Openbaring 3:14-22 

14 En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God:  15 Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!  16 Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.  17 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.  18 Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.  19 Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.  20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.  21 Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.  22 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. 

Die laaste brief in die sewe briewe in Openbaring word gerig aan die gemeente in Laodicea – en wat ‘n jammerlike brief! Soos met Sardis is daar nie een goeie woord te sê aan hierdie gemeente nie, behalwe in Sardis was daar “enkele persone … wat hulle klere nie besoedel het nie”. Hier is absoluut niks van hierdie aard nie. Die boodskap van die Here Jesus is eintlik baie skokkend. Hy is duidelik:”[Ek] sal jou uit my mond spuug”. Dit is verseker nie iets wat enige gemeente wil hoor nie, veral nie as hulle dink hulle het “gearriveer” nie.

Christus is duidelik oor die rede waarom Hy hulle gaan uitspoeg: hulle was nie koud of warm nie, maar lou. Om hierdie beeld te verstaan, is dit nodig om iets van Laodicea se ligging te ken. Kolosse was so 16 km Oos en Hierapolis 9.6 km Noord-oos van Laodicea. Kolosse aan die een kant was bekend vir die koel bergstrome en Hierapolis vir die warmwater fonteine. Die water van Laodicea hierteenoor was vuil en lou en is gelei na die dorp deur ondergrondse kanaal (ongeveer 8km). Enigeen wat van hierdie water gedrink het, het dit onmiddelik uitgespoeg. Hierdie gemeente sou dus onmiddelik hierdie beeld van die Here Jesus kon verstaan. Of die koud en warm nou die twee uiterstes van geestelike lewe, geestelik lewend (warm) en openlike verwerp van Christus (koud), of dan twee positiewe effekte naamlik verfrissend in die hitte (koud) en verwarmend in die koue (warm) sou beteken, is nie die kern saak nie. Die punt is dat hierde gemeente nie aan een van die twee uiterstes gelê het nie, maar hulle was besmet en in ‘n geestelik “walglike” toestand.

Die rede vir hierdie toestand word duidelik uitgespel:

Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie
 

 

Hierdie is die uitdrukking van iemand wat in homself so ‘n hoë posisie ingeneem het dat hy vergeet om te sien dat juis sy hoogmoed en skynbare rykdom sy eintlike ondergang inhou. Hier sien ons ‘n groep sogenaamde gelowiges wat hul eie mondigwording as mens verklaar het en hulle op grond daarvan as onafhanklik, ge-emansipeerd en sonder enige gebrek gesien het. Laodicea was ook in sy tyd ‘n hub vir die “bankwese”, en geld en rykdom was dus prominent. Daarom gebruik Jesus hierdie beeld om hulle hooghartige loswikkel van die waarheid te beskrywe. Dit kan baie goed moontlik wees dat die rykdom letterlik sou kon wees en dat juis hierdie geldelike rykdom bygedra het tot die hoogmoed en ydelheid wat ontstaan het. Die eindeffek was alles behalwe prysenswaardig in die oë van die Here van die kerk.

Ek onthou toe ek nog kleiner was het die grootmense altyd vir ons gesê: “Die ou mense het altyd gesê …” Nou hier is een van daai wat die ou mense altyd so gesê het: “hoogmoed kom tot ‘n val”. As daar een ding is uit die Skrif wat God hewig teenstaan, is dit hoogmoed, want hoogmoed is die een ding wat die mens op ‘n plek plaas waar God nie meer nodig is nie. Die gevolg is geen dankbaarheid, geen liefde, geen bereidheid tot diens aan ander nie, omdat die self op die troon sit en so hoog dat dit onaantasbaar is. Natuurlik sit dit agter die plan waarmee Satan na Eva gekom het: “julle sal soos gode wees”, met ander woorde op gelyke vlak, selfs hoër, as God. Dis waarom hy van sy plek ontneem is, omdat hy in hoogmoed gereken het hy kan God se plek inneem.

In die Laodicense se geval was hulle rykdom vir hulle bevrydend en het dit hulle op ‘n plek geplaas waar God en medemens nie meer nodig was nie. Tog is rykdom maar slegs een oorsaak daarvan. In ons dag sien ons hoedat kennis ons geweldig opgeblase maak. Hierdie kennis wat ons versamel met die spoed van wit lig dra daartoe by dat ons reken God se Woord is afkomstig uit ‘n tydperk toe die mens alles op ‘n argaïese manier verstaan en interpreteer het. Die wetenskap het ons bevry van die kettings van daardie outydse, of in die woorde van Dr Ben du Toit die “voor-wetenskaplike” denke. Hoe bevrydend vir die mens om te weet hy is nie meer onder die gesag van die “Woord van God” nie, want dit behoort tot daartoe tyd van “slawerny”. Daar is by my geen twyfel nie dat ons vermoë om kennis te versamel en te interpreteer – en selfs te herinterpreteer – ons ryk maak aan kennis tot in so ‘n mate dat die kerk daardeur gelei word tot hierdie selfde toestand waarin die kerk in Laodicea was:

Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie
 

 

Die tegnologiese vooruitgang die laaste klomp dekades wat op die rug van hierdie kennis toename ry, is nog een van die bydraende faktore tot ons emansipasie. Met teleskope kan ons nou – so sê hulle – miljoene (of is dit nou biljoene – jare terug sien. So onlangs soos ‘n paar weke gelede is bekend gemaak dat die God-deeltjie gevind wat sogenaamd die skakel was wat gekort het in die skeppingsteorieë (of sal ons dit eerder moet noem ontstaansteorieë) van ons dag. God is op allerhande terreine nie meer nodig nie, behalwe as ‘n konstruk van ons eie idees om daarmee aan ons spiritualiteit te voldoen. Hy is onttroon as Skepper, as Verlosser, as Hoop op ‘n ewige bestaan vry van die ellende wat ons vandag beleef. Die mens het Hom en sy Woord net eenvoudig nie meer nodig nie. Voorwaar sit ons met hierdie scenario in ons dag:

Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie.
 

 

Tog is dit nie iets nuuts nie. Alreeds moes Johannes aan hierdie gemeente skrywe dat hulle toestand vir Christus walg en dit is hoe Hy dink en voel wanneer sy “kinders” hulself loswikkel van sy Koninskap op die rykdom, kennis, vooruitgang en mag wat hierdie samelewing bied, na te jaag; wanneer hulle hierdie valse vryheid najaag en daarmee hulself verhef as gode oor hul eie lewens en bestaan. Ons ken die spreekwoord: “Kennis is mag”. Dis waar ons in ons dag is.

John Stott het geskrywe: “The Laodicean church was a half-hearted church. Perhaps none of the seven letters is more appropriate to the twentieth-century church than this. It describes vividly the respectable, sentimental, nominal, skin-deep religiosity which is so widespread among us today. Our Christianity is flabby and anemic, we appear to have taken a lukewarm bath.”

Kennis is dan nie slegs kennis van die dinge wat ons rondom ons sien nie, maar ook die sogenaamde geestelike kennis wat in ons dag so nagejaag word. Die herlewing in die gnostiek is opvallend. Die basis van die gnostiek is die “gnosis” of kennis, wat ‘n kennis is van die verborge waarhede aan die mens onbekend deur normale rede. Alhoewel Laodicea ryk was aan geld, was daar ‘n dwaling in die omtrek (waarteen Paulus aan die Kolossense skrywe) wat ‘n voorloper was van die volskaalse Gnostiek wat later in die eerste eeu so ontwikkel. Aanhangers van hierdie beweging het hulself as geestelik ryk beskou, hulle het die volheid bereik van wat geestelik nodig sou wees.

In ons dag herleef hierdie gedagtes. Dit is nie sonder meer dat die “Nuwe Hervormers” tot stand gekom het nie. Die klem op die mistiek en belewenisse is opvallend. Ek het al verwys na die sienings van Marcus Borg en Richard Rohr oor Christus, wat uitdrukkings is van hierdie gnostiese leer. Piet Muller skrywe onder andere:

Die hemel is waar die teïstiese God woon en die wêreld van ‘n afstand af bestuur. … Maar met die koms van die ‘nuwe fisika’ en die astrofisika wat daarop gebaseer is, het hierdie manier om aan God te dink uitgedien geraak. In die nuwe wêreldbeeld is daar nie meer sprake van binne en buite, bo en onder nie. God is alles en alles is in God en tog is God ook meer as alles. Die keuse is vandag nie meer tussen teïsme … en Panteïsme … nie. Daar moet dringend nuwe maniere en nuwe metafore gevind word om sinvol oor die Al te praat… Want in die nuwe kosmologie is God as ‘n kosmiese ‘force’ ‘n geloofwaardiger metafoor as ‘vader’.1 [Kursief en beklemtoning myne]

Hy verwys ook na die ontdekking van die Dooie See rolle wat meer lig werp op die gnostiese strominge in die Christendom, sowel as die Nag Hammadi-geskrifte wat die gnostiek verder bevorder.2 Dr. Hennie de Villiers kom vanuit die sielkunde op hierdie stroom in. Hy berei die lesers voor datdie “nuutste insig” behels:

“Ons is spirituele wesens wat ‘n fisiese vorm aangeneem het – ons is nie menslike wesens wat toevallig spirituele ervarings het nie, ons is spirituele wesens wat toevallig menslike ervarings het.”3

 

Voorwaar bevind ons onsself in ‘n tyd waar insig, kennis en dies meer ons meer oor en van onsself laat dink as wat die Bybels nodig is. Ons leef in ‘n tyd waar die sogenaamde “nuwe wêreldbeeld” van ons vra om self keuses te maak oor hoe ons God moet beskou.

Die ironie (of is dit tragiese) van hierdie toestand is egter wat Christus in die tweede deel van vers 17 vir hulle sê:

en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.

 

Dit is die geweldige effek van die hoogmoed waarin die mens vasgevang word. Christus beskryf hul eintlike toestand met hierdie vyf toestande waarin hulle verkeer:

ellendig

Dit is die toestand waarin Paulus homself bevin in Romeine 7:24 wanneer hy uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Hy skrywe dit na aanleiding van sy vraag oor die stryd tussen die vlees en die Gees, die dood en die lewe, en nadat hy besef hy is uit die vlees moeg geworstel en gestoei om self die dinge oor God te verstaan en na te volg, besef hy hoe ellendig hy is sonder die verlossende genade wat daar is in Christus Jesus deur sy Gees. Dit is dus ‘n beskrywing van iemand wat ‘n ewigdurende verloorstryd het sonder die lewe in Christus. Dit is hoe Christus hierdie gemeente sien. Op hulle eie besig om te roei vir ‘n vale en tog al die tyd aan die verloorkant besig om dieper weg te sink in hulle verlorenheid.

beklaenswaardig

Hierdie is uidrukking van ‘n toestand so sleg dat dit niks anders nie as erge jammerte uitlok. Dit is ironies dat dit die geval moet wees vir dié wat juis reken hulle het gearriveer en het alle sporte bereik. So vry soos hulle reken hulle is, so jammerlik is hulle eintlik en hulle is blind daarvoor.

arm

Hierdie is verwysend na die bedelaar wat bakhand staan en leef van dit wat ander goedgunstiglik kan gee. Kontrasteer dit met die gedagte aan hulle rykheid, dan staan hierdie aan die totaal teenoorgestelde kant. Dit kan ook nie anders nie. Paulus skrywe aan die Kolossense, by wie die dwaling wat ook hier moes wees sterk aanwesig was oor Christus:

Want ek wil hê dat julle moet weet wat ‘n groot stryd ek oor julle het, en oor die wat in Laodicéa is en almal wat my aangesig in die vlees nie gesien het nie, dat hulle harte vertroos mag word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is. Dit sê ek, sodat niemand julle mag verlei met drogredes nie. (Kolossense 2:1-4)

Geestelike rykdom is slegs te vinde in die Christus van die Bybel. Buite Hom is daar armoede.

blind

Hierdie toestand spreek van hulle onvermoë om hul eie toestand raak te sien, om die valsheid in hulle leer op te merk en om hulle hoogmoed en trots te sien soos wat dit is. Wanneer Jesus oor skatte praat, dan lig Hy die beginsel van blindheid uit en trek dit deur na geestelike donkerte:

Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie! (Mattheus 6:19-23)​​

naak

Die uitdrukking hier is aanduiding van iemand wat of heeltemal kaal is of baie skraps in flardes geklee is. Die idee is om hulle skande uit te beeld, met ander woorde om vir hierdie kerk te sê dat hulle is eintlik vernederd in ‘n negatiewe sin en daarom is daar skaamte en skande. Dit gesê aan ‘n groep wat in hoogmoed en trots hulleself vrygemaak het, sou nie baie lekker op die oor geval het nie.

Die somtotaal van al hierdie eienskappe beskryf ‘n toestand wat so ver van Christus is dat Hy hulle wil uitspoeg. Nie omdat Hy nie bereid is om hulle te red nie, maar omdat hulle in hul patetiese toestand ‘n valsvroom godsdiens voorgehou het wat God geloën en die mens op die troon geplaas het.

Ek kan nie anders as om te dink dat vir so baie kerke in ons dag hierdie selfde gevoel in ons Here se hart is nie. Daarom moet ons versigtig wees om dié te volg wat die mens eerder as die Skepper aanbid; wat vertroue plaas eerder in prinse eerder as die Waaragtige; wat sy Woord in twyfel trek waarvan Hy elke deel daarvan in vervulling bring, en eerder die Woord afwater as slegs mense gedagtes vol van foute en twyfelagtighede. Die toestand van Laodicea is ‘n waarskuwing vir die kerk van die 21ste eeu om nie te vergeet dat rykdom en skatte alleen te vind is in Christus en sy Woord nie. Daarom is Jesus se oplossing niks anders as Hyself nie:

Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien… Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. (vers 18 en 20)

 

Voetnotas

1 Piet Muller (red), Die Nuwe Hervorming, Pretoria Boekhuis, 2002, p12.
2 Ibid
3 Dr. Hennie J. de Villiers, Wat is my siel?, Logos Boeke, 2000, pi. Dit is insiggewend dat Dr. Ben du Toit is sy God? Geloof in ‘n postmoderne wêreld sterk leun op die insigte van De Villiers wanneer hy ‘n argument bou oor die “werklikheid” van die opstanding van Jesus van Nasaret.  

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: