Die Bybel is reguit oor God se siening van die afgode. God laat nie toe dat die afgode enigsins aanspraak maak op verering nie. Ook nie dat sy volk wegkom met die sonde van afgodery nie. Die standaard maak Hy vroeg al vas wanneer die volk die Wet direk van Hom ontvang. Die eerste twee gebooie handel enersyds oor God se uniekheid en eenheid, en andersyds oor sy afsku in die aanbidding van die afgode wat nooit sy plek kan inneem nie. Dwarsdeur die Woord word die aanbidding van afgode dan ook vergelyk met die sonde van seksuele onreinheid, waardeur God baie duidelik afgodery tipeer en verder ook veroordeel. So is God dan dwarsdeur die Skrif die een wat sy posisie ten opsigte van die gode van die mens herhaaldelik bevestig: Hy is God, hulle nie.

Daar is veral twee verhale wat dit op amper humoristiese wyse vir ons wys. Die eerste is natuurlik die verhaal waar die ark van God weggeneem word deur die Filistyne en in hulle tempel geplaas word. Ons lees hiervan in 1 Samuel 5:1-7. Die Filistyne het gereken met hulle oorwinning oor Israel, het hulle god Dagon ook oor die God van Israel oorwin. Daarom sit hulle die ark in Dagon se tempel neer as ‘n teken van Dagon se heerskappy oor Jahwe. Wat ‘n verassing sou wag op die Filistyne – maar meer nog op Dagon. Vers 3:

Toe die Asdodiete vroeg die volgende môre daarheen gaan, sien hulle Dagon lê met sy gesig op die grond voor die ark van die HERE.

Kyk hoe vernederend dit was vir Dagon! In sy eie tempel, moet sy eie afbeelding op sy gesig lê voor die ark van die Here – so asof in herkenning van die feit dat hy werklik niks is in God se teenwoordigheid nie. Verder is die vernedering groot dat hy nie self op sy plek kan gaan staan vanwaar hy verneder is nie. Sy aanbidders moes hom terugsit. Maar die verhaal gaan voort. Vers 4:

Maar toe hulle die volgende môre vroeg opstaan, sien hulle Dagon lê met sy gesig op die grond voor die ark van die HERE; maar die hoof van Dagon en sy twee handpalms lê afgebreek op die drumpel: net Dagon se lyf het aan hom oorgebly.

O wee! Nou lê hy nie net op sy gesig voor die ark nie, maar nou is hy in stukke. Sy kop en hande afgebreek en net ‘n lyf wat oorgebly het. Hierdie vernedering was egter blywend deurdat sy aanbidders nou nie meer op die drumpel trap nie. Dink net wat deur hulle koppe gegaan het elke keer as hulle oor daardie drumpel moes hop: “Die God van Israel het onse Dagon verneder!” Op so ‘n praktiese vlak verneder God die afgode dat almal daarna voortdurend daaraan herinner is.

Die uiteinde in vers 7 is treffend. Daar word in soveel woorde herken dat God troon oor hulle liefste Dagon.

 

baal

Daar is nog so verhaal, een wat minder bekend is. Hiervan vertel 2 Konings 10:18-28. Jehu se taak is om van die afgodsdiens aan Baäl ontslae te raak. Hiervoor bedink hy ‘n plan om al sy dienaars bymekaar te kry in Baäl se tempel. Hy vertel hulle dat Agab se aanbidding van Baäl ‘n vulletjie sal wees teen die wyse waarop hy wat Jehu is vir Baäl sal vereer (vers 18). Uiteinde van die saak is dat Jehu se soldate al die Baälpriesters doodmaak. Maar kyk na verse 26-27:

En hulle het die pilare van die Baälstempel uitgebring en dit verbrand en die klippilaar van Baäl afgebreek en Baäl se tempel afgebreek en daar gemakhuisies van gemaak, tot vandag toe.

Nou ja, die was nie genoeg om net die tempel en sy pilare te verwoes nie. Hulle neem dit en maak “gemakshuisies” daarvan. Dit is nou volgens die 1933 / 1953 vertaling. As jy nou die Afrikaanse taal ken, is daar net een ding wat ‘n gemakshuise genoem word, en dit is ‘n toilet! So wrintiewaar – ‘n tempel verander in toilette. Die 1983 vertaling noem dit nog nader by die naam – “kleinhuisies”. Die ESV gebruik die interessante woord “latrine”, terwyl die King James dit ‘n “draught house” noem. Wat ‘n vernedering.

 

Ek is nie seker wie die gelukkigste was nie, Dagon of Baäl. Al wat ek weet is dat God beide hierdie gode verneder het tot die laagste status en hulle dienaars op ‘n baie praktiese wyse daaraan herinner het. Die dienaars van Dagon moes telkens oor die drumpel hop en daardeur aan sy vernedering dink; en wanneer iemand in Israel hierdie kleinhuisies besoek, nou ja ….

Ons is nogal geneig tot allerhande vorme van afgodery – enigiets waarmee ons God moontlik kan vervang. Vir sommige is dit baie duidelik beeldediens, vir ander meer subtiel. Die vorm daarvan bly ‘n ewe groot gruwel in die oë van God en Hy is geneig om die afgode tot baie laag te verneder. So, volgende keer as jy beplan om vir jou ‘n afgod te maak om God se plek in te neem, dink aan hierdie voorbeelde van vernedering en vra vir jouself of dit die moeite werd is om God te probeer onttroon.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *