Gelowiges in Suid Afrika is nou al geruime tyd bekommerd oor die rigting wat die NG Kerk besig is om in te slaan. Een van die brandpunte raak die kern van die bestaan van die kerk, naamlik die beskouing – en daarmee die gepaardgaande plek – van die Skrif. Die opkoms en invloed van die postmodernisme het hierdie vraag baie meer op die voorgrond gestoot. Hiermee saam het die invloed van die Emerging Kerk, of dan die Ontluikende Teologie, die kwessie na die sentrum van die NG Kerk gedwing. 

 

Dr Ben du Toit is al vir geruime tyd deel van hierdie vraagstuk, en sekere uitlatings wat hy al in die verlede gemaak het, het wenkbroue hoog laat lug en gelowiges al dieper bekommerd begin maak. Sy boek God? geloof in ‘n postmoderne wêreld[1], was ‘n geweldige harde hou vir die bastions waarop die kerk gebou is. In hierdie boek breek hy stelselmatig alle belangrike pilare waarop die kerk gebou is af, beginnende by die Skrif dwarsdeur tot die plek en werk van die Heilige Gees. Met die wetenskap as hermeneutiese sleutel, ontsluit hy die “ware” gesag van die Skrif, God, die duiwel, Christus, sonde, die kerk en die Gees. Sy beskouing van die gesag van God se Woord is belangrik vir ons doel hier, en ek het al daarna verwys, maar ter wille van die argument hier, herhaal ek dit weer:[2] 

  1. Eerstens het dit gesag omdat dit kronologies eerste staan in die ry van geskrifte wat die kerk het;
  2. Die bybel is histories nader aan die gebeure wat dit beskrywe;
  3. Dit is ons enigste primêre toegang tot Jesus van Nasaret, en daarom praat hy van die Christologiese gesag van die bybel. “Hier kan dus geen sprake wees van gesag sonder geloof in Jesus as Verlosser nie” (beklemtoning in die oorspronklike). Gesag word vooraafgegaan deur geloof.

Met hierdie standpunt van Du Toit plaas hy homself so duidelik in die kamp van persone wat die Skrif nie meer sien as God se Woord aan mense nie, maar as mens se woorde oor God. Die klemverskuiwing is ongelooflik belangrik vir die voortbestaan vir die NG Kerk, en ek noem spesifiek die NG Kerk aangesien Du Toit die Parlementêre verteenwoordiger van die NG Kerk is.

Die hartseer is dat Du Toit, ondanks sy growwe minagting van die belydenisskrifte en beloftes wat hy gemaak het toe hy tot die amp toegelaat is[3], nog steeds toegelaat word om sy dwalinge te versprei. In die onlangse uitgawe van die Kerkbode opper Du Toit sy standpunt oor die Bybel.[4] Met hierdie standpunt is dit duidelik dat die NG Kerk, of ten minste ‘n gedeelte daarvan, ruimte maak vir Du Toit se sieninge en dit kan net niks goed beteken vir die voortbestaan van die NG Kerk nie. Ek dink nie ons kan die effek van Du Toit se standpunte ontken en miskyk nie. Hier is ‘n paar:

1. Invloed op die Skrifbeskouing van die NG Kerk sedert 2000[5]

Sy siening oor die gesag van die Skrif het ‘n definitiewe uitwerking gehad op die Skrifbeskouing van die NG Kerk sedert 2000. Die Algemene Sinode sedert 2002 het al meer weg beweeg daarvan om die Skrif in sy geheel as ewe gesaghebbend te beskou. In paragraaf 5.12.6 lees ons hierdie interessante woorde oor die inspirasie en gevolglike gesag:

5.12.6 Die Algemene Sinode verklaar dat dit uit die Bybel self duidelik is dat die inspirasie van die Skrif nie op ‘n eenvormige wyse plaasgevind het nie. Daarom is die aard van die gesag van die Skrif ook nie oral dieselfde nie.  

Dit impliseer natuurlik dat God nie altyd ewe gesagvol praat nie, soms met minder, soms met meer. Dit raak egter moeilik om te onderskei watter gedeeltes is minder en watter meer, daarom word bygesê:

Ons kan onderskei tussen die hart van die boodskap van die Skrif en sake wat meer op die rand lê, hoewel die rand en hart nie van mekaar losgemaak kan word nie, maar juis in hulle samehang as Woord van God funksioneer. 

Hierdie besluite volg op voorleggings deur die  Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele sake, wat onder andere dievolgende sê:

5.4.1  In die Bybel as menslike boek, kom die boodskap van God tot ons in die gestalte van mensewoorde. 

5.4.3  Klaarblyklik maak die Bybel ook geen aanspraak op historiese eksaktheid nie. 

5.4.5  As dit sou gaan om eksakte historiese feitelik­heid, kwalifiseer die Bybel klaarblyklik nie as betrou­baar nie. Maar uit die Skrif self is dit glashelder dat dit ook nie die bedoeling van die Bybel is nie. 

5.7.6  In naakte feite is die Skrif nie geïnteresseerd nie, maar wel in die betekenis van die feite. 

5.8.3  Die waarheid van die Woord is wel ewig, maar nie tydloos nie. Juis omdat dit ewig is, is dit vir elke tydsgewrig aktueel. Wat in een konteks die waarheid is, is in ‘n ander ‘n leuen. Die versoeker kwoteer vir die Seun van God (die vleesgeworde Woord) telkens die Woord van God (Matt 4), maar dit is keer op keer die verkeerde teks vir die geleentheid…

Hierdie is maar ‘n paar stellings wat problematies is vir die onderliggende konsepte van die Woord van God as onfeilbare, foutlose, objektiewe geïnspireerde gesag vir die kerk. 

2. Sy invloed in die besluit van die Algemene Sinode van 2011 oor die aard van die duiwel[6]

Du Toit is oortuig daarvan dat daar nie so iets soos die duiwel of demone is nie. Sy persoonlike menig is duidelik uit sy boek dat boosheid wel teenwoordig is, maar dan as iets wat in die mens self gesetel is. Jesus se hantering – en uiteraard sy beskouing – van die geesteswêreld word as voorwetenskaplik gesien. Volgens Du Toit se argument sou Jesus vandag eerder sielkunde en medikasie sou toedien. By implikasie het Jesus dus ‘n oerbeskouing van die geesteswêreld gehad wat reggestel is deur dieselfde wetenskap wat Du Toit so aanhang as hermeneutiese sleutel vir die Bybel. 

Hierdie beskouing van hom het duidelik grond gevind in die besluit van die Algemene Sinode in 2011 oor die Bediening van Bevryding in die NG Kerk. Die NG Kerk begin nou die effek van hierdie tipe teologie voel in tugsake teen Du Toit. Die probleem is dat hierdie tugsake nou nie meer teologies beoordeel word nie, maar kerkregtelik, want Du Toit tree op “in ooreenstemming met” die besluite van die Algemene Sinode.

Du Toit is in sy hantering van die Skrif en die gevolglike standpunte beslis lynreg teen die leer van die NG Kerk, wat in onder andere in Artikels 3-7 en 12 van die Nederlandse Geloofsbelydenis vervat is. Met sy onlangse uitlatings in die Kerkbode, bevestig hy weereens sy minagting van hierdie belydenisse van die NG Kerk.

Hy sê onder andere:

Jy kan uiteindelik nie anders as om tog te wonder of alles in die Bybel werklik so Goddellik geïnspireer is, en of baie nie maar ’n Joodse of Christelike weergawe van die destydse denke is nie. 

Hiermee trek hy die leer van die inspirasie deur die Gees van God direk in twyfel en maak van die Bybel net nog ‘n boek uit die tyd waarin elk van die dokumente geskrywe is. God is duidelik buite die prentjie.

Hy ontken natuurlik ook die eenheid en duidelikheid van die Skrif as belangrike verstaansinstrument, iets wat ons duidelik sien uit die Skrif self en in die Reformasie wat hierdie beginsel weer kom herstel. Moontlik was dit nie ‘n gedagte by die individuele skrywers nie, alhoewel hulle duidelik na ander dokumente verwys in die Bybel, maar hy laat geen ruimte vir die Goddelike aard van die inspirasie deur die Heilige Gees nie. God se Gees dink nie soos die mens nie en weet waarmee Hy besig was in die inspirasieproses.

Daar is ‘n duidelike ontkenning van die historiese fokus van die Skrif. Klaarblyklik is historiese feite vir die God wat die geskiedenis in sy hande hou en dryf nie belangrik genoeg om dit korrek op te laat teken nie. Mens sou dink dat ‘n God wat soveel fokus het om die geskiedenis te dryf, en selfs melding maak van die “volheid van die tyd” toe sy Seun, Jesus Christus, gebore word, nogals meer sou let op historiese korrektheid, maar volgens Du Toit nie. God is nie hieroor bekommerd nie. Hierdie minagting van historisiteit maak natuurlik ‘n agterdeur oop vir ‘n morele verstaan van sekere Skriftgedeeltes, soos byvoorbeeld Genesis 1-11, Romeine 5, 1 Korintiërs 15, Hebreërs 11 om maar ‘n paar te noem. As God dan nie in die eksaktheid van die geskiedenis belanggestel het nie, waarom sou hy die presiese tye voorspel waarop Christus se lewe sekere fases betree? Hiermee maak Du Toit van God ‘n onverantwoordelike, wisselvallige wese wat dinge lukraak laat plaasvind.

Dan verwoord hy sy standpunt duidelik:

Die verskillende verhale en tekste in die Bybel moet liefs nie in die eerste plek gelees word as “woorde van God” nie, maar as woorde van mense… Dit is net nie moontlik om elke ander aksent of die verskille wat tussen verskillende Bybelboeke opduik te verklaar deur dit aan Goddelike inspirasie toe te skryf nie. Indien jy van die Bybel wil praat as Woord van God, dan moet dit op ’n ander manier geskied. 

Hoe duidelik wil ons dit hoor dat Hy God se Woord as net nog ‘n boek beskou!!

So vat hy dan die belydenisse ook aan, die juiste samevatting van die leer van die NG Kerk – trouens, die leer van so baie Protestantse kerke wêreldwyd. Weet hy dan meer as wat die kerk wêreldwyd van bewus is? Hy sê:

Ons benadering tot en lees van die Bybel word tot ’n groot mate bepaal deur ons belydenisskrifte, sinodebesluite en tradisie. Ek wil dit tog waag om te vra of ons bereid is om ook hierdie dinge binne hulle eie konteks te verstaan en dit weer in oënskou te neem. Daar is tog elemente hierin wat vandag moeilik is om te aanvaar en waarna werklik weer gekyk moet word 

Toegegee, die belydenisse is nie die Skrif nie, dit is nie geïnspireer nie, maar tensy daar geldige redes is om die gelowiges vir die afgelope klompie eeue in twyfel te trek, hou ons daarby. Ja, dit is onderhewig aan die beskouinge van die Skrif, maar dan AS DIE WOORD VAN GOD, en nie die Ontluikende, Postmoderne beskouing van konsensus mening nie. Ons kan nie belydenisse verander omdat ‘n paar kenners reken dit Skrif is nie God se Woord nie en gelowiges moet hulle op menslike standpunte verlaat wat deur die wetenskap gedryf word nie.

MY VRAAG AAN DIE NG KERK – QUO VADIS?

Gesien in die lig van hierdie uitlatings, is my vraag aan die NG Kerk in Suid Afrika: Qou Vadis? Waarheen is die NG Kerk oppad met manne en vroue soos Ben du Toit wat links en regs die grondwaarhede waarop die kerk gebou is in twyfel trek, afbreek en selfs ‘n ander nie-bybelse wêreldbeeld vestig binne die NG Kerk? Moet die lidmate van die NG Kerk hulle voorberei daarop dat God se Woord nie meer sentraal sal staan nie, maar ervaring of iets ergers? Moet hulle begin aanvaar dat die Reformasie, wat weer die Skrif as primêr en gesagvolle Woord van God bely het, al die tyd verkeerd was? Was die Rooms Katolieke toe tog reg om die tradisies en uitsprake van mense op dieselfde vlak te hanteer as die Woord van God? Is dit verniet dat so baie gelowiges deur die eeue ter wille van hulle belydenis van die Bybel as God se Woord moes ly en sterf? Moet lidmate nou maar verlief neem dat al hierdie bloed en lewensverlies was verniet? Gaan die NG Kerk toelaat dat dat dwaalleraars soos Du Toit haarself dieper in die donker duisternis insleep met ‘n vlak teologie gebou op mense se argumente en nie op God se Woord as God se Woord nie? 

Ek dink die NG Kerk is aan haar lidmate antwoorde en rigting verskuldig, en dan bedoel ons nie hierdie dubbele standpunt benadering wat akkommodasie daaroor geskrywe het nie (al meer die benadering van die Kerkbode). Ek bedoel Skriftuurlik, Bybelsgefundeerde rigting wat nie bang is vir konsekwensies nie, maar wat erns maak met God se Woord en God se waarheid. Die NG Kerk beweeg nader aan ‘n kruispad, indien nie al klaar daar nie! Wat is die rigting? Waarheen gaan die NG Kerk? 

Voetnotas

1. Dr. Ben du Toit, God? Geloof in ‘n postmoderne tyd, CLF Uitgewers, 2000.
2. Du Toit, p80-81 
3. Daar moet in ag geneem word dat leraars van die NG Kerk beskou word as “Bedienaars van die GODDELIKE Woord”, bedoelende dat hulle die Skrif as God se Woord bedien en nie as mensewoord nie.
4. ‘Wat sê die Bybel?’ 
5. http://www.ngkerkwynberg.co.za/skrifgesag.htm 
6. Die gevolge van besluite – Oor die NG Kerk en sy duiwelse standpunt

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *