In die Openbaring brief ontvang Johannes ‘n openbaring van Christus in sy heerlikheid (1:10-16). Johannes is so oorweldig deur wat hy sien dat hy soos ‘n dooie neerval. Jesus bemoedig hom egter om nie bang te wees nie deurdat Hy vir Johannes duidelik bewus maak van Sy identiteit (v17-18). Hierna kry Johannes van Jesus die opdrag om neer te skryf wat hy sien en hoor. Die volgende 2 hoofstukke word dan spesifiek gerig aan die sewe gemeentes.

Uit hierdie briewe aan die sewe gemeentes leer ons nogals redelik oor die situasie waarin elkeen van hulle moes kerkwees. Ek kan nie hier op dit alles ingaan nie, maar sal fokus op dit wat betrekking het op die tema. Wat wel duidelik is, is dat Jesus vir elkeen van die gemeentes iets spesifieks wil sê en uit dit wat Hy sê, leer ken ons dan ook Sy hart oor hierdie aspekte.

Aan die gemeente in Éfese (2:1-7) sê Hy as volg:

“Maar dit het jy, dat jy die werke van die Nikolaïete haat, wat Ek ook haat.” (v6)

Hierdie selfde groep was ook teenwoordig in die gemeente in Pergamos (v15). Van hierdie groep sê Jesus dat Hy hulle haat. Jesus haat dwaling. Dit is ‘n baie sterk uitdrukking van minagting. Dit is dieselfde gedagte wat Paulus gebruik as hy oor God se uitverkiesing skrywe dat God vir Jakob liefgehad en vir Esau gehaat het (Romeine 9:13).

‘n Tweede indruk uit hierdie gedeeltes is in Openbaring 2:16:

“Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond.”

Dit het betrekking op verse 14 en 15 waar die dwalinge binne die Pergamos gemeente uitgelug word. Behalwe vir die Nikolaïete was daar sekeres in die gemeente wat die leer van Beleam aangehang het. In ‘n neutedop het hy gehelp dat Israel in afgodery verval het. Hierdie kombinasie van Pergamos se akkomoderende houding teenoor dwaalleer het die Kryger in Christus wakker gemaak. Hy waarsku die gemeente dat indien hulle hul nie sou bekeer van hierdie dwalinge nie, hulle hom op die oorlogsveld sou ontmoet – en hulle sou nie aan die wenkant wees nie.Jesus beveg dwaling dus aktief. Behalwe die haat daarvoor, sal Hy dit nie toelaat in sy Kerk nie.

Hierna die gemeente in Tiatire. Hier was klaarblyklik ‘n vrou Isébel, ‘n sogenaamde profetes. Hierdie gemeente het haar toegelaat om die gelowiges in afgodery en losbadigheid in te mislei en verlei (Openbaring 2:20). Hier sien ons ‘n Christus wat sy toorn uitstel in die hoop dat die vrou haar sou bekeer, maar omdat dit nie gebeur het nie, word sy en die oortreders gestraf, met ander woorde Jesus oordeel dwaling (2:22-23). Die oordeel word progressief erger beskrywe: siekte, verdrukking en dan dood.

Daar is ook ‘n vierde minder opvallende uitdrukking van Jesus se afkeur in dwaling. In Sy brief aan die gemmente in Laodicea word daar nie ‘n pertinente dwaalgroep genoem nie, maar tog ‘n baie subtiele dwaling aangespreek, naamlik die verhef van die mens tot “godheid” (Openbaring 3:17). Jesus sê as gevolg van hierdie dwaling, gaan Hy hulle uit sy mond uitspoeg (3:16). Hierdie dwaling walg Jesus in so ‘n mate dat Hy hulle gaan verwerp.

Hierdie is redelik grafiese uitdrukkings van Jesus se absolute afkeur van dwaling in sy Kerk. Hy haat dit, Hy beveg dit, Hy oordeel diegene wat dit bedryf, dit walg Hom en Hy verwerp die beoefenaars daarvan. Dit klink asof om aan die kant van dwaalleer te wees nie die beste plek is om te wees nie. 

Tog is daar ‘n ander goue draad wat deur al hierdie briewe loop, een wat ons nie mag miskyk nie, en dit is die ongelooflike groot genade wat Hy met elkeen openbaar. Telkens kom die boodskap van Sy kant af om hulle te “bekeer”. Hy gee konstant ‘n pad uit uit die dwaling en valsheid. 

Laat my nogals dink aan die Jona verhaal. Jona spring op ‘n skip weg van sy opdrag af, maar deur God se ingrype gaan hy tog sy roeping uitleef. Nineve bekeer hulle in sak en as (kontra die gedagtes wat Jona oor hulle sou hê) en Jona is hieroor baie kwaad. God besoek die ou daar in sy tantrums en hy sê vir God:

“Ag, HERE, het ek dit nie gedink terwyl ek nog in my land was nie? Daarom het ek tevore na Tarsis gevlug; want ek het geweet dat U ‘n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil.” (Jona 4:2)

Hy sê hy het dit geweet. God sou vergewe! Dit is so anders as die mens. Ons is so maklik om oordele te voltrek. Christus aan die ander kant is weer stadig om toorning te word en vinnig om te vergewe waar dit opregte berou en breek met die dwaling is.

Terwyl ons dus waak en bid en stry teen dwalinge, laat ons dit altyd doen met Jesus se hart soos ons dit in hierdie sewe briewe lees. Ja ons moet dit haat, ja ons moet daarteen veg met alles wat ons het, ja ons moet nie verbaas wees waar Christus sy oordeel voltrek nie, ja dit moet ons walg en ja ons moet dit verwerp, maar nooit met ‘n absolute vyandigheid wat geen ruimte laat vir bekering, vergifnis en herstel nie.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *