Openbaring 3:1-6

1 En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dít sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood. 2 Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, want Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie. 3 Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou; as jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie. 4 Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is. 5 Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele. 6 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

 

Die brief aan Sardis is gerig aan ‘n gemeente wat die reputasie van lewe gehad het, maar innerlik was die kerk morsdood. In ‘n vorige artikel het ek verwys na die rol van geesvervulde leiers (sewe sterre) wat onder die leiding van die Heilige Gees (die sewe geeste van God) ‘n geweldige impak in die lewe van ‘n kerk kan hê. By die afwesigheid hiervan, verval ‘n gemeente baie maklik in ‘n program-gerigte organisasie wat meer opereer vanuit besigheidsmodelle as die Gees van God wat lei deur sy Woord. Dit bring dood. Tog lees ons ‘n belangrike punt in hierdie brief aan die gemeente in Sardis wat defnitief sou aanleiding gee tot die geestelike doodsheid.

Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie (vers 4).

Hier kry ons ‘n aanduiding van ‘n situasie in die gemeente waar mense in ‘n sondige leefwyse verval het en daardeur hulself besoedel het. Hier word genoem dat daar maar “enkele persone” was wat nie deel gehad het aan hierdie sondige leefwyse nie. Judas het ‘n soortgelyke vewysing in sy brief in vers 23:

en ook die kleed moet julle haat wat deur sonde bevlek is.

Sonde se logiese gevolg is dood. Die Skrif is hieroor duidelik. Paulus skrywe oor die natuurlike toestand van die mens en beskryf hom as in sonde en onder die oordeel van die dood (Romeine 3:23). Die mens se natuurlike geneigdheid is om in sonde te leef. Met sonde verstaan die Skrif nie slegs ‘n lewe van korrupte dade en optrede nie, maar sonde word ook gesien as ongeloof in God. Die Hebreërskrywer waarsku:

Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. (3:12) 

Hy sê later dat ongeloof was die rede waarom die volk nie die beloofde land kon ingaan nie:

En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie.(3:19)

Later in hoofstuk 11 sien ons hoe ernstig God is oor geloof (en daarmee dan ongeloof):

Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Want daardeur het die mense van die ou tyd getuienis ontvang. Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie. Deur die geloof het Abel ‘n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is. Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het. En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.

Ongeloof kom die kerk binne deurdat die leierskap toelaat dat enige persoon deel word van die kerk. Die kerk is die versameling van God se uitverkore, verlosde kinders. Die oomblik as daar nie meer toesig gehou word hieroor deur die leiers en ander lede van die kerk nie, verval die die gemeente in sonde, veral dan die sonde van ongeloof. So word die kerk vol ongeredde persone wat geen geloof in God Drie-Enig het nie en dan ook so lewe.

Dan is daar ook die verantwoordelikheid van die gelowiges om seker te maak dat hulle voortdurend ag gee op hul eie lewenswandel. Net soos dit vir Christus onaanvaarbaar is dat ongelowiges deel raak van sy kerk, is dit vir Hom onaanvaarbaar dat dié wat wel bely dat hulle in Hom glo as redder, verval in ‘n sondige leefwyse. Daardeur vertrap hulle die bloed van die kruis as sinneloos en kragteloos om te reinig van sonde. 1 Johannes 1:6-10 vertel oor die realiteit van sonde maar ook die vegewende genade van God in Christus:

As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie. 

Hierop volg 1 Johannes 2:1:

My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.

en 1 Johannes 3:3-9:

En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is. Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid. En julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie. Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie. My kinders, laat niemand julle mislei nie: wie die geregtigheid doen, is regverdig soos Hy regverdig is. Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek. Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore. 

Christus het gekom om die werke van die duiwel, naamlik sonde, te verbreek en die geredde mens deur die nuwe skeppingsdaad van wedergeboorte vry te maak van sonde – en ja van die begeerte na sonde. Johannes wil nie die illusie skep dat die mens ‘n superwese raak nie, maar dat sonde en die natuurlike geneigdheid daartoe deur die verlossing in Christus effektief hanteer word (sien ook 2 Petrus 1). 

Daarom is dit vir Christus onaanvaarbaar as sy liggaam in sonde verval. Tog lyk dit asof Hy nie koud staan teenoor wie die mens is nie (iets wat ons baie in die Ou Testament lees), en daarom het Hy aan die kerk die tug gegee as ‘n teenvoeter vir die teenwoordigheid van sonde in die kerk. Deur die tug word sonde effektief hanteer en uit die liggaam gehaal. Die probleem is egter wanneer die leierskap nie meer die tug as ernstig hanteer nie. Wanneer sonde te aangenaam raak om daarvan ontslae te raak. 

As ons eerlik is met onsself, sal ons erken dat baie van die praktyke en optrede wat vandag aanvaarbaar is in die kerk word kultureel regverdig, eerder as Bybels afgewys. Waar die Skrif duidelik oor iets soos homoseksualisme is, regverdig die kerk dit vandag op grond van oppervlakkige kulturele argumente. Die probleem is egter dieper as kultuur. Dit lê by ‘n wanbegrip van die wese en persoon van God. Romeine 1:18-32:

Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. 

Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie: hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid;  30 nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers; onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig, mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.

Waar God onttroon word vir die grille en giere van mense en die leiers dit nie hanteer nie, verval die kerk in sonde, die lede se lewens word gekenmerk deur morele verval en die naam van God word beswadder onder die ongelowiges. 

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: