Baie van die Nuwe Testamentiese briewe is geskryf aan kerke wat onder die aanslag van een of ander dwaalleer moes bly staan. Om hiredie rede moet ons altyd seker maak dat ons die teks reg benader. ‘n Gevaarlike benadering is die sogenaamde “biblisistiese” benadering. Hiervolgens word tekste heeltemal uit verband aangehaal en gevolglik ook verkeerd toegepas. 

So baie lees ons van waarskuwings teen dwaling en dwaalleraars, ook op plekke in hierdie webtuiste, en tereg ook omdat dit ons plig is as gelowiges om valsheid uit te wys. Die gevaar hiervan is altyd die bedoeling daaragter en die benadering. Ek is self van mening dat wanneer daar een of ander dwaling is, daar ‘n hantering daarvan moet wees – oop, reguit, op die man af, maar binne ‘n breër konteks en bedoeling.

Vanuit apologetiese oogpunt is dit nodig om verantwoordelik met tekste om te gaan wat spesifiek dwaalleer aanspreek. Ons moet altyd onthou dat die Bybel is nie in die eerste plek geskrywe om dwaalleer te beveg nie, maar om God Drie-Enig in sy volheid en sy volle verlossingsplan met die mens te openbaar en dan vir die geredde mens ‘n riglyn te wees vir leer en lewe. Binne hierdie benadering is die hantering van dwaling maar een aspek. Een so ‘n gedeelte wat spesifiek dwaalleraars aanspreek is 2 Petrus 2. Wat ‘n erge beskrywing van die leiers van afvalligheid in die laaste dae! Petrus draai nie doekies oom oor die aard, die werkswyse en uiteinde van hierdie ouens nie.

Wat my egter opval oor hierdie hoofstuk is dit wat dit voorafgaan én wat daarop volg. Ons sal goed doen om te onthou dat ‘n sin, vers, hoofstuk in die Bybel is altyd deel van die volledige dokument. Die oorspronklike teks het nie die onderskeie verdelings gehad soos dit in ons netjiese moderne bybels is nie, selfs nie perikope nie.[1] Daar was wel struktuur en bedoeling, maar dit was in sy geheel. Nie dat daar iets mee verkeerd is om na ‘n vers, of ‘n sin te verwys nie (Jesus, Paulus en ander apostels het dit ook gedoen), maar dit moet ALTYD gesien word binne die raamwerk van die volledige geskrif. So was dit nie Petrus se primêre bedoeling om dwaling uit te wys toe hy hierdie brief geskryf het nie. Sou ons dus hoofstuk 2 isoleer is dit maklik die indruk wat ons kry, naamlik dat hy sy mes inhet vir hulle. Nee, sy bedoeling was meer as dit. Hy wou die gelowiges grond in die Here Jesus Christus en nie in die kennis van dwaling en valsheid nie, want vanuit volwassenheid en Christus kom geestelike standvastigheid.

2 Petrus 2:1 skrywe hy:

Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees

Hierdie woorde hang nie in die lug nie. Om dit te verstaan, moet ons teruggaan na vers 16 van hoofstuk 1:

Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie

Hier is duidelik 2 groepe “bedienaars” wat elkeen ‘n boodskap aan hierdie gelowiges het, en elkeen van hierdie twee groepe, skrywe Petrus, moet reg verstaan en hanteer word. Voordat Petrus egter in hoofstuk 2 die dwaalleraars se valsheid na hulle sal kom, verduidelik hy aan die gelowiges hoe die waarheid by hulle uitgekom het en waarop die waarheid gebasseer is. Dit moet ons mooi verstaan as ons hoofstukke 2 en 3 lees. Hy val nie sommer met die deur in die huis en looi die valse leraars nie. Hy vestig die gelowige se aandag eers op waar die waarheid is, hoe dit gekom het, en eers dan, op hierdie fondament, openbaar hy dwaling se valsheid en oordeel.

‘n Tema wat baie sterk na vore kom in die hele brief is dié van “herinnering”. Petrus lê klem daarop dat, alhoewel die gelowiges die goed weet waaroor hy skrywe en hulle “vasstaan in die waarheid”, hy sal aanhou om hulle daaraan te herinner tot die dag van sy dood (1:13). Hy is so ernstig daaroor dat hy hom selfs daarvoor sal beywer dat hulle dit ook ná sy dood sal bly onthou (1:15). Hy skrywe ook sy brief sê hy sodat hulle die Woord van God sal onthou, soos verteenwoordig deur die geskrifte en die gebod van die Apostels. Vir Petrus was dit dus belangrik dat die gelowiges nie sal vergeet hoe die waarheid na hulle gekom het, wat die implikasies daarvan is vir leer en lewe en hoe dit verdraai kan word deur valse leraars nie. 

Daar is ‘n rede waarom hy so ernstig is en dit is dat die valsheid die waarheid aanvanklik verdraai. Valsheid kom nooit in ‘n maklik herkenbare pakkie wat sê “in plek van” nie. Dit kom altyd met verdraaing van dit wat reeds daar is om in die finale instansie te vervang. Daarom Petrus se aanvanklike fokus op die plek van waarheid voor hy die valsheid openbaar. Vir die gelowige het dit implikasies. Jy moet die waarheid ken om die valsheid te kan identifiseer. Hierdie waarheid is vir ons in die leer van die Apostels en die profesieë, naamlik die Skrif, die Woord van God, wat die geskrewe waarheid is wat die gelowige anker in die Here Jesus Christus, die Waarheid wat mens geword het. Die Skrif is waar ons toets, dit is waar ons lees waarop dit neerkom, want dit is deur God se Gees uitgeasem (of dan soos ons dit ken, deur Hom geïnspireer). Die Skrif is ons gesag, want dit is God se woord aan die mens.

Dit is belangrik om die voorbereiding in 1:20-21 moet sien om hoofstukk 2 te verstaan. Die Skrif is nie ‘n saak van “eie uitlegging” nie, juis omdat dit God s’n is. Wat wil die Skrif ons hier leer? Dwaalleraars gebruik “eie uitlegging” om die Woord van God anders te verpak en hulle planne te verwesenlik. Daarom moet die gelowige dit weet, naamlik as iemand op sy eie insigte gaan staatmaak, gaan hy die Woord van God verdraai en val onder die oordeel van God. Daarom is die ouens daar in Berea altyd vir ons die model. Hulle het die Skrifte ondersoek om te kyk of Paulus hulle werklik die waarheid vertel.

Hoofstukk 2 word ook weer gevolg deur die eerste 2 verse van hoofstuk 3, naamlik ‘n oproep om vas te hou aan die woorde van die heilige profete en die gebod van die apostels van die Here Jesus Christus. Met ander woorde, Petrus se hele argument wentel nie om verdagmaking en uitskel nie, maar om gelowiges vas te maak aan die Woord. Hy het verseker ‘n baie hoë siening van die Skrif gehad, en probeer dit oordra. Ek het al daarna verwys dat ons moet terugkeer na ‘n hoë siening van God se Woord, want dit is ons enigste behoud.

Sola Scriptura is nie ‘n gereformeerde beginsel nie. Dit is ‘n Bybelse beginsel. Dit is ons behoud, ons gesag, ons riglyn, ons gebod, en ons heenwysing na Christus en God Drie-Enig. Die stryd teen dwaling sal voortduur en die enigste manier om behoue te bly is om geanker te wees in God se lewende en lewegewende Woord. 

 

Voetnotas

1. ‘n Goeie oefening is altyd om ‘n geskrif in die bybel van voor tot agter deur te lees sonder om te fokus op die verdelings deur die vertalers ingesit. Dit gee jou onmiddelik ‘n ander indruk van die teks.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *