Openbaring 2:12-17

 

  12 En skryf aan die engel van die gemeente in Pérgamus: Dít sê Hy wat die skerp tweesnydende swaard het:  13 Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van die Satan is. En jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie, selfs in die dae waarin Antipas my getroue getuie was, wat gedood is by julle waar die Satan woon.  14 Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bíleam wat Balak geleer het om ‘n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer.  15 So het jy ook mense wat vashou aan die leer van die Nikolaïete, wat Ek haat.  16 Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond.  17 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee ‘n wit keursteen, en op dié steen ‘n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang.  

 

Pérgamus is die derde brief wat die Here Jesus aan Johannes dikteer, so ook die derde stop op die belangrike handelsroete in Klein-Asië. Om die brief te verstaan, is dit nodig om die agtergrond van die kerk in Pergamus te verstaan.

Pérgamus  was een van die belangrike stede in die Romeinse Ryk, met ‘n groot getal inwoners. Die argitektoniese vooruitgang was veral ook hier gesien. Veral die tempels van Athena en Zeus was prominente bewyse hiervan.

 

Teen die draai van die 1ste eeu na Christus was Pérgamus ‘n belangrike politieke, intellektuele, kulturele en  geestelike sentrum. Daar was ‘n verskeidenheid filosofiese en geestelike strominge wat hier bymekaar gekom het. Dit was dan ook in hierdie stad dat die Romeinse Imperiale Kultus dominant was. Al is al die gode van die Grieke aanbid, was dit hier waar die godheid van die Romeinse keiser hoë prioriteit ontvang het. Hy het dan ook na homself as “redder” verwys.

Hier was glad nie ‘n tekort aan afgodediens nie. Tempels en heiligdomme was volop, met gepaardgaande feeste en tempelprostitusie om die stad en sy inwoners te vermaak en geld in te samel. Hierdie stad was die toonbeeld van goddeloosheid en afvalligheid, alhoewel dit “ryk” was in kultuur en posisie in die Romeinse Ryk.

Dit was in hierdie moeilike omstandighede dat die kerk in Pérgamus moes vasstaan as openbaring van God se waarheid. Die plek word beskrywe as die plek “waar die troon van Satan is” (vers  13). Dus was dit uiteraard nie maklik om kerk te wees nie, immers, die duiwel homself het daar sy troon opgestel. Hierdie uitdrukking dui op die totale verval in afgodery en die gepaardgaande donker praktyke. Dit was vir hierdie kerk asof hulle elke dag moes deurbring onder geweldige druk om te swig voor die Satan en sy dienaars.

Daar was die politieke druk wat die politieke leiers, en dan veral die keiser, op die gelowiges geplaas het. Hy is immers as god aanbid en die druk was dat almal, die kerk inkluis, dit so sou erken. Antipas wou nie, en moes daarvoor sterf. 

Daar was kulturele druk, met ander woorde, geniet wat jou ongelowige buurman geniet. Verslap jou christelike leefwyse ter will van die samelewing waarbinne jy jouself bevind. Regverdig so ‘n leefwyse deurdat jy vry is in Christus om te leef en te doen soos die res. 

Daar was ook godsdienstige druk. Met al die tempels en feeste, is jy redelik geïsoleerd as gelowige gemeeskap. Verloën jou engheid en geloof en raak deel van dit wat almal doen – hulle kan tog nie regtig almal verkeerd wees nie! Miskien is dit die gelowiges wat verkeerd is. 

In ‘n stad met soveel intellektuele stimulus – daar was onder andere ‘n groot biblioteek – was daar verseker ook intellektuele druk. Dit is gewoonlik verteenwoordig deur die filosowe wat bymekaar gekom en gedebatteer het oor allerhande opnies en ideologieë. Vir die meer intellektueel georiënteerdes in die kerk, moes dit ‘n geweldige aantrekkingskrag gewees het om betrokke te raak by die slimmes se gesprekke.

Hierdie is veral die uiterlike elemente wat druk op die kerk in Pérgamus geplaas het en kyk ons mooi hierna, is dit ook die elemente wat tot vandag toe in een of ander mate gelowiges se getrouheid aan die evangelie en aan die Here Jesus Christus toets. Daar is altyd ‘n kombinasie van een of meer van hierdie elemente wat die gelowige tot konstante keuses vir of teen druk. 

Selfs in ons huidige tyd sien ons hierdie aspekte duidelik teen die kerk inwerk, met baie negatiewe gevolge. Kyk ons maar net na ‘n kwessie soos homoseksualiteit in die kerk, sien ons dat hierdie nie meer net ‘n saak van Skrifoortuiging is nie – dit is nou al ‘n politieke speelbal. Sou dit slegs ‘n saak wees wat op grond van die Skrif beslis moes word, was dit nie ‘n issue nie. Maar mense en organisasies het hiervan ‘n instrument gemaak om die kerk se getrouheid op die proef te stel.   Kerke mag nou nie net meer ‘n standpunt inneem op grond van die Skrif nie – dit loop op hofsake uit. Die Ontluikende Kerk se verdraagsaamheid en die toelating van hulle teologie binne die groter prentjie van die Suid Afrikaanse kerk, help nie regtig veel om die kerk te beskerm teen hierdie politiekery nie. Dis egter nie net politieke druk in hierdie saak nie, daar is ook kulturele druk, want homoseksualiteit raak al meer aanvaarbaar, selfs homoseksuele huwelike is aanvaarbaar. Hierdie selfde mense gaan ook kerk toe en wil aanvaar word binne die ruimte van die kerk.  

So kan ons ook kyk na kwessies soos evolusie, die leer oor die opstanding, die leer oor vergifnis (iets wat polities op die spits gedryf is deur byvoorbeeld die Waarheids en Versoeningskommisie onder die liewe Biskop Desmund Tutu – hoe insiggewend dat kerk en staat hier saam gestaan het oor ‘n kwessie soos vergifnis en versoening). Ons kan ook verwys na die kwessie van Apartheid, iets wat nou weer tot die spits gedryf word die die sogenaamde SteedsHervormers. Dr. L.J. Meyer sê hieroor Meer politiek binne die Kerk as wat die hedendaagse regering ooit kan hanteer”. Kyk maar byvoorbeeld na die agenda van Rick Warren en sy ekumeniese ingesteldheid. As daar nou een “bediening” is waar ‘n klomp van hierdie bogenoemde elemente saamwerk en inwerk op die voortbestaan van die Kerk wêreldwyd, is dit syne. Hy opereer op alle vlakke en het die kuns bemeester om dit so geïntigreerd te doen dat dit aanvaarbaar word.

Feit is, die kerk leef nie in ‘n vakuum van beskerming nie, maar is in die ope, en word gebombardeer van alle kante. Let net daarop dat die kerk in Pérgamus nie vervolg was nie, behalwe vir Antipas as individu. Hulle was onder druk om te konformeer, nie onder vervolging om te sterf nie. Hoe sou hulle hierdie druk hanteer? Die Here Jesus sê:

“En jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie” (vers 13).

Hulle het nie geswig voor die druk om die keiser as here en redder te erken nie. Inteendeel, wat hulle belydenis betref was hulle getrou aan die Naam van Christus. Hulle het ook hulle geloof in Hom gehandhaaf. Iets om oor bly te wees. Dit is moeilik om onder soveel druk dit te doen, veral gedink aan ‘n Antipas wat wel sy lewe hiervoor moes gee.

Tog is belydenis nie genoeg nie. Dit gaan ook oor getrouheid in lewe, en dit is hier waar die kerk in Pérgamus redelik klei getrap het. Hulle het kompromieë aangegaan wat hul lewenswandel aanbetref, en so hulle getuienis skade gedoen en ook die toorn van Christus oor hulle gebring. Volgens Openbaring 2 het hulle die leër van Beleam aangehang en ook dié van die Nikolaïte. Die essensie van beide was ‘n verval in afgodeaanbidding en ‘n wêreldse leefwyse wat die belydenis wat hulle gehad het skade gedoen het – eintlik hulle “profetiese” stem in Pérgamus stilgemaak het.

Die Kerk moet versigtig wees vir kompromieë met die samelewing, en ek vrees dat net ‘n vinnige oorsig oor die kerklike terrein in Suid Afrika vandag, vir ons moet laat rooi ligte sien. Ons bevind ons in tye waar ons van alle kante gedruk word om te konformeer met wat in ons samelewing gevra word. Die soekers-ingesteldheid, die sogenaamde luisterseisoen, is die ideale geleentheid om die wêreld in die kerk te kry, en ongelukkig buig die kerk op hierdie stadium ver agteroor om hierdie standpunte te akkommodeer.

Homoseksualiteit, Evolusie, Belhar se belydenis, die historiese Christus, aanvaarding van ander gelowe is alles temas wat op die spits gedryf word en die kerk het die geneigdheid om te akkommodeer eerder as om die Skrif se standpunt te neem en dit te volg. Soveel stemme begin van binne die kerk opstaan hierteen, dat ek dink die kerk moet begin luister na die bekommerde stem binnekant en nie die verleidende stem buitekant nie. 

Wat is die oplossing? Bekeer jou (vers 16). Daar is geen ander oplossing nie. Die kerk moet vir Christus om vergifnis vra vir sy konformering tot ‘n wêreld wat teen Hom gedraai is. Ons weet bekering behels ‘n totale omswaai in ‘n ander rigting, en daardie rigting is terug na die Woord, terug na die Waarheid van God. Dis die enigste uitweg 

“anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond.”

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *