Geagte broer/suster

Ek is bevoorreg en begenadig om vir die afgelope 41 jaar ‘n predikant in die N.G.Kerk te wees. Soos u het ek die Here Jesus Christus en sy Kerk hartlik lief. Uit die gebeure die afgelope tyd oor die radio, in webtuistes en die openbare pers weet u reeds dat ek en baie ander lidmate diep bekommerd is oor sekere tendense in die kerk. Uitsprake van kerklike leiersfigure in die openbaar en besluite van die Algemene Sinode skep in die kerk groot onrustigheid en ongelukkigheid. Dit is belangrik dat u as lid van die ASM bewus daarvan sal wees dat daar talle groepe bekommerde lidmate van die kerk is. Individuele lidmate het die afgelope tyd vanoor die hele land aan my geskryf of geskakel om hulle ontevredenheid en besorgdheid oor die gebeure in die kerk en in hulle eie gemeentes uit te spreek. In die lig van die groot verlies aan lidmate moet hierdie gevoel van ongelukkigheid nie onderskat word nie. Die persepsie bestaan by baie beswaardes dat enige aanduiding van bekommernis of ontevredenheid as negatiwiteit of dwarstrekkery afgemaak word en dat hulle nie gehoor (wil) word nie. Beskuldigings van leuens, onwaarheid, verdagmakery en drukvorming word as verweer teen bekommerde standpunte uitgespreek. 

Persoonlik word ek tans in beslag geneem deur die wye steun wat daar in die N.G.Kerk vir die Ontluikende Kerk is, tot so ‘n mate dat ‘n mens die indruk kry dat die N.G.Kerk onherroepelik op die pad van die Ontluikende Kerk geplaas is. Ek gryp hierdie indruk nie uit die lug nie. Verskeie persone het hierdie besorgdheid uitgespreek. Ooreenkomste tussen besluite van die Algemene Sinode en uitsprake van kerkleiers en die beginsels wat in en ten gunste van die Ontluikende Kerk uitgespreek word, is eenvoudig te groot om bloot toevallig te wees. 

 
My boek (Jesus is die Een!) is geskryf om tot gesprek uit te nooi. Ek het die uitgewer versoek om eksemplare van die boek aan persone te stuur wat in die boek bespreek word, om hulle tot gesprek uit te nooi. Vir maande was daar geen reaksie van enige aard nie, totdat die bom gebars het. Wat ek in die boek geskryf het, het ek gedokumenteer met bewyse. Tot dusver het niemand op die opsigtelike teologiese probleem wat in die boek uitgewys en bespreek word en waarvan baie van die Skrif en ons belydenisskrifte afwyk, geantwoord nie. In plek daarvan word ek uitgevloek (ek is deur ‘n teoloog ‘n **shole genoem), van onwaarheid beskuldig en ‘n brief word selfs in Kerkbode gepubliseer waarin my geloof bevraagteken word omdat ek kritiese vrae oor die Ontluikende Kerk vra. Boonop is daar voorstanders van die Ontluikende Kerk wat weier om my boek te lees en dan tog vrymoedigheid neem om allerlei kommentaar te lewer. Ek kry die indruk dat daar ‘n onwilligheid is om met feite oor die Ontluikende Kerk gekonfronteer te word. 
 

Hoe rym dit met die beleid van diversiteit dat ons in gesprek met mekaar moet tree, ruimte moet maak vir mekaar en mekaar moet vashou? Hoe pas dit in by die N.G.Kerk se etos om besluite op grond van navorsing te neem? Dit het ‘n paar keer gebeur dat ek met persone in gesprek wou tree, van wie ek nie eens ‘n antwoord terug ontvang het nie. Blykbaar is ek volgens hierdie teoloë nie eers die moeite werd om te antwoord nie.

Is dit net ek wat hierdie “obsessie” oor die Ontluikende Kerk het? In Amerika is daar ‘n groot getal evangeliese teoloë en predikers wat die gevare van die Ontluikende Kerk uitwys. Onder hulle tel die invloedryke John McArthur en D. Carson, sowel as Roger Oakland en Bob Dewaay. Hulle boeke, artikels op die internet en YOU-tube videos is teologies en Bybels gefundeer en toeganklik vir almal wat graag van kritiek teen die Ontluikende Kerk in die buiteland wil kennis neem. Daarbenewens is daar ontstellende beeldmateriaal op You-tube oor leiers soos Tony Jones, Rob Bell en ander. 

Een van die skokkendste videos wat ek onlangs gesien het, is waar Tony Jones (prominente leier in die Ontluikende Kerk) in ‘n preek die plaasvervangende lyding en sterwe en die regverdigmaking deur geloof in Jesus Christus belaglik voorstel en verwerp. In hierdie opsig kom sy standpunt presies ooreen met Brian McLaren, Rob Bell, Allan Jones en andere. Dit is indedaad ‘n tipiese standpunt onder Ontluikende skrywers. Verder vereenselwig Tony Jones hom op sy eie blog met die filosofie van relativisme (Kyk: http://goo.gl/fb/IzayQ  met die opskrif “In praise of relativism”) . Onder die opskrif TONY JONES ARGUES FOR OPEN MARRIAGE AND POLYAMORY skryf Ken Silva op die blog van Appraising Ministries dat Jones hom met die standpunt van Dan Savage vereenselwig. Silva vervolg: “That noted, the philosophy of relativism does happen to be a perfect fit for fools like Dr. Tony Jones who wish to argue in favor of practices of sexual immorality. In Christianity 21 To Attack Christian Sexuality I brought to your attention a July 11th blog post by Jones where he quotes the homosexual writer Dan Savage, whom he calls ‘America’s premier sex advice columnist’. Jones lets us know that Savage opines ‘monogamy is right for many couples’ but some people need more than one partner, [Savage] writes, just as some people need flirting, others need to be whipped, others need lovers of both sexes. (Online source: http://apprising.org/2011/08/10/tony-jones-argues-for-open-marriage-and-polyamory/ ). Dit is dieselfde Tony Jones wat by ondersteuners van die Ontluikende Kerk in Suid Afrika hoog aangeskryf word. 

Wat is die doel van my skrywe? Waar staan ek in die N.G.Kerk? Dit is nie my styl om agteraf te praat of draaie om ‘n punt te loop nie. Die Kerk van Jesus Christus, die behoud van die evangelie en ons gereformeerde teologie en spiritualiteit is vir my te kosbaar. Daarom het ek in my boek en in die radiogesprekke reguit gepraat, waaroor ek natuurlik erg kwalik geneem is. Daarom vra ek nou of u my sal toelaat om van tyd tot tyd nuwe inligting oor die Ontluikende Kerk aan u as lede van die ASM te stuur. Ek beplan om in aanvulling tot my boek nuwe artikels te skryf, wat ek oortuig is nie in Kerkbode gepubliseer sal word nie. As u nie daarin belangstel nie, laat my asseblief weet. Ek respekteer u te veel om iets aan u op te dring wat u nie wil lees nie. Terloops, as u sou belangstel om die video van Tony Jones se preek te sien (sommige suggereer mos dat ek goed uit konteks ruk), tik gewoon die volgende op GOOGLE in: “TONY JONES PREACHES ‘A BETTER ATONEMENT’ AT BAYLOR UNIVERSITY CHAPEL” of gebruik die skakel: www.youtube.com/watch?v=9keeJVrtiSY  

 
 

 
Ek groet u in die wonderlike Naam van Jesus Christus, die Koning van die Kerk, ook van die N.G.Kerk.

Johan Janse van Rensburg   

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *