(Hierdie is Deel 2 van ‘n meerdelige reeks oor Psalm 1. Lees asseblief Deel 1 om die volledige agtergrond te verstaan vir hierdie artikel.)

Psalm 1

1 Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; 2 maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. 3 En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit. 4 So is die goddelose mense nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi. 5 Daarom sal die goddelose nie bestaan in die oordeel en die sondaars in die vergadering van die regverdiges nie. 6 Want die HERE ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan

In die eerste deel oor hierdie Psalm het ek stilgestaan by die afsondering waartoe die Woord van God die regverdige (een van die begrippe in die Psalms vir die geredde kind van God) roep. Die logiese vraag is natuurlik waartoe word die regverdige afgesonder. As hy dan nou niks met die sondige wêreld te make het nie, wat is dan sy nuwe fokus in die lewe en ook hoe is daardie nuwe fokus moontlik?

Onthou die belangrike woordjie aan die begin van vers 2 “maar”. Hierdie woordjie dui die totale afsondering aan wat die Woord bewerk. Baie word deur hierdie enkele woord veronderstel, en terwyl ons moet versigtig wees om dit nie onnodig met betekenis te laai nie, is dit onvermydelik om te sien dat daar ‘n duidelike kontras is in fokus tussen affiniteite in verse 1 en 2. Aan die basis van hierdie fokusverskuiwing lê ‘n nuwe natuur deur die wedergeboorte. Vers 1 skets die geneigdheid van die ou natuur, terwyl vers 2 die geneigdheid van die nuwe uitspel. Deur die Woord en die Gees word die gelowige wedergebore om voortaan in die nuwe natuur te wandel. Jesus het self vir Nikodemus gewys op die noodsaaklikheid van die wedergeboorte deur die Gees en ons is volgens die woorde van Petrus en Jakobus wedergebore deur die onverganklike Woord van God. Dus werk die Gees deur die onverganklike Woord van God in die mens om nuut te skep. Ons dink aan Paulus wat ‘n beroep maak op die nuutheid bewerk deur die evangelie om nie meer met die sonde hand om die blaas te wees nie.

“As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit… Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God… Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, … omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper …” (Kolossense 3:1-10)

Die wedergeboorte op sigself bewerk alreeds skeiding as gevolg van die nuwe natuur wat die mens daardeur ontvang. Tog stagneer dit nie, en begin die proses van heiligmaking, met ander woorde die eise van die Skrif toegepas deur die Heilige Gees. Die wedergeboorte het dus alreeds ‘n heiligmakende effek op die geredde se lewe, daarin dat dit nie slegs die negatiewe vermyding van die wêreld bewerk nie, maar uit vers 2 is dit duidelik dat die positiewe gevolg ‘n verbintenis met God deur sy Woord is. Vanaf vers 1 na vers 2 is daar nou ‘n fokusverskuiwing en hierdie verskuiwing is weg van die wêreld na die Woord van God.

Sy behae is in die Wet van die Here

Die 1953 vertaling vertaal die woord khay’-fets (חֵפֶץ) met “behae”. Die ESV tel ook hierdie gedagte op met “delight”. Die oorspronklike gedagte aan die basis van hierdie begrip is “om te buig”, en het dus ontwikkel tot “neig tot” of “genot put uit”. Dit is belangrik om hier te sien dat die primêre geneigdheid van die kind van God is nie om goed te lewe of goeie werke na te jaag nie. Nie dat daar nie plek hiervoor in die lewe van die regverdige is nie. Trouens, die brief van Jakobus skrywe van die verhouding tussen geloof en werke. Die Bybel is duidelik in Efesiërs 2:10 dat die gelowige geroep is tot “goeie werke”. ‘n Lewe hiersonder sou verseker ‘n doodsheid in die gelowige uitwys, en eintlik die vraag laat ontstaan na die egtheid van daardie geloof.

Tog leer Psalm 1 se tweede vers dat die primêre geneigdheid, “buiging tot” van die wedergebore mens, is die “wet van die Here”. Hierdie uitdrukking sou verseker vir die volk in daardie tyd verwys het na die boeke deur Moses opgeteken. Vir die gelowige in Christus is dit natuurlik van toepassing op die hele Gees-geïnspireerde Woord van God. Soos die Wet in daar tyd die “Woord van God” was, so is die Skrif in sy totaliteit vandag die “Woord van God”. Dit is hierdie Woord wat sy nuwe fokuspunt is.

Dit is ‘n ongelooflik ingrypende proses wat hier plaasvind in die mens se lewe wanneer die Gees hom nuut maak. As gevolg van die totale korruptheid van die mens kan hy nie self hierdie proses inisieër nie. Die Gees van God doen dit deur die Woord van God toe te pas en die wedergeboorte te bewerk. Daarby word die mens die gawe van geloof gegee om die genadige verlossingswerk van God in Christus te verstaan, te begeer en aan te gryp – en selfs dit is ‘n genadegawe van God Drie-Enig.

Die belangrike is dat die wedergeboorte die gelowige oombliklik verbind aan God se Woord self. Onmiddelik word sy gees verander om aan die Woord vas te gryp. Die geredde se neiging, sy liefde en sy behae is nou in God se onverganklike Woord. Dit is nie moontlik voor die wedergeboorte en regverdigmaking nie plaasgevind het nie, wat die mens se natuurlike neiging is vyandskap teen God en sy Waarheid. Daarom word God se grootheid en goedheid al hoe duideliker word namate ons besef uit watter rebellie en vyandigheid Hy die mens kom red as ‘n totale genadegawe sonder enige verdienste en medewerking van die mens.

Daar is baie goeie redes waarom die geredde nou ‘n liefde vir God se Woord het. Dit sal ons moet ondersoek omdat dit nie gaan oor die aanbidding van ‘n boek nie, maar oor soveel dieper redes. Omdat die liberale teologie daarvan hou om snert kwyt te raak, word diegene wat hierdie verandering ondergaan het, gebrandmerk as dat hulle ‘n opheffing van ‘n boek maak wat sogenaamd deur mense geskryf is. Tog openbaar dit net die verlore toestand van die liberale teoloë, aangesien vers 2 sê die regverdige se behae is in die Wet van die Here.

– die Woord is die self-openbaring van die God wat red

‘n Skokkende realiteit vir die verwaande mens is dat die verlossing wat God gee, nie gaan oor die mens nie, maar oor God. Lees gerus die baie bekende Efesiërs 1:3-14 en let op hoe gereeld die gelowiges daarop gewys word dat die doel van die reddingsplan was tot die eer van God Drie-Enig (vers 6, 12, 14). Ons word dus nie tot iets gered nie, maar tot iemand en hierdie Iemand is die God wat alles gemaak het, en selfs nou deur sy Seun die nuwe lewe moontlik gemaak het en dit skenk deur sy lewendmakende Gees. Hierdie verlossing tot ‘n verhouding met God impliseer noodwendig groei in kennis van God en daarom is die Woord so nodig.

God het dit so gewil dat Hy deur sy Woord geken word. In die Woord ontdek ons sy se wese, sy karakter, sy werke en sy wil. Dit is deur sy Woord dat ons besef wie en wat Hy werklik is. Dit is tegelyk die vrye ruimte waarbinne ons Hom leer ken, en die veilige grense wat ons nie wil oorsteek om Hom buite die parameters daarvan te ontdek nie. Buite hierdie grense is daar spekulasie, subjektiewe gedagtes oor wie Hy dan nou eintlik is. Selfs die openbaring deur die natuur word hierdeur gereguleer!

Die geskiedenis is vol van voorbeelde waar die “behae” weg van die Woord was nie en dit ander, verwronge idees oor God tot gevolg gehad het. Dit is nie die doel hier om hier historiese uitvalle te bestudeer nie. Genoeg om te sê dat wanneer van die parameters wat God se Woord stel afgewyk word, dan geld “mense reëls” en verloor ons ware kennis van God. Dus is die eerste rede vir hierdie geneigdheid na die Woord kennis van God en kennis bring groei en hoe meer ons groei in Hom, hoe meer word sy lof en heerlikheid sigbaar en duidelik.

– die Woord is die bron van waarheid

Vers 1 beeld ‘n valse lewe uit – een van die skyn van genot en vervulling, maar in sy wese ‘n leuen uit die put van die hel. Geen mens kom daardeur tot ware kennis van sy Skepper nie. Inteendeel, die skeiding blyk net al groter te word. Hierdie valse lewe bied allerhande ideologieë oor die waarheid, die realiteit en oor die wese van God self. Dink maar aan al die dwalinge oor God – die ontkenning deur die ateïsme, die vermenging deur die panteïsme, die gelykstelling van die politeïsme, die onttroning deur die evolusie, die verlaging van moraliteit deur die homoseksualiteit. Al hierdie en meer val in die sfeer van die lewe wat vers 1 skets.

God se Woord dra die waarheid, omdat dit die Woord is van die enigste ware God wat ook duidelik deur sy Seun die waarheid kom lewe. Uit die Skrif weet ons dus wat die waarheid is. Dit is nie te vind in leë spekulasie nie. Christus het sy lewe daarop ingerig hier op aarde. Dit is onverganklik, onverwelklik, onvervals. Vir Timotheus het Paulus vermaan om by die Woord te bly, omdat dit die enigste bron van suiwerheid vir leer en lewe bevat.

– Die Woord is ook die parameters vir die nuwe lewe

Voor die wedergeboorte leef die mens volgens sy eie standaarde en begeertes en die enigste dryf is om daardie vleeslike en sondige behoeftes te bevredig. Let wel, dit is nie altyd “gruwelike” begeertes nie. Daar kan selfs “goeies” tussen-in wees. Maar selfs dit is gerig op die bevrediging van eie behoeftes en nie tot God se eer nie.

Die nuwe natuur se begeertes is nou anders. Dit is na die eer en heerlikheid van God. Daarom is die Woord se vraag so duidelik: “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou?” en die antwoord net so helder “deur dit te hou na U Woord.” God se Woord bevat die spelreëls vir die nuwe lewe en wie nuut gemaak is deur die Gees van God se begeerte is nou daarna en nie meer na die vorige lewenswandel nie. Daar is dus nou ‘n nuwe begeerte na die nuwe spel se reëls en parameters. Die Woord alleen kan dit bied.

Kom ons stel dit so. Die konteks van jou lewe het nie verander nie, maar deur die wedergeboorte en heiligmaking leef jy dit nou nuut en vanuit God se beginsels. Daar is nou ‘n al hoe ernstiger dryf om God se standaarde te integreer in jou alledaagse lewe. Daar is ‘n soeke na nuwe beginsels omdat die oue afgesterf is.

Die toewyding

Psalm 1 se eerste 2 verse konfronteer direk met die baie konkrete vraag na redding en toewyding aan dié God wat alleen by magte is om jou fokus te verskuif tussen verse 1 en 2.

Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.” (1 Johannes 3:9)

Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vrymoedigheid teenoor God; en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom. En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons ‘n gebod gegee het. En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly aan die Gees wat Hy ons gegee het.” (1 Johannes 3:21-24)

Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore; en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is. Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie. Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” (1 Johannes 5:1-4)

Hierdie gedeeltes in 1 Johannes reflekteer aangrypend op die eerste 2 verse van Psalm 1, en skuif eintlik die venster so effe oop op die oorsaak van die verskuiwing, naamlik die wedergeboorte en die gevolglike fokus, naamlik die gebooie, of dan die Woord van God.

Dit is belangrik om te sien dat die Psalm sê sy behae is in God se Woord. Dit verwys nie slegs na ‘n nuwe geneigdheid nie, maar na ‘n liefde vir die Woord. In 1 Johannes 5 leer ons die gebooie van God is nie swaar nie. Paulus beskrywe dit in Romeine 7 as hy verwys na sy interne worsteling: “Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens” (vers 22). 2 Timotheus 3:15-17 som die nut van die Woord vir die gelowige aangrypend op:

Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

Geen wonder nie dat die Psalm die regverdige “welgeluksalig” noem nie! Die Woord is sy lewe en sy rigsnoer, sy liefde en sy fokus. Hy kan nie anders om “uitermate geseënd” te wees nie.
 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *