Lukas 13:23 is ʼn vraag wat baie mense op een of ander manier vra. Hier is die vraag of min mense gered word. Ander vra – maak selfs die stelling – of almal gered word. Ander vra dit as ʼn verwyt: “hoekom word almal nie gered nie?”, asof Jesus of God dan onregverdig is om so min mense te red. Ander sal verkies om hierdie gedeelte te gebruik as ʼn instrument om hulle leer oor die uitverkiesing meer stukrag te gee.

Ongeag hoe jy hierdie teks benader, dit bly ʼn geweldig gelaaide gedeelte waar Jesus ʼn hele klomp miskonsepsies verpletter en ‘m paar ander bevestig. ʼn Eerste wanopvatting wat hier heeltemal verwoes word is die een van ʼn universele redding. Hierdie beskouing wil dit hê dat alle mense uiteindelik tog wel gered sal wees – selfs die wat nie die Here Jesus as God se Weg tot die ewige lewe aanvaar het nie. Dit maak die moontlikheid oop om in hierdie lewe in die grofste sonde te leef aangesien redding in alle geval die uiteinde is.

Jesus se antwoord is juis die teenoorgestelde. Lees ons die teks mooi, sien ons ʼn interessante saak. Jesus verwys nie na growwe sondaars as Hy wys op die wat nie toegelaat word in die Koninkryk van God nie. Inteendeel, dit is die wat saam met Hom geëet het en bewus was van sy onderrig in hulle buurte (vers 26). Hulle was dus bewus van Christus en sy lering. Hierdeur het hulle die idee geskep dat hulle sy lering positief ervaar het. Tog is Jesus duidelik: selfs nie dié wat so voel oor wat sy lering is, sal outomaties in lyn wees vir redding nie!

Universele verlossing wil dit hê dat God se liefde en geregtigheid anders verstaan moet word as wat die Bybel dit leer. Dit redeneer vanuit humanistiese oorwegings en nie Skriftuurlike gronde nie. Verder word die mens se sondigheid slegs geïnterpreteer as menslike swakheid en nie as rebellie teen die Heilige God nie. Die mens se inherente verdorwenheid en doodsheid in sonde is eerder ʼn dwase beskouing van die mens as ʼn erkenning van verlorenheid. En tog openbaar universalisme ʼn interessante behoefte aan redding wat nie in die mens self te vinde is nie, maar buite hom. Dus is daar grondliggend aan hierdie gedagte dat almal gered sal word ʼn onoplosbare inkonsekwentheid wat nie opgelos kan word van binne daardie denkstroom nie.

ʼn Tweede gedagte wat Jesus hier verpletter is dat godsdienstige oriëntering genoeg is om redding te verseker. In die “petisie” van vers 26 lees ons “ons het in u teenwoordigheid geëet en gedrink, en U het op ons strate geleer.”  Rofweg sou dit vandag daarop neerkom dat hulle geweet het van Hom en selfs kerk, bybelstudie, ens. bywoon waar daar oor Christus en die Evangelie geleer word. Ons sou dit ook godsdienstige assosiasie kon noem. Hulle het geassosieer met Christus. Tog is Jesus se boodskap hier duidelik. Die assosiasie verseker nie redding nie. Daar is meer nodig as net dit. Die profeet Haggai het ʼn interessante woord hieroor. Hy verwys na die wet as hy die volgende stelling maak:

“As iemand heilige vleis in die slip van sy kleed dra, en hy sou met sy slip aan brood raak of iets wat gekook is, of wyn of olie of watter spys ook al, sal dit heilig word? En die priesters het geantwoord en gesê: Nee.” (Haggai 2:12)

Waarop dit neerkom is heiligheid vryf nie af nie. Die feit dat jy met die Christelike geloof assosieer verseker nie veilige deurgang na die Koninkryk van God nie. Allermins!

Hiermee saam verwoes Jesus natuurlik die gedagte dat menslike goedheid genoeg is om redding te verseker. Hy gebruik skokkende woorde om dit uit te wys. Die argument is so gereeld dat omdat ons gereeld kerk bywoon, baie goeie dinge doen in ons gemeenskap, sosiale noodverligting doen, ens. sou dit onregverdig wees van God om jou die Koninkryk te weier. Jesus deel egter nie hierdie humanistiese sentimente nie. Lees weer vers 26, maar hierdie keer saam met vers 27:

“Dan sal julle begin sê: Ons het in u teenwoordigheid geëet en gedrink, en U het op ons strate geleer. En Hy sal sê: Ek sê vir julle, Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid!”

Dié wat nie toegelaat word nie, maak ʼn beroep op hulle assosiasie in vers 26. Kom ons stop net eers hier. Die bedoeling hieragter is duidelik. “Hoe kan ons geweier word, ons is dan besig met die regte dinge!” Hier is iets van ʼn verontwaardiging oor die besluit van God om hulle nie toe te laat nie, en die verontwaardiging hou ook iets van ʼn beskuldiging in dat God nou regtig onregverdig is in sy oordeel hier. Kyk ook mooi daarna dat hulle die menslike standaard stel bo God se standaard om te beoordeel, sodat God s’n verkeerd is, en hulle s’n die regte.

Ons moet ook aflei dat hulle hulself nie as growwe sondaars beskou het nie, juis vanweë assosiasie met Christus en sy leer waarop hulle hulself beroep.

God se antwoord is egter skokkend daarin dat Hy hulle “werkers van ongeregtigheid” noem. Die profeet Jesaja sê die volgende hieroor:

“En ons het almal geword soos ʼn onreine, en al ons geregtighede soos ʼn besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.” (Jesaja 64:6)

Let op die uitdrukking “al ons ongeregtighede soos ʼn besoedelde kleed”. Duidelik verwys die Skrif hier na die mens se verdorwenheid en dié wat hulle goedheid bedryf vanuit hierdie platform van korruptheid is hoegenaamd nie besig om God te beïndruk nie. Inteendeel, Hy beskou hulle steeds as werkers van ongeregtigheid.

ʼn Volgende leer wat verwerp word in Christus is die verwerping van die ewige bestemming van die mens. Dit word deur Ateïste, Naturaliste, ens. wat die bestaan van God verwerp, voorgehou. Dit is te verstane en die Skrif noem hulle pertinent “dwaas” (Psalm 14:1). Tog is daar binne die “Christendom” liberale strominge wat die leer oor die einde en die finale oordeel verdraai om die mens se sosio-politieke agendas te pas. Daar is baie afdraaipaaie binne hierdie dwaling, waarop ons nie nou sal fokus nie. Genoeg om te sê dat uit vers 28, wat die finale oordeel van die “werkers van ongeregtigheid” uitspel, ʼn streep trek deur elke wind van dwaling wat die ewige oordeel op enige wyse verdraai van die duidelike lering van die Skrif hieroor.

Interessant is dat die Here Jesus nie pertinent antwoord “Ja, min word gered” of “Nee, baie word gered” nie. Inteendeel, Hy begin sy antwoord deur te wys op baie wat gaan dink hulle is gered, maar ontnugter gaan wees (vers 24). Hy sluit ook sy antwoord af deur te wys dat daar mense “van oos en wes en van noord en suid” sal aansit in die Koninkryk van God (vers 29).  Die sleutel lê in verse 24 en 30. Jesus se bedoeling is duidelik: moet jy jou nie bemoei met getalle nie, want baie – wat gedink het hulle sal – sal nie gered word nie (wat nie impliseer dat min gered sal word nie) en dié wat wel gered sal word, sal van orals kom. Dit sal ook nie dié “wat reg is” wees wat gered word nie, want daar sal dié wees wat dink hulle is eerste, maar hulle sal nie kan ingaan nie, terwyl daar dié gaan wees wat heel agter is, wat uiteindelik in die Koninkryk sal instap voor die ander.

Jy bemoei jou dus met die verkeerde vraag as jy gaan vra of dit so is dat “min gered gaan word.” Die eintlike vraag wat moet beantwoord word is of jyself deur daardie “nou poort” sal kan ingaan. Die vraag is nie hoeveel gered of nie gered word nie, maar op watter gronde jy self aanspraak maak om deur die nou poort in te gaan. En hier verpletter Jesus nog een van ons vals dogmas, naamlik dat dit ʼn maklike saak is om gered te word en in die Koninkryk in te gaan. Jesus se vermaning wys op die teendeel. Vers 24 is hoegenaamd nie gerig op ʼn werksgodsdiens nie, maar een wat erns maak met die geestelike lewe en realiteit wat geld in God se koninkryk. Daar is nie ruimte vir self-geregtigheid, onheiligheid, hoogmoed, ens. nie. Die Koninkryk van God is gebou op ander, goddelike beginsels. Daarom dat Paulus ook herhaaldelik klem lê op die wandel in die Gees, die vernuwing deur die Gees. Gees en vlees het met mekaar niks uit te waai nie. Wat Jesus dus hier sê is dat jy nie op jou terme kan aanspraak maak op Koninkrykstatus, asof dit van jou afhang nie. Jy moet strewe daarna dat die Koninkryksbeginsels deel van jou lewe raak op grond van die regverdiging deur die geloof in Christus en sy volkomenheid.

Die genade van God is vry en kan nie verdien of nagemaak word nie. Dit is ook nie goedkoop nie. Dit is ʼn duur prys om te betaal. Dit is die paradoks van die Evangelie. Die mens het dit afgewater en goedkoop gemaak, asof ʼn vinnige gebed die ding gaan doen. Baie gaan deur die lewe onder hierdie valsheid en gaan wreed ontnugter word. Jesus sê “stry hard,” want baie wat eerste is sal laaste wees en baie wat laaste is, sal eerste wees en die Koninkryk beërwe.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: