Openbaring 2:18-29

18 En skryf aan die engel van die gemeente in Thiatíre: Dít sê die Seun van God wat oë het soos ‘n vuurvlam, en sy voete is soos blink koper:  19 Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou werke, en dat die laaste meer is as die eerste.  20 Maar Ek het enkele dinge teen jou; dat jy die vrou Isébel, wat haarself ‘n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet.  21 En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie.  22 Kyk, Ek werp haar neer op ‘n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ‘n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie.  23 En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.  24 En ek sê vir julle en die ander wat in Thiatíre is, almal wat hierdie leer nie het nie, en die wat die dieptes van die Satan, soos hulle dit noem, nie leer ken het nie: Ek sal op julle geen ander las lê nie.  25Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom.  26 En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee,  27 en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het.  28 En Ek sal hom die môrester gee.  29 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Die brief aan die “boodskapper / engel van Tiatire” is die vierde in die lys van sewe aan die kerke in Klein-Asië. Dit is ook die langste.

Tiatire was ook een van die kleinste dorpies aan wie in hierdie reeks briewe geskrywe is. Die dorpie is geleë in die Lykos Rivier vallei. Dit wil voorkom asof dit aanvanklik ‘n militêre dorpie was, wat gedien het as ‘n voorpos vir Pergamus. Waar Pergamus die setel van Politieke en regeringsgesag was, was Tiatire weer bekend vir sy militêre karakter.  Later sou hierdie fokus effens op die agtergrond skuiwe met die oorname deur die Romeinse Ryk, en plek maak vir ‘n sterk ambagsgeoriënteerde ekonomie, veral metaalverwerking. Ons lees ook in Handelinge 16:14 van Lidia, die purpurerverkoopster, afkomstig van Tiatire, wat tot geloof in Christus gekom het. Die band met Pergamus was baie sterk en moet nie uit die oog verloor word nie. Insiggewend is dat die selfde probleme, naamlik afgodery, hier ook hoog op die probleemlys was.

Omdat dit so ‘n sterk industriële ekonomie was, wil dit voorkom asof hier ‘n sterk voorkoms van unies was, elk verteenwoordigend van ‘n spesifieke industrie. Om dus ‘n beroep hier te kon beoefen, het mense by een of meer unies aangesluit. Hierdie sterk verteenwoordiging van unies sou ‘n groot rol speel in die uitleef van die geloof in Christus. Een ding moet ons verstaan van die unies, en dit sou ook geld van ‘n beroep in die weermag in Tiatire, is dat dit nie slegs politieke en kommersiële karakter gehad het nie, maar ook godsdienstig. Om ‘n beroep te beoefen, het die persoon aan die relevante unie behoort wat sekere godsdienstige rituele vereis het. Dit sou dus van die Christen vra om sekere dinge te doen wat kontra die geloof in Christus as Here sou wees.

“But, on the other hand, there were numerous societies for a vast variety of purposes, the condition of membership in which was professedly and explicitly the willingness to engage in the worship of a pagan deity,  because the society met in the worship of that deity, the name of the society was often a religious name, and the place of meeting was dedicated to the deity, and thus was constituted a temple for his worship. The Epistles of Paul, Peter, Jude, and the Seven Letters, all touch on this topic, and all are agreed: the true Christian cannot be a member of such clubs or societies.”1

Verder sê Ramsay oor hierdie unies / klubs:

 “It is not difficult to show how important in practical life was this question as to the right of Christians to be members of social clubs. The clubs were one of the most deep-rooted customs of Graeco-Roman society: some were social, some political, some for mutual benefit, but all took a religious form. New religions usually spread by means of such clubs. The clubs bound their members closely together in virtue of the common sacrificial meal, a scene of enjoyment following on a religious ceremony. They represented in its strongest form the pagan spirit in society; and they were strongest among the middle classes in the great cities, persons who possessed at least some fair amount of money and made some pretension to education, breeding and knowledge of the world. To hold aloof from the clubs was to set oneself down as a mean-spirited, grudging, ill-conditioned person, hostile to existing society, devoid of generous impulse and kindly neighbourly feeling, an enemy of mankind.”2

Ongetwyfeld sou daar dus baie druk op die gelowiges wees in hierdie dorpie. Tog lees ons die mooi bemoedigende woorde in vers 19:

Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou werke, en dat die laaste meer is as die eerste.

Wat ‘n wonderlike getuienis vir ‘n gemeente wat onder soveel sosiale druk moes vasstaan vir wat hulle glo! Dit was selfs van so ‘n aard dat die vers impliseer dat die kerk se toegewydheid aan hierdie reeks eienskappe toegeneem het – die laaste is meer as die eerste. Anders as die kerk in Efese, was hier ‘n sterk liefdeskomponent. Die karakter hier is sterk op die doen van die kerk. Werke, diens, die toename daarin dui hierop. Tog het dit nie hulle toewyding aan die ander gelowiges (liefde) en aan Christus (geloof en lydsaamheid) belemmer nie. Dit is duidelik dat hierdie aspek van die kerklike lewe die goedkeuring van Christus weggedra het, soveel so dat Hy later aan die getroues sê:

Ek sal op julle geen ander las lê nie. Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. (verse 24 en 25)

Vir Christus is dit goed as ‘n kerk floreer in die diens teenoor Hom en die samelewing, veral teenoor die res van die gelowiges, want daardeur bewys sy kinders dat hulle Hom self ook dien. Daarom die positiewe klem op die dienswerk in die gemeente.

Tog lees ons vir die derde keer in die sewe briewe dieselfde patroon: 

Maar Ek het enkele dinge teen jou (vers 20). 

Nou lees ons tot en met vers 23 dat die dinge wat die Here Jesus teen hulle het wentel om een persoon en die gevolge van haar teenwoordigheid in die gemeente. Hierdie is dan ook die enigste van die sewe briewe waar die probleme gevind word in een spesifieke persoon. 

Haar naam hier is Isébel, en sy noem haarself ‘n profetes. Haar “bediening” het egter verder gestrek as net profesie. Sy het ook lering gegee in die kerk. Dus word ons bekend gestel aan ‘n vrou wat ‘n prominente rol in die gemeente vervul het. Dit wil voorkom, ook uit die verhaal van Lidia in Handelinge 16, dat vroue in Tiatire ‘n redelike mate van emansipasie moes beleef het. Lidia was ‘n sakevrou, Isébel ‘n gesiene vrou in die gemeente.

Die verwysing na Isébel is hier ‘n heenwysing na haar parallel in Israel se geskiedenis, naamlik koningin Isébel, die vrou van koning Agab. Haar verhaal is opgeteken in 1 Konings 18, 19, 21 en 2 Konings 9. Agab se koningskap kan ook nie los gesien word van haar nie, aangesien sy solied op sy kop gesit en eintlik die kitaar geslaan het. Daar is geen twyfel uit die Skrif dat hy na haar pype gedans het nie, en dat onder haar die volk geweldig agteruitgegaan het geestelik gesproke. 2 Konings 9:22 som die netto effek van haar invloed soos volg op:

En net toe Joram Jehu sien, sê hy: Is dit vrede, Jehu? Maar hy antwoord: Wat? Vrede, solank as die hoererye van jou moeder Isébel en haar towerye so baie is?

Sy het die volk Israel laat verval in ‘n geestelike toestand waar hulle God nie meer gedien het nie, die afgode van Isébel aanbid het en al die praktyke daarmee saam beoefen het. Haar invloed was groot en sy het haar posisie in die volk gebruik as haar platvorm van outoriteit vanwaar sy haar duiwelse werke uitgevoer het.

Dit was die probleem met hierdie vrou in Tiatire. Sy het ‘n posisie van outoriteit bekleë vanwaar sy haar leringe gegee het en so die gelowiges weggelei het van hulle Here en Redder. Dit was nie die plek van vroue in die kerk nie. Dit is duidelik uit wat in die res van die Bybel geleer is. Dit was nie dat daar nie vroue profete was nie. In Lukas 2:36-38 word vir ons vertel:

En daar was Anna, ‘n profetes, die dogter van Fánuel, uit die stam van Aser. Sy was op baie ver gevorderde leeftyd en het van haar maagdom af sewe jaar lank met haar man saamgelewe; en sy was ‘n weduwee van omtrent vier en tagtig jaar. Sy het nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag. En sy het in dieselfde uur daar gekom en die Here geprys en van Hom gespreek met almal in Jerusalem wat die verlossing verwag het.

Let daarop dat sy God gedien het en Hom geprys het oor die verlossing. Sy was ook nie in die kerk nie, maar in die tyd voor die kerk. Ons word in handelinge 21 ingelig oor die 4 dogters van Filippus die Evangelis wat die gawe van profesie gehad het. Paulus skryf in 1 Korintiërs 14 oor die hele kwessie van profesie en tale, en maak die volgende gevolgtrekking:

Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar omonderdanig te wees, soos die wet ook sê. Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie mans vra, want dit is lelik vir vroue om in die gemeente te spreek. Of het die woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen gekom? As iemand meen dat hy ‘n profeet of ‘n geestelike mens is, moet hy erken dat wat ek aan julle skrywe,bevele van die Here is. (verse 34-37)

Paulus is oortuig van die bron van sy inligting, naamlik die wet sowel as die Here. 

Dit beteken nie die vroue het nie ‘n plek in die gemeente bediening nie. In 1 Timoteus lees ons onder andere dat die ouer vroue betrokke moet wees daarin:

Laat ‘n weduwee gekies word, nie minder as sestig jaar oud nie, wat die vrou van een man gewees het en getuienis het van goeie werke, as sy kinders grootgemaak het, gasvry gewees het, die voete van die heiliges gewas het, verdruktes gehelp en elke goeie werk nagestreef het. (1 Timoteus 5:9-10)

Maar, oor die onderrig en leierskap in die gemeente skrywe Pauslus uitdruklik:

Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid. Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva. En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom. (1 Timoteus 2:11-14)

Paulus is duidelik oor die posisie van die vrou wat betref die onderrig in die gemeente. Vir hom het alles te make met die skepping en die sondeval. Volgens die skeppingsorde was die vrou tweede gemaak. Hierin sien Paulus ‘n rangorde in posisie wat betref leierskap en gesag in die kerk. Tweedens was dit ook nie Adam wat deur die satan ‘n rat voor die oë gedraai is nie, maar Eva. Paulus sien in die vrou se mondering ‘n swakheid ten opsigte van dwaling. Hy maak in 1 Timoteus 5 ‘n baie interessante stelling oor jong weduwees:

En tegelykertyd leer hulle ook om ledig by die huise rond te gaan; en nie alleen is hulle ledig nie, maar ook praatsiek en bemoeisiek, want hulle praat wat nie behoorlik is nie. Ek wil dan hê dat die jong weduwees moet trou, kinders baar, hulle huise regeer en die teëparty geen aanleiding gee om kwaad te spreek nie. Want sommige het al afgewyk agter die Satan aan. (verse 13-15)

Om lering te kon gee was ‘n posisie van outoriteit wat vervul was deur die apostels en profete wat deur Christus aangestel is om die fondasie van die kerk te lê en waarvan daar geen vrou was nie. Sovêr soos die apostels beweeg en kerke geplant het, het hulle weer op hulle beurt herders, leraars en evangeliste aangestel om oor die kudde te waak en hulle te leer en te maak dat die evangelie deur die plaaslike kerk verder geneem sou word. Hierdie was ‘n posisie van gesag wat nie onderhandelbaar was vir die apostels nie. Die vrou is nie daarin toegelaat nie – dit is volgens die wet en die bevel van die Here. 

Tog was hulle nie sonder rol nie. Die einste Timoteus is van kleins af in die Skrifte onderrig deur vroue. Paulus was nie blind hiervoor nie. Wat hy wel gedryf het was die leierskap en bestuur van die kerk, wat op suiwer dogma gebasseer was. Hier was hy streng – vroue is nie toegelaat nie. 

Dit is belangrik om te sien dat die argument in die Skrif hang aan die twee pole van outoriteit en dogma, en nie gelykheid nie. Gelykheid is ‘n menslike argument wat geen gronde uit die Skrif het as ‘n bewys van kwalifikasie nie. Die Skrif ontken nêrens dat die vrou nie gelyk is aan die man nie. Inteendeel, die juiste besluit van God om die mens te maak in Genesis 1:26 en die uitvoering daarvan impliseer gelykheid. Man en vrou is van die begin af gelyk in die oë van God.

Die punt waarna Paulus verwys as hy na die skepping van Adam as eerste bewys, is na outoriteit en nie gelykheid nie. Die man is vir Paulus juis aangestel oor die vrou in die skepping, en dit word ook deur God bevestig in die straf aan die vrou uitgedeel:

en na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers. (Genesis 3:16)

Ons kan ook verwys na Paulus se argument in 1 Korintiërs 11 waar Paulus weereens na die skepping van man en vrou verwys om gesag te bevestig, nie gelykheid nie.

Dit gaan ook nie oor bevoegdheid / kundigheid nie. Man en vrou is van die selfde stoffasie – om dit nou maar so platvloers te stel, dus is daar nie ‘n probleem met rondom die ontkenning van die bevoegdheid van vroue en kennis van die Woord van God nie. 

Dit was ook nie ‘n kulturele kwessie soos ons dit so baie in ons dag hoor nie, en wat ons dan poog om so geredelik reg te trek nie. As Paulus dit ‘n argument sou maak, sou hy ‘n paar duisend jaar tussen sy era en Eva moes verduidelik hoekom dit nog nie reggestel is nie.

Weereens, waarop dit neerkom is die gesag inherent tot die skeppingsorde tussen man en vrou en die suiwer leer van die kerk, wat kwesbaar is by vroue. Daarmee, onmiddelik bygesê, terwyl hyself die ongelooflik belangrike rol van die vrou in die bediening erken en beklemtoon. 

Duidelik het die leierskap in Tiatire hierdie voorskrifte verontagsaam en die gevolge was groot vir die gemeente daar. Dwaling het ingekom, ‘n sekere groep van die gelowiges aangegryp en meegesleur, en so die toorn van Christus oor die gemeente laat ontvlam. Christus sê hier Hy het dit teen die leier in die kerk dat hy hierdie vroutoelaat om te leer. Dit is dus nie asof sy haar afgeforseer het op hulle nie. Die leier(s) het haar toegelaat, met ander woorde, hy het die posisie van outoriteit oopgemaak en beskikbaar gestel vir ‘n vrou – iets wat teen die leer van die apostels ingegaan het.

Uit die gevolge is dit duidelik dat juis die rede hoekom Paulus sê hy nie hierdie posisie oopmaak nie, hier bewys word deurdat Christus se dienaars verlei is tot afgodery. Hoe sou dit prakties kon werk? Sy moes hulle aangeraai het om, in dieselfde losbandige aard van die Nikolaïete, aan te sluit by die klubs of unies en dan deel te hê aan die rituele wat daar uitgevoer is tot eer van die die afgode. Die Nikolaïete was voorstanders van ‘n soort wetteloosheid wat gegrond is in die “genade as oorvloedig” konsep, meer tegnies genoem antinomianisme. Die noue verbintenis met Pergamus sou die invloed van hierdie groep laat geld het in Tiatire, en die geleentheid is tot die ekstremes geneem deur die onderrig van hierdie vrou.

To summarize, then, Revelation’s “Jezebel” (as well as “Balaam” and probably the Nicolaitans) suggested the Christian could come to terms with the world and still be faithful to Christ. (Aanlyn Bron)

Die feit dat sy toegelaat is om hierdie afvalligheid te leer, is ‘n bewys van die gesofistikeerdheid waarmee sulke leringe gewoonlik gepaardgaan. Dit word geredelik vanuit die Skrif gestaaf as outoritêr. Die kerk moet leer onderskei vanuit die Skrif self. Om teologies te kan redeneer is geen teenvoeter teen dwaling of bewys dat jy die waarheid beethet nie. Die probleem met dwaling is dat nie dat die valsheid so duidelik uitstaan nie. Om dwaling te onderskei van waarheid is juis om die verskil tussen waar en amper waar te ken. Satan vermom homself juis as ‘n engel van die lig. Dit is die probleem met so baie dwaling wat teen die waarheid gerig is – dit klink so mooi en reg (wel amper!) Slegs as jy leer vanuit die onfeilbare en gesagvolle Woord van God wat aan Christus en God Drie-Enig eer bring, dan is dit in ooreenstemming met die waarheid van God se Woord.

Die eerste sonde wat hier gedoen is, is dat die leier(s) haar toegelaat het en dit het vernietigende effek gehad op die kerk. Dieselfde probleem is duidelik sigbaar vandag. Soos paddastoele spring “profetesse” op en word toegelaat om “lering” aan die kerk te gee. Joyce Meyer3 is seker een van die bekendstes op die podiums deesdae. Tog verkondig sy dwalinge, byvoorbeeld die Voorspoedsteologie (Prosperity Teaching) van die Word of Faith, dat Christus geestelik moes sterf in die hel om volledig verlossing te bring, die krag van geloof en woorde en ‘n oordrewe klem op die mens se vermoë om oorwinning te behaal. Beth Moore4 is ook ‘n naam wat deesdae baie sterk op die voorgrond tree as iemand wat buitebybelse openbaringe ontvang. Ons kan nie verbygaan sonder om die guru dame van die Ontluikende Kerk te noem nie. Phyllis Tickle5 speel ‘n leidende rol in hierdie valse stroming. 

Die kwessie van die vrou as leraar is redelik op die spits gedryf in selfs die evangelies behoudende kerkgroeperinge. Daar is haas nie so groepering waar vroue nie toegelaat word om as lerend en besturend op te tree nie. Volgens die Skrif tree hulle op buite om die bevele van die Here en vervul ‘n funksie in die kerk wat Christus nie vir hulle uitgekap het nie. Daar is natuurlik baie wat sal verskil op hierdie punt, maar ek dink die kerk word ‘n onreg aangedoen omdat hierdie beginsel oortree word en die kerk arm raak aan die bedieninge wat die vrou wel moet vervul maar nie meer doen nie omdat sy besig is om te doen wat sy nie moet nie. Rakende kerkregering en kerkleer sê die Skrif is nie haar plek nie. Dit maak haar nie minder effektief en minder waardevol in bediening nie. Te veel word die Bybel dan gebruik en gebuig om argumente vanuit mens op te stel en dit te regverdig, byvoorbeeld die reeds genoemde kulturele, gelykheid en bevoegdheid. Hierdie argumente mag egter nie die Skrif se duidelike riglyne oorsteek nie.

Die les van die probleem in Tiatire is duidelik: moenie iets wat Skriftuurlik gesanksioneer is in ‘n sosiaal-kulturele kwessie verander en dryf vanuit humanisties-feministiese motiewe nie. Sulke dinge is net nadelig vir die kerk van Christus en breek die gesagstrukture soos deur God bepaal af.

 

Voetnotas

1.  Ramsay, W.M. The letters to the seven churches of Asia, p210
2. Ibid
3. Vir ‘n ontleding van sekere van haar leringe, sien http://carm.org/joyce-meyer
4. Sien http://carm.org/beth-moore vir meer inligting oor Beth Moore
5. http://apprising.org/2008/09/30/who-is-phyllis-tickle/

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *