In die verloop van die kerk se geskiedenis was daar nou al heelwat stryd oor die gesag van die Skrif. Dit is ook so dat die Christene ook bekend is die die “mense van die boek”. Hoe jy die Skrif interpreteer hang baie af van jou beskouing van die gesag wat die Woord van God dra.

Reeds met Josua se oorneem van die leierskap oor die volk kry hy die belangrike opdrag om nougeset te handel volgens die hele wet” (Josua 1:7). Die bedoeling is duidelik. God se wet dra volledig gesag vir die totale lewe in die nuwe land. Maar hier kom ‘n ekstra kinkel by, wat groot klem dra in jou benadering tot die Skrif. Let daarop dat God vir Josua sê “die hele” wet. Dit kwalifiseer die omvang van die Woord se gesag.

Onder die Rooms Katolieke beheer het die kerk mettertyd twee stelle etiese maatstawwe gehad, die een vir godsdienstige etiek gevind in die Skrifte en die ander vir natuurlike etiek soos gevind in die mens se rede en gevolglike verstaan van dit wat waargeneem kon word. Hierdie tendens sou later ontwikkel in die gesag van die tradisie en ander buite-bybelse bronne wat op gelyke vlak geplaas is as die Skrif. Dit het aanleiding gegee tot die “prima scriptura” benadering, met ander woorde ‘n bybel-plus hantering. Hiervan is byvoorbeeld die Geloofsbelydenis van Nicea ‘n sprekende voorbeeld. Die Reformasie het hierteen in opstand gekom en die Skrif as enigste gesag vir leer sowel as lewe voorgehou. Hier ontwikkel die begrip “sola scriptura” as die basis van die Reformasie se teologie. Om eerlik te wees, was die konsep hiervan nie nuut nie. Dit is alreeds deur verskeie kerkvaders voor die Reformasie bely, maar die stryd van die Reformasie met die Roomse het die amptelike status daarvan genoodsaak.

Daar is egter ‘n ander konsep wat hand-aan-hand saamloop met Sola Scriptura, wat effe in die agtergrond staan. Tog is dit so deel van ‘n regte verstaan en hantering van die Woord, dat ons dit moet uitlig. Sola Scriptura handhaaf die siening dat die Skrif alleen die gesag is vir leer én lewe. Die ander kant van die munt is egter “hoeveel” van die Skrif? Dit is maklik om te sê die Skrif het alleen gesag, maar dit moet gekwalifiseer word. Dit is dan waar Sola Scriptura sy metgesel kry, naamlik “Tota Scriptura”.

Soos die naam aandui, verwys dit na die totaliteit van die Skrif, met ander woorde, nie slegs ‘n paar uitgesoekte gedeeltes nie, maar die volledige Skrif soos deur die kerk erken en vasgemaak. Daarom is god se opdrag aan Josua vir ons so belangrik. Hy moes die “hele” wet onderhou. Nie slegs daardie gedeeltes wat sou inpas by sy verstaan van die wet nie. Waar “prima” ‘n bybel-plus benadering verteenwoordig, gaan dit by “tota” oor ‘n bybel-minus.

Marcion was natuurlik die een van die eerstes in die kerklike era wat met die reduksie van die Skrif begin het. As eerste eeuse Gnostikus in murg en been, het hy die God van die Ou Testament verwerp en Jesus se God probeer handhaaf. Hierdie benadering van hom het natuurlik daartoe gelei dat hy die Ou Testament verwerp het, en klomp van die destydse dokumente wat deur die kerkleiers as gesaghebbend beskou is. Dit het natuurlik die leiers van die kerk gedwing om erns te maak met die vasstelling van die Nuwe Testamentiese kanon (afkomstig van die Griekse woord wat “standaard” of “maatstok” beteken). Tegnies het hierdie kerkleiers die gesag van die onderskeie geskrifte erken as geïnspireer deur God en daarom God se Woord en nie gesag daaraan toegedig nie. Onder die leiding dan van die Gees van God is die kanon vir eens en altyd vasgemaak, en met hierdie proses afgehandel, het die duidelike boodskap uitgegaan dat die Woord van God, soos vervat in die kanon, die enigste bron van gesag en finale openbaring van God verteenwoordig. Dus alreeds ‘n boodskap van Sola Scriptura en Tota Scriptura.

Die liberale teologie is natuurlik ‘n goeie voorbeeld om te sien hoedat die slegs gedeeltes van die Bybel aanvaar word as gesaghebbend. Een van die bekendste hanterings van die Woord in hierdie opsig is dié van die mitologie. Onder aanvoering van die Duitse teoloog Rudolf Bultmann het hierdie benadering groot aanhang gekry in die kerk. Hy het gekom met die onderskeiding tussen kerugma en mite. Volgens hom bevat die Skrif gedeeltes wat historiese en teologiese waarde het vir die tema van verlossing, maar die waarheid is vasgevang in mites. Om dus sin te maak, moet die Skrif “ontmitologiseer” word. Hier dink ons byvoorbeeld aan die beskouings van Genesis 1-3 (selfs 1-11), Jesus se stryd met Satan, die wonderwerke van Jesus, ens. Hierdie word alles beskou as bedek met mites.

Buiten die mitologiese, is daar ook verskeie beskouings oor die inspirasie. Die NG Kerk het ‘n siening aanvaar wat van mening is die aard van die gesag van die Skrif [is] ook nie oral dieselfde nie. Ons kan onderskei tussen die hart van die boodskap van die Skrif en sake wat meer op die rand lê, hoewel die rand en hart nie van mekaar losgemaak kan word nie, maar juis in hulle samehang as Woord van God funksioneer.1

Dit is duidelik dat wanneer jy hierdie tipe hantering van die Skrif het, eindig jy met ‘n kanon binne in ‘n kanon (hart en rand), wat die beginsel van die hele Skrif as gesaghebbend verwerp. Dan geld 2 Timotheus 3:16-17 nie meer nie. Dan moet Jesus se woorde aan Satan verander word as Hy die duiwel bestraf met die woorde Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheus 4:4).

Iets wat belangrik is om raak te sien by die gedagte van “Tota Scriptura” is die Eenheid van die Skrif en daarmee saam die Onbreekbaarheid van die Skrif. Hierdie twee aspekte kan nie van mekaar los gedink word nie, alhoewel elkeen sy eie spesifieke fokus op die tafel sit. Wanneer die Skrif praat van die “hele” Skrif, “elke” woord, bevestig dit dat die hele Skrif, Ou en Nuwe Testament, die 66 boeke van die Bybel, ‘n eenheid vorm omdat dit dieselfde goddelike oorsprong het. Petrus skrywe hiervan in sy tweede brief (2 Petrus 1:19-21). Dit is juis hierdie eenheid van die Skrif wat aan die hele Skrif dieselfde mate van gesag verleen. Die hele Woord is gesaghebbend omdat dit in sy totaliteit geïnspireer is deur die Gees van God. Volgens Psalm 119:160 is “die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.” Jakobus 2:10 verduidelik ‘n praktiese implikasie van die eenheid in God se Woord:

Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.

Dus is dit belangrik om te sien dat God se Woord is ‘n eenheid in al sy dele.

Aan die ander kant is die eenheid van die Skrif onbreekbaar. Dit beteken dat geen deel daarvan weggeneem kan word sonder om die geheel skade te doen nie. Neem byvoorbeeld die wonderwerke weg, dan kan daar nie iets soos ‘n maagdelike geboorte of opstanding uit die dood wees nie. Oor hierdie onbreekbaarheid van die Skrif leer die Woord ons onder andere:

34 Jesus antwoord hulle: Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie? 35 As dit húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie, 36 sê julle vir Hom wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het: U spreek godslasterlik—omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van God? (Johannes 10:34-36)

17 Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. 18 Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. 19 Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele(Mattheus 5:17-19)

23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. 24 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, 25 maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is. (1 Petrus 1:23-25)

In hierdie verband word ons deur God verbied om iets by te voeg of weg te neem (Deuteronomium 4:2; 12:32; Spreuke 30:6 en Openbaring 22:18).

Sola Scriptura dwing jou tot Tota Scriptura. Dit handhaaf die volledige Skrif alleen as gesag vir leer en lewe en verwerp ‘n bybel-plus sowel as ‘n bybel-minus benadering tot die openbaring en gesag. Die kerk moet hierteen stry met alle mag om so getrou te bly aan God en sy geïnspireerde Woord.
 

Voetnotas

1. http://www.ngkerkwynberg.co.za/skrifgesag.htm

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *