Op ‘n dag kom ‘n ryk man na Jesus en vra vir Hom: “Goeie Meester, wat moek ek doen om die ewige lewe te beërwe?” (Markus 10:17). Sy vraag toon ‘n onderliggende wanopvatting van die ontvang van die ewige lewe, aangesien hy, soos baie deur die eeue, eerder wou staatmaak op sy eie werke en “input” in redding. Die mens is nou maar eenmaal ‘n sucker vir homself. Hy dink hy is so wonderlike goeie wese dat hy die ewige lewe kan kry deur op homself te vertrou.

Natuurlik het dit hierdie man nie vreeslik baie gehelp dat hy baie geld gehad het nie. Daarmee sou hy baie maklik die werke kon bekostig, sou daar enige finansiële verpligtinge wees om die ewige lewe te koop. Later sien ons, selfs dit was egter ‘n probleem!

Tog antwoord Jesus hom met ‘n interessante stelling: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God” (vers 18). Hiermee maak Hy ‘n geweldig gelaaide stelling oor die wesenlike van wie God is. Hy lig hier een van die eienskappe van God uit wat seker die meeste vergruis word as dit kom by die vraag oor lyding en die minste geglo word as dit kom by die verhouding tussen God en skepping: Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God.” Kontrasteer hiermee die gedagte in Romeine 3:10-12:

Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.

In die mens is daar geen inherente goedheid nie. God alleen is goed. Hy is die enigste wese wat goedheid het as ‘n inherente, ongeskape eienskap. Hy definieer goedheid. Iemand stel dit goed: “Nothing good comes except from God and nothing except good comes from God.“

Wat Jesus hier sê is dat goedheid nie ‘n aspek van God se werke in die eerste plek is nie, maar dit is sy wese, sy natuur. Dit is natuurlik ‘n vraag wat hierdie eienskap behels. Uit die getuienis van die Skrif is dit duidelik dat hierdie eienskap al die voordelige optrede en handelinge van God teenoor mens en skepping insluit. Dit is gevolglik die somtotaal van al die volmaakte eienskappe van God wat die voordeel van die mens in die oog het, ‘n tipe van ‘n sambreelbegrip om al hierdie eienskappe onder een groter eienskap in te sluit.

Ons moet die twee kante van God se goedheid besef. Aan die een kant is daar sy absolute goedheid, dit wat Hy is en nie anders kan en wil wees nie. Aan die ander kant is daar sy goedheid in aksie wat rus in die absolute goedheid en vandaar vloei.

In Eksodus 33:18 versoek Moses vir God:

Laat my tog u heerlikheid sien.

God antwoord hom egter soos volg (en hier moet ek ongelukkig sê dat vir my die Afrikaanse vertalings nie vir ons goed is nie, omdat dit ‘n verkeerde woordkeuse uitgeoefen het om die boodskap tuis te bring. Die 1953 gebruik die woord “majesteit” en die 1983 “voortreflikheid”):

I will make all my goodness pass before you … (ESV)

Moses vra om God se heerlikheid te sien, God kies om aan hom sy goedheid te wys, wat natuurlik sy heerlikheid toon. Hiermee het God nie vir Moses gesê Hy sal aan hom goed doen nie, maar aan hom sy goedheid wys. Dieselfde gedagte wat ons hoor in die antwoord van Jesus aan die ryk man, word hier deur God uitgelig, naamlik dat goedheid is sy wese, nie ‘n gevolg van iets anders nie.

Dan in die volgende hoofstuk beweeg God verby Moses met die volgende selfopenbaring:

… HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; (34:6)


In hierdie vers lees ons dus wat die verskillende aspekte van God se goedheid behels. Ons lees iets soortgelyks in Psalm 145:8-9:

Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Die HERE is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke.

Ons ken almal die verhaal van Jona, die vlugteling profeet wat eventueel deur God gebring is tot die uitvoering van sy opdrag. Hy sal altyd geken word as die profeet wat vanweë sy wegvlug van die opdrag deur die vis ingesluk is. Ek het opgegroei met die gedagte dat Jona nie na Nineve wou gaan nie, omdat dit moeilik is om vir die Here te werk ens. Tog was dit nie die rede nie. Jona sê self vir God hoekom hy dit nie wou doen nie:

Toe bid hy tot die HERE en sê: Ag, HERE, het ek dit nie gedink terwyl ek nog in my land was nie? Daarom het ek tevore na Tarsis gevlug; want ek het geweet dat U ‘n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil. (Jona 4:2)


Opgesom het Jona hier vir God gesê hy wou nie kom nie as gevolg van God se goedheid! God se goedheid is altyd gefokus daarop om die beste vir die mens te soek, net soos hier met die inwoners van Nineve. Dink aan Sodom en Gomora en die gesprek tussen die Here en Abraham. Telkens het die Here ingestem om ter wille van selfs tien regverdiges die plek te spaar. Waarom sal Hy dit doen? Want Hy is goed! God besluit in Genesis 6 om die mensdom uit te wis. Hoekom doen Hy dit nie sommer onmiddelik nie? Dit gebeur eers 120 jaar later. Want Hy is goed! Hoekom verpletter Hy nie vir Kain nadat hy so broer so wreed vermoor het nie. Kain pleit by God dat sy skuld te swaar is om te dra en wie hom sien sal hom wil doodmaak. Tog laat God Hom nie oor aan sy ellende nie. Hy sê self Hy sal die dood van hierdie moordenaar wreek. Hoekom? Want Hy is goed.

Die Psalms is vol hiervan. Die boodskap is duidelik dat die hele aarde vol is van die goedheid van God. Sy goedheid is oor die natuur, elke plant en dier en voël, maar ook oor die goddelose én die uitverkose gelowige. In die tweede brief van Petrus hanteer Petrus die vraag hoekom Jesus se wederkoms uitgestel word. Hierdie kwessie word op die tafel gesit deur die dwaalleraars as ‘n bewys van die die “valsheid” in God. Petrus sê dis nie so nie. Die uitstel het te make met sy goedheid, wat daarop gerig is om dié wat die Vader aan Hom gegee het, te soek en te red.

God is goed en daarin verander Hy nie. Hy is altyd besig om vanuit hierdie goedheid van sy karakter op te tree teenoor sy eiendom. Die ryk man moes dit hoor dat God goed is. Dit was belangrik vir die uitkoms van die gebeure, want Jesus het hom gewys op sy onvermoë om op sy eie werke staat te maak vir die ewige lewe. Die ryk man is daar weg, baie bedroef oor die antwoord van Christus. Jesus los dit egter nie daar nie:

Toe kyk Jesus rond en sê vir sy dissipels: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan! En die dissipels was verbaas oor sy woorde; maar Jesus antwoord weer en sê vir hulle: Kinders, hoe swaar is dit vir die wat op hulle goed vertrou, om in die koninkryk van God in te gaan! Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. En hulle was uitermate verslae en het vir mekaar gesê: Wie kan dan gered word? Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik. (Markus 10:23-27)

Die laaste woorde is ‘n teruggryp op die belangrike les wat hulle moes leer oor God wat goed is. Juis omdat Hy goed is, kan iemand gered word en nie omdat hulle besittings het of sogenaamde goeie dinge doen nie, of dan sogenaamd goed is nie. God alleen is goed. Mense nie, so-ook is hulle werke nie goed nie. Alleen wanneer ons deel kry aan die goedheid van God, met ander woorde as Hy in sy goedheid reddend na die mens toe uitreik, is daar ewige lewe. Nie buite om sy goedheid nie.

Bronne

Sermon 77 – Psalm 119:68 – Thou art good, and doest good: teach me thy statutes. (Preek van Thomas Manton oor die Goedheid van God) 

Spurgeon se preek uit Exodus 33:18-23 God’s Glory and His Goodness

The Goodness of God A.W. Pink 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: