangelie van redding in Christus, maar hulle sal nie kan deel in die vorregte van behoort nie.

Hierdie is ‘n probleem in die postmoderne samelewing waarin die kerk opereer. Die postmoderne kerk hou daarvan om inklusief eerder as eksklusief te wees. Daar moet eerder ruimte gemaak word vir die soekendes om hulle giere en geite te kom uitleef terwyl hulle behoort. Dié inklusiewe aard maak dat gelowige en ongelowige saam mag twyfel oor die geloof binne dieselfde kerklike lewe. Met hierdie tendens reken ek is ons besig om ‘n generasie op te voed wat ver van die Woord en die lig daarvan opgroei en die volgende generasie gaan die slegte vrugte hiervan pluk.
 
Die Waaragtige

Die Here Jesus noem Homself ook die Waaragtige. Openbaring 6:10: 

Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser

Die woord alethinos impliseer egtheid, soos in eg teenoor namaaksel. Dit dra dus die gedagte dat Christus nie ‘n namaaksel is nie, maar die egte Messias, wat die egte vervulling van God se beloftes deur die eeue is. As sodanig is daar dus geen leuen in Hom teenwoordig nie, en kan Hy ook geen leuen duld nie. Dit is immers wat Hy in Johannes 14:6 vir sy dissipels gesê het, naamlik dat Hy die “Waarheid” is. 

Omdat Hy dit is, en nie ‘n namaaksel nie, ag Hy waarheid hoog. Daar is niks erger as om waarheid te minag nie, want daardeur maak jy Hom tot ‘n leuenaar en oneg. Weereens word hierdie aspek tot die spits gedrywe in ons kerke vandag, en die voorlopers hiervan is by uitstek die aanhangers en navolgers van die Ontluikende teologie. Waarheid word sonder meer van die tafel af gevee as iets wat nie meer geduld kan word nie. Dit word gesubjektiveer. Elke Jan Rap en sy maat kan ‘n ander waarheid beet hê en dit is perfek aanvaarbaar. Trouens, vir die Ontluikendes is twyfel meer aanvaarbaar as die waarheid. 

Weereens is die standvastigheid van hierdie kerk in Filadelfia se behoud hulle standvastigheid in die Woord van Christus. Daarin het hulle waarheid gevind, en daardeur het hulle die Here Jesus leer ken as eg en waar. Omdat Hy die Waaragtige is, kan Hy uiteraard ook te volle vertrou word, want Hy is vanuit sy natuur betroubaar. Wie sy geloof in Hom plaas sal nie teleurgestel word nie. So was die gelowiges hier nie teleurgestel in Hom nie.

In vers 8 is dit duidelik. Hulle het sy Naam nie verloën nie. Hierdie gelowiges het egter getrou bly vashou aan hulle Here en Messias as geloofwaardig omdat Hy soveel van die Woord reeds in vervulling gebring het. Hulle kon dit nie durf waag om Hom te verloën nie, want daardeur sou hulle bely dat Hy is ‘n namaaksel en bedrieër.

Die Een met Gesag

Christus noem Homself ook die Een van die Sleutel van Dawid het. Hierdie beskrywing verwys terug na Jesaja 22:20-22:

En in dié dag sal Ek my kneg Éljakim, die seun van Hilkía, roep; en Ek sal hom jou gewaad aantrek en hom gord met jou gordel, en jou mag sal Ek in sy hand lê, en hy sal vir die inwoners van Jerusalem en vir die huis van Juda ‘n vader wees. En Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer lê; en hy sal oopmaak, en niemand sal sluit nie; en hy sal sluit, en niemand sal oopmaak nie.

Die sleutel is die simbool van outoriteit. Ek het al telkemale verwys na die outoriteit van Christus, maar dit is so kern tot die bediening van Christus in sy kerk, dat daar weer hierop gefokus kan word. Hy is die Hoof van sy kerk. Mattheus lig dit so duidelik uit net voor Jesus se hemelvaart met die woorde “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op aarde”. Efesiërs brei hierop uit:

… en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul. (1:19-23)

Hier in Openbaring lees ons Hy het die outoriteit in die Koninkryk van Dawid ontvang om dit oop te sluit vir wie Hy wil. Hy is deur die Vader aangestel as “Here en Christus” (Handeling 2:36). Hy het die gesag hiertoe ontvang om die Koninkryk te gee aan dié wat die Vader aan Hom gee. 

Saam met hierdie outoriteit gaan dan ook die volgende aspek wat Christus oor Homself sê wat betref die uitoefening van gesag en dit is sy soewereiniteit.

Soewerein

Hy sê duidelik Hy sluit deur oop en niemand kan dit toesluit nie, en Hy sluit deure toe en niemand kan die oopsluit nie. Hierdie is ‘n uitdrukking van die absolute soewereiniteit van die Here Jesus. Niemand kan teen sy optrede ingaan nie. Daarom is die toepassing vir hierdie gelowiges in Filadelfia so kragtig.

Hulle het klaarblyklik ‘n groep in die dorp gehad wat hulleself as Jode voorgedoen het, maar dit nie was nie. Dit wil ook voorkom dat hierdie groep hulle bedreig het. Onthou ook dat hierdie dorp verder bedoel was as ‘n oop deur van die Griekse kultuur na die Ooste. Nou sê Christus dat Hy wat die absolute gesag het en wat soewerein werk en handel, voor hulle ‘n oop deur van geleentheid tot Evangelisasie gegee het. Hierdie oop deur het behels dat die wat in soveel leuens vasgevang was dat hulle die “sinagoge van die Satan” genoem is, na die gelowiges toe sal kom en voor hulle buig in erkenning van Christus se liefde vir sy kinders! Hy sal hierdie werk doen. Die kerk moet net gereed wees om deur hierdie oop deur te loop, met ander woorde om die geleentheid wat aan die kom is, te ontvang en hierdie spul leuenaars en Christus loënaars te ontvang met die liefde wat Hy aan hulle bewys het.

Daar is waarskynlik ook die geleentheid om saam met die oop deur van die Griekse kultuur, ook die oop deur na die heiden wêreld aan te gryp en vandaar die Evangelie (en nie die kultuur nie) te gaan deel aan die wat dit nog nie gehoor het nie. Die konteks vanwaar hier geskrywe word, belig hierdie moment egter nie genoeg om dit as voorop te sien nie.

Nou is dit belangrik om te sien dat hierdie gelowiges hulleself nie as “high en mighty” beskou het nie, maar met min krag het hulle die Woord bewaar en aan Christus getrou gebly (vers 8). Die Here wat Hom op so ‘n kragtige wyse aan hulle bekendstel, het hierdie krag in hulle swakheid raakgesien en die vrug daarop was fenominaal in die gemeente. Hulle was min, maar standvastig en getrou. Laat mens nogals dink aan Gideon wat met net 300 man die oorwinning moes behaal en aan Paulus wat sê dat juis in sy swakheid kon God sy krag bewys. Hierdie gemeente het niks gehad om op te roem nie. Al wat hulle kon doen was om die Woord te neem, hulself in die waarheid van die Woord te anker en Christus met getrouheid te volg.

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *