Elke generasie in die geskiedenis van die kerk se bestaan word voor ‘n keuse gestel, en dit ook nie slegs een maal nie, telkemale. Iemand het eenmaal gesê dat die kerk is altyd net een generasie van dwaling af. Dit is geweldige gelaaide woorde as jy stil raak en daaroor nadink. Die worsteling wat ons ouers vir die voortbestaan van die waarheid en behoud van die kerk gestry het, word opnuut ons generasie se verantwoordelikheid en so sal dit weer ons kinders se verantwoordelikheid word om die stryd voort te sit. Geen kerk of christelike beweging of groepering van gelowiges mag dus ooit terug sit en dink die stryd is gewen nie. Nee, gesien in die lig van die aard van die stryd, sal dit nooit rustig raak nie. Die vyand is maar altyd op een of ander wyse besig om stryd te voer en nuwe planne te beraam om die liggaam van Christus lam te lê.

Ons staan huidiglik in Suid Afrika weer voor so ‘n keuse. Dit is uit talle oorde duidelik dat daar ‘n hewige stryd woed teen die behoud van die kerk in ons land. Die postmodernisme is besig om sy tentakels diep in die wese van die kerk in te druk en alles te ontwortel waarvoor ons ouers, hulle ouers en geslagte en generasies voor ons hewig gestry het. Hierdie kultuurgeoriënteerde beweging kom tot uitdrukking op verskillende wyses en met verskillende nuanses, op sommige terreine feller as ander. Dit loën die inspirasie en gesag van God se woord, vertel vir kinders van God dat daar nie meer iets is soos ‘n absolute waarheid nie, lieg vir die wêreld oor hul eie sondigheid en aanspreeklikheid voor God. Dit maak die mens houtgerus oor sake soos hemel en hel wat skynbaar nie meer bestaan nie. Baie diepgewortelde waarhede waarvoor baie gelowiges deur die eeue selfs bereid wa om hul lewens te gee, word gerelativeer tot ‘n subjektiewe ervaring. Die Ontluikende Kerk, Progressiewe Christene, die Jesus Seminar, Die Nuwe Hervormers, die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit,  Renaissance, en ander liberale geloofsgemeenskappe is uitdrukkingsvorme van hierdie geweldige aanslag teen die Kerk. Orals in hierdie strominge word die waarheid verruil vir ‘n valse menslike konkoksie wat sogenaamd spiritualiteit moet verteenwoordig en die kinders van God moet lei tot ‘n verhouding van Christus.

Waar hierdie kultuurteologie nie op hulle eie funksioneer nie, infiltreer hulle die bestaande kerke en geloofsgemeenskappe met hulle valsheid en vergiftig die samekomste met hul oppervlakkige “conversations”. Ongelukkig vind baie van die rituele aanklank by baie – veral jonger – mense en kry hulle so voet in die deur. So versprei die suurdeeg om alles later te infiltreer. Dit is nie slegs die kerke wat so geinfiltreer word nie. Ongelukkig is baie van die opleidingssentrums ook al hierdeur besoedel. Die probleem is die resultaat hiervan is ‘n genarasie goddelose en misleide dwaalleraars wat in die gemeenskappe ingepomp word vol van die gif wat hulle geleer is en so word die kerk ook uit daardie oord vervuil met die leuens van die magte van die duisternis.

Hierdie toedrag van sake laat my net weer besef dat hierdie generasie van gelowiges in Suid Afrika het gekom by so ‘n kruispad waar ons voor ‘n keuse gestel word. Soos ‘n Josua van ouds voor die volk gaan staan het met beide die belydenis en die oproep tot toewyding, en vir die volk gesê het “Kies julle vandag wie julle sal dien, maar ek en my huis, ons sal die Here dien” (Josua 24). 

Die keuse wat ons sal moet maak, behels ons belydenis oor Christus. Die dwaling wat ons beleef (en dit is deur die eeue so), is ‘n direkte aanval teen die persoon en werk van Jesus Christus. Is dit nie interessant hoedat ‘n wêreld wat met Hom niks te make wil hê nie, tog juis na Hom probeer teruggryp as ‘n meganisme om mense in die kloue van dwaling te kry nie. Maar dit behoort nie vir ons nuut te wees nie. Selfs in die tyd toe Jesus op aarde was en saam met Sy dissipels beweeg het, was daar gemengde gevoelens oor sy identiteit. Sommige het gesê Hy is Johannes die Doper, ander Elia, ander het gesê Hy is Jeremia en ander weer ‘n profeet. Ander het Hom gevolg vir die hype daarvan. Daar was selfs sommige wat in sy naam duiwels uitgedrywe het! En tog het almal die verkeerde Jesus beetgehad. 

Hy het selfs sy dissipels gewaarsku dat daar in die laaste dae mense sou kom wat hulself as Christus sou voordoen en so die kinders van God sou probeer mislei. Nog altyd was die kruks van die saak die belydenis oor die identiteit en werk van Jesus Christus. Die Skrif sê self dat Hy wat die hoeksteen geword het, ‘n struikelblok geword het. In die dae van Paulus was daar al teenkanting teen die kruisiging en opstanding van Christus. Inteendeel, die Nuwe Testament kan grootliks gesien word as apologeties van aard, met ander woorde geskrifte en briewe gemik daarop om dwalinge te bestry.

Te midde van die verkeidenheid sieninge oor Hom, kom Jesus se diep penetrerende vraag aan sy dissipels:

“Maar julle, wie sê julle is Ek?” (Matteus 16:15)

Sien, dis maklik om papagaai klanke te maak agter ander aan. Jesus het nie hier belang gestel in wat die ander oor Hom sê nie. Hy wou weet wat sy volgers oor Hom bely. Wie sê sy navolgers is Hy? Hy het klaar gehoor of hulle weet wat die algemene opinie oor Hom is (vers 13). Nou wil Hy weet of hulle wat met Hom gewandel het, wat nou met Hom saamgeleef het, of hulle weet wie Hy is. 

Waarom is dit so belangrik dat ons in hierdie tyd hierdie belydenis weer bevestig in ons huise, teenoor mekaar, teenoor ons landsburgers, teenoor die wêreld? En hier is die kruks vir die kerk vandag: Ons belydenis van Christus is die vaste fondament waarop die kerk gebou word. 

“op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (vers 18)

‘n Valse, skeefgetrekte, korrupte, opgehypte beskouing van een of ander wese wat “Jesus” genoem word, kan NOOIT die fondament van die kerk wees nie. Waar hierdie duiwelse uitvindsel die basis van die gemeeskap van gelowiges gemaak word, is dit nie meer die kerk nie, is dit nie meer “christene” nie, maar valsheid en dwaling wat infiltreer.

Jesus sê dat niks minder nie as die belydenis van sy ware ideniteit is nodig om die kerk se fondament te wees nie. Hierdie belydenis kom ook nie uit die mens nie, maar is ‘n God-geopenbaarde belydenis (vers 17). Verder is dit ‘n Skrifgebaseerde belydenis:

“Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; en hulle het dit ontvang en waarlik erken dat Ek van U uitgegaan het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.” (Johannes 17:18)

Ons mag nie dat ander gelowe, direk of indirek, ons probeer leer oor wie Jesus is nie! Ons is God se kinders, ons het God se Woord wat Waarheid is, ons die die Here Jesus wat self die Weg, die Waarheid en die Lewe is. Ons mag nie toelaat dat wetenskaplike en teologiese geleerdheid vir ons voorsê wie Jesus werklik is nie. Elkeen van ons het die verantwoordelikheid om self by hierdie vraag stil te staan en dit te bely wat ons oor Hom glo. Die Skrif sê die toets of iemand dwaal is om sy Christologie te toets (1 Johannes 4). 

Die tyd het aangebreek vir gelowiges in ons land, maak nie saak van watter kerkgroepering nie, om op te staan en te sê wat hy / sy glo oor Jesus. Moontlik gaan daar baie wees wat sê Hy is maar net mens, die seun van ‘n prostituut, ‘n goeie voorbeeld, ‘n profeet.

Josua het die volk voor ‘n keuse gestel: “Kies vandag”; Jesus het vir sy dissipels gevra: “Maar julle, wie sê julle is Ek?”. As jy hierdie lees, wie sê JY is Jesus? Petrus se antwoord is duidelik:

“U is die Christus, die Seun van die Lewende God” (Matteus 16:18)

en dit is die fondament van die kerk. Waar ‘n gemeente nie meer vashou aan die Christus van die Skrif nie, die Seun van die Lewende God nie, met ander woorde tegelyk God en mens, die vervulling van die profesieë van die Ou Testament, dan het daardie kerk verword en het die poorte van die doderyk dit oorweldig.

Maar julle, wie sê julle is Ek?

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: