Ek hou daarvan wanneer iemand sy siening oor iets uitspreek. Dan weet ek hoe hy oor dinge dink en waar ek met hom staan. Vir dieselfde rede hou ook daarvan wanneer ‘n groep hulle standpunte openbaar maak. So weet ek dan ook of ek hulle kan ondersteun of nie. Maar ek raak baie bekommerd wanneer ‘n klein groepie binne ‘n groter groep ‘n standpunt maak – veral as daardie standpunt indruis teen die amptelike standpunt van die groter groep – en dit dan nog ‘n belydenis noem! Duidelik is daar dan ‘n konflik van belange wat aangespreek moet word.

Nou lees ek in die Kerkbode van ‘n klompie jong teoloë binne die NG Kerk wat hulle standpunt / belydenis oor die selfdegeslagverhouding (SGV) kwessie publiek gemaak het. Die volle belydenis kan hier gelees word. Ek moet herken dat ek nie meer lidmaat van die NG Kerk is nie, maar ek sou ernstig bekommerd wees as hierdie die predikante is wat die NG Kerk die volgende paar dekades moet lei. Ek sou dit nie waag om my kinders in hulle geestelike – selfs fisiese sorg te plaas nie! Die stellings wat hulle in hierdie sg. belydenis maak, is genoeg om jou nekhare te laat uitval, wat nog regop staan.

Ek het ‘n paar probleme met hierdie belydenis, waaroor ek dink hierdie teoloë liewers langer moes gedink het.

Die beroep op die Bybel, Geloofsbelydenisse en die Gereformeerde Tradisie

Hierdie klompie jong geleerdes maak die stelling dat die Bybel, die geloofsbelydenisse en die Gerefermeerde tradisie “ons dring om anders te dink en te praat” oor SGV. Ongelukkig definieer hulle nie die “anders dink” nie, tensy hulle nuwe belydenis ‘n voorbeeld is van hoe “anders” gedink behoort te word. Indien laasgenoemde die geval is, dan wil dit vir my voorkom dat die “anders dink” eintlik daarop neerkom dat ons nie meer soos die kerk oor die afgelope ongeveer 2000 jaar oor SGV sou dink as sonde nie, maar as ‘n legitieme seksuele oriëntasie wat akkommodeer moet word.

Kernwoorde in die belydenis is opvallend: menswaardigheid, gender, seksuele oriëntasie, seksualiteit, verhoudings van liefde en trou, inklusiwiteit. Binne die huidige bedat, is hierdie gelaaide konsepte, wat veral gebruik word om diegene wat vasgevang is in die spiraal van SGV se status en beeld te herstel. Dit veral teen diegene soos ek wat daarvan oortuig is dat hulle wetend of onwetend besig is om sonde te regverdig onder die dekmantel van die Christelike geloof.

Dit is so dat die Bybel, Belydenisse en Tradisie van ons vra om oor baie dinge te besin, maar dan ALTYD vanuit die beginsels soos in die Skrif neergelê. NOOIT vra die Bybel om sonde se aard te regverdig deur te dink oor menswaardigheid nie. Ek sien byvoorbeeld nie dat God in Genesis 3 die dood as straf op die sonde weerhou bloot omdat Adam en Eva na sy beeld geskape is nie! Ek sien wel dat Hy ‘n ANDER weg aankondig, nie om sonde te akkommodeer nie, maar juis daarmee af te reken (Genesis 3:15).

Die Evangelieboodskap is een van bevryding van sonde, nie akkommodasie nie. Dit hou natuurlik ook die boodskap van straf en oordeel in. Tyd en plek laat nie toe om dit alles te argumenteer nie, maar Ou en Nuwe Testament is duidelik oor die oordeel van God  oor sonde, en die ewige oordeel oor die ongeloof van die mens sonder God.

Die belydenisse is ook duidelik oor die plek van sonde, die antwoord daarop en die ewige oordeel wat gaan volg. Dink maar byvoorbeeld aan die Apostoliese Geloofsbelybenis oor die tweede koms van Christus:

van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe, en die wat reeds gesterf het.

En die Belydenis van Athanasius:

Daarvandaan sal Hy kom om die lewendes en die dooies te oordeel. By sy koms sal alle mens, met hulle liggame, opstaan en van hulle eie werke moet rekenskap gee. En die wat goed gedoen het, sal die ewige lewe ingaan, maar die wat sonde gedoen het, in die ewige vuur. Dit is die algemene geloof; en as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig kan word nie.

Baie duidelik trek hierdie belydenis ‘n lyn tussen sonde, rekenskap en oordeel.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis erken dat deur sonde is die mens in die “verderf en ondergang gestort” (Artikel 16), Christus het in sy kruisdood die straf vir die sonde op Hom geneem (Artikels 20, 21)  om ons daarvan vry te maak (Arikels 22, 24). Daar is selfs ‘n hele artikel gewy aan die ewige oordeel (Artikel 37):

Ja, die mense sal rekenskap moet gee van elke ligsinnige woord wat hulle gesê het, al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel en tydverdryf; en dan sal die geheime bedrog en huigelary van die mense in die openbaar voor almal oopgevlek word…. Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is.

Hierop bou die Gereformeerde tradisie voort. Histories het die Reformatore gehou by die belydenis dat die mens in sy wese sondig is, en dat daar slegs een antwoord hiervoor is, naamlik die verlossing en vrymaking in en deur Christus Jesus. Diegene wat dit verwerp, sal die ewige oordeel deelagtig raak.

Dit lyk nie vir my asof ons jongelinge hierdie dinge mooi bereken het in hierdie “belydenis” van hulle nie. Ja, die Bybel, Belydenisse en Gereformeerde tradisie vra dat ons sal anders dink oor die SGV kwessie, maar daardie anders is om te erken en bely dat dit Godonterend, en dus sonde is in die oë van God. Bekering en vergifnis van sonde is nodig.

Die rol van Godgegewe, onvervreembare waardigheid

‘n Sleutelkonsep in die hele SGV debat is dié van “menswaardigheid”. Dit het ‘n trefwoord geword waardeur diegene wat in “alternatiewe” verhoudings is, aanvaar behoort te word. So amper ‘n hoër kriteria waarteen gemeet moet word as die verhoudinge en dade self. Aanvaarding moet geskied op grond van menswaarheid, wat een of ander vorm van “liefde” teenoor diegene impliseer.

Hierdie jong belydendes spring natuurlik ook op hierdie trein. Ons hoor dit is ‘n “godgegewe”, “onvervreembare” menswaardigheid. Hulle noem ook hierdie tyd waarin die NG Kerk haarself bevind ‘n “seisoen van menswaardigheid”. Dit word gekenmerk deur waardes van respek, liefdem luister, en omarming.

Ongelukkig het hier gedagte ook die een geword waarmee die “fundamentaliste” (soos ek) geslaan word omdat ons nie hierdie persone akkommodeer nie. Die aanklag is duidelik – ons minag hierdie menswaardigheid. Blykbaar het menswaardigheid dan die lisensie geword om ‘n leefstyl te leef wat volgens die Bybel, die Belydenisse en die Gereformeerde tradisie sonde is. Daar word egter nie konsekwent hieroor gedink nie. Indien menswaardigheid die sleutel was, het selfs God oortree toe Hy Adam en Eva (en selfs Satan) veroordeel het (Genesis 3).  Selfs toe Hy almal uitgewis het behalwe Noag en sy familie (Genesis 6-7). En wat van die finale oordeel soos veral beskrywe word in Openbaring? Minag God dan ook die “godgegewe, onvervreembare menswaardigheid” van die wie Hy vir ewig verdoem?

Die issue is eintlik dat menswaardigheid nie gebruik moet word om sonde te akkommodeer nie. Ja, die mens het ‘n godgegewe menswaardigheid, maar dit mag nooit gebruik word as ‘n meganisme om die sondigheid en die gevolglike sondige dade van die mens te akkommodeer, selfs goed te praat nie. Om sonde op sy naam te noem, is nie om onmenswaardig op te tree nie – dit is juis om die mens op te roep tot bekering sodat hierdie menswaardigheid duidelik kan word. Dit blyk dat dit het dié vertrekpunt geword vir die aanvaarding van SGV, en wee dié wat dit nie so beskou nie.

Ons kan maar “luister” so veel ons wil, as ons nie oproep tot ‘n Bybelse herstel van God se beeld in ons nie, is al ons geluister ‘n gejaag na wind!

Die belangrike uitgangspunt wat gekies word en dien as basis vir die belydenis

Die “belydenis” openbaar ‘n baie interessante beskouing van die Kerk, en dit is gebou op die gedagte dat God aan die kant van die verontregtes is. Daarom moet die Kerk as liggaam van Christus “haarself teen onreg posisioneer en by die verontregtes moet skaar”.  Waar dit natuurlik nie gebeur nie, word dit beskou as “kerklike diskriminasie”.

Dit is duidelik wie die verontregtes is, naamlik almal wat ‘n “alternatiewe” seksualiteit het en in ‘n “alternatiewe” verhouding betrokke is. Die politieke oorwegings van Belhar is nou omgeswaai in seksuele oorwegings, maar die onderliggende beginsel is dieselfde: Indien die Kerk SGV weerstaan, en nie die Algemene Sinode se besluite implimenteer nie, is sy besig om teen die “verontregtes” te diskrimineer.

Ek wil amper diep sug oor hierdie holrug geryde dwaasheid. God is nie aan die kant van diegene wat teen sy Woord en karakter leef nie. Weereens word sonde afgewater en geignoreer, en dan vervang met die teenoorgestelde gedagtes. Die Bybel is nogals duidelik dat God die sondaar haat:

Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet (Psalm 11:5).

Dit klink nie vir my na diskriminasie nie, maar eerder dat sonde die absolute teenoorgestelde is van God se heilige karakter, en dat God selfs die sondaar nie sal spaar in die dag van oordeel nie. Toegegee, in Christus is hierdie vyandskap opgehef (Efesiërs 2:1-10), maar daar is steeds ‘n oordeel wat wag vir diegene wat hardnekkig volhard in hul sonde en rebellie teen God.

Hierdie dokument verraai ‘n verdraaide beskouing van verontregtes, en dat God aan die kant van die verontregtes is. In die Bybel is die wat sonde doen, nie verontreg genoem, maar goddeloos en in vyandskap met God. Die Kerk is nie daar om hulle te pamperlang nie, maar om bekering en vergifnis van sonde te verkondig.

‘n Vreemde seksualiteit

Seker een van die mees kommerwekkendste aspekte van hierdie jongmense se poging, is hulle beskouing van seksualiteit. As ons al die ander dinge hierbo bespreek vergeet, en net hierna kyk, moet dit ons tot groot bekommernis stem.

Dit is baie duidelik dat hulle ‘n oop seksualiteit aanhang, een waar die fisisese geslag onderskei word van ‘n seksuele oriëntasie. Daar is geen twyfel dat hulle hierin heeltemal wegbeweeg van die Bybelse beskouing en pens en pooitjies inspring in ‘n kulturele siening van seksualiteit.

Volgens hulle is seksualiteit ‘n “gawe van God”. Hierin kan ons nie verskil nie. Dit is. Dit is waarmee elke mens gebore word. Genesis 1:26-27 is duidelik dat seksualiteit inherent deel is van die skepping van die mens. Hoe hulle dit egter van hieraf aan hanteer, is waar dit uitrafel. Hulle noem dit “die volle spektrum van seksualiteit”, en sluit hierby in homoseksualieit, biseksualiteit, transseksualiteit, interseksualiteit, en – hou vas aan julle stoele – “ander seksualiteite”. Die eerste klompie is te verwagte, want dit is waaroor die debat tot nou gehandel het. Maar die stelling “ander seksualiteit” maak dit oop. Hierby kan ons dan insluit pedofilie, bestialiteit (seksuele omgang met diere) en hulle kan dit nie ontken nie. Vir hulle is dit dus oop.

Hulle onderskei tussen die fisiese en die oriëntasie deur “gender” en “seksuele oriëntasie” in dieselfde lys te noem. Daarmee stem hulle saam dat jy ‘n seksuele oriëntasie kan hê wat verskil van die fisiese waarmee God geskape het.

Die Bybel ken net twee seksualiteite, en dit is direk gekoppel aan die fisiese. Man en vrou het Hy hulle geskep, na sy beeld, en hulle die opdrag gegee om hierdie Godgegewe gawe te gebruik om die aarde te vul, met ander woorde, voortplanting deur middel van seksuele omgang. Dit is die Bybelse, en daarom natuurlike. Enigiets anders is kontra die Skrif, onnatuurlik en daarom sonde teen die liggaam en teen God.

Ek moet sê, net op grond van hierdie oop beskouing sou ek bitter bang wees om deel te wees van ‘n kerk waar dit aanvaar word. Ons kinders gaan hierdeur moet gaan. Ek sou nie graag wou hê dat een van hierdie jongelinge my kinders moet katkiseer nie.

Die praktiese van hierdie beskouing is groot. Gaan hulle dit aanvaar indien ‘n pedofiel met een van die gemeentekinders lol. Indien nie, weerspreek hulle hulself. Gaan hulle dit aanvaar as ‘n seun met sy ma seksuele omgang het, of dogter met pa? Gaan hulle werklik bestialiteit in hulle geledere toelaat en aanvaar? Indien hulle op enige van hierdie (en daar is nog baie ander soortgelyke vrae) nee antwword, dan het ek ernstige bedenkinge oor hulle insig. Jy moet jou argument konsekwent kan deurvoer en die gevolge kan aanvaar, anders is jy verdeeld teen jouself.

Die ergste is dat hierdie gebuigde verhoudings die sogenaamde uitbeelding is van die Drie-Enige God. Persoonlik moet ek sê hierdie standpunt is niks anders nie as laster teen die God wat hulle geskep het en ‘n verwaandheid om ‘n oop seksualiteit en gepaardgaande verhoudings te vergelyk met die inter-trinitêre verhoudings. Dit openbaar duidelik dat hulle ‘n ander god aanhang en verkondig as die God van die Skirf.

Slot

Hierdie “belydenis” behoort almal wat hierdie debat in die NG Kerk volg baie bekommerd te maak. Hierdie is die standpunt van jong teoloë, wat die NG Kerk die toekoms in moet lei. Indien dit hulle standpunt is, is daar ‘n donker toekoms. Ek hoop werklik nie dit word enigsins aanvaar as ‘n amptelike standpunt binne die NG Kerk nie. Ek wil ook ‘n beroep doen op hierdie jongmense om weer mooi te dink oor wat hulle kwytgeraak het en te weeg teen die Bybel, die Belydenisskrifte en die Gereformeerde tradisie.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *