W. D. JONKER, M.A., B.D., Th.D.,

Professor in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Mededelings van die Universiteit van Suid Afrika – Pretoria

A 39 1965

Wat hier volg is ‘n intreerede gehou by die aanvaarding van ‘n professoraat in Teologie aan die Universiteit van Suid-Afrika.

OM DIE REGERING VAN CHRISTUS IN SY KERK

Dat Jesus Christus die Hoof en Here van Sy kerk is en as Koning direk en persoonlik oor Sy kerk regeer, is die grondwaarheid waarvan die kerkreg moet uitgaan. Indien dit waar is dat die kerk op grond van die Skrif bely dat Jesus, wat die Here van die here en die Koning van die konings is (Openb. 17:14), ook die Hoof is wat bo alle dinge aan die gemeente gegee is (Ef. 1:20-23), dan mag die kerk onder geen omstandighede hierdie belydenis vergeet by die beantwoording van die vraag wie in die kerk regeer en hoe die regering plaasvind nie. Die belydenis dat Christus Hoof van die kerk is, stel die kerk onontwykbaar voor die werklikheid dat daarin ook ‘n belydenis aangaande die regering van Christus in Sy kerk begrepe is1 en verplig die kerk om met die belydenis erns te maak tot in die verste verte van die praktyk. Kerkreg wat nie van voor tot agter beheers word deur die waarheid van die Koningskap van Christus nie, is valse kerkreg. Dit misken die grondwaarheid van alle reg en orde in die kerk, omdat dit die besondere verhouding tussen Christus en die kerk misken. Juis die verhouding is egter vir die kerk en sy regering van wesenlike betekenis. Kerkreg kan alleen egte, Bybelse kerkreg wees as dit uitgaan van die belydenis dat Christus Self Sy gemeente vergader, beskerm en regeer,2 dat Hy die handelende Subjek in die gemeente is en dat aan Hom alleen alle mag en seggenskap in die gemeente toekom.3 Tereg is hierdie onomkeerbare verhouding tussen Christus en die kerk die grondwet van die kerk genoem, waarop alle reg en orde in die kerk gebaseer moet wees.4 Indien die kerk die Bybel ernstig opneem, moet die kerk glo dat Christus lewend, persoonlik en aktueel in die gemeente wil regeer. Die belofte van Christus dat Hy al die dae tot aan die voleinding van die wêreld met die kerk sal wees (Matt. 28:20), sowel as die belofte dat Hy persoonlik deur die Gees in en by die kerk sal bly (vgl. Joh. 14:16-20) en dus teenwoordig sal wees waar twee of drie in Sy Naam vergader (Matt. 18:20), is te duidelik dat die kerk sou kon twyfel aan die praesentia realis Christi ipsius hier en nou, op elke punt van die weg.5 Die kerk staan juis ook na Hemelvaart6 van oomblik tot oomblik voor Christus, wat die kerk teëkom met Sy vergaderende, beskermende en regerende werksaamheid. Hieraan mag die kerk nie twyfel nie, want die hele sin van elke handeling van die kerk is daarin geleë dat Christus daarin teenwoordig sal wees en daarin handel.7

Tog blyk dit telkens weer dat die kerkreg hierdie waarheid uit die oog verloor en dan op een of ander wyse op ‘n dwaalweg geraak. Dit is asof dit vir die kerk te geweldig is om dit uit te hou met die werklikheid van Christus se lewende teenwoordigheid in sy midde. Die geskiedenis leer ons dat telkens wanneer die kerk die belydenis van die Koningskap van Christus verwaarloos het of die verhouding tussen Christus en die kerk nie op die juiste wyse verdiskonteer het nie, dit onmiddellik gereflekteer is in die kerkreg. Dan word die regering van die kerk op een of ander wyse aan Christus ontneem en in die hande van die mens gelê. Teoreties mag die heerskappy van Christus in die kerk dan nog erken word, maar in die praktyk word daarmee geen rekening meer gehou nie. Die kerkreg word dan of geklerikaliseer of gesekulariseer.

I

Dit is een van die onvervreembare verdienstes van die Kerkhervorming dat dit gevoer het tot ‘n helder insig in hierdie waarheid. Kerkregtelik gesien, was die Reformasie ‘n stryd om die waarheid van die regering van Christus in Sy kerk. Die Hervormers kon dit nie anders sien as dat die Rooms-Katolieke stelsel van kerkregering Christus uit Sy posisie as Hoof van die kerk verdring en die heerskappy van die kerk aan die mens toevertrou nie. In hierdie oortuiging het hulle volhard ten spyte daarvan dat hulle volkome bewus was van die feit dat ook Rome meen dat hy die belydenis van die Hoofskap van Christus ten volle aanvaar.

Deur al die eeue heen word daar in die Rooms-Katolieke Kerk oor die Hoofskap van Christus gespreek. Daarby is dan steeds ook verstaan dat die Hoofskap van Christus vanself insluit dat Hy oor die kerk regeer. Dit sou eenvoudig wees om ‘n hele aantal voorbeelde uit die Vaders en skolastici aan te haal om te bewys dat daar vir Rome genoegsaam rede bestaan om te verklaar dat by volkome reg wil laat geskied aan die heerskappy van Christus in die kerk.8 Daarby is dit egter duidelik dat Rome geen teenspraak aanvoel wanneer náás hierdie aanvaarding van die heerskappy van Christus vrymoedig gespreek word oor die heerskappy van die mens, die pous van Rome, die biskoppe en die priesters in die kerk nie. Selfs die bul Unam Sanctam van Bonifatius VIII (1302), wat sulke vérgaande magsaansprake vir die pous bevat, doen dit nie sonder om óók melding te maak van die Hoofskap van Christus nie. Die geheim van hierdie vrymoedige aanvaarding van die heerskappy van die mens in die kerk is egter daarin geleë dat Rome uitgaan van die opvatting dat Christus één is met Sy plaasvervanger (Petrus en sy opvolgers), sodat daar nie sprake kan wees van twee hoofde vir die kerk, Christus en die pous nie, maar slegs van één : Christus-in-gemeenskap-met-Sy-plaasvervanger.9 Christus en die biskop van Rome word eenvoudig in ‘n onverbreekbare verbondenheid gesien, waarby laasgenoemde Christus sonder meer verteenwoordig. Deur hierdie vereenselwiging van Christus en die pous is alle heerskappy van die pous ook vanselfsprekend gelyk aan die heerskappy van Christus. Christus regeer, maar Hy doen dit deur die pous. Wat die pous dus doen, moet aanvaar word as daad van Christus.

Dit is slegs die konsekwensie van hierdie opvattings wat gelei het tot die dogma van die onfeilbaarheid van die pous soos dit geformuleer is deur die Vatikaanse Konsilie van 1870. Die identiteit van Christus en die pous eis dit eenvoudig, omdat die onfeilbaarheid van Christus vanselfsprekend op die pous oorgedra moet word.10 Die jaar 1870 was daarin maar net die eindpunt van ‘n eeuelange ontwikkeling waarin die verhouding tussen Christus en die kerk verkeerd verstaan is vanuit die vanselfsprekende identiteit tussen Christus en die kerk, met name tussen Christus en die geestelike stand in die kerk.11 Daaragter sit ook die hele Rooms-Katolieke teologie met sy fisiese genadebegrip, sy visie op die mededeling van die heil aan die mens deur die sakramente wat ex opere operato werk, sy verstaan van die kerk as Heilsanstalt en uitdeelster van die genade en sy gevolglike sakralisering van die amp. Deur die priesterwyding word die ampsdraers blywend verhef tot ‘n hoëre orde, word aan hulle ‘n inklewende geestelike regeermag oorgedra en word aan hulle die genade verleen om onfeilbaar Gods genade uit te deel en in die kerk te regeer.12 Hulle word opgeneem as tweede oorsake wat onder die Eerste Oorsaak, Jesus Christus, die kerk regeer en die genade van God uitdeel. Daardeur word die verhouding tussen Christus en die amp verstaan as ‘n stabiele, onveranderlike gegewenheid. Al die beloftes van Christus oor Sy teenwoordigheid in die kerk en Sy versekeringe oor die gesag waarmee Sy apostels mag optree (vgl. Matt. 10:40 “Wie julle ontvang, ontvang My”, of Joh. 20:23 „As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe”), word deur Rome verstaan as onvoorwaardelike toeseggings wat eens en vir altyd gemaak is en wat vanselfsprekend en sonder meer vir die kerk permanent tot werklikheid geword het. Daar is vanuit hierdie gesigspunt geen enkele moontlikheid dat die kerk of die ampsdraers van die kerk uit die juiste verhouding tot Christus kan uitval en dat die kerk of die ampsdraers dan nie meer Christus verteenwoordig of werklik in Sy Naam optree nie. Waar die apostoliese suksessie en die regte priesterwyding teenwoordig is, is die volmag van Christus volgens Rome vanselfsprekend teenwoordig en gewaarborg sonder dat die vraag gestel word of die kerk konkreet gehoorsaam aan Christus is.13 Die Hoofskap van Christus is op hierdie wyse volledig ingebed in die struktuur van die Rooms-Katolieke hiërargie en kan dus geen kritiese werklikheid vorm teenoor die hoofskap van die mens in die kerk nie. Die mens in die kleed van die ampsdraer met sy character indelibilis het die teuels in hande geneem. Al wil Rome nog ruimte laat vir ‘n persoonlike invloed van Christus in die harte – soos dit geskied in die ensikliek Mystici Corporis Christi14in werklikheid kan daar van ‘n aktuele, persoonlike en direkte regering van Christus in die kerk weinig sprake meer wees. Die gesag van Christus is eens en vir altyd oorgedra aan die ampsdraers en is eenvoudig altyd sonder meer in die ampsdraers aanwesig.15 Daarom kan die vraag met reg gestel word of die regering van Christus hier nie volledig vervang is deur die regering van die ampsdraers nie, aangesien daar vir die persoonlike regering van Christus geen ruimte gelaat is in onderskeiding van die soos Barth sê — „in der Kirche ohne Unterbruch, Hemmung und Grenze von Menschen ausgeubten Gewalt” nie.16 Dit is dan ook net konsekwent dat Rome verwag dat alle lidmate van die kerk hulle sonder meer aan die heerskappy van die geestelike stand moet onderwerp.

Dit is teen hierdie vervanging van Christus deur die amp en hierdie verselfstandiging van die amp dat die Reformatore hulle onvermoeide protes laat hoor het. Hierdie protes kom nie daaruit voort dat die Reformatore nie óók ‘n sterk ampsopvatting daarop nagehou het of omdat hulle betwyfel het dat Christus in Sy regering van die kerk van die diens van mense gebruik maak nie. Ook kom dit nie daaruit voort dat hulle nie verstaan het dat die ampte met volmag in die Naam van Christus mag optree nie. Inteendeel. sowel Luther as Calvyn kan ten volle reg laat geskied aan alle tekste in die Skrif wat die gesag onderstreep van diegene wat in die Naam van Christus optree en dus Christus by die gemeente verteenwoordig en vir Hom tot ‘n mond kan dien.17 Maar, die verskil tussen hulle en Rome lê daarin dat hulle van geen onvoorwaardelike en vanselfsprekende vereenselwiging van Christus en die ampsdraers wil weet nie. Die ampsdraers word deur Christus gebruik, maar nooit so, dat Hy Sy mag aan hulle oordra of Sy persoonlike en direkte regering van die kerk uit Sy hand laat neem nie. Die ampsdraers is dus nie daar om self in die kerk te regeer nie, maar alleen om die regering van Christus in Sy kerk te dien Die Reformatore gaan dus van ‘n totaal ander ampsopvatting uit as Rome, sodat dit vir hulle onmoontlik word om menseheerskappy in die kerk te verbind met die Christusheerskappy. As Christus die Hoof van die kerk is, kan geen mens dit weer nie; as Christus oor Sy kerk regeer, moet alle menseheerskappy uit die kerk geban word.18 Christus is Hoof van die sigbare kerk so goed as wat Hy dit is van die onsigbare.19 Daarom het Hy geen sigbare plaasvervanger nodig op wie Hy Sy gesag sou moet oordra nie, omdat Hy Self in die kerk teenwoordig is.20 Veral Calvyn bly daarop hamer dat daar by die inrigting van die kerk vir die lewende en persoonlike regering van Christus ruimte gelaat moet word en dat alles uit die weg geruim moet word wat ook maar enigsins die heerskappy van Christus in die weg kan staan.21 Eintlik staan alles wat Calvyn in sy tetiese en antitetiese uitsprake oor die regering van die kerk te sê het, in die teken van een groot waarskuwing dat “aan Christus niks ontneem moet word nie”.22 Hy pleit daarvoor dat die dienaars self hulle bes moet doen om vir Christus Sy gesag te bewaar, wat op geen ander wyse ongeskonde kan bly nie as wanneer aan Hom gelaat word wat Hy van die Vader ontvang het, naamlik dat Hy die enigste Meester van die kerk moet wees.23 In die lig van hierdie beklemtoning van die persoonlike regering van Christus in Sy kerk kan die Reformatore dus nie spreek oor plaasvervangers vir Christus nie en word hulle ampsopvatting gedra deur die begrip diens. Die amp is geen sacerdotium nie, maar ministerium.24 Kennelik verstaan die Reformatore dit so dat die heerskappy van Christus in die kerk bedreig en selfs verdring kan word wanneer aan die ampsdraers ‘n eie regeermag toegeken word. Calvyn is selfs baie uitgesproke daaroor dat Christus Sy reg en eer nie oordra op die mense van wie se diens Hy by die regering van die kerk gebruik maak nie, maar dat Hy alleen deur hulle mond Sy eie werk volbring, soos ‘n handwerksman gereedskap gebruik by die verrigting van sy werk.25 Wanneer hy soms oor die ampsdraers kan spreek as diegene wat aan die hoof staan,26 dan is dit nogtans duidelik dat hy daarmee niks anders bedoel as die verrigting van hierdie diens waartoe die ampsdraers deur Christus Self gebruik word nie. Die gesag van die ampsdraers is vir die Reformatore onder geen omstandigheid ‘n eie, inherente gesag nie. Selfs waar gesê word dat Christus aan die ampsdraers gesag verleen, word daarmee nie bedoel dat ‘n oordrag van gesag plaasvind, sodat die ampsdraers voortaan ‘n eie gesag besit nie, maar word alleen bedoel dat aan hulle ‘n ministerium verleen word waardeur hulle die gesag van Christus bedien.27

Hierdie opvatting van die Reformatore berus daarop dat hulle die regering van Christus in die kerk verstaan as ‘n regering deur Sy Woord en Gees.28 Wanneer Calvyn gaan handel oor die orde in die kerk, dan verklaar hy dat. ofskoon Christus Self alleen in die kerk moet regeer en heers en in die kerk ook die leiding moet hê en die hoogste gesag moet beklee en daardie heerskappy alleen deur Sy Woord uitgeoefen en bedien moet word, Hy nogtans, omdat Hy nie met sigbare teenwoordigheid onder ons wil woon om ons Sy wil mondeling in eie persoon mee te deel nie, daartoe die diens van mense aanwend.29 Dit is ook die duidelike leer van die Lutherse belydenisskrifte. Omdat Christus die enigste Hoof van die kerk is, kan en mag alleen die Woord van God in die kerk heers. Die bediening van Woord en sakrament is die enigste vorm van regering in die kerk, die inbegrip van alle kerklike mag, die volledige sleutelmag.30 Al funksie wat die mens in die regering van die kerk kan beklee, is regstreekse of sydelingse bediening van die Woord waardeur Christus persoonlik regeer. Die Reformatore kan sterk uitsprake doen oor die volmag waarmee die ampsdraers mag optree. Dit is onbeskryflik heerlik en hou niks minder in nie as die volmag om te straf en te vermaan, te bind en te ontbind, te bou en te vernietig en as dit nodig is, sê Calvyn, ook te bliksem en te donder, … maar alles net deur die Woord van God.31 Die Confessio Augustana druk dieselfde gedagte uit deur te verklaar dat die kerklike mag uitgeoefen moet word sine vi humans sed verbo.32 Daaraan dat die Woord van God in die kerk regeer, ontleen die kerk onder alle omstandighede sy mag om te leer, te regeer en reg te spreek. Maar dit is dan ook presies die grens van alle kerklike gesag. Die kerk het geen eie gesag op grond waarvan by iets kan beveel wat nie op grond van Gods Woord beveel moet word nie.33 Die Reformatore polemiseer deurgaans teen ‘n ampsopvatting wat sou moet beteken dat die ampsdraers onder alle omstandighede gehoorsaam moet word, asof hulle ‘n eie gesag het om te beveel wat hulle goed mag vind.34 Deurgaans roep hulle daartoe op dat die gemeente die Woord van God as die enigste maatstaf moet beskou. Alle regeerwerksaamhede van ampsdraers en kerkvergaderinge moet aan Gods Woord getoets word. As bevind word dat daar strydig met Gods Woord gehandel of beslis word, het die handelinge of beslissinge van die ampsdraers geen gesag hoegenaamd nie. Calvyn verklaar dat die besluite van konsilies ondersoek moet word met die maatstaf van mense en engele, naamlik die Woord van God. Alleen wanneer die besluite met Gods Woord ooreenkom, kan hulle gesag hê.35 Die uitspraak van Hand. 4:19, dat ons God meer gehoorsaam moet wees as die mense, keer herhaaldelik in die geskrifte en belydenisskrifte van die Reformatoriese tyd terug, net soos ook die verwysing na die valse profete en die Joodse Raad wat die gehoorsaamheid van die gemeente verbeur het deur van Gods Woord of te wyk.36 Waar die Rooms-Katolieke opponente hulle telkens beroep het op Hebr. 13:17, wat lui dat ons gehoorsaam en onderdanig moet wees aan ons voorgangers, stel die Reformatore daarteenoor dat dit geen onvoorwaardelike gebod is nie. „Dieser Spruch fordert, dass man sol gehorsam sein dem Evangelio, denn er gibt den Bischofen nicht eine eigene Herrschaft oder Herrengewalt ausser dein Evangelio; so sollen auch die Bischofe nicht wider das Evangelium Satzung machen, noch ihre Satzunge wider des Evangelium auslegen. Denn wenn sie das thun, so verbeut und das Evangelium ihnen gehorsam zu sein, wie Paulus zu den Galatern sagt: So euch jemands würde ein ander Evangelium predigen, der sei verflucht”.37 Calvyn spreek hierdie gedagte van die Apologie feitlik net so uit in sy Institusie en hy verklaar dat slegs die ampsdraers wat her – nog derwaarts van Gods wet afwyk, vir die gelowiges ware voorgangers kan wees.38 Dit is hieruit meer as duidelik dat die Reformatore nie weet van ‘n inklewende ampsgesag by die ampsdraers nie, soos Calvyn ook angsvallig verduidelik dat die potestas waarmee die kerk regeer, eintlik nie iets is wat aan die mense, dit is, die ampsdraers, gegee is nie, maar aan die diens waarin hulle aangestel is, of (om duidelik te spreek) aan die Woord waarvan die bediening aan hulle toevertrou is.39 Alle gesag in die kerk is Woord – gesag. Tereg formuleer Veenhof dit soos volg: „De Reformatoren ondernamen het naar den mensch gesproken ontzaglijke en, werelds geoordeld, krankzinnige waagstuk om het in de regeering en heel het leven der kerk alleen met Gods Woord en de vrijwillige onderwerping daaraan te doen … Zij ondernamen het naar wereldsche maatstaven gemeten dwaze pogen om geen andere onderwerping te willen, dan die welke gehoorzaamheid aan Gods Woord was. Zij wilden niet zelf, zij wilden niet, dat de kerkelijke instanties als zoodanig, gehoorzaamd zouden worden. Zij weigerden eenige gehoorzaamheid, welke niet gehoorzaamheid aan een duidelijk uitgedrukt Godswoord was”.40

Uit die aard van die saak ontken die Reformatore nie dat die ampsdraers gesag het om ter wille van die uiterlike orde bepalinge te maak wat nie direk uit die Skrif afgelees kan word nie. Calvyn spreek selfs uitvoerig daaroor dat die kerk reëlings moet tref in verband met die seremonies en oor sulke sake soos die tye en plekke van die eredienste, die kategese en die toepassing van die kerklike tug. Net, hierdie bepalinge dra in die kerk ‘n totaal ander gesag as die Woord van God, Hulle handel nie oor die essentialia van die diens van die Here nie, maar oor die circumstantiae. Hulle moet altyd aan die buitekant bly. Deur dergelike bepalinge te maak, regeer die ampsdraers nie in eie bevoegdheid oor die kerk nie, maar skep hulle in aansluiting by en as uitvloeisel van hulle diens aan die Woord van God, die ruimte in die kerk vir die regering van die Woord van God. Daarom kan sulke bepalinge nie maar na willekeur gemaak word nie. Hulle moet tot die minimum beperk word en vind hulle legitimasie bloot in die feit van hulle nut vir die diens van die Here.41 Juis daarom egter kan hulle ook die gewetens nie bind nie en mag hulle nooit as „ewige wette” beskou word nie. Die onderhouding van sulke bepalinge dra heeltemal ‘n ander karakter as die gehoorsaamheid aan die Woord van God. Dit geskied met behoud van die vryheid van die lidmaat as ‘n soort vrywillige beperking van sy eie vryheid ter wille van die uiterlike orde en die liefde. Dit gaan daarby meer om die onderhouding van ‘n bepaalde styl ter wille van die goeie orde van die kerklike lewe as om ‘n gehoorsaamheid aan wette. Terwyl sulke bepalinge nie ligvaardig verontagsaam moet word en in elk geval nie hardkoppig verag moet word nie, is die oortreding daarvan tog ook nie sonde nie.42 Egte onderwerping en gehoorsaamheid kom in die kerk alleen aan die Woord van God toe, nie aan die ampsdraers of hulle bepalinge as sodanig nie. Nog die ampsdraers self, nog hulle bepalinge vir die uiterlike orde het ‘n eie gesag. Hulle gesag rus enkel daarop dat hulle draers van die Woord is of ruimte maak vir die persoonlike regering van Christus deur Sy Woord. Waar die Reformatore op hierdie wyse beklemtoon dat die ampsdraers geen eie gesag het nie, maar dat alle gesag in die kerk enkel geleë is in die Woord wat in die kerk moet regeer, is dit duidelik dat die gesag van die ampsdraers prinsipieel verskillend is van die gesag van die owerheid oor sy onderdane of die ouer oor sy kinders. In die kerk is geen heersers en onderdane, vaders en kinders nie. In die kerk regeer Christus alleen en daarom kan daar in die kerk uit beginsel geen hoër of laer ampte wees nie, omdat dit weer ‘n struktuur van menseheerskappy in die kerk moet invoer. Calvyn verklaar dat Paulus in Ef. 4:15 kennelik alle mense sonder uitsondering binne die liggaam van Christus stel en aan elkeen van hulle niks anders as diens toeken nie, terwyl die eer en die naam van Hoof aan Christus alleen gelaat word.43 Maar wat meer is: as Christus alleen in die kerk regeer deur Sy Woord, kan die woord van ‘n ampsdraer nooit enige lidmaat bind nie, tensy daardie woord niks anders is as verkondiging van die Woord van God nie.44 Dit geld selfs vir die uitoefening van die tug, dat alle tugoefening, tot aan die ban toe, niks anders is as ‘n getuienis teenoor ‘n broeder wat gesondig het nie.45 Die sleutelmag is nie soseer ‘n potestas nie, maar ‘n diaconia. Daarom mag die tug ook nooit hanteer word waar daar nie sprake is van sonde teen God en Sy heilige Woord nie. Dit moet altyd slegs bediening van Gods Woord bly, niks meer nie. Dit mag nooit ‘n middel word vir die handhawing van die ampsdraer of selfs die kerk met sy bepalinge nie. maar betrek die wag rondom die hoor van die Woord van God alleen. Vandaar dat die Nederlandse Geloofsbelydenis ook so uitdruklik verklaar dat die tug moet geskied volgens die Woord van God.46 Die regeermag in die kerk mag nooit uitgeoefen word op ‘n juridiese manier nie, laat staan nog op ‘n wettiese of wêreldse manier, want dit gaan nie om ‘n regering wat sonder meer vergelykbaar is met die van ‘n aardse gesagsinstansie nie.47 Kerkregering is diens aan en van die Woord, is getuienis en verkondiging wat voor ‘n beslissing met betrekking tot Christus stel. Daarin verskil dit prinsipieel van die regering in ander samelewingsverbande.

Juis daarom egter is dit voortdurend onderworpe aan die kontrole deur Gods Woord. Indien dit waar is dat kerkregering diens aan Gods Woord is, is die vraag voortdurend of die ampsdraers nie in plaas van diens aan die Woord en in onderworpenheid aan die Woord, daartoe oorgaan om oor die Woord van God heerskappy te voer of selfs sonder die Woord van God heerskappy te voer nie. Die Reformatoriese kerkreg weet nie van ‘n vanselfsprekende vereenselwiging van Christus en die ampsdraers, waardeur aan hulle onfeilbaarheid gewaarborg word nie. In die verhouding tussen Christus en die ampsdraers moet steeds rekening gehou word met die moontlikheid van ongehoorsaamheid.48 Daarom moet die kontrole van die Woord van God nooit verwaarloos word nie. In die Gereformeerde kerkreg word vir hierdie kontrole enersyds ruimte gemaak deurdat die diens in die kerk nooit aan een persoon alleen toevertrou word nie, maar altyd aan verskeie ampsdraers in gemeenskap met mekaar, sodat hulle mekaar vanuit die Woord kan kontroleer.49 Andersyds word daarvoor ruimte gemaak deur die feit dat alle lidmate van die gemeente voortdurend daartoe geroepe is om die maatstaf van die Woord van God by die regeerwerk van die ampsdraers aan te lê.50 Tussen die ampsdraers en die gemeente en tussen die ampsdraers en Christus staan die lewende Woord van God voortdurend as kritiese instansie. Alleen so bly daar ruimte vir die persoonlike heerskappy van Christus deur Sy Woord en word alle menseheerskappy uit die kerk geweer.

Dit is duidelik dat hierdie hele visie op die kerkregering gedra word deur ‘n onvoorwaardelike vertroue op die lewende teenwoordigheid van Christus in die kerk en op die feit dat Hy deur Sy Woord so tot die gemeente sal spreek, dat die Woord ook werklik gehoor sal word en as Woord van God erken sal word. Alles staan en val hier met die belydenis van die duidelikheid van die Woord van God, wat inhou dat die gemeente deur die werking van die Heilige Gees in staat sal wees om te beoordeel of die Woord wat verkondig word, ook werklik die Woord van God is. Die Reformatore hou sonder meer rekening met die bevoegdheid van die gemeente om die Woord te beoordeel en die ware leer te ken.51 Daar is nie sprake van ‘n onmondige gemeente van „leke” wat uitgelewer is aan die leiding en sorg van ‘n geestelike stand wat alleen in staat sou wees om Gods Woord reg te interpreteer nie. Daarby moet nie gedink word dat die Reformatore uit valse idealisme hierdie standpunt ingeneem het, omdat hulle naïef was en geen genoegsame kennis gedra het van die empiriese onmondigheid van die gemeentes nie. Hulle neem hierdie standpunt in as konsekwensie van die feit dat hulle die Woord van God vertrou. Christus sal regeer deur Sy Woord en Hy sal die ware antwoord op die Woord in die gemeente na vore roep. In die konkrete daad van die verkondiging spreek Christus tot die gemeente en oefen Hy Sy volmag as Koning oor die gemeente uit.52

Dit is om hierdie rede dat die Reformatore ook in hulle kerkreg soveel klem lê op die plaaslike gemeente wat rondom Woord en sakramente vergader is. Daar, rondom die gepredikte Woord, word die gemeente as gemeente van Christus openbaar en is alle moontlike gesag wat die kerk kan dra, teenwoordig, omdat Christus Self daar deur Sy Woord regeer. In die aanvaarding van hierdie waarheid is daar geen verskil tussen Luther en Calvyn nie.53 Daarom moet alle kerkreg daarop bereken wees om die plaaslike gemeente te bou en die sorg vir die prediking van die Woord in die plaaslike gemeente te dien. Dit is ver van die Reformatore om die plaaslike gemeente te beklemtoon vanuit demokratiese motiewe of vanuit die gedagtegang van die latere indiwidualisme, wat veral die „regte” van die indiwiduele lidmaat en dus ook die indiwiduele gemeente teenoor die res van die kerk wil beskerm. Dit gaan by die Reformatore alles om die heerskappy van die gepredikte Woord. Die kerkordes uit die tyd van die Reformasie is dan ook alles behalwe juridies – suiwere, netjies uitgewerkte reglemente wat alle moontlike wetlike implikasies probeer raakvat en die kerklike samelewing tot in die fynste besonderhede reël. Dit is ten diepste altyd ‘n hartgrondige twyfel aan die krag van Gods Woord as daar naas die Woord van God in die kerk ‘n regsapparaat opgerig word om die kerk met reglemente en bepalinge te regeer in plaas daarvan dat die kerk deur die gepredikte Woord self regeer word.54 Die Reformatoriese kerkordes is egter bedoel as riglyne vir die opbou van die diens van die Woord in die plaaslike gemeente, met sy sentrum in die erediens. Hulle is veel meer geïnteresseerd in die reëling van die erediens en wat daarmee saamhang as in die instelling van ‘n effektiewe “bestuursapparaat”. Tereg merk Otto Weber op dat die ou kerkordes hulle veral besig hou „mit der Ordnung des Gottesdienstes, des Predigtamtes, der Seelsorge, des Abendmahls and der Zucht”.55 Hulle is in der waarheid „Gottesdienstordnungen”.56 Die bedoeling is dat die kenmerke van die ware kerk in die plaaslike versameling rondom die bediening van Woord, sakramente en tug tot openbaring moet kom. Die Forma ac Ratio wat die inrigting van die Nederlandse vlugteling-gemeentes in Londen bevat en naas die Ordonnances Ecclésiastiques van Genève die oudste voorbeeld van ‘n gereformeerde kerkorde bied, is terselfdertyd ‘n uitstekende voorbeeld van so ‘n Gottesdienstordnung waarin alles sentreer om die opbou van *n lewende, aktiewe, belydende gemeente met die erediens as middelpunt.57 Dieselfde geld egter ook van die Skotse First Book of Discipline van 1560.58 Miskien is die beste voorbeeld van so ‘n Gottesdienstordnung egter die kerkorde van die Paltz uit die jaar 1563. Dit bevat eintlik geen bepalinge oor die ampte, vergaderinge en dergelike meer nie, sodat dit beslis onvolledig moet heet. Des te meer aandag word egter bestee aan wat die hart van die kerkorde moet heet: die leer, die sakramente (dit bevat bv. ook die liturgiese formuliere), die kategese (dit bevat die hele teks van die Heidelbergse Kategismus!), die reëling van feesdae ens.59 Dit is daarin ‘n sprekende bewys van die feit dat die oudste kerkordes nie statute of reglemente was nie, maar lewensordes vir die gemeente rondom die erediens. Dit geld selfs nog in ‘n groot mate van die Nederlandse kerkorde, wat sy finale beslag by die Sinode van Dordrecht in 1618/1619 ontvang het.60 Dit wil in sy hele opset ruimte maak vir die persoonlike regering van Christus deur Sy Woord, al is dit ook waar dat politieke en ander omstandighede meegebring het dat bepaalde ongewenste elemente in die kerkorde oorgebly het.61

II

Uit dit alles is dit duidelik hoe prakties en konkreet die Reformatore in hulle basiese kerkregtelike insigte van die regering van Christus in die kerk uitgegaan het. Des te pynliker is dit dus om te merk hoedat hierdie kerkregtelike insigte van die Reformatore in die loop van die geskiedenis juis in die Reformatoriese kerke vanuit ‘n nuwe rigting aangeveg en verdring is. Waar die Rooms-Katolieke stelsel van kerkregering met sy massale ampsopvatting en sy identifisering van Christus en die kerk, die heerskappy van Christus deur Sy Woord ingebind het in die klerikalisering van die kerkreg, het daar in die Protestantse kerke ‘n ontwikkeling ingetree wat uitgeloop het op ‘n sekularisering van die kerkreg. Wat egter op die oog of direk teenoorgesteld lyk, het uiteindelik dieselfde effek. In albei gevalle word die heerskappy in die kerk in die hande van die mens gelê. Die kiem vir hierdie ontwikkeling was reeds in die optrede van Luther teenwoordig. In weerwil van die feit dat Luther basies netsoos Calvyn oor die regering van Christus in die kerk gedink het, vind .ons by hom ‘n vreemde inkonsekwentheid wanneer hy sy insigte in die praktyk in toepassing moet bring. Luther het beslis minder teokraties gedink as Calvyn, en ons vind by hom ‘n eienaardige onwil om die volkskerk los te laat en te kom tot die formasie van belydende gemeentes.62 Luther het nie die moed gehad om ‘n weg op te gaan wat sou beteken dat groot groepe mense wat gedoop is en binne die breë volkskerk lewe, uitgesluit sou word en dus feitlik prysgegee sou moet word nie. Daarom het hy daarvan afgesien om sy eie opvattings oor die regering van die gemeente in praktyk te bring. Ons moet saamstem met die oordeel van Grundmann: „Im ganzen is die Lutherische Kirchenverfassung trotz aller weiterfuhrenden Grundsätze Luthers … der Schritt von der Parochie zur Gemeinde nicht gelungen”.63 Die gevolg was dat die kerk in Duitsland in plaas van ‘n belydeniskerk geword het tot ‘n preeksinstituut, ‘n Heilsanstalt, waarin die prediking van die Woord moes dien tot die opvoeding van die massas, terwyl die egte gemeentelike lewe en die beoefening van die priesterskap van die gelowiges, waaroor Luther so mooi kon spreek, nie tot sy reg kon kom nie.64 Dit bly in hierdie verband ‘n dramatiese moment in die geskiedenis van die Lutherse reformasie dat Luther die Hombergse kerkorde, wat ‘n volmaakte vormgewing van sy eie uitsprake oor die regering van die kerk was, van die hand gewys het. Dit bevat te veel wette, meen hy, en die tyd vir so ‘n orde is nie ryp nie. “Die Leute sind nicht dazu geschickt, wie die meinen, so da sitzen bei sich selbst, and malens mit Worten and Gedanken ab, wie es gehen sollte”.65 Hy voel veel meer daarvoor om die hele land te beset met bekwame predikers en onderwysers, wat die volk kan opvoed. Luther wou dit dus uiteindelik nie waag met die Woord van God wat mag het om in die plaaslike gemeente te regeer nie. Hy bly aan die volkskerk vashou en meen dat die uiterlike inrigting van die kerk iets bykomstigs is, solank die Woord maar suiwer gepreek kan word. Die gevolg is dat hy nie soos Calvyn ‘n kerklike orde ingestel het wat ruimte maak vir die regering van Christus deur Sy Woord nie.66 Deur die nood gedwing het hy aan die wêreldlike owerheid ‘n plek in die regering van die kerk toevertrou, klaarblyklik met die bedoeling dat dit slegs tydelik moes wees, maar dit het die weg geopen vir ‘n landsvorstelike kerkregering waaronder die Duitse kerke gebukkend gegaan het tot in 1918.67 Van die begin af het die Lutherse kerke dus gelewe met ‘n wêreldlike regering vir die kerk. Dit is nie vreemd dat die opvatting van die sigbare kerk as gewone menslike vereniging wat bestuur moet word soos enige ander menslike vereniging, juis in Duitsland sy oorsprong het nie.

Terwyl die landsvorstelike regering van die kerk deur Luther as ‘n tydelike noodmaatreël aanvaar is, is dit deur die Lutherse kerke self as die normale stand van sake beskou en deur hulle teoloë met telkens nuwe teorieë as die enigste juiste vorm van kerkregering verdedig. Sedert die begin van die sewentiende eeu word dit al meer verdedig vanuit die natuurregsteorie.68 Die toepassing van die natuurregsteorie op die kerk beteken nou egter niks minder as dat die kerk verstaan word as ‘n religieuse vereniging wat tot stand kom deur die vrywillige samesluiting van ‘n aantal indiwidue tot die bevordering van ‘n gemeenskaplike doel nie. In die sg. territoriale en kollegiale stelsels van kerkregering is die kerk dan ook volledig gesekulariseer en word dit verstaan as ‘n gewone vereniging.69 Die kollegiale stelsel is in hierdie opsig die konsekwentste en is ‘n tipiese produk van die agtiende-eeuse verligte denke.70 Dit verstaan die kerklike mag nie as die gesag van Christus wat deur Hom persoonlik in Sy kerk uitgeoefen word nie, maar as verenigingsmag. Die indiwidue wat in die vereniging saamgesluit is, besit uit hulleself, ex re et sua natura, ‘n mag wat aan elkeen as indiwidu eie is, om te kan beskik oor die saak waarmee hulle besig is, sodat hulle hul bewegings en planne self kan reël. Die kerklike regeermag berus dus in die lede van die kerk wat deur hulle vrye wilsbeskikking op demokratiese wyse kan beslis hoe hulle die kerk regeer wil hê. Daarmee is die leer van die volksoewereiniteit op die terrein van die kerk oorgedra.71 Binne hierdie raamwerk kan die ampte dan nie meer verstaan word as organe van Christus nie, maar as amptenare van die genootskap, wat hulle bevoegdheid vir die vervulling van hulle taak van die genootskap self ontvang.72 Dit gaan daarby nie meer om die verwagting dat Christus persoonlik in Sy gemeente sal regeer nie, want die band tussen Christus en die sigbare kerk is deurgesny. Christus kan nog gedink word as Hoof van die onsigbare kerk, maar die sigbare kerk word gelyk gestel met ‘n vereniging, wat op dieselfde wyse as alle ander vereniginge bestuur word.73 Die doel van die kerkorde word dan ook heeltemal anders verstaan as by die Reformatore. Dit gaan nie meer om die verskaffing van ‘n ordereël vir die kerk met die oog daarop dat die Woord van God sy vrye loop in die gemeente kan hê nie, maar om die instelling van ‘n statuut op grond waarvan die kerk as genootskap gekonstitueer word,74 terwyl hierdie statute of reglemente bereken is op die instelling van ‘n juridies – korrekte en akkurate geslote sisteem van bestuursmaatreëls wat „orde op sake stel”.75 Die kerk word dan nie meer deur die Woord van God regeer nie, maar deur mense met reglemente. Binne die geslote sisteem van die reglemente, wat meestal alle moontlike gevalle in die kerklike lewe probeer dek, is daar geen ruimte meer vir die onrus van die openheid vir die Woord van God nie.76 Daar kom onvermydelik ‘n kloof tussen die kerkregering en die belydenis van die kerk. Nog die belydenis nog die Skrif hoef op enige direkte wyse by die regering van die kerk in aanmerking geneem te word, want die reglemente skryf immers voor hoe daar opgetree moet word om die orde te handhaaf. Dit gaan daarby om die orde sonder meer, die orde soos dit by enige ander vereniging sou gegeld het, nie die orde wat gestig word deur die regering van die Woord van God nie. So word die regering van Christus in die kerk misken en aan die kerk ‘n vorm opgelê wat met sy wese in direkte botsing is.77 Juis egter omdat dit gaan om die orde as grootheid wat in sigself gesoek word, stuur hierdie soort kerkregering onvermydelik of op ‘n aantasting van die belydenis van die kerk. Die ou Reformatoriese grondreël van “gebondenheid in die leer en vryheid in die kerkorde” word in die teendeel verander: die leer word by die regering van die kerk buite rekening gelaat en aan willekeur oorgelewer, terwyl die bepalinge van die reglemente tot dodelike wette verskerp word.78 Die hele toon van die kerkreg verander, omdat die juridiese terme en kategorieë van die reglemente die hele kerklike lewe deursuur. Die kerkregering verval daardeur onvermydelik in ‘n dodende formalisme. Nie die saaklike staan op die voorgrond nie, maar die formele onderhouding van die reglemente. Dit word veral openbaar in die handhawing van die kerklike tug. Oral waar die kollegialisme in die kerkregering ingedring het, verloop alle tugprosesse gewoonlik as prosesse oor die formele vraag of aan die kerklike reglemente gehoorsaamheid betoon is, nie oor die vraag of die Woord van God aangetas is nie. Dit kan ook nie anders nie, want die reglementêre regering van die kerk soek die maatstaf vir tugwaardigheid nie in ‘n vergryp aan Gods Woord nie, maar in die vergryp aan die reglemente.79 Die tug is immers gedegradeer tot verenigingstug en verstaan nie meer wat dit is om die sleutels van die Koninkryk te hanteer nie. Maar daar is ook tog ‘n ander gevolg van hierdie sekularisering van die kerkregering. Dit is dat daar onvermydelik ‘n hiërargiese element in die kerkregering moet kom, al is dit dan die hiërargie van bestuursliggame met een of ander hoogste gesag in die kerklike apparaat wat in laaste instansie beslissings neem wat nie appellabel is nie. Dat alle gesag in die kerk aan die Woord van God alleen toekom en dat alle kerklike vergaderinge in laaste instansie ewe veel en ewe min gesag het al na gelang van die vraag of hulle volgens Gods Woord oordeel of nie word dan nie meer verstaan nie.80 Die finale kontrole deur die Woord van God word uitgeskakel, en die bestuursliggame heers oor die lidmate, en wel in hulle eie bevoegdheid.

Uit dit alles is dit duidelik dat ons hier vanuit ‘n totaal ander uitgangspunt by dieselfde plek uitkom as in die Rooms-Katolieke stelsel van kerkregering. Die mens neem die regering van die kerk oor en die ruimte vir die persoonlike en aktuele regering van Christus deur Sy Woord word nie meer vrygelaat nie. In elk geval het ons te doen met ‘n fatale misverstand aan die kant van die kerk oor die verhouding van Christus tot die kerk. Oor die kollegialisme kan dus niks gunstiger geoordeel word as oor die Rooms-Katolieke stelsel van kerkregering nie. ‘n Groter misverstand aan die kant van die kerk as om sy reg te verwar met ‘n wêreldlike verenigingsreg, is moeilik denkbaar.81 Dit is alleen moontlik vanuit ‘n teologiese insinking waarin die wese van die kerk totaal misken word. Die agtiende en die negentiende eeu was nou egter, teologies gesien, juis ryp vir hierdie groot misverstand. Die tydperk van die Franse Rewolusie het soos ‘n groot stoomroller oor die Europese Protestantse kerke geloop en in kerkregtelike opsig in Frankryk, Duitsland, Nederland en Switserland dieselfde “verligte” en rewolusionêre opvattings ingetrap wat deur die Duitse kollegialiste in die agtiende eeu geformuleer is en wat so wonderlik ingepas het by die gees van die Franse Rewolusie. Die staatkundige omwentelinge aan die einde van die agtiende en begin van die negentiende eeu het die situasie geskep vir die wysiginge in die kerkregering wat vir die eerste keer die hoofgedagtes van die kollegialisme in die praktiese kerkreg ten uitvoer kon bring en die inrigting van die kerk met die demokratiese staatsinrigting kon gelykskakel.82 Die mees drastiese gelykskakeling van die kerkregering met die staatsregering het in Frankryk plaasgevind, maar ook in die ander lande is die beginsels van die kollegialisme deurgevoer. Die bekendste voorbeelde van reglemente waarin die beginsels beliggaam is, is die Algemeen Reglement van die Nederlandse Hervormde Kerk uit 181683 en die Rheinisch-Westfälische kirchenordnung van 1835, wat as voorbeeld gedien het vir alle Duitse Evangeliese kerkordes of reglemente tot 1918.84 Hoewel hierdie reglemente ‘n sinodale en selfs ‘n presbiteriaal-sinodale uiterlike vertoon, word die wese van die presbiteriale kerkreg daarin ten volle verloën. Die Algemeen Reglement is ‘n uitstekende voorbeeld van die radikaal-ongeestelike manier waarop die gesekulariseerde kerkreg onder die gebruik van gereformeerde terme die wese van die kerk kan verkrag en die kerk kan belas met ‘n hiërargiese bestuursapparaat wat geen getuienis meer daarvan of lê dat ons hier nog met die kerk te doen het nie.85 Dieselfde geld van die Duitse kerkordes, wat daarop bereken is om die beginsels van die demokrasie in alle opsigte in die regering van die kerk in te voer. Die kerkordes word verstaan as konstitusies wat die regte van die lidmate beskerm teenoor die bestuursliggame. sodat dit ook nodig is om die tipiese patroon van die demokratiese “Gewaltenteilung” in die kerk in te voer en skeiding aan te bring tussen die wetgewende, uitvoerende en regsprekende instansies in die kerk.86 In geeneen van die kerkordes van die negentiende eeu word ruimte gelaat vir die regering van die kerk deur die Woord van God of vir die belydenis van die kerk nie. Dit geld van die Algemeen Reglement óók nog na al die stryd wat in Nederland gevoer is om die inrigting van die kerk te verbeter, sowel as van die Duitse kerkordes wat ná 1918 ontstaan het toe die landsvorstelike kerkbestuur weggeval het. Op hierdie hele kategorie van kerkordes is van toepassing wat R. Smend van die Duitse reglemente ná 1918 gesê het: “Der Bekenntnisstand, überhaupt die eigentliche Substanz der Kirche, blieb ausgeklammert, die Verfassung war in der Auseinandersetzung mit der Staat nicht viel mehr als ein Reflex der staatlichen Ordnung in der Weise des formalistischen Positivismus der gleichzeitigen weltlichen Rechtswissenschaft gedacht and formuliert, kirchengeschichtlich eine überraschende Spätblüte des Kollegialismus”.87

Hierdie stand van sake was ‘n uitvloeisel van die liberale teologie van die agtiende en die negentiende eeu en kon alleen verander word deur ‘n teologiese terugkeer tot die Skrif. Dit was dan ook eers toe die teologiese vernuwing van die twintigste eeu sterk inslag gevind het, dat die toestand anders kon word. Wat Duitsland betref, het dit geduur tot in die tyd van die Kerkstryd voordat ‘n kragtige Bybelse reaksie teen hierdie soort kerkreg ingetree het. Voor die tyd het die Duitse kerkregtelike denke te veel onder die invloed van R. Sohm verkeer om werklik tot ‘n Bybels-verantwoorde kerkreg te kon kom.88 Eers in die tyd van die Kerkstryd het dit egter duidelik geword hoe fataal ‘n verwêreldlikte kerkreg die boodskap en getuienis van die kerk in die gedrang kan bring. Die gelykskakeling van die kerk met die staatspatroon, die invoering van die Führer-beginsel in die kerk, die gewelddadige ingryping in die bestuursapparaat van die verskillende landskerke en die verregaande inmenging van die staat met kerksake89 het almal daartoe bygedra om sommige in die kerk wakker te skud en die vraag te laat stel na wat die wese van die kerkregering behoort te wees. Hoewel die verset teen die verkragting van die reg van die kerke aanvanklik van gereformeerde kant uitgegaan het,90 het dit spoedig uitdrukking gevind in die groot sinodes van die Bekennende Kirche waarin Gereformeerdes, Lutherane en Unierten saam getuienis afgelê het van die Bybelse belydenis oor die wese en regering van die kerk. In die Theologische Erklärung zur gegewärtigen Lage der Deutschen Evangelischen Kirche wat by die eerste Barmense Sinode van 1934 aanvaar is,91 word met ronde woorde verklaar dat die kerk met sy geloof en gehoorsaamheid, sy boodskap en sy inrigting daarvan getuienis moet aflê dat hy die eiendom van Jesus Christus alleen is en enkel van Sy troos en leiding mag lewe (derde stelling). Dit word as ‘n valse leer van die hand gewys dat die kerk die gestalte van sy boodskap of ordening volgens eie goeddunke mag inrig of aan die wisselende wêreldbeskoulike of politieke oortuigings mag oorlaat (derde stelling). Vir die Bekennende Kirche het dit beteken dat hulle onvoorwaardelik wou standpunt inneem op die waarheid dat die belydenis en die orde van die kerk onlosmaaklik aan mekaar verbonde is.92 Max Schoch verklaar: “Zum kirchenrechtlichen Ertrag (des Kirchenkampfes) gehört in erster Linie die Einsicht in die prinzipielle Einheit von Botschaft and Gestalt der Kirche”.93 Dit beteken nie net dat die kerkorde geen bepalinge mag bevat wat met die belydenis van die kerk in stryd is nie, maar ook dat elke bepaling van die kerkorde op sigself ‘n belydenis moet bevat aangaande die feit dat Christus alleen die Here van die kerk is.94 Dit beteken egter ook dat die kerk hom in alles deur die Woord van God moet laat lei en dus prakties die Woord van God in hom moet laat regeer en nie allerlei menslike ideologieë nie. Daarom bevat die Barmenverklaring veel meer as net uitsprake oor die inrigting van die kerk. Dit begin met ‘n belydenis dat Jesus Christus soos Hy in die Heilige Skrif betuig word, die één Woord van God is waarna ons moet luister en wat ons in lewe en sterwe moet vertrou en gehoorsaam (eerste stelling).95 Daarna word die bevrydende heerskappy van Christus oor alle lewensterreine uitgespreek (tweede stelling), terwyl Sy aktuele en persoonlike regering in die gemeente bely word (derde stelling). Vanuit hierdie erkenning van die heerskappy van Christus vloei dan vir die inrigting van die kerk die belangrike beginsel voort dat die kerk geen Führer ken nie alle ampswerk is enkel diens (vierde stelling).

Toe hierdie basiese beginsels van die kerkregering eenmaal reggestel is, kon daaruit ook die ander belangrike waarhede van die Bybelse kerkreg voortvloei. Ons hoor spoedig weer in Duitsland met klem die prinsipiële verskil tussen kerkreg en wêreldlike reg na vore kom. Ons hoor dit as ‘n onmoontlikheid van die hand wys dat die kerk regeer kan word met denkbeelde aan die privaatreg of die staatsreg ontleen.96 Die plaaslike gemeente as versameling van gelowiges rondom die gepredikte Woord word weer as grondsteen van alle Bybelse kerkreg erken, en van die kerkorde word weer verklaar dat dit ‘n Gottesdienstordnung moet wees.97 Die juridiese en reglementêre bestuur van die kerk word as basies verkeerd verwerp, en daar word geroep om ‘n vorm van kerkregering waaruit duidelik sal blyk dat die kerk ‘n Christokratiese broederskap is.98

In Nederland het die kerkregtelike deurbraak eers gedurende die besettingstyd (1940-1945.) gekom. Anders as wat in Duitsland die geval was, is die Nederlandse Hervormde kerk meer as ‘n eeu lank gekonfronteer met ‘n Bybelse protes teen sy onbybelse kerkreg. Tog het nóg die kerkregtelike krisis waarvoor die Afskeiding en die Doleansie die Hervormde Kerk geplaas het, nóg die boodskap van manne soos Groen van Prinsterer, Hoedemaker en Gunning daarin geslaag om in die toestand ‘n verandering te bring. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog kon verskillende faktore egter meewerk om die kerkregtelike deurbraak. wat eintlik al lankal voorberei is deur die nuwe teologiese ontwikkelinge van die twintigste eeu, tot werklikheid te laat word.99 Die grootste wonder van die tyd was egter dat die Hervormde Sinode onder die invloed van enkele buitengewone figure sy “reglementêre” grense ver te buite gegaan het en ‘n geestelike taak verrig het wat eintlik nie meer verwag kon word van ‘n liggaam wat so lank niks anders wou wees as ‘n bestuur wat ‘n bloot “burgerlike” orde in die kerk handhaaf nie.100 Die gevolg was dat daar in 1950 deur die Hervormde Kerk ‘n nuwe kerkorde aanvaar kon word wat in alle opsigte bedoel was om terug te keer tot die presbiteriale kerkreg. ‘n Totaal nuwe gees beheers die nuwe kerkorde. Hier word in kerklike taal gespreek. Die Koningskap van Christus oor die kerk word deur die geheel veronderstel en bely. Die eenheid van kerkorde en belydenis staan deurgaans op die voorgrond.101 Die reorganisasiestryd in die Nederlandse Hervormde kerk kan, net soos die Duitse Kerkstryd, beskou word as ‘n moment in die stryd om die regering van Christus in Sy kerk. Die invoering van die nuwe kerkorde is dan ook ‘n gebeurtenis van betekenis vir die ganse Christelike Kerk, omdat dit ‘n openbaring is van ‘n teologiese verandering van onberekenbare groot gewig.

III

In die Reformasie is die klerikalisering van die kerkreg met groot beslistheid verwerp en die persoonlike en aktuele regering van Christus in Sy kerk as die basis van alle kerkreg geproklameer. In die kerkregtelike ontwikkeling van die jongste tyd, waarvan die genoemde voorbeelde uit die Duitse Kerke en die Nederlandse Hervormde Kerk as illustrasie kan dien, is ook die sekularisering van die kerkreg van die hand gewys en ‘n uitgesproke poging aangewend om terug te keer tot die Reformatoriese posisie met uitgangspunt die belydenis van die persoonlike regering van Christus in Sy kerk. Met die aanvaarding van hierdie Reformatoriese basis van die kerkreg is alle probleme egter nog nie opgelos nie. Dit blyk immers al dadelik ‘n uiters moeilike saak te wees om aan die belydenis van die persoonlike regering van Christus deur Sy Woord in die kerkorde ‘n konkrete uitdrukking te verleen op sodanige wyse dat die Woord van God werklik in die kerk regeer en nie tog maar weer die mens nie. Dit is nie genoeg om maar net vooraan die kerkorde ‘n belydenis van die Koningskap van Christus te plaas nie. Die kerk kan nie bepaal dat Christus hom moet regeer nie. Dit gaan in die Christusregering om iets waaroor die kerk nie kan beskik nie, om iets waarvoor die kerk moet bid en waarop die kerk moet wag. Dit gaan in die Christusregering ook om die korrelasie tussen ‘n daad van Christus en die geloofsgehoorsaamheid van die kerk. Geen enkele kerkordelike bepaling kan dus waarborg dat die Woord van God nie op die agtergrond gedring sal word en dat – soos in die Duitse Kerkstryd – menslike ideologieë nie vir die kerk meer gewig sal dra as die Woord van God nie. Met die beste kerkorde ter wêreld kan die kerk hom nog afsluit teenoor die Woord van God.

Tog mag hieruit nie afgelei word dat die kerkorde dus ‘n onverskillige saak is en dat daar kerkregtelik niks gedoen kan word om die belydenis van die Koningskap van Christus konkreet uitdrukking te laat vind nie. Ons het tevore daarop gewys dat die kerkordes uit die Reformasietyd bedoel om ruimte te maak vir die vrye loop van die Woord van God waardeur Christus regeer. Dit is ‘n basiese vereiste vir elke kerkorde wat Bybels wil heet. Juis daarom moet die kerkorde egter ook voorsorgmaatreëls tref teen elke vorm van menseheerskappy in die kerk. Elke kerkorde wat nie sorgvuldig waak teen die regering van die mens in die kerk nie, al sou so ‘n kerkorde nou ook beheers word deur watter ander mooi beginsels, skiet juis op die kardinale punt te kort. Dit geld selfs binne die presbiteriale stelsel van kerkregering, waarvan bekend is dat dit by uitnemendheid voorsorg tref teen elke vorm van hiërargie in die kerk. Rieker het reeds die verskillende maniere opgesom waarop die gereformeerde kerkreg hierdie voorsorgmaatreëls tref. Hy noem die feit dat die ampsdraers niks anders is as dienaars van Christus nie; dat alle ampsdraers gelyk is; dat alle gewigtige beslissings steeds deur ‘n aantal ampsdraers gemeenskaplik geneem word, nooit deur een alleen nie; dat die „leke”-element in die kerkregering ingeskakel word om die hiërargie teen te gaan en dat alle vergaderinge ‘n godsdienstige karakter dra.102

Gemeet aan hierdie maatstaf. moet ‘n mens erken dat daar in die nuwe kerkordes veel is wat werklik waardeer moet word, veral in die kerkorde van die Hervormde Kerk. Tog voel ons minder gelukkig oor die sterk sentraliserende tendens wat in mindere of meerdere mate by al die nuwe kerkordes opgemerk kan word, soos nie alleen blyk uit die feit dat al die Duitse kerkordes voorsiening maak vir die leiersfiguur van ‘n biskop of Kirchenpräsident nie, maar ook daaruit dat in al die nuwe kerkordes (ook dié van die Hervormde Kerk) weer klein uitvoerende instansies voorsien word waaraan betreklik veel bevoegdheid toevertrou word, sonder dat hulle in direkte kontak met die gemeentes staan.103 Dit word ongetwyfeld gedoen om aan die kerklike organisasie soveel effektiwiteit as moontlik te verleen. Die argument daarby is dan altyd dat die kerk tog ‘n adres moet hê en vinnig moet kan optree. Tog is ons daarvan oortuig dat die Dordtse Kerkorde veel suiwerder is deurdat hy sorgvuldig waak teen die regering van enkeles in die kerk. Al beteken dit dat die Dordtse Kerkorde nie dieselfde effektiewe funksionering waarborg as die nuwe Duitse kerkordes met hulle Kirchenleitungen en die Hervormde kerkorde met sy moderamina nie, bly dit nog ‘n feit dat nie effektiewe funksionering nie, maar ‘n effektiewe beskerming van die Christus-regering in die kerk vir ons die vernaamste beginsel van kerkorde moet bly.

Na ons oortuiging laat Rieker egter die vernaamste voorsorgmaatreël teen menseheerskappy in die kerk ongenoem. Dit is dat die kerkorde duidelik moet maak dat die Woord van God die grens van alle kerkregering is en dat daar dus voortdurend in die kerk ruimte moet wees vir die kontrolering van elke kerklike handeling of beslissing deur die Woord van God. Ons het reeds gesien hoe sterk die Reformatore hierdie beginsel beklemtoon het. Die toets vir ‘n Reformatoriese kerkorde is of dit ten volle erns maak met hierdie beginsel.

Dat die Woord van God die grens van alle kerkregering is, beteken dat ampsdraers en kerkvergaderinge onder geen omstandigheid die reg of bevoegdheid het om die kerk op hulle eie te regeer en die grens van Gods Woord te oorskry nie. Daarom moet die kerkorde dit duidelik maak dat geen ampsdraer of kerkvergadering die laaste sê in die kerk het nie. Dit kom aan die Woord van God alleen toe. Die kerk moet dit wéét en dit ook kerkordelik duidelik maak dat hy in al sy beslissings op die hegte fondament van die Skrif moet staan en geen gesag het om die lidmate te bind aan iets anders as aan die Woord van God nie. Juis op hierdie punt wys Calvyn die Roomse kerk af.104 Die kerk het geen bevoegdheid om sy lidmate te bind aan menslike vindinge, aan wêreldbeskoulike of ideologiese opvattinge wat nie met die Woord van God en die belydenis van die kerk gegee is nie. Hierdie grens is in die Duitse Kerkstryd oorskry. Daarom is dit jammer dat die nuwe Duitse kerkordes dit nie meer uitgesproke stel dat die gesag van die kerk se beslissinge enkel geleë is daarin dat die kerk hom onomwonde kan beroep op die gesag van die Skrif nie. Dit geld in die besonder ook van die kerklike tug. Die tug mag nooit verder gaan as die Skrif en lidmate tugtig oor allerlei aangeleenthede wat nie onmiskenbaar duidelik sonde teen God en die heiligheid van Sy verbond is nie.105 Hierdie grens is meermale oorskry in die ou kollegialistiese kerkreg, waar die tug dikwels of meestal gegaan het oor allerlei formele puntjies en die sogenaamde oortreding van menslike bepalinge wat geen grond in die Skrif het nie. Die kerk maak dan bepalinge waarvoor hy hom nie op die gesag van die Skrif kan beroep nie en tug lidmate omdat hulle hul nie aan dergelike bepalinge hou nie. Dit is jammer dat die nuwe kerkordes nie op hierdie punt ook duideliker laat word dat so iets onhoudbaar is nie, omdat dit die karakter van die kerklike tug ten enemale verkrag en verlaag en niks meer met die hantering van die Bybelse sleutelmag te doen het nie.

Omdat die Woord van God die grens van alle kerkregering is, moet die kerkorde ruimte maak vir die kontrolering van elke kerklike handeling of beslissing deur die Woord van God. Daarvoor is meer nodig as net dat die kerklike beslissings deur meer as een dienaar in gemeenskap met mekaar geneem word. Daarvoor is nodig dat daar ruimte sal wees vir die hele Christelike gemeente om voortdurend by elke handeling en beslissing van die kerk te weet dat die laaste woord by die Skrif lê en om dus voortdurend die toets van die Woord van God by die handelinge en beslissings van die kerk aan te lê. Die struktuur van ‘n Reformatoriese kerkorde moet sodanig wees, dat dit ‘n prinsipiële openheid vir die kontrole deur die Woord van God openbaar. ‘n Reformatoriese kerkorde moet daarvan uitgaan dat die Woord van God krag het om in die boesem van die gemeente die insig te werk of ‘n bepaalde handeling of beslissing van die kerk volgens Gods Woord is of nie. Geen kerkvergadering mag dit vir homself opeis dat hy die Woord van God onfeilbaar geïnterpreteer het of in sy beslissings vanselfsprekend binne die grense van die Woord van God gebly het nie. Die leiding van die Heilige Gees is aan die kerk as sodanig belowe, maar beteken nie vanselfsprekend dat kerklike vergaderinge sonder meer in alles deur die Heilige Gees gelei word nie. Daarom mag die kerk nooit wegskram van die toetsing deur die Woord van God van die kant van die hele gemeente nie. Na die mate waarin die kerkorde die weg vir die profetiese kritiek van die gemeente bemoeilik, na dié mate is die openheid vir die finale seggenskap van die Woord van God in die kerk in die gedrang gebring. Die kerk mag nie met ‘n beroep op die onderworpenheid wat die gemeentelede aan hulle voorgangers moet betoon, die profetiese vryheid van die lidmate van die kerk inperk nie. ‘n Protestantse kerk is ‘n kerk wat die moed het om die voortdurende worsteling met die Woord van God in eie midde aan te moedig en as dit nodig is, daardeur versteur te word.

Ook in hierdie opsig munt die Dordtse Kerkorde ver uit bo die nuwe kerkordes. In art. 31 word die bindendheid van ‘n kerklike beslissing afhanklik gestel van die vraag of dié beslissing nie in stryd met die Woord van God of die kerkorde is nie. Dit geskied weliswaar in die konkrete artikel net met die oog op beslissings wat geneem word in geval van appèlle, maar is tog kennelik van basiese betekenis vir die hele kerkorde. Daardeur word dit duidelik dat die Woord van God die grens is van alle kerklike gesag en dat kerklike beslissings voortdurend onderwerp moet word aan die kontrole van die Skrif. Dit is jammer dat die nuwe kerkordes ook op hierdie punt nie ‘n veel duideliker taal spreek en kerkordelik rekening hou met die moontlikheid van dwaling by die kerklike vergaderinige, sowel as met die noodsaaklikheid dat die hele gemeente vanuit die Woord van God die grenswag moet betrek by wat die kerklike vergadering doen nie. Daardeur dreig die openheid van die kerkorde om verlore te gaan en ontstaan weer ‘n geslote sisteem, waarvan die indruk uitgaan dat as die Sinode gepraat het, alles afgehandel is, so goed as wat dit sou geld: Roma locuta, causa finita est.

Natuurlik is dit uiters moeilik om hierdie beginsel in die kerkorde in te bou. Die gevaar is natuurlik altyd daar dat die kerk in independentistiese vaarwater kan beland as elkeen op sy eie of selfs die plaaslike kerkrade net dié besluite as bindend aanvaar, wat volgens hulle eie oordeel met die Skrif ooreenkom. Aan die ander kant is dit egter ook moontlik dat die kontrole vanuit die Skrif kragteloos gemaak kan word, deurdat eenvoudig uitgegaan word daarvan dat die besluite van kerklike vergaderinge bindend is en uitgevoer moet word en dat besware daarteen, al word dit ook op die Skrif gegrond, alleen langs ‘n moeilike ompad en na verloop van ‘n aantal jare (by. by ‘n volgende sinode) onder die aandag gebring kan word. Intussen loop die beswaardes dan ook nog gevaar om, ten spyte van hulle besware, met die kerklike tug gedwing te word om te konformeer aan besluite wat hulle in stryd met Gods Woord ag! ‘n Reformatoriese kerk kan nie hierdie weg opgaan nie.

Hierdie hele aangeleentheid het sterk onder die aandag gekom deur die stryd in die Gereformeerde Kerke in Nederland, wat uitgeloop het op die sg. Vrymaking van 1944.106 Die kerkregtelike aspek van die stryd het veral gewentel om die interpretasie van die genoemde artikel 31 van die Dordtse Kerkorde. Proff. Schilder en Greydanus met hulle medestanders het volgehou dat die artikel nie alleen impliseer dat elke beslissing van die meerdere vergaderinge deur die kerkrade getoets moet word nie, maar ook dat sulke beslissings alleen geldig word, deurdat die kerkrade die beslissings ratifiseer of bekragtig. Vind ‘n kerkraad nou egter ‘n besluit in stryd met die Skrif of die kerkorde, dan mag hy dit naas hom neerlê.107 Dit is duidelik watter gevolge hierdie opvattings vir die kerklike lewe kan hê. Die Gereformeerde Kerke het met reg gevrees dat hierdie siening en die ooreenkomstige optrede waartoe prof. Schilder die kerkrade opgewek het, tot chaos moes lei.108 Prof. Schilder c.s. kon hulle wel op bepaalde uitsprake van Rutgers uit die Doleansietyd beroep,109 maar die Sinode het die interpretasie van art. 31 met klem van die hand gewys. Volgens die standpunt van die Sinode moes die bewys van die onskriftuurlikheid of kerkregtelike onjuisheid van ‘n besluit gelewer word voor die vergadering wat die besluit geneem het. Tot tyd en wyl die betrokke vergadering van die verkeerdheid van sy besluit oortuig is, bly die genome beslissing egter van krag. Daarom het die Sinode ook tug toegepas op diegene vat hulle nie aan die besluite wou onderwerp nie.110

Dit is vir ons doel hier onnodig om aandag te gee aan die ander kerkregtelike vrae vat in die stryd aan die orde was.111 Die aangrypende van die kerklike stryd is vir ons die feit dat die beswaardes geveg het met die bewussyn dat dit hulle gaan om die behoud van die heerskappy van Christus deur Sy Woord in die kerk en die uitbanning van alle menslike heerskappy.112 Daarteenoor het die Sinodales gestry met die oortuiging dat die orde in die kerk eenvoudig eis dat die kontrolering van besluite van meerdere vergaderinge nie op sodanige wyse sal kan geskied, dat dit die goeie orde eenvoudig ophef nie. Na ons mening het albei kante vir ‘n regmatige saak gestry. Daarom te meer is dit so ‘n treurige geskiedenis dat die partye mekaar nie kon vind nie.

Vir ons wat van buite af kyk, is dit in elk geval duidelik dat ‘n goeie kerkorde tussen die twee uiterstes sal moet deurgaan en die goeie uit elke standpunt sal moet behou. Dit moet vasstaan dat die grens vir alle kerkregering enkel die Woord van God is, wat moontlik ook deur die indiwidu beter gehoor kan word as deur ‘n hele kerklike vergadering. Getalle is geen waarborg van suiwerheid nie. Maar dit moet ook vasstaan dat besware teen kerklike besluite op ‘n ordelike manier hanteer sal moet word alvorens kerkrade of lidmate hulle van dergelike besluite kan afmaak. Daartoe is dit nodig dat die bindende betekenis van kerklike besluite aanvaar moet word en dat die gedagte van ratifikasie van die hand gewys moet word. Terselfdertyd is daartoe egter óók nodig dat skriftuurlike besware teen kerklike besluite vryelik uitgespreek sal moet word. Die kerkorde moet dit selfs aanmoedig en lidmate onder die verpligting stel om met skriftuurlike besware na vore te kom, want dit gaan in die kerk om die waarheid van die Skrif, wat teen elke prys gesoek moet word. Daar mag onder geen omstandigheid gediskrimineer word teen lidmate wat besware na vore bring nie en hulle mag nie aan beperkinge onderhewig gemaak word wat die indruk wek dat die kerk liewer met rus gelaat wil word nie. Daarby moet die kerk met die grootste toleransie te werk gaan met beswaarde lidmate. Selfs in kwessies wat die belydenis raak, moet die kerk uiters versigtig wees om lidmate met skriftuurlike besware eers alle geleentheid te gee om gehoor te word en nie met die tug teen hulle optree, voordat die saak tot die einde toe uitgepraat en deurgebid is nie. Soveel te meer geld dit nog van sake wat nie die belydenis van die kerk raak nie. Die kerk mag nooit en nêrens die indruk maak dat die meerderheid in die kerk regeer en dat almal eenvoudig aan ‘n meerderheidsbesluit moet konformeer, of hulle beswaard voel of nie. In die kerk gaan dit om die heerskappy van die Woord, nie die heerskappy van die meerderheid nie. Dit gaan om ooreenstemming, nie oor-stemming nie. Juis daarom moet die kerk tot die uiterste gaan om lidmate met skriftuurlike besware nie te dwing om mee te werk aan die uitvoering van besluite waaroor hulle beswaard voel nie. Dit is met dankbaarheid dat opgemerk moet word dat die nuwe kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland hierdie beginsels in groot mate verdiskonteer het.113 Reeds dit op sigself is ‘n positiewe vrug van die droewige stryd rondom die Vrymaking. Tog is ons daarvan oortuig dat die probleme waarvoor ons hier staan, nl. hoe om alles te weer wat die persoonlike en direkte heerskappy van Christus deur Sy Woord in die kerk in die weg staan, in laaste instansie deur geen kerkordelike bepaling adekwaat opgelos kan word nie. Na alles gedoen is om die kerkorde so suiwer as moontlik te maak, sal nog onthou moet word dat die kerk op elke tree van die weg bedreig word deur ongehoorsaamheid en verset teenoor die Woord van God. Daarom sal die gebed vir die kerk nooit ‘n blote formaliteit mag word nie. Die kerk sal voortdurend biddend moet bly om in nederigheid en beskeidenheid, bewus van eie feilbaarheid, enkel na Gods Woord te luister al word die Woord ook aan die kerk verkondig deur die indiwiduele lidmaat wat miskien opmerksamer luister as ‘n hele formele kerkvergadering. In laaste instansie sal die kerk moet bly bid om die genade om homself nie te wil handhaaf teenoor Gods Woord nie, maar om ruimte te maak vir die Woord, waardeur Christus alleen wil regeer in Sy kerk. ‘n Goeie kerkorde is ‘n kerkorde wat duidelik maak dat die kerk na alle kante toe oop wil bly vir die Woord van Hom wat alleen die Here van die here en die Koning van die konings is.

Voetnotas

1. Vgl. J. du Plessis, Christus as Hoof van Kerk en Kosmos, 1962; J. H. Roberts, Die Opbou van die Kerk volgens die Efesebrief, 1963, 92 e.v.

2. Vgl. Sondag 21 van die Heidelbergse Kategismus.

3. Vgl. A. J. Bronkhorst, Schrift en Kerkorde, 1947, 208 e.v.; A. A. van Ruler, Bijzonder en Algemeen Ambt, 1952, 70 e.v.

4. Vgl. K. Barth, Kirchliche Dogmatik IV, 2, 770.

5 Vgl. A. A. van Ruler, a.w., 74 e.v.

6. Vgl. G. C. Berkouwer. Het Werk van Christus, 1953, 229 e.r., 253 c.v.; J. L. Koole, Liturgie en Ambt, 1949, 72.

7 Vgl. H. Bavinck. G eref. Dogmatiek: 1V, 355; A. Kuyper, Tractaat van de Reformatie der Kerken, 15

8. Vgl. bv. die voorbeelde aangehaal deur Pous Pius XII in sy ensikliek :Mystici Corporis Christi van 1943. Verder: M. Schmaus, Katholische Dogmatik, III, 1, 271.

9 Vgl. Denzinger, Enchiridion Symbolorum., Ed. 29, 219; H. Bettenson Documents of the Christian Church, 160; die ensikliek Mystici Corporis Christi, 10-14 en 54-55; A. Mitterer, Geheimnisvoller Leib Christi, 1950, 146 e.v.

10 Vgl. H. Berkhof, Geschiedenis der Kerk, 198, 303; Schmaus, a.w., 801 e.v.

11 Vgl. A. von Harnack, Christus Praesens — Vicarius Christi, Sitzungsberichte der preusz. Akademie der Wissenschaf ten, 1927, 415 e.v.

12 Vgl. F. Diekamp-K. Jiissen, Katholische Dogmatik, 1954, III, 346 e.v.

13. Vgl. G. C. Berkouwer, Conflict met Rome, 1949, 26 e.v., veral 38 e.v.

14 Mystici Corporis Christi, 54-58; vgl. Mitterer, a.w., 148-149; Carl Feckes, Die Kirche als Herrenleib, 1949, 75 e.v.

15 Hierdie waarheid geld vir die Rooms-Katolieke kerk veral ten opsigte van alle beslissings insake leer en lewe wat deur die geestelike leerstand geneem word. Vgl. I. Klug, Het Katholike Geloof, 1940, 545-546.

16 K. Barth, Kirchliche Dogmatik I, 1,100

17 Vgl. vir Luther in die Weimarer Ausgabe van sy werke, deel 8, 683; deel 52, 269; deel 47. 120: deel 51, 15 ens. Wat Calvyn betref, vgl. bv. Institusie, IV, I, 5; IV, III, 1.

18. Vgl. W. A. (Weimarer Ausgabe van Luther se werke) deel 45, 309: „Darumb soll man den Bapst verfluchen and verdammen mit seinem Frevel, das er sich zum Heubt der Christenheit gemacht hat. Denn Jhesus Christus, Gottes Son … ist das Heubt des Leibes, nemlich der Gemeine … “

19. Vgl. W.A., XLV, 310.

20. Vgl. Inst. IV, VI, 10.

21. Vgl. A. J. Bronkhorst, a.w-., 204-207; Diesel, Die Theologie Calvins, 192; H. Bouwman, Geref. Kerkrecht 1, 240-241; E. Sehling, Geschichte der prot. Kirchenverfassung (tweede druk), 40; W. Kreck, Ordnung and Ämter der Kirche als Zeugnis der freien Gnade, Evangelische Theologie VII, 1947/48, 129-132; Geddes McGregor, Corpus Christi, 1959, 55; J. Weerda, Ordnung zur Lehre, Calvinstudien, Neukirchen, 1959, 148.

22. Inst. IX, IX, 1: „ … ut nihil scilicet Christo derogetur.”

23. Inst. IV. VIII. 1: ..Porro aedificandae Ecclesiae una haec ratio est, si ministri ipsi suam Christo authoritatem conservare student, quae salva aliter esse non potest quam si id ei relinquatur quod a Patre accepit: nempe ut sit unicus Ecclesiae magister.”

24. Vgl. W. Geesink. Gereformeerde Ethiek, I, 386; H. Dooyeweerd, De W.ijsbegeerte der Wetsidee, III. 489 e.v.

25. Inst. IV. III, 1: “… ut voluntatem nobis suam ore coram declaret, hominum ministerium in hoc adhibere . . . non. ad eos ius suum honoremque translerendo . . . “

26 Inst. IV-. X. 28: “qui praesunt.”

27 Vgl. C. J. H. de Wet. Die Kollegiale Kerkreg, 1921, 121; H. Bavinck, Geref. Dogmatiek IV. 388-389.

28 Vg1. A. J. Bronkhorst, a.w., 203, 221 e.v.

29 Inst. IV, III, 1.

30 Vgl. Confessio Augustana en die Apologia Conf. Aug., art. XXVIII.

31 Inst. IV, VIII, 9: „ . . . sed omnia in verbo Dei.” Vgl. ook IV, VIII, 13: „Hoc igitur est discrimen. Illi Ecclesiae authoritatem extra verbum Dei collocant: nos autem volumus verbo annexam, nec ab eo seperari patimur.” Vgl. ook die Tweede Helvetiese Konfessie, art. 16.

32 Vgl. Confessio Augustana, art. XXVIII.

33 Inst. IV, X, 7: „Id si rite expendimus, nefas esse ad hominem transferri quod Deus suum unius facit: intelligemus ita praecisum quicquid sibi potestatis vendicant qui se ad aliquid in Ecclesia iubendum sine verbo Dei efferre volunt.”

34 Vgl. by die Smalkaldiese Artikels, Tractatus de Potestate et Primatu Papae.

35 Inst. IV, IX, 9.

36 Vir Calvyn, vgl. Inst. IV, IX, 3-7. Van Lutherse kant: Conf. Augustana en Apol. Conf. Aug., art. VIII.

37 Apologia Conf. Aug.. art. 1XVIII, reël 20 e.v.

38 Inst. IV, IX, 12: “Illi igitur spirituales nobis erunt Praefecti qui a Lege Domini neque hue neque illuc deflectent.”

39 Inst. VI. VIII, 2: “Proinde hic meminisse oportet, quicquid authoritatis ac dignitatis Spiritus in Scriptura, sive Sacerdotibus, sire Prophetis, sive Apostolis, sive Apostolorum successoribus defert, id totum non proprie hominibus ipsis, sed ministerio cui praefecti sunt dari: vel (ut expeditius loquamur) verbo, cuius ministerium illis est commissum.” Vgl. ook Inst. I1, XI. 1 en Inst. IV, VIII, 4: „Non est igitur potestas Ecclesiae infinita. sed subiecta verbo Domini, et in eo quasi inclusa.” Verder: F. _Wian, nde 1’Eglise Reformée de France, 1947, 10; Corpus Reformatorum (Ed. Baum, Cunitz et Reuss), XXIX, 196; F. L. Rutgers, De Beteekenis der Gemeenteleeden als zoodanig volgens de beginselen die Calcijn, toen hij openlijk optrad, heeft ontwikkeld en toegepast, 1906. 21.

40 C. Veenhof, Om de „Unica Catholica”, 1949, 302.

41 Vgl. Inst. IV, X. 27-32.

42 Vgl. Inst. IV, X, 31

43 Inst. IV, VI, 10.

44. Vgl. H. Bouwman. Gereformeerd Kerkrecht, I, 351-352; K. Sietsma. De Ambtsgedachte. 84 e.v.

45. Inst. IV, XI, 1-2. Vgl. veral in IV. XI. 1: “Habemus, potestatem clavium esse simpliciter in illis locis Evangelii praedicationem: nec tam potestatem esse quam ministerium, si ad homines respicimus. Non enim hominibus hanc potestatem proprie Christus dedit, sed verbo suo, cuius homines ministros fecit.”

46. Vgl. die Nederlandse Geloofsbelydenis, art. 32 en A. D. R. Polman, Onze .Nederlandsche Geloofsbelijdenis. IV, 60 e.v.

47. Vgl. Inst. IV, XI. 7-9. Ook W. O. Münter. Begriff und Wirklichkeit des geistlichen Amts. 1955, 27-29.

48. Vgl. A. A. van Ruler: Bijzonder en Algemeen Ambt, 76.

49. Vgl. Inst. IV, XI. 6; Mêjan, a.w., 11; A. A. van Ruler, Das Leben und Werk Calvins, Calvinstudien, 1959, 88; M. Bouwman, De Gereformeerde Opvatting omtrent den Schriftuurlijken Grondslag der Kerkregeering, 1940, 18. Lg. verklaar dat dit ‘ ‘n grondbeginsel van die geref. kerkreg is „dat meerderen, gemeenschappelijk en op voet van gelijkheid de kerkregeering waarnemen”.

50. Vgl. Inst. IV, IX, 2 en 12, asook Inst. IV, XI, 6; Conf. Aug. XXVIII.

51. Luther skryf in 1923 „Dass eine Christliche Versammlung oder Gemeine Recht oder Macht habe, alle Lehre zu urteilen und Lehrer zu berufen, ein- oder abzusetzen Grund und Ursach aus der Schrift”, W.A., deel XI, 408 e.v. Calvyn, Inst. IV, XI, 6; A. J. Bronkhorst, a.w., 184 e.v.: J. Bohatec, Calvins Lehre von Staat und Kirche, 1937, 480.

52 Vgl. H. Diem, Die Grenzen kirchlicher Gesetzgebung, Zeitschr. fur evangelisches Kirchenrecht, I, 235.

53 Vgl. Karl Holl, Gesammelte Aufsätze zur Kirchengeschichte, 7de druk. 1948, I, 352 e.v.; Bohatec, a.w., 296-297; H. Diem, Est autem ecclesia congregatio sanctorum in qua evangelium pure docetur, in Theologische Aufsätze Karl Barth zum 50. Geburtsdag, 1936, 325-326. Vir die posisie van Calvyn, vgl. veral Bohatec, a.w., 299, 313 e.v., 352 ens.

54 Vgl. H. Diem, Kirchenvisitation als Kirchenleitung, in: Ecclesia seper reformanda, Beischr. z. Zeitschr. fur Evangelische Theologie, 1953. 59-61.

55 Vgl. O. Weber, Versammelte Gemeinde, 1949, 73/74.

56 Vgl. Julius Schweitzer, Zur Ordnung des Gottesdienstes in den nach Gottes Wort reformierten Gemeinden der deutschsprachigen Schweiz, Kirchliche Zeitfragen XII, 1944.

57 Vir die teks van die Forma ac Ratio, vgl. A. L. Richter, Die evangelische Kirchenordnungen des 16. Jahrhunderts, 1871, I, 99-115. Dieselfde kerkinrigting word ook beskrywe in De Christelijke Ordinancien der Nederlantsche Ghemeinten te Londen, deur Maarten Micron uit 1554. ‘n Uitgawe daarvan, versorg deur dr. W. F. Dankbaar, het in 1956 verskyn. Vir ‘n bespreking van die Londense kerkinrigting, vgl. Lechler, Geschichte der Presbyterial- and Synodalverfassung seit der Reformation, 58 e.v. en K. Rieker, Grundsätze Reformierten Kirchenverfassung, 1899, 38 e.v.

58 Vir die teks van die First Book of Discipline, vgl. The Works of John Knox, collected and edited by David Laing, Vol. II, 1895, 183-285. Vir ‘n bespreking daarvan, vgl. J. H. S. Burleigh, A Church History of Scotland, 1960, 166 e.v.

59 Vir die teks van die kerkorde, vgl. W. Niesel, Bekenntnisschriften and Kirchenordnungen der nach Gottes Wort Reformierten Kirche, 140-218 en Richter, a.w., II, 257 e.v.

60 Vir die teks van hierdie kerkorde en ‘n oorsig oor die ontwikkeling daarvan, vgl. Kerkelijk Handhoekje van P. Biesterveld en H. H. Kuyper, 1905; F. L. Rutgers, Acta van de Nederlandsche Synoden der Zestiende Eeuw. 1899; H. H. Kuyper, Postacta of Nahandelingen van de Nationale Synode van Dordrecht in 1618 en 1619 gehouden.

61 Dit geld veral die kwessies van die sg. patronaatsreg en die verhouding tussen kerk en staat. Vgl. artt. 10, 37, 50, 64 en 66 van die Dordtse Kerkorde en die Postacta, 111-119.

62 Vgl. H. Diem, Theologie als kirchlichc Wissenschaft, 203 e.v. ; Karl Holl, a.w., 360; G. Ebeling, Luther 11: Theologie, in R.G.G. IV, kol. 511-512; Emil Sehling, Geschichte der prot. Kirchenverfassung, 2de druk. 1914, 40; P. Tsackert, Die Entstehung der lutherischen. and der reformierten Kirchenlehre, 1910, 181.

63 S. Grundmann, Geschichte der Ev. Kirchenverfassung, R.G.G. III, kol. 1577.

64 Vgl. A. Lang, Puritanismus und Pietismus, 1941, 95.

65. Aangehaal by Lechler, a.w., 19.

66 Vgl. H. Bouwman, Geref. Kerkrecht, I, 203-204.

67 Vgl. E. Wolf. Ordnung der Kirche, 1960-1961, 370 e.v.; K. Holl, Luther and das landesherrliche Kirchenregiment, Gesammelte Aufsätze I, 326; H. Diem, Theologie als kirchliche Wissenschaft, 207.

68 Oor die ontwikkeling van die Lutherse kerkregtelike denke, vgl. E. Wolf, a.w., 386 e.v.; Bouwman, a.w., 211 e.v.; S. Grundmann, a.w., kol. 1578 e.v.; M. Heckel, Staat and Kirche nach den Lehren der ev. Juristen Deutschlands in der ersten Hälfte des 17. Jahrhunderts, Zeitschr. der Savigny-Stiftung fur Rechtsgeschichte, Band 73,. Kan. Abt., 42, 1956, 117-247 en 43, 1957, 202-308.

69 [voetnota ookin oorspronklike uitgelaat]

70 Hierdie denkbeeld is veral in die kollegiale stelsel volledig uitgewerk. Vgl. U. Scheuner. Kollegialismus in R.G.G. III, kol. 1720-1721; C. J. H. de Wet, Die Kollegiale Kerkreg, 1921; M. Bouwman, Voetius over het Gezag der Synoden, 1937, 14-15; K. Rieker, Grundsätze reformierter Kirchenverfassung, 132 e.v.

71 Vgl. E. Wolf, a.w., 395-397.

72 Vgl. H. Bouwman. Geref. Kerkrecht I. 215.

72 Vgl. de Wet. a.w., 125 e.v.

73 Vgl. W. D. Jonker. Die liberale kerkreg en die veelheid van kerke. Ned. Geref. Teologiese Tydskrif. 1964, 3-9.

74. Vgl. A. Kuyper. Het Statuut van 1869. De Heraut, 1888, no. 550 e.v.

75. Vgl. O. Noordmans. Kerkelijk Denken V’ooruaarde voor Kerkorde, no. 6 in die Serie Onze Tijd. 8 e.v.

76. Vgl. Verklaring van de Kerkenordening van de Nationale Synode van Dordrecht, 1618-1619. klaslesings van F. L. Rutgers, uitgegee deur J. de Jong. 184 e.v.

77. Vgl. W. Volger, De Leer der Nederlandsche Hervormde Kerk, 25.

78 Vgl. H. Diem, Restauration oder Neuanfang in der Evangelischen Kirche? 1946. 54.

79 Hierdie smartlike gevolg van die kollegiale kerkreg spreek baie duidelik uit ‘n werk soos die van Volger (vgl. nota 77), veral uit die hoofstuk oor die Afskeiding. p. 75 e.v.

80 Prinsipieel gesien het alle kerkvergaderinge dieselfde gesag, omdat almal hulle gesag alleen aan die Woord van God ontleen, vgl. H. Bavinck, Geref. Dogmatiek IV, 411-416, veral 415. Die gereformeerde kerkreg ken geen hoër en laer gesag in die kerk nie en daarom ook geen hoëre en laere vergaderinge nie. Meerdere vergaderinge het dus geen hoër of andersoortige gesag as mindere vergaderinge nie. Hulle verteenwoordig slegs ‘n meerdere deel van die aantal plaaslike kerke wat in die kerkverband ingesluit is en neem dus besluite wat ‘n wyer gebied raak. Die gesag waarmee hulle spreek, kan slegs die gesag van die Woord van God wees en moet daarom deur die mindere vergaderinge eerbiedig word, tensy dit blyk dat hulle van Gods Woord afgewyk het. Alleen op die wyse kan art. 36 van die Dordtse Kerkorde sinvol verstaan word.

81 Vgl. K. Barth, Kirchliche Dogmatik. IV. 2. 771 e.v., 779-781.

82 Vgl. R. Voeltzel. Frankreich I. Kirchengeschichte, R.G.G. II, kol. 1039-1040; F. Méjan. Discipline Ecclésiastique, 38 e.v; L. von Muralt, Die Verfassung der Kantonalkirchen der Deutschen Schweiz, in EKKLESIA, III. 10, 1935. 37 e.v.; C. Stuckert, Kirchenkunde der reformierten Schweiz. 1910. 30 e.v.; Th. I.. Haitiema. Nederlands Hervormd Kerkrerht. 1951. 32 e.v.; G. van der Zee. Vaderlandsche Kerkgeschiedenis III. 1 72 e.v.; H. Frost. Die Rechtsstellung des Kirchenkreises der Er. Kirche im Rheinland. 1958. 33-42; H. D. Mittorp. Gab es in Westfalen vor 1817 eine Verschmelzung der Konfessionen? Ev.-Luth. Kirchenzeitung III, 1949. 284 e.v.

83 Vgl. J. C. A. van Loon, Het Agemeene Reglement van 1816, 1942.

84 Vgl. E. Wolf, a.w.. 402: W. Göbell, Die Rheinisch-Westfälische Kirchenordnung vom 5. März 1835, 2 dele. 1948 en 1954.

85. Vgl. H Bouwman. a.w., 316; O. Noordmans. a.w., 8 ex.; A. J. Bronkhorst, Op weg naar een nieuwe Kerkorde, 1945. 21 ev., 28 ev., 31 e.v.

86. Vg1. Wolf, a.w.. 400 e.v.

87. Vgl. R. Smend. Ev. Kirchenverfassung der neuesten Zeit in Deutschland, R.G.G., III, kol. 585.

88. Vgl. R. Smend, Wissenschafts- und Gestaltprobleme im evengelischen Kirchenrerht. Zeitschcr. für ev. Kirchenrecht VI. 1959, 228-229; H. Wehrhahn, Der Stand des Methodenproblems in der Ev. Kirchenrechtslehre. Zeitschr. für ev. Kirchenrecht I, 55 e.v.; Max Schoch, Evangelische Kirchenrecht and biblische Weisung, Zurich, 1954, 19 e.c.; W. Maurer, Von Ursprung and Wesen kirchlichen Rechts, Zeitschr. fur ev. Kirchenrecht V. 4 e.v.

89 Vgl. vir die besonderhede van die kerkstryd, Kirche im Kampf, herausgegeben von H. Hermelink, 1950: W. Niemoller, Kampf and Zeugnis der Bekennende Kirche, 1948: dieselfde, Die Ev. Kirche im Dritten Reich, 1956: K. D. Schmidt. Die Bekenntnisse and grundsätzlichen Äusserungen zur Kirchenfrage des Jahres 1933, 1934, 1935. 3 dele, 1934-1936: J. Beckmann. Kirchliches Jahrbuch 1933-1944. 1948; E. Wolf, a.w.. 425 e.v.

90 Vgl. R. Steiner. Der Weg der reformierten Kirchen und Gemeinden in 1933-1950 in: Kirchliches Jahrbuch 1950. herausg. von J. Beckmann, 1951. 228 e.v.

91 Vgl. vir die teks, W. Niesel, Bekenntnisschriften and Kirchenordnungen, 335 v.v.

92 Vgl. J. Beckmann. Der theologische Ertrag des Kirchenkampfes, in: Bekennende Kirche, Festschrift für M. Niemöller. 1952, 84.

93 Max Schoch, a.w., 71.

94 Vgl. H. Wehrhahn, Die Kirchenrechtliche Ergebnisse des Kirchenkampfes, Evangelische Theologie. VII, 1947, 318; R. Smend, Ev. Kirchenverfassung, R.G.G., III. kol. 1586-1587; Kreck, a.w., 127 e.v.

95 Vgl. W. A. Visser ‘t Hooft, Het Koningschap van Christus, 1947, 38 e.v.

96 Vgl. E. Wolf, Zur Rechtsgestalt der Kirche, in: Bekennende Kirche,. Festschrift fur M. Niemöller, 1952, 254 e.v.; J. Beckmann. Der Kampf der Bekennende Kirche im Rheinland um die presbyterial-synodale Kirchenordnung, Z. fur ev. Kirchenrecht, I, 137 e.v., 263 e.v.: Oskar Kühn, Die Neugestaltung des gemeindlichen Wahlrechts in der Ev.-Luth. Kirche in Oldenburg nach 1945, Z. für ev. Kirchenrecht, IV. 196 e.v.

97 Vgl. Hans Asmussen, Kirche Augsburgischer Konfession! Theol. Exist. Heute, 16, 1934, 26; W. Maurer, Die rechtliche Problematik der Lebensordnungen in der V’ELKD, Z. für ev. Kirchenrecht III, 229 e.v.; H. Wehrhahn, Kirchenrechtliche Ergebnisse, 320. Die invloed van Karl Barth by die kerkregtelike ontwikkeling in Duitsland is alombekend. Barth laat baie sterk die klem op die plaaslike gemeente val, so sterk, dat by selfs in die rigting van die kongregasionalisme beweeg. Vgl. Die Schrift and die Kirche, Theol. Exist. Heute, 22, 1947, 27, waar hy sê: “Eine Kirchenordnung die nicht von der Anschauung and vom Begriff der Gemeinde her entworfen ist, ist ihres Nahmens nicht wert.”

98. Vgl. Erik Wolf. Zur Rechtsgestalt der Kirche, 259; 0. Friedrich, Die neue Grundordnung der Ev. I.andeskirche in Baden, Z. fur ev. Kirchenrecht. VII. 4 e.v.

99. Vgl. O. Noordmans. a.w., 15 e.v.; Th. I.. Haitjema, Nederlands Hervormd Kerkrecht. 78 e.v. : 92 e.v.

100. VgI. Haitjema, a.w. 94 e.v.

101. Oor die nuwe kerkorde van die Hervormde Kerk, vgl. A. J. Bronkhorst, Een Gang door het Ontuerp-kerkorde. Nedl. Theol. Tijdschr., II, 1947/48, 206 e.v.;: A. A. van Ruler. Het Apostolaat der Kerk en het Ontwerpkerkorde, 1948; J. R. Wolfensberger. De .Nieuwe Kerkorde, In de Waagschaal, 15,. 115-115: O. Weber, Die Kirchenordnung der Niederländischen Reformierten Kirche von 1950, Z. fur ev. Kirchenrecht II, 225 e.v.

102. Vgl. Karl Rieker, a.w., 112 v.v.

103. Vgl. H. Diem, Die Grenzen kirchlicher Getzgebung, Z. fur ev. Kirchenrecht, I, 228-240; Die Ortsgemeinde in der Kirchenordnung, Ev. Theol., VII. 1947/48, 324-329; Kirchenleitung in der Synodalverfascunt, Ref. Kirchenzeitung. 1958, kol. 7-12; Dietrich Keller, Recht und Dienst in der Kirchenleitun, Ref. Kirchenzeitung, 1958, kol. 173 e.v. Vgl. daarteenoor J. Graeber, Die Kirchenleitung in der Synodal-verfassung, Ref. Kirchenzeitung, 1958, kol. 93 e.v., en: Zentralismus in der Ev.. Kirche des Rheinlandes, Ref. Kirchenzeitung, 1958. kol. 326 e.v.

104. Vgl. Inst. IV, X, 17-18. Vgl. veral die woorde uit paragraaf 17: “… facile nobis constabit, Eccleciam non esse, quae, praeteritis verbi Dei finibus, ferendis novis legibus lascivit ac luxuriat.” Vgl. ook Inst. IV, X, 30 en Inst. IV, X, 6.

105. Vgl. H. Bouwman, De Kerkelijke Tucht, 1912, 199.

106. Uit die groot hoeveelheid literatuur oor hierdie stryd noem ons slegs G. Janssen. De Feitelijke Toedracht, 1948; K. C. van Spronsen, De Waarheid luistert Nauw; R. H. Bremmer en J. P. van der Stoel, Overstemming of Overeenstemming?; J. Ridderbos, Kerkscheuring, Fen W’oord over de Crisis in de Geref. Kerken, 1944; M. Bouwman, Geen Rechtskrenking, 1945; die Sinodale rapporte uit die tyd, veral die Rapport inzake de verlangde opheffing van de over Prof. Schilder uitgesponken Schorsing, sowel as die Toelichting op het Synodebesluit tot schorsing van Prof. dr. K. Schilder.

107. Vgl. P. Deddens: De Ratificeering der besluiten van meerdere vergaderingen, 1946; R. H. Bremmc,r, Met onbevlekt blazoen., 13-16. 18-21; Van Spronsen, a.w., 19; C. Veenhof, In den Chaos, 6, 69 e.v., 76 e.v.; A. Vegter, Opwekking of Ophitsing.

108. Vgl. die Acta van die Geref. Kerke in Nederland, 1940-1943, artt. 785 en 849; Acta. 1943-1945, art. 392.

109. Vgl. Veenhof, a.w.. 317 e.v.; F. L. Rutgers en De Savornin-Lohman, De Rechtsbevoegdheid onzer Plaatselijke Kerken, 34 e.v.

110. Vgl. Janssen,140 e.v. ; 157 e.v. en 168 e.v.; Toelichting op het Synodebesluit tot schorsing van Prof. dr. K. Schilder ens.

111. Hierdie vraagstukke het die Gereformeerde Kerke gaande gehou sedert die Geelkerken-saak in 1926. Vg1. Joh. Jansen, De Bevoegdheid der Meerdere Vergaderingen en De Beginselen van ons Gereformeerd kerkrercht inzake de zaak Geelkerken; A.C. G. Proosdij, Recht in de zaak Geelkerken, 1925. en Dordt en Assen; P. G. Knibbe, Een Ban in onze Kerken. 1926; G. C. Gijben. De Groote Beteekenis van de Procedure tegen Dr. Geelkerken voor de Gereformeerde Kerken, 2de druk, 1925; Dr. J. van Lonkhuyzen. Een ernstige Fout, 1926, en Is het nieuwe kerkrercht niet een ernstige dwaling? 1939; M. Bouwman, Tweeërlei Kerkrecht. 1944: W. A. van Es Over de bevoegdheid tot schorsing en afzetting van ouderlingen en diakenen, 1946; verskillende artikels van H. H. Kuyper in De Heraut. bv. 1926 (no. 2503, 25515 en 2527). 1932 (no. 2865). 1933 (no. 2867); 1944 (no. 3455-3459).

112. Vgl. R. H. Bremmer en J. P. van der Stoel. Overstemming of Overeenstemming? 1944; P. Dedden, De Ratificeering. 6 e.v., 16 e.v. ens.

113 Vgl. met name art. 29(2) en 31 van die nuwe kerkorde van die Geref. Kerke. In 29(2) wand neergelê dat iemand met Skriftuurlike besware selfs verplig is om in appèl te gaan en in albei die artikels word bepaal dat daar groot versigtigheid en toleransie teenoor beswaardes moet wees..

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: