Psalm 1

1 Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; 2 maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. 3 En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit. 4 So is die goddelose mense nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi. 5 Daarom sal die goddelose nie bestaan in die oordeel en die sondaars in die vergadering van die regverdiges nie. 6 Want die HERE ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan.

Dis nie sonder rede dat die Psalmboek met hierdie Psalm begin nie. Die Psalms spreek van baie persoonlike ervarings van God, sy karakter en werke, en die mens se verhouding met Hom. Die Psalms spreek soveel van die ervarings wat mense daagliks ervaar op ‘n baie konkrete wyse aan. Die gevaar is egter dat die Psalms benader word as ‘n boek oor persoonlike ervarings. Niks is verder van die waarheid as juis dit nie. Aan die basis van al die ervarings lê geweldig diepgewortelde geloofsoortuigings, wat vertaal in suiwer, soliede dogma wat in die gelowige se lewe geïntegreer is (dogma mag ook in elk geval nooit iets anders wees as juis dit nie). Soos op talle ander artikels oor dogma op hierdie webtuiste uitgewys, vind ons in die Psalms weereens die sterk fondament van suiwer leer waarop alle ander oortuigings en ervarings berus.

Psalm 1 skiet dan self nie tekort aan sy eie deel van leerstellings nie. Weliswaar word dit nie “volledig”1 hanteer nie, maar daar is genoeg verwysings na verskeie leerstellings dat dit nodig is om dit te noem. ‘n Vinnige lees deur hierdie psalm plaas onmiddelik die Skrif en die gelowige se verhouding tot die Skrif op die voorgrond, maar dit is nie die enigste leerstelling waarna hier verwys word nie. Die psalm fokus ons aandag verder ook op die dogmas van verlossing, afsondering / heiligmaking, oordeel, die hemel, die hel, die bewaring van die gelowige, selfs die goeie uitwerking van ‘n wandel met God! Aan die basis van dit alles lê egter die leer oor die Woord van God.

Die rol van die Woord van God in die lewe van sy kind kan nie onderskat word nie, soos uit hierdie psalm duidelik word. Daar is veral die volgende wat ons hieruit leer:
 

  • dit bring afsondering van die sondige wêreld

  • dit bewerk ‘n fokusverskuiwing

  • dit omvat die gelowige se hele bestaan

  • dit bring standvastigheid

  • dit bring vrug voort

  • dit bring seën 

  • dit skep ‘n ewigheidsperspektief

  • dit bou ‘n lewende verhouding met God

dit bring afsondering van die sondige wêreld

Vers 1 vertel van hierdie afsondering in negatiewe terme, met ander woorde die idee van aktiewe vermyding eerder as passiewe ontvlugting staan voorop. Dit mag egter nie los gelees word van vers 2 nie, anders eindig dit in die mens se vermoë om die sonde te vermy, wat hy uit sy natuurlike mensheid nie kan doen nie. Vers 2 begin begin met die belangrike woordjie “maar” om die kontras aan te dui met die ingesteldheid waarvan vers 1 praat. Waar vers 1 die gedagte van aktiewe vermyding voorop stel, fokus vers 2 op die kontras, naamlik aktiewe hantering van die “wet van die Here”. Die punt hier van belang is die vermyding van vers 1 en die totale kontras met die sondigheid wat in vers 1 geskets word. Die woordjie “maar” hou totale kontras voor. Nie vermenging van leefstyle nie. Die Woord van God se uitwerking is verseker radikaal weg van die sondigheid van die wêreld.

Hierdie is waarna die Woord verwys as “heiligmaking”. Dit het niks te make met ‘n hoogmoedige afkeur van die wêreld nie. Dit is weereens net ‘n verval in die sonde van hoogmoed en trots wat die self oppof. Die grondgedagte van heiligmaking lê in “afsondering” of “een kant plaas”. Verse 1 & 2 van hierdie psalm wys die afsondering mooi. Die regverdige vermy die sondige wêreld deur sy verhouding tot die Woord van God om aan die Skrif se boodskap en eise verbind te wees.

Voordat ons egter dink dat dit ons vermoëns is wat dit moontlik maak, bring die Skrif ons tot die waarheid van ons eie onvermoë om dit te reg te kry en by die genade van God wat dit in ons werk. Dit is juis deur die verhouding tot die Woord van God leer vers 2. Die mens is verdorwe in murg en been en kan niks uit homself vermag om die greep van sonde te ontsnap nie. Sou dit nie die geval wees nie, het die mens nie redding nodig gehad nie. Dan sou hy uit homself die kwaad kon vermy en die heilige najaag. Dit sou daarom die menswording van Christus oorbodig maak. Waarom al die moeite doen en deur al daardie swaarkry en pyn gaan, net vir iets wat die mens in elk geval uit sy eie sou kon vermag!

Tog leer die Bybel ons die teendeel. Trouens, die Skrif leer dat ons van geboorte af in sonde gedompel is en die effek daarvan word al hoe meer sigbaar soos wat ons hierdie wêreld beleef. Elke oomblik maak die sondigheid net ‘n nog groter aanspraak op die natuurlike, vleeslike mens in ons.

Vers 1 verwys na die omvang van hierdie sondigheid waarvan die regverdige afgesonder word:

– “die raad van die goddelose” – hier wandel hy nie meer nie
– “die weg van die sondaars” – hier staan hy nie meer nie
– “die kring van die spotters” – hier sit hy nie meer nie

Hierdie drie uitdrukkings tipeer die al hoe dieper betrokkenheid by die wêreld van sonde. Daar word verwys na “wandel-staan-sit” wat progressie aandui van meer gemaklik (wandel) tot betrokke (sit). Let op die gebruik van die verskillende frases. Om te wandel in die raad” hou in dat jy luister na iemand se raad sekere (soms alles) dele daarvan oordink en uittoets om te sien of dit nie tog goeie raaf is nie. Met ander woorde die goddelose gee sy raad en die persoon wat nie vernuwe is nie, neem daardie raad en rig sy denke, sy planne en sy lewe volgens dit in.

Om te staan in die weg” hou die betekenis in van jou posisie inneem in ‘n saak. Dit is meer permanent van aard as om raad uit te toets. Hier is al redelik ‘n instemming met die standpunt waarby jy jouself skaar. Volgens vers 1 se konteks dan is dit ‘n sondige leefwyse. Hier het die onregverdige dan ‘n aktiewe oorgee gemaak aan praktyke wat teen die standaarde van die Woord van God is.

Om te sit in die kring” hou in volle identifikasie en meedoen aan alles wat die groep onderskryf. Jy ontvang en gee. Daar is nie net meer oorwegings nie, net ‘n individuele leefwyse teen God se standaarde nie. Nou raak die onregverdige self betrokke by die gee van raad en die bespotting van die waarheid. Daar is nou samehorigheid op grond van gedeelde oortuigings.

Dit tipeer ook die sondigheid self. Hier lees ons van “goddeloos-sondaars-spotters”. Die goddeloses is in praktiese terme die ateïste, wat sê daar is geen god nie, maar volgens die Woord hulself verhef in hul trotsheid. Lees gerus Psalm 10 (ook beter bekend as die spietkop se psalm) en dan veral verse 2, 4 en 11. Hulle gee graag advies, of raad wat ontspring uit ‘n ontkenning van God en gewoonlik ook lei daartoe in die wat die raad oorweeg.

Dan is daar die sondaars. Hulle is dié wat ‘n lewenswyse van losbandigheid (geestelik en fisies) en korruptheid leef. Waar dit by die goddelose gaan oor sy verwerping van God, gaan dit hier oor ‘n immorele lewenswyse. Daarom verwys die psalm na die “weg” van die sondaars, verwysend na die lewenswandel wat die sonder het. Dit is ‘n alledaagse, praktiese lewe teen die standaarde van God se Woord. Dit is belangrik om hier te sien dat dit nie oor die sogenaamde growwe sondes handel nie, maar ‘n sondige leefwyse in die algemeen, met ander woorde een wat in alle opsigte nie vir God behaag nie.

Dan is daar die spotters. Spreuke 24:9 noem hom ‘n “gruwel vir die mensdom”. Hulle verag wysheid en kennis, leef voluit vir die wêreld en sy leuens en opponeer die waarheid om elke hoek en draai. Spreuke 19:29 sê sy lot is klaar verseël. Die spotter blyk die kulminasie te wees van die goddelose en die sondaar, of dan ten minste die saamkom van die eienskappe van hulle twee in hierdie groepering.

Dit tipeer ook die rol van elke groep, naamlik “raad-weg-kring”. Hulle gee advies en maak aanbevelings, hulle leefwyse is opgeneem deur sonde en hulle versamel om mekaar en versterk mekaar so in die sondigheid.

Dit is verseker nie ‘n goeie plek om te wees nie, maar die hartseer is dat vanweë die natuurlike aard van die mens is dit juis daar waar hy homself van nature bevind, besig om raad in te win van dié wat God wegredeneer, besig om teen God se heiligheid in ‘n sondige lewe te leef, en selfs besig om ander daarin te versterk. Die natuurlike mens het net eenvoudig nie die vermoë of kapasiteit om uit hierdie bose afwaartse spiraal uit te klim en homself bo dit te verhef nie (al wil hy dit so graag doen). Daar mag dalk die skyn van oorwinning oor sonde wees, maar selfs dit eindig in ‘n klop op die skouer om selftevrede en trots te wees.

Dit is alleen wanneer die mens deur die Woord van God gered word van sy verlorenheid, dat hy vanuit die nuwe mens nou nuwe begeertes het om weg te bly van die sondigheid. 1 Petrus 1:23 en Jakobus 1:18, 21 en Romeine 10:17 is duidelik oor die reddende krag van God se Woord. Natuurlik verwys ons nie hier na ‘n magiese boek met towerkrag daarin opgesluit nie (soos wat die liberales die wêreld wil laat glo hoe ons die Bybel gebruik)! Ons verwys hier na die geïnspireerde Woord van God wat in die hande van die Heilige Gees die instrument is waarmee Hy mense se lewens verander.

Verse 1 en 2 verwys na ‘n totale vernuwing en volgens die Nuwe Testament word dit beskrywe as ‘n “nuwe skepping” wat in die mens plaasvind wanneer die Gees van God die Woord van God toepas in sy lewe. Die resultaat is ‘n nuwe geestelike natuur, een wat nou nie meer die sonde najaag nie, maar so vasgevang is deur die reddende krag van God se Woord, dat dit nou eerder begeer om Christus na te volg, om die Woord te “eet” en te leef.

Daarom word die sondige wêreld nou vermy, en hierdie vermyding is die noodwendige gevolg van die gelowige se verhouding tot en hantering van God se Woord. Die verwysing na die “wet van die Here” verwys na die “Torah”, of dan die boeke van Moses, wat die versamelde geskrifte moes wees ten tye van die ontstaan van die psalm. ‘n Lewe verander deur die Woord van God.

Kyk ons na die tipering van die sondige wêreld en die heiligende effek, of dan die afsondering waartoe die regverdige deur die Woord opgeroep word, is die volgende duidelik:

1. Die gelowige word geroep na ‘n lewe wag van enigiets wat die eer van God aantas, hetsy dit in leer of in lewe is. Heiligmaking het nie net te make met ‘n leefwyse nie, maar ook met ‘n soeke na die waarheid oor God. Daarom vermy hy die raad van die goddelose, die weg van die sondaar en die kring van die spotters.

Om ‘n leerstelling soos byvoorbeeld evolusie selfs gedeeltelik te aanvaar, is om God oneer aan te doen. Selfs om te reken dat die sogenaamde Teïstiese Evolusie ‘n opsie kan wees, is om deel te hê aan die raad van die ateïsme. Dit loon die skeppingsmag van God, geen aan die mens soewereiniteit oor sy eie lewenswandel en verhef hom tot ‘n superwese wat vir God kan vertel wat in die Woord staan. Om ‘n leerstelling soos homoseksualisme as aanvaarbaar aan te neem, is om weg te sink ‘n lewenswyse van losbandigheid en promiskuïteit wat ‘n gruwel is in God se oë. Dit is ‘n absoluut skreiende skande dat die kerk van ons Here hierdie wanpraktyke toelaat in die kerk en selfs in die leierskap van die kerk. Dit lei tot niks anders nie as morele verval binne dit kerk wat later soveel verrotting tot gevolg het dat die wêreld wonder waar is die kerk!

2. Die gelowige word geroep na ‘n lewe weg van enigiets wat sy getuienis as wedergebore kind van God kan aantas. Is ons nie juis uitgeroep om lig te wees nie? As die gelowige se lewe net soos dié van die wêreld lyk, wat is dan die drakrag en trefkrag van sy getuienis? Indien jy God onttroon as Skepper, waarom moet die ongeredde jou glo as jy hom wil vertel van die vernuwende werk van die kruis van Christus? Indien jy die leuen glo dat God nie sonde oordeel nie, waarvan moet die wêreld homself dan bekeer? Indien jy ‘n losbandige lewe lei, watter krag het jou getuienis van die heiligheid van God? Indien jy glo en leef asof die wetenskap alle antwoorde het, waarom sal die wêreld jou glo as jy aan hulle die wonders van God vertel?

Die punt is dat indien jy kompromie aangaan met die wêreld, hetsy op leer én lewe, dan maak jy jou eie getuienis kragteloos en dood. Dit raak natuurlik die kollektiewe getuienis van die kerk. Ek wonder of dit nie die rede is waarom die kerk nie meer missionêr is nie, maar missionaal! Die kerk se getuienis is futloos en kragteloos omdat ateïsme, panteïsme, panenteïsme, post-teïsme, nieu-teïsme, evolusie, teïstiese evolusie, valse drie-eenheid, wetenskap, sosiale evangelie, homoseksualisme, losbandigheid, verdraaings van die engele wêreld, ens. toegelaat en selfs van die kansels verkondig en geleef word. Verder word die opleidings sentra van die leiers van die toekoms ingerig om hierdie korrupthede te leer en te leef.

Die Woord van God bring afsondering van die wêreld en sy korrupte leer en lewe tot ‘n nuwe lewe gerig en gefokus op God. Hierby staan ons volgende stil.
 

Voetnotas

1 Ons moet nie dink aan leerstellings in die Skrif in referaat vorm nie. Dogma is op ander maniere oorgedra as vandag.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *