Dr. Chris Saayman – NG Kerk Tafelberg

(Hierdie praatjie is gelewer tydens die byeenkoms van die Kaapse Studiegroep op 15 Junie 2013 om die 450 jaar bestaan van die Heidelbergse Kategismus te vier)

Alles verander gedurig. Dit bring soveel onsekerheid, ook oor die evangelieboodskap en die Bybel as sulks. Ís daar ooit iets soos waarheid? Is daar ‘n geloofsinhoud wat deur die eeue aanvaar is en vandag nog net so waar is? En, indien wel, hoe moet ons vandag weet wat daardie geloofsinhoud is?

Heel gou in die kerk se geskiedenis is die geloofsinhoude soos die apostels dit verkondig het, saamgevat en bely in die bekende woorde van die 12 Artikels (Die Symbolum Romanum was die grondvorm van die 12 Artikels en reeds sedert 150nC bekend). Natuurlik was die inhoud daarvan van die begin af aangeveg. Daarom was dit noodsaaklik om die inhoud uitvoeriger te beskryf. Dit moes nie ánders gesê word nie, maar wel meer uitvoerig. So het onder andere die Geloofsbelydenisse van Nicéa en Athanasius ontstaan. Die Oosterse kerk het slegs Nicéa aanvaar. Nidéa was dus die uitdrukking van die eenheidsband tussen die kerk in die Ooste en Weste.

Ná die diepe verval van die kerk in die middeleeue, het die Groot Reformasie in die 16e eeu plaasgevind. Toe is die noodsaak gevoel om die reeds gesegde belydenis nog meer uitvoerig te verwoord. Aanvegtinge teen die inhoud van die algemeen-aanvaarde (katolieke) belydenisse het dit genoodsaak. So het – te midde van vele ander – die Nederlandse Geloofsbelydenis en Heidelbergse Kategismus ontstaan. Niks nuuts is gesê nie. Dit is ten diepste steeds dieselfde 12 Artikels wat bely word!  Sodoende is gepoog om die geloofsinhoude wat die Apostels verkondig het, te handhaaf. Die een lyn wat van die Apostels kom, moes bewaar word. Alle twyfel oor wát die kerngeloofsinhoude van die evangelieboodskap is, moes bygelê word.  Dit is ‘n verhoring van Jesus se gebed waar Hy gebid het dat Sy kinders één mag wees in die waarheid! (Joh 17: 14, 17, 20,21). Die kerke van die Reformasie wou aanvanklik nie ‘n nuwe kerk stig of wegbreek van die Kerk van Rome nie. Hulle wou bloot net na die apostoliese leer terugkeer en kerk van die Woord wees.

Dwarsdeur die eeue is hierdie geloofsinhoude egter aangeveg. Daar was allerlei rigtings wat die binding aan ‘n belydenis teengestaan het: 

 

A. WEDERDOPERS: Volgens hulle is die belydenis slegs ‘n dooie letter. Ons het die inspraak van die Gees nodig om die Woord lewend te maak!
B. SKRIFKRITIEK: Die Skrif self is maar ‘n menseboek. Watter gesag kan menslike belydenisskrifte dan ooit hê! Dinge moet tog altyd weer anders gesê word! 
C. POST MODERNISME:  Ons kan nooit sê dat ons die absolute waarheid gevind het nie. Die waarheid het ‘n oop einde. Ons bly steeds soekers na die waarheid. Ons respekteer dus die belydenisskrifte, want dit was heel moedige pogings van die vaders om die waarheid te soek. Die belydenisskrifte is dus slegs die neerslag van ‘n moedige histories-gebonde poging om die waarheid te vind. Ons moet vandag, net soos die vaders, ons bes doen om die waarheid te vind. Ons lewe in ‘n ander tyd as hulle. Ons weet ook meer. Ons kan dus nie die vaders klakkeloos napraat nie! 
D. BIBLISISME: Ons het aan die Bybel alleen genoeg. Dit sou in stryd wees met die genoegsaamheid van die Skrif om ook nog belydenisskrifte te hê. Dit sou te kort doen aan die majesteit van die Woord. Die “sola scriptura” van die Reformasie beteken in beginsel “geen belydenisskrifte”  – aldus die biblisisme.

 

Van alle kante word die binding aan ‘n belydenis dus aangeveg: van die kant van die vrysinnige Skrifkritiek tot by die evangeliese Biblisisme. Dit lyk asof die gereformeerde posisie ‘n eensame en verlate pad is.

Die weerstand van punte A-C kan op ‘n manier wel weerlê word. Almal kulmineer immers in die subjektiewe vryheid wat die outonome mens homself toeëien.

Maar, wat van die Biblisisme? Het hulle nie gelyk nie? Is dit nie juis reformatories om te sê  “Skrif alleen” nie? Dit wil elke gereformeerde tog van harte! Geen gereformeerde wil tog gebonde wees aan menslike geskrifte teenoor of bo  die Woord nie. Is die Biblisiste nie korrek as hulle die gereformeerdes op dieselfde vlak as die Rooms-Katolieke plaas nie? By Rome vind ‘n mens mos die Pous, maar hang die gereformeerdes nie dalk ‘n “papierpous” aan nie? By Rome tel die tradisie net soveel punte as die Skrif. Is die belydenisskrifte nie ook maar net ‘n stuk tradisie nie?

Dit is egter baie interessant hoe die belydenisskrifte hulleself sien! Volgens Art 7 (NGB) staan slegs die Woord alleen sentraal en mag met geen menslike geskrif op een vlak geplaas word nie. Die belydenis kom, volgens die belydenis self (!) juis op vir binding aan die Skrif alleen!

Waarom is die binding aan die belydenis dan wel nodig? Omdat dit juis die Woord alleen is wat daarin bely word! En, sodat daar van die Woord in geen opsig afgewyk sal word nie! Die Drie Formuliere wys weg van hulself af! Die belydenis wil die kerk juis by die Woord hou! Tewens, die Bybel self verleen aan ons die reg en die plig om ‘n belydenis te hê.  In Efes. 3: 17-19 vind ons die oproep om “saam met al die heiliges” die diepte van die evangelie te deurgrond. Voeg daarby Judas 1:3 en 1 Tim. 3:15. Hier sien ‘n mens watter roeping die kerk het om die apostoliese geloofsinhoude skerp te formuleer en om dit te doen in die beoefening van gemeenskap met die gelowiges van alle tye. Die gemeente is immers die draer en beskermer van die waarheid.

In die hedendaagse wêreld van onsekerheid, moet die kerk ‘n veilige rots van sekerheid bly. Binne hierdie kerk moet ‘n eenheid heers. ‘n Eenheid in die oorgelewerde geloofsinhoude!  Op watter ander manier kan die kerk ‘n kandelaar wees wat die Lig laat skyn (Open 1)? Op watter ander manier kan die kerk gereed wees om verantwoording te doen van die hoop wat in hom is? ( 1 Petr 3:15).

Maar steeds knel die vraag: is die belydenisskrifte nie tog maar verouderd nie? Is dit nog aktueel? Vra die tye waarin ons leef nie om iets anders nie?  Wat het ons vandag te make met die dogma’s van Rome, die wederdopers, die Remonstrante, die Ariane – waarvan ons verskil?

Die interessante is egter dat hierdie afwykings telkens weer na vore kom, elke keer net in ‘n ander gedaante! Byna alle hedendaagse vraagstukke vind hulself op die een of ander manier aangespreek in die belydenisskrifte! Die bedoeling van die belydenis was nooit om elke denkbare vraagstuk aan te spreek nie, maar om die kernwaarhede van die Skrif na te sê. En, dit bly altyd aktueel en het die toets van die tyd deur en deur deurstaan!

Daar mag persone wees wat hierdie dinge insien, maar reken dat die belydenisskrifte te veel kerklike verdeeldheid meebring. Kan ons nie dan maar slegs die 12 Artikels – as ‘n soort mini-belydenis – aanvaar nie? Die gereformeerde belydenisskrifte is mos wesenlik niks anders as ‘n uitbreiding op die 12 Artikels nie. Ons moet sekerlik iets vind wat verskillende kerke kan verenig en nie verder verdeel nie! Die 12 Artikels word darem redelik algemeen aanvaar (Nicéa in die Ooste) deur Roomse, gereformeerdes, charismate, Baptiste ens.

Dit is egter opvallend dat onder diegene wat die 12 Artikels onderskryf, daar ook verdeeldheid is. Hoewel almal bely dat God die Skepper is, meen sommige dat Hy in 6 dae alles gemaak het, terwyl ander dit sien as ‘n proses van evolusie. Hoewel almal bely dat Christus uit die dood opgestaan het, meen sommige dat dit werklik fisies so plaasgevind het, terwyl ander reken dat dit nie Sy liggaam was wat verrys het nie, maar dat Hy slegs in een of ander geestelike gestalte voortleef.

Dit is dus nie die oorgelewerde geloofsinhoude wat kerke verdeel nie!  Dit is die eiesinnige outonome mens wat homself die reg wil voorbehou om met die belydenis na eie willekeur om te gaan, wat die verdeeldheid veroorsaak, nie die belydenis self nie!

Belydenisgeskrifte het dus groot nut. Vir die gelowige wat bereid is om sy eiesinnigheid te laat vaar en te buig voor die enige geloof en ook die eenheid in daardie geloof van harte soek, is die belydenis van groot waarde. Die belydenis dui immers aan wat die outentieke geloofsinhoude is, wat van die apostels aan ons oorgelewer is. Die blywende aktualiteit van die belydenisskrifte is dáárin geleë dat dit vanuit die Skrif opkom! So aktueel soos die Skrif en Christus is, só is die belydenisskrifte. Daarom sal die vergeetboeke een of ander tyd weer onthou word!

Die goeie nuus is dus dat dit vir geen gelowige nodig is om enigsins in verwarring en vertwyfeling te verkeer in die deurmekaar tye waarin ons leef nie. Daar ís so iets soos vasstaande geloofsinhoude.  Dit is die Evangelieboodskap wat reeds deur die Apostels verkondig is en deur die eeue geglo is en wat vir ons vandag nog ongeskonde bewaar is in onder andere die gereformeerde belydenis. Sonder vrees kan ons dit opneem en weer opnuut lees en moed skep vir die toekoms.

Ten slotte wil ek graag vir u wys op watter manier die Heidelbergse Kategismus die evangelieboodskap aanbied – wat so anders is as wat die hedendaagse populêre aanbiedings klink.

 

1 Ek as mens sit in ‘n ellendige sonde-moeras vas. Hoe meer ek spook, hoe dieper sak ek weg in die verderf in (Vgl HK Sondae 2-4 – Romeine 1:18 – 2:24)

2 Toe het God my jammer gekry en my onverdiend gered. Hy het my met Jesus gered. Hy het my met Jesus Christus se geboorte/gehoorsaamheid/onskuldige

lyding/kruisiging/sterwe/begrafnis/opstanding/verheerliking gered. Dit is die blye boodskap wat die hele Bybel vol staan (Vgl HK Sondae 5-22 – Romeine 1: 1-7; 3:21-4:25)

3 Maar hoe kan hierdie redding in my eie ondervinding ‘n werklikheid word? Ek kan en mag dit maar glo en my vertroue daarop plaas. Ek kan niks anders doen as om te glo dat God mý ingesluit het by die redding nie en my vertroue daarop oorplaas (HK Sondag 23-24 – Vgl Romeine 3: 25-28)

4 En God help my glo deur met die doop & nagmaal swart op wit aan my persoonlik te sertifiseer dat Hy mý op die kruis gered het. Daarom word mý naam by die doop genoem en daarom kry ek die brood & wyn in mý hand en mond. Die sakramente is versekeringe wat my help glo (Vgl Romeine 4:11; 6:4). Die sakramente sertifiseer nie iets in mý nie, dit sertifiseer die inhoud van die Blye Boodskap áán my. (vgl HK Sondae 25-30)

5 Die kerk het dus sleutels in sy hand waarmee hy die wonderlike redding vir mense oopsluit (diegene wat die Boodskap glo) en toesluit (vir wie weier om te glo). Die sleutels is die boodskap van die Goeie Nuus wat die kerk aan almal verkondig asook die versekeringe van die doop en nagmaal wat bedien word (Vgl die Apostoliese bediening van die Apostel Paulus) (vgl HK Sondag 31)

6 Wat sal nou my reaksie wees as ek die goeie nuus van my redding hoor en my vertroue daarop plaas? ‘n Oneindige groot dankbaarheid. Dis vanselfsprekend. Ek draai om (bekeer) uit my doodlooppad en kom terug na God toe. Ek noem Hom “Vader”. Ek voel ‘n nuwe mens wat vir God wil lewe. Daagliks veg ek teen die ou mens se sterwende stuiptrekkings en meer en meer lewe ek die lewe van die nuwe mens. Ek wil nou volgens Sy wil lewe – soos saamgevat in Sy tien liefdeswoorde (Wet). En ek sê ‘n leeftyd lank op my knieë dankie in gebed (Vgl Romeine 12-16) (Vgl HK Sondae 32-52).

 

Let op: Die aksie van die mens vólg op die verlossing. Die verlossing is nie net ‘n aanbod nie. Dit is nie net in beginsel (potenseël) waar nie. By alle nie-Christelike godsdienste vólg die “verlossing” (hoe dit ookal verstaan word) op die aksie van die mens (elke godsdiens skryf sy eie reëls voor). Alle afwykinge binne die Christendom volg ook op uiters geraffineerde maniere hierdie roete en ons moet altyd daarvoor op die uitkyk wees. Die Kategismus gee vir ons die koers aan.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *