Mens sou nogal dink dat na die stryd waardeur ons voorsate gegaan het vir die behoud van die Woord van God en die gesag daarvan, daar konsensus sou wees oor sake soos Skrifgesag, inspirasie, openbaring, ens. Tog is dit nie die geval nie.

Die Reformatore het baie sterk gepleit vir wat bekend sou word as Sola Scriptura. Hiermee het byvoorbeeld Martin Luther standpunt ingeneem teen die Roomse misbruik van gesag deur die kerkleiers. Op ‘n dieper vlak was die Reformasie ‘n standpunt teen die begrippe en instansies van gesag en die Openbaring van God. Vir Luther (en trouens talle voor hom) sowel as sy navolgers, was die hantering van gesag deur die Rooms Katolieke beweging ‘n absolute dwaling en kon nie meer geduld word nie. So het hy ‘n beweging aan die gang gesit waarvoor talle voor hom geleef, gebid, gestry en selfs gesterf het, naamlik om weer die Skrif en die gesag daarvan te herstel in die kerk.

Daarom sou ons dink dat die Evangeliese kerk gesteld daarop sou wees om Sola Scriptura as basis te gebruik vir die uitleg en verstaan van die Skrif. Kyk ons egter dieper na die alledaagse hantering van die Skrif, kom ons gou agter dat Sola Scriptura ‘n teenstander het wat net so hard veg, indien nie harder nie, om aanvaar te word as die standaard uitgangspunt. Ek verwys hier na wat bekend staan as Prima Scriptura (ek verwys nie hier na die hedendaagse liberale dwaling wat wil voorhou dat die Bybel slegs mense woorde oor God is nie).

Alhoewel beide standpunte saamstem daaroor dat die Bybel God se Woord is, staan hulle lynreg teenoor mekaar en wanneer ons weet waaroor beide handel, sal ons makliker die teenwoordigheid daarvan in die kerklike hantering sien.

– “Sola” en “Prima” Woordbetekenisse

Uit die woordbetekenisse leer ons al klaar die verskil ken. Prima beteken die “eerste” of dan “bo alles”. Dit sou dan vir die siening oor die gesag van die Skrif inhou dat die Bybel “bo alles” gesag het wanneer dit by die goddelike openbaring(s) kom. Dit impliseer dat daar naas die Bybel, ook ander buite bybelse bronne van goddelike openbaring kan wees. Hierdie bronne kan handig wees vir die interpretasie van die Skrif, maar word dan aan die Skrif getoets en daardeur gekontroleer – en selfs gekorrigeer indien dit nie ooreenstem daarmee nie.

Hierteenoor beteken Sola letterlik “alleen”, vandaar die uitdrukking “die Skrif alleen”. Die praktiese betekenis is egter veel meer as dit, met die belangrike dat die Skrif die “enigste” en “finale” bron van gesag is vir leer en lewe. Alle ander gesag is afgeleide gesag van die gesag van God se Woord. Dit hou in dat die Skrif is genoegsaam om die volle raad van God aan die mens bekend te maak. In kontras met die prima beskouing, is daar volgens die sola uitgangspunt nie ruimte vir buite bybelse openbaring meer nie, want in sy Woord het God sy openbaring finaal afgesluit.

Die verskil tussen die twee konsepte lê veral op hierdie twee terreine, naamlik goddelike openbaring en gesag.

– Goddelike openbaring

Indien vanuit die prima standpunt gedink word, is daar ruimte vir ander bronne, met ander woorde bronne buite die Bybel, waardeur God sy wil en selfs toekomsgebeure aan die mens openbaar. Hierdie bronne sluit onder andere in drome, visioene, ervarings, charismatiese gawes, mistieke kennis, nadoodse of naby doodse ervarings van of die hemel of die hel.

Ten tye van die Reformasie, en selfs tot vandag, was die tradisies van die kerk en die uitsprake van die Pous op dieselfde vlak hanteer as die Woord van God. Die Rooms Katolisisme gaan dus baie duidelik uit van ‘n “prima scriptura” standpunt. Die Dogmatic Constitution on Revelation – Dei Verbum maak die volgende stelling oor die tradisie:

This sacred tradition, therefore, and Sacred Scripture of both the Old and New Testaments are like a mirror in which the pilgrim Church on earth looks at God…”1

So ook

Hence there exists a close connection and communication between sacred tradition and Sacred Scripture. For both of them, flowing from the same divine wellspring, in a certain way merge into a unity and tend toward the same end. For Sacred Scripture is the word of God inasmuch as it is consigned to writing under the inspiration of the divine Spirit, while sacred tradition takes the word of God entrusted by Christ the Lord and the Holy Spirit to the Apostles, and hands it on to their successors in its full purity, so that led by the light of the Spirit of truth, they may in proclaiming it preserve this word of God faithfully, explain it, and make it more widely known. Consequently it is not from Sacred Scripture alone that the Church draws her certainty about everything which has been revealed. Therefore both sacred tradition and Sacred Scripture are to be accepted and venerated with the same sense of loyalty and reverence.”

en

Sacred tradition and Sacred Scripture form one sacred deposit of the word of God, committed to the Church.”

en

It is clear, therefore, that sacred tradition, Sacred Scripture and the teaching authority of the Church, in accord with God’s most wise design, are so linked and joined together that one cannot stand without the others, and that all together and each in its own way under the action of the one Holy Spirit contribute effectively to the salvation of souls.”

Sacred theology rests on the written word of God, together with sacred tradition, as its primary and perpetual foundation.”

Vir die Rooms Katolisisme is tradisie hoog op die lys van ekstra bronne van openbaring van God. In die Charismatiese kerke speel die rol van “gawes van die Heilige Gees” weer ‘n belangrike rol. Dit is nie ongewoon in hierdie kringe om die uitspraak te hoor “die Here het vir my gesê” en dat dit dan gevolg word met een of ander vorm van “profesie” nie. Die draer van hierdie nuwe openbarings word dan as gesagsfiguur beskou en sy boodskap as gesaghebbend, telkens gelyk aan dié van die Skrif en selfs hoër in ander gevalle. Dink maar aan byvoorbeeld Beth Moore, wat groot aansien geniet onder Word of Faith aanhangers. Sy het selfs onlangs ‘n openbaring ontvang oor die grootte van die vis wat die muntstuk in sy mond gehad het (iets wat natuurlike die rigting van my geestelike lewe drasties verander het)! Mark Driscoll, bekende naam in kerklike kringe beleef self ook buite bybelse openbarings. Kyk byvoorbeeld na die volgende snit waarin hy sy ervarings hiervan vertel.

 

 

Dan is daar die verhale wat die rondte doen van persone wat nadoodse / naby doodse ervarings van die hemel en / of hel gehad het en wat dan “terugkeer” om te kom vertel of waarsku wat hulle gesien het. Hierdie ervaringe word normatief vir die Christelike lewe aanvullend tot die gegewens in die Skrif gelees (wat eintlik in baie gevalle ‘n oortreding van die “prima” beginsel is wat sê alles word getoets aan die Woord).

Dis egter nie net die Roomse ouens of die Charismate wat hierdie ervarings het nie. Die baie bekende teoloog John Piper vertel hoe hy die stem van God duidelik en hoorbaar gehoor het (en selfs gereeld hoor).Selfs ons eie oom (nie die een die meubel handel nie) Angus Buchan openbaar hierdie tendense al meer en meer.

Hierdie ervarings en nuwe openbaringe staan lynreg teen die beginsels van die idee waarvoor Sola Scriptura staan. Kom ons kyk na enkeles hiervan:

die genoegsaamheid van die Skrif

Hiervolgens is die Skrif en die inhoud daarin opgesluit, genoeg vir die mens om hom te bring tot kennis van God, redding en die verloop van die plan van God met sy skepping. 2 Timotheus 3:14-17 illustreer dit:

Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

Hierdie paar sinne som die genoegsaamheid van die Skrif op ‘n wonderlike wyse op. Dit beskrywe die aard van die Skrif (deur God ingegee), die eenheid van die Skrif (hele Skrif), die nut van die Skrif (redding, lering, weerlegging, teregwysing, onderwysing in geregtigheid) en die doel van die Skrif (volkome toegerus vir diens). Paulus vermaan die jong Timotheus baie ernstig om te bly in wat hy geleer het en waarvan hy verseker is. Dit is sy anker in die Woord van God.

die afgehandeldheid van die kanon

Aan die basis van Sola Scriptura lê dan ook die oortuiging dat die Heilige Gees die kerk gelei het in die erkenning van die boeke wat in die Bybel ingesluit moes word en daarna die afsluiting van die kanon, of dan die afgehandeldheid hiervan.

Die vraag is waarom is die Bybel as kanon afgesluit? Die interessante is dat dit juis die teenwoordigheid van dwaling was, veral die gnostisisme, wat die kerkleiers daartoe gebring het om die Skrif af te handel onder die leiding van die Heilige Gees. Onder leiding van Marcion was daar talle aanvegtinge teen die leringe van die kerk. Die gnostiek het dan ook baie gesteun op ekstra openbaringe wat sogenaamd die wil van God sou bekend maak, soos later uit die ontdekkinge van die Dooie See rolle bekend sou word. Hierteenoor het die kerkleiers ‘n baie duidelike boodskap na die dwaalleraars gestuur dat die volle raad van God vervat is in die Woord van God alleen en dit is genoegsaam vir ‘n volkome wandel met God.

die rol van die geestelike gawes

Die punt ter tafel is die beoefening van die geestesgawes. Uit die prima hantering is dit duidelik dat die gangbare opinie is dat al die gawes van die Gees soos in die briewe van Paulus genoem, steeds funksioneer. Dit sluit dan baie beslis gawes van onder andere profesie, genesings en spreek in tale in.

Hierteenoor handhaaf die konsekwente toepassing van Sola Scriptura die standpunt dat die gawes nie almal meer voortbestaan nie, maar die apostoliese gawes van profesie, tale en genesings, het opgehou bestaan met die afsterwe van die laaste apostel (Johannes). (Daar is variasies hiermee, wat veral te make het met die verstaan van wonderwerke).

Jonathan Edwards het byvoorbeeld die volgende gesê:

Since the canon of the Scripture has been completed, and the Christian Church fully founded and established, these extraordinary gifts have ceased” (Charity & Its Fruits, 29 )

en Thomas Hobbes in Leviathan:

Seeing therefore miracles now cease, we have no sign left whereby to acknowledge the pretended revelations or inspirations of any private man; nor obligation to give ear to any doctrine, farther than it is conformable to the Holy Scriptures, which since the time of our Saviour supply the place and sufficiently recompense the want of all other prophecy; and from which, by wise and learned interpretation, and careful ratiocination, all rules and precepts necessary to the knowledge of our duty both to God and man, without enthusiasm, or supernatural inspiration, may easily be deduced. And this Scripture is it out of which I am to take the principles of my discourse concerning the rights of those that are the supreme governors on earth of Christian Commonwealths, and of the duty of Christian subjects towards their sovereign.”

– Goddelike gesag

‘n Belangrike onderskeid tussen die twee uitgangspunte is dié van gesag. Vir die prima standpunt, berus finale gesag nie by die Skrif nie, maar by God. Dit is die logiese konsekwensie van ‘n siening wat nie die finale is nie, maar die “bo alles”. Dieselfde God wat dus die Skrif geïnspireer het, is ook dieselfde God wat die nuwe openbaring gee, en daarom kan die Skrif nie finaal wees nie, maar God.

Hierin verskil dit van die Sola standpunt wat juis die Skrif die finale gesag maak, aangesien dit die onfeilbare, genoegsame Woord van God is. Dit is die stryd wat die Reformatore met die Roomse leierskap gehad het!

Waarom kan dit nie “by God” wees nie? Omdat dit juis die deur oopmaak vir misbruik van gesag. Daar is dan geen duidelike riglyne nie, soos ons duidelik uit die voorbeelde hierbo gesien het. Om te sê God is my finale gesag, is net so wollerig as om te sê olifante het vlerke. Die Skrif stel homself voorop as gesagsdraer: “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na U Woord” (Psalm 119:9). “U Woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad” (Psalm 119:105). Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links af nie, sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan. Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel” (Josua 1:7-8).

‘n Verdere probleem is die gesag waarmee die nuwe openbaring hanteer moet word. Aan die hand van die Sola beginsel het God se Woord gesag omdat dit sy Woord is en Hy het dit geïnspireer. Daar is nie grade van gesag in sy Woord nie. Hierteenoor laat die prima benadering die deur oop vir gesagvolle openbarings van God. Hoe moet die ontvanger nou hierdie gesag beskou? Is dit bindend in dieselfde mate as die Woord? As die Woord die maatlyn is en die openbaring nie teen die waarheid van die Woord gaan nie, is dit dan gesaghebbend in die lewe van die gelowige(s)? Daar is nie grade aan die gesag waarmee God praat nie, met ander woorde, wanneer dit dus waar sou wees dat daar wel ekstra openbaring, ens. sou wees, sou dit beteken dat dit dieselfde gesag het as die Woord van God. Anders moet die dogma oor die gesag van God verander word om toe te laat dat God se openbarings verskil van openbaring tot openbaring – wat tog duidelik nie so kan wees indien Sola Scriptura konsekwent toegepas word nie.

Ek twyfel dat ons aan hierdie kant van die ewigheid konsensus sal bereik oor hierdie hantering. Die belangrike is egter om harde en indringende vrae te vra oor jou eie beskouing hiervan en dan eerlik daarop te antwoord.
 

Voetnotas

1. Dogmatic Constitution on Revelation – Dei Verbum 
2. http://www.desiringgod.org/resource-library/taste-see-articles/the-morning-i-heard-the-voice-of-god

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *