Openbaring 2:8-11:

 

 
  8 En skryf aan die engel van die gemeente in Smirna: Dít sê die eerste en die laaste, wat dood was en lewend geword het:  9 Ek ken jou werke en verdrukking en armoede maar jy is ryk en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge van die Satan.  10 Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.  11 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.   

 

Smirna was die tweede dorp op die handelsroete in Klein Asië aan wie Christus ‘n boodskap aflewer. Waar ons in Efese ‘n sterk fundamentalisme wat leer en lewe aangetref het, maar weg van die liefde wat nodig is om dit te ondersteun, tref ons hier ‘n heeltemal ander scenario aan. Hierdie kerk het nie die “gemak” van sekere van die ander kerke in hierdie twee hoofstukke gehad nie. Inteendeel, hulle was die subjek van vervolging.

Die insiggewende is dat slegs Smirna en Filadelfía nie berispe word vir een of ander ongeruimdheid in hulle midde nie. Hulle word slegs bemoedig deur Christus. Die gelowiges in Smirna was vervolg. Hulle moes lyding verduur ter wille van hulle geloof in Christus. Christus is nogals duidelik oor die doel daarvan, 

“sodat julle op die proef gestel kan word”

en in hierdie geval die tydsduur

“en julle sal tien dae lank verdrukking hê”

en selfs die moontlike uitkoms

“wees getrou tot die dood toe” (2:10).

Dit was voorwaar nie die maklikste tye vir hierdie baken van lig in ‘n plek waar ‘n sinagoge van Satan was nie. Wat opvallend is die afwesigheid van ‘n aanklag. Dit impliseer die suiwerende effek wat vervolging het, en hieroor is die Skrif baie duidelik:

“Daarin julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge,  sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;” (1 Petrus 1:6-7)

“Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.  Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.” (Jakobus 1:2-3)

“Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.  Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.” (Matteus 5:11-12)

Smirna se kerk het hierdie suiweringseffek ervaar en daarom was dit nie nodig om hulle oor onsuiwerheid te berispe nie. Dit was nodig om hulle verder te versterk in hulle geweldige swaar tyd waardeur hulle moes gaan. 

Met die fokus op die postmodernisme en die Ontluikende Kerk as geestelike vergestalting daarvan op hierdie webtuiste was my onmiddelike vraag na die betekenis van vervolging vir die kerk soos ons dit huidiglik in Suid Afrika ondervind. Wat het vervolging met die Ontluikende Kerk en die postmoderne samelewing te make? Ek dink die antwoord lê opgesluit in die teologie van hierdie beweging en om dit te plaas oor die raamwerk wat die Skrif bied oor vervolging. Die Skrif moet dus hulle teologie toets en uitspraak lewer.

Hoekom is dit nodig om dit so te benader? Wel, die bybel sê “almal wat godvrugtig wil lewe, sal vervolg word”. Die vraag is egter of jou geloof die toets van vervolging sal deurstaan. Ek dink die Skrif wys tog duidelik dat waar jou hart is, daarheen sal jy loop. Ons moet hierdie vrae vra om seker te maak dat ons gegrondves is op die dag wat vervolging kom en ons nie dan as gevolgg van wollerige en wankelrige geloof, stert tussen die bene weghol nie.

Daarom wil ek ‘n paar aantekeninge maak waar ek dink die teologiese mondering van die Ontluikendes te lig bevind word.

1. Dit is ‘n kultuurbeweging

Ek het al op verskeie plekke die konneksie tussen die Ontluikende Kerk en die Postmodernisme uitgewys. Dit is hoe ons hierdie beweging moet benader. Dis nie ‘n beweging wat sy oorsprong in die Woord gehad het nie. Ons moet onthou dat die postmodernisme is in essensie anti-modernisme, met ander woorde ‘n beweging wat in opstand gekom het teen die mislukkings van die modernisme. Dit is dus in wese revolusionêr en opstandig.

Hiermee saam is dit geweldig akkommoderend en aanpasbaar. Wat dus nie aanvaarbaar was onder die modernisme nie, word baie makliker vrye toegang gegee tot die samelewing. In kerklike terme gaan dit selfs sovêr as om ander gelowe as legitieme stemme tot ware geestelike lewe te aanvaar. Die eksklusiewe karakter van die Skrif en redding word dus verruil vir inklusiewe aanvaarding van ander godsdienstige strominge.

Die kultuur bepaal betekenis en sin, ‘n sosiale evangelie, waar nie die Woord van God nie, maar die kulturele verstaan daarvan as geldend beskou word.

Net hierdie baie opsommende beskouing van die kulturele fokus, skep al klaar geweldige probleme wat betref die vervolging van die kerk. Iets wat nie sy oorsprong in die Skrif het nie, gaan moeilik sy teologie daarop bou en dit sal ‘n probleem skep want in tye van vervolging is hierdie vaste fondament nodig. Dit is natuurlik as so ‘n kerk vervolging in die ware sin van die woord sal ervaar, omdat dit so insluitende benadering tot alles het.  

2. Die Ontluikende Christologie

Die vervolgers deur die geskiedenis was nog altyd dié wat die boodskap van die ware kerk gehaat het, wat die persoon van Jesus Christus soos in die Skrif geopenbaar, geminag het. Jesus sê dit self: “om My ontwil”. Dit is omdat die kerk se boodskap Jesus Christus en die verlossing in en deur Hom is. Hy konfronteer die sondigheid en verlorenheid van die mens juis sodat daardie mens tot inkeer sal kom en verlos sal word. 

Die “Christus” in die postmoderne godsdiens is anders. Hy is eerder ‘n bewustheid as die Seun van God. Hy is ‘n voorbeeld om na te volg en nie ‘n redder nie. Hy is in alles en almal en die mens moet een word met Hom. Dit is ‘n ander christus wat in die Ontluikende Kerk voorgehou word, nie die een van die Skrif nie, een wat geestelik eerder as letterlik geken en verstaan behoort te word.

Diesulkes wat vasgevang is in hierdie valse teologie gaan ‘n moeilike pad stap in tye waar hulle toewyding aan die Christus waarin hulle glo op die proef gestel word. Ter will van wie sal hulle dan vervolging verduur. Anders as in die humanisme gaan dit vir die gelowige oor Christus en nie oor ‘n saak nie. Vir die postmoderne mens is Christus uit die prentjie en word die sosiale voorop gestel. Indien hulle daarom nie baie sterk oortuig is van hulle humanistiese standpunte nie, sal sentimente in sulke tye redelik rondskuif en kompromieë aangegaan word.

Daar is dié wat salf sterf vir die saak waarvoor hulle staan, maar dit is vir die verkeerde redes. Vervolging in die Bybel is ter wille van die werk en Persoon van Jesus Christus en nie ‘n sosiale aangeleentheid nie. Dis dan ook hier waar ‘n derde aantekening nodig is.

3. Die Ontluikende geloof

Petrus én Jakobus skrywe albei oor die “beproefdheid van die geloof”. Duidelik is dit die gelowige se geloof in Christus wat tydens vervolging ‘n loutering ondergaan. Smirna gaan vervolg word sodat hulle op die proef gestel word. 

Die bybel is duidelik oor wat geloof is:

“Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie … Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie … En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.” (Hebreërs 11:1, 3, 6)

En ook wat geloof nie is nie:

“Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.  Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie – so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.” (Jakobus 1:6-8)

Geloof en twyfel is so ver verwyder van mekaar soos die ooste van die weste. Die twee sluit mekaar uit. Vir die postmodernisme is sekerheid ‘n teken van “swakheid”. Hoe meer twyfel hoe beter! Tog sê die Skrif dat twfel ‘n teken van ongeloof is en sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag. Verder, stel vervolging juis die geloof op die proef. Die gevolgtrekking is duidelik. Sonder geloof gaan enige mate van toets jou in ‘n redelik moeilike posisie plaas.

Die kind van God se geloof is gerig op Christus en gebou op die geloof oorgelewer deur die Apostels, met ander woorde, die Skrif. Dit word versterk deur die Gees van God wat in hom werk. Sonder dit is die geloof leeg en sinneloos. Hierteenoor is daar by die Ontluikende Kerk nie sprake van ‘n bybelse geloof nie. Die wesenlike van die postmodernisme bring onsekerheid en twyfel. Jesus sê ‘n baie belangrike ding oor die werk van die Gees:

“en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:  van sonde, omdat hulle in My nie glo nie;” (Johannes 16:8-9)

Kyk die vermaning in Hebreërs 3:12:

“Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie.”

Dit lyk my tog die Bybel is teen ongeloof en twyfel, omdat dit ‘n teken is van ‘n sondige en selfs bose hart en afvalligheid van God.

Gesien in die lig van die inklusiewe karakter van hierdie beweging, is dit moeilik om te dink dat hulle geloof die toets sal deurstaan. Bybels is geloof juis gefokus op die persoon van Jesus Christus, en nie op allerhande geestelike werke en pogings en demoniese afgodery nie. Sulke geloof is nie geloof nie, maar afvalligheid en sonde en kan dus nie swaarkry deurstaan nie.

Natuurlik is hierdie vervolging vir die ware gelowige ‘n pynlike proses, maar een waartoe die Skrif ons oproep om oor bly te wees. Dit is die gevolg van ‘n godvrugtige lewe, gebou op die Woord van God, gegrondves in en gefokus op Christus as die opgestane Here en onderhou deur die Heilige Gees. Paulus skrywe oor swaarkry:

Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God. En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. (Romeine 5:1-5).

Vervolging en postmodernisme gaan nie saam nie. Die Ontluikende teologie is te swak om die toets van die geloof te deurstaan. Indien jy daarin vasgevang is, maak dat jy daaruit kom so vinnig soos jy kan, want dit is op los sand gebou.

Smirna se geloof is beproef en dit het hulle lewens gesuiwer. Hulle fondament was vas. Hulle geloof was in Christus. Mag dit ook vir ons waar wees as ons daardeur moet gaan en ons geloof so beproef word.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *