VOORLEGGING BY LUISTERGELEENTHEID

GEREëL DEUR DIE SINODE HOëVELD

Voorlegging deur prof Johan Janse van Rensburg
 

Broer voorsitter en geagte vergadering,

1             DANKBETUIGING

Baie dankie vir die geleentheid om aan die luistergeleentheid deel te neem. Geluk aan die Sinode Hoëveld wat die eerste keer regtig iets doen om na beswaardes te luister. Daar is al geruime tyd ontevredenheid en besorgdheid oor leerstellige afwykings; tóg was die enigste reaksie tot dusver dat dié wat hulle beorgdheid uitgespreek het, van leuens en verdagmakery beskuldig is. Sélf is ek van onwaarhede beskuldig, is my geloof in Kerkbode deur ‘n briefskrywer in twyfel getrek en is ek deur ‘n teolooog met skelwoorde belaster. Die hewige reaksie in Kerkbode, Kerkbode Aanlyn en verskeie Blogs is hiervan konkrete bewys.

2             VERTREKPUNT

Dit is uiters moeilik om ‘n enkele vertrekpunt vir die aanbieding te kies, aangesien dit ‘n multi-dimensionele teologiese probleem is. Dit is byvoorbeeld nie net ‘n akademiese (universiteits-) probleem by ‘n sekere universiteit nie. Die probleem van leerstellige afwykings het omvangryke afmetings aangeneem. Ek beperk my aanbieding tot sekere wesenlike prinsipiële en praktiese aangeleenthede. Dit beteken dat die inligting in hierdie voorlegging kursories is. My boek “Jesus is die Een!” dien as verwysingsraamwerk en die meeste van wat ek in my voorlegging sê, word in die boek met voorbeelde gesubstansieer. Verdere inligting kan op navraag verkry word en as ek die geleentheid kry, kan ek volledig daarop uitbrei.

3             BEDREIGING VAN DIE EVANGELIE

Ek het in my boek Jesus is die Een! aangedui dat daar in die teologie van die Ontluikende Kerk, wat al hoe meer onder kerklike leiers steun geniet, duidelike aanduidings dat die evangelie van Jesus Christus op velerlei wyse verdraai en verarm word. Die teologiese motivering hiervoor is dat ons die evangelie nuut aan ‘n postmoderne wêreld moet verpak (JvR, 2011:61-68).

4             UNIVERSALISME

Waarskynlik onder invloed van die Ontluikende Kerk en die New Age Beweging het die leer van die universalisme weer uiters populêr geword (sien JOY,Junie 2011:22-27). Dit is klaarblyklik nie polities korrek om ‘n ekslusiewe geloof (Jesus is die enigste verlosser) te verkondig nie. So word die Christelike geloof ook nie langer as die enigste geloof en weg tot saligheid beskou nie. ‘n Kollega wat in erediens in ‘n NG Kerk bywoon, vertel dat die leraar die diens met die volgende seëngroet begin: “Ek groet u in die naam van die God van Islam, die God van die Jode, en die Vader van Jesus Christus”. Nog ‘n ander leraar verklaar van die kansel af dat dit nie nodig is om Jesus aan te neem nie, aangesien almal kinders van God is. Tydens ‘n akademiese seminar het ek in my aanbieding verwys na die universalisme wat in populariteit toeneem. Een van die dosente het my na die tyd meegedeel dat hy nie langer ‘n ekslusiewe geloofsbeskouing kan handhaaf nie (JvR, 2011:69-74).

5          SKRIFBESKOUING

Hoe dit moontlik is om ‘n unversalistiese beskouing te hê as die Skrif uitdruklik verklaar dat daar geen ander manier is waarop ons gered kan word nie? Die enigste wyse waarop dit gedoen kan word, is om die hermeneutiek (die sleutel tot die verstaan van die Skrif) te wysig. So word daar byvoorbeeld beweer dat dat Christus se sterwe aan die kruis nie ‘n plaasvervangende en versoenende karakter gehad het nie maar slegs ‘n illustrasie vir Jesus se volglinge is om hulle lewe vir hulle naaste op te offer. ‘n Ander hermeneutiese benadering is om Jesus se versoeiningsdood vir alle mense geldig te maak, sodat alle mense daardeur gered word. Dit het die implikasies dat mense nie tot Christus bekeer moet word nie, dat sending nie meer impliseer dat mense uit hulle nie-Christelike geloof opgeroep moet word om Christene te word nie, ens. Hierdie gedagte het klaarblyklik ook in predikante wat navolgers van die Ontluikende Kerk is, posgevat en word volgens talle getuienis van lidmate reeds van kansels verkondig (sien verder JvR, 2011:91-98).

6        ’N NUWE HERMENEUTIEK?

Hoewel die N.G.Kerk met talle Algemene Sinodes ons Skrifverstaan en- gebruik uiteengesit het, vind die onverklaarbare verskynsel tydens die Algemene Sinode van 2011 plaas dat die Sinode besluit om dit aan mense oor te laat of hulle in die werklike bestaan van die duiwel glo. Verskeie kerkleiers het in die openbaar verklaar dat hulle nie aan die bestaan van die duiwel kan glo nie. Niemand het egter daaraan gedink om aan die lidmate leiding te gee oor hoe hierdie besluit die Skrifverstaan beïnvloed nie.

Die akute vraag is byvoorbeeld of Jesus Hom dan vergis het deur duiwels aan te spreek en uit te dryf wat nie bestaan nie.? Hoe het Hy as Seun van God nie  geweet dat daar nie duiwels is nie? En hoe moet Paulus en Petrus se uitsprake dan verstaan word? Die hermeneutiese beginsel waarmee die verlsag aan die Sinode gewerk het, was dat die Bybel in pre-moderne taal geskryf is en dat post-moderne mense nie hierdie taal kan aanvaar nie. Duiwels en engele is eenvoudig nie deel van ‘n postmoderne wêreldbeeld nie. Die probleem met hierdie soort hemeneutiek is egter dat die hele evangelie verander moet word tot ‘n metaforiese verhaal waarin niks letterlik verstaan mag word nie. Immers, die maagdelike ontvangenis van Jesus by Maria, Jesus se Goddelike natuur, sy opstanding en hemelvaart kan dan ook nie deur ‘n postmoderne wêreldbeeld geakkomodeer word nie. Dan bly daar weinig van die evangelie oor.

Wat veral ook van hierdie soort Skrifhantering hinder, is dat daar op ‘n selektiewe wyse te werk gegaan word. Wanneer kerkeenheid of die Belydenis van Belhar byvoorbeeld ter sprake kom, het voorstander geen probleem om ‘n direkte verwysing na die Skrif te gebruik om hulle standpunte te regverdig of te versterk nie. Wanneer dit egter kom by ‘n beroep op die Skrif oor die bestaan van die duiwel, word dit as fundamentalisme afgewys. Hoe preek predikante dan oor die Bose en die sogenaamde pre-moderne Skrifgedeeltes? Hoe moet lidmate dit verstaan? Waarom het die Sinode nagelaat om hieroor leiding te gee? Of hanteer ons nou die Skrif soos een dominee wat Bybelstudievrae uitdeel en dan sê dat die lidmate nie bekommerd moet wees of hulle die regte antwoorde gee nie, omdat daar nie regte antwoorde is nie?

6             KONTEMPLATIEWE SPIRITUALITEIT (KS)

In die byna koorsagtige strewe om nuwe maniere te vind om die kerk en die evangelie vir die postmoderne mens aantreklik te maak, word ons gedurig met slagspreuke gebombardeer wat ons aanmoedig om “buite die boks te dink”. Een voorbeeld is die uitdrukking: “Eers ervaar, dán glo”. Hierdie benadering het waarskynlik sy oorsprong by Leonard Sweet.. Sweet vind aansluiting by die teoloog Karl Rahner wat voorspel het dat die Christen van die toekoms die mistisisme nodig sal hê as hy hy/sy nie tot niet wil gaan nie. Volgens Sweet begin mistisisme by ervaring en eindig dit in teologie. Teologie word dus uit die “body-mind”- ervaring afgelei en nie uit die Bybel as God se openbaring aan mense nie. In plaas daarvan dat ons geestelike belewing op die Bybel gebaseer word, word ons idees oor God van ons ervaring afgelei! (Quantum Spirituality:76). Hierdie benadering word gekoppel aan ‘n tweede “uit-die-boks-uitdrukking”, naamlik: “Waarheid is nie in leerstellings nie, maar in verhoudings” (Nelus Niemandt, Beeld 15 April 2012).

Die “nuwe” benadering klink logies: Die kerk moet eerder met gasvryheid die postmoderne mens lok en betrek in eredienste wat gebruikersvriendelik is. Formele dienste met vasgestelde liturgieë en die strukturele prediking doen dit nie vir die postmoderne mens nie. Nee, ervaring is die wagwoord. Niemandt skryf: “Dit gaan alles oor ervaring” (2000:116).. Laat die buitestanders eers ervaar. In hierdie benadering moet ongelowiges selfs tot die viering van die nagmaal toegelaat word (Niemandt, 2000:96). Dan sal hulle belangstel om meer te weet en dan kan hulle tot geloof begelei word. Een skokkende voorbeeld van so ‘n diens is die sogenaamde “Cosmic Mass” wat in 2005 in Oakland (Amerika) deur Mathew Fox gehou is. Verteenwoordigers van alle gelowe is verwelkom en daar is ‘n gesamentlik nagmaal gevier. Hierdie skokkende byeenkoms kan op You-tube gevolg word (http://video.google.com/videoplay?docid=1625633075153286458).

“Eers ervaar; dan glo”. Vanuit ‘n postmoderne epistemologie mag prediking nie kerugmaties-konfronterend wees nie; sonde en vergifnis pas nie in die denkskema van die postmoderne mens nie; die versoening van sondes deur die bloed van Christus is vir die postmoderne mens ‘n afstootlike gedagte; en monologiese prediking is klaarblyklik ‘n vreemde en onaanvaarbare manier van kommunikasie. Om hierdie struikelblokke te oorkom, word die erediens in die tradisie van die Ontluikende Kerk tot ‘n informele byeenkoms omvorm. Sang, musiek, moderne dans, gedigte en voorlesings speel ‘n belangrike rol terwyl besprekings oor die Bybel die Woordverkondiging vervang. Rooms-Katolieke en Oosterse mistiek word ingespan om ‘n ekstatiese belewenis te fasiliteer. Die sogenaamde kontemplatiewe spiritualiteit, waarvan die “centering prayer” ‘n eksponent is, stimuleer volgens getuienis intense emosionele ervarings, selfs tot op die vlak van bewyssynsverandering en die gevoel van “wedergebore te word” (volgens David Campolo se getuienis).

Hierdie mistiese ervarings staan as “Contemplative spirituality” bekend. Kontemplatiewe spiritualiteit is die gebruik van antieke mistiese praktyke ten einde ‘n alternatiewe bewussynsstaan te presipiteer. Die teologiese voorveronderstelling van kontemplatiewe spiritualiteit is panteïsme en pan-en-teïsme. Spencer Burke, die vader van die konsep, verwys in hierdie verband na die sogenaamde “Desert Fathers” en die algemene konsensus is dat hulle die eerste Christen-mistici was. Kontemplatiewe spiritualiteit het begin om Oosterse of Middeleeus-Katolieke mantras as instrument te gebruik om ‘n veranderde staat van bewussyn te bewerkstellig. Evangeliese geloof is met KS vervang om ‘n beter ervaring van God moontlik te maak. Die geloofsleer het minder belangrik geword en die obsessie om God te ervaar het oorheers. (Sien ook nog verder die volgende webtuiste . http://www.lighthousetrailsresearch.com/contemplativespirituality.htm).

Brian McKlaren skryf in sy Generous Orthodoxy: “This new search has lead many of them back to Catholic contemplative practices and medieval monastic disciplines.” By talle EC-skrywers word die invloed van Katolieke denkers soos Thomas Merton (The Monastic Vision), Henri Nouwen (Spiritual Disciplines) en die centered prayer-idee van Thomas Keating (Intimacy with God) erken.

Die “centering prayer” het blykbaar oral posgevat. Verskeie gemeentes beoefen dit en dit was selfs deel van ‘n spiritualiteitskursus wat in die Vrystaat aangebied is. ‘n Teologiese student het in ‘n kerkpreek die erediens begin met die woorde wat gewoonlik by so ‘n “induksie” gebruik word. Dit behoort onnodig te wees om te betoog hoe vér hierdie praktyk van die Skrif en die gereformeerde spiritualiteit afwyk (Sien verder JvR, 2011:99-103; Kyk ook na Roger Oakland se bespreking van Tony Campolo se sogenaamde wedergeboorte deur “centering prayer” by www.understandthetimes.org).

7             POST-TEïSTIES EN PAN-EN-TEïSTIES

Prof. Julian Müller skryf in Beeld (6 Maart) dat hy nie ‘n ateïs wil wees nie. Hy beskryf homself eerder as ‘n post-teïs. Dit beteken dat hy finaal afskeid geneem het van die idee van ‘n persoonlike God wat ‘n afsonderlike bestaan van ons voer en wat oor sekere eienskappe soos genade, liefde, goedheid, almag, heiligheid, ewigheid en geregtigheid beskik. Hy skryf: “Ek, aan die ander kant, sou myself ’n post-teïs wou noem. Dit beteken ek aanvaar doelbewus dat daar ’n era met denkwyses en taal oor God verbygegaanhet.” Hy skryf die gedagte van ‘n persoonlike God toe aan menslike denkkonstruksies. Hy verduidelik: “Ons het eenvoudig begin om God gelyk te stel aan ons selfgeproduseerde begrippe/taal/dogma oor God. Dit is duidelik dat Müller se teologiese vertrekpunt ‘n streep deur elke artikel van ons geloofsbelydenis trek.

Panteïsme is skynbaar die wyse waarop Julian verkies om nou in God te glo omdat dit makliker is om die gedagte van ‘n skeppende God met evolusie te vervang. In sy Quantum Spirituality beskryf Sweet ‘n kosmiese Christus. “Dit is my liggaam” impliseer volkgens Sweet dat God en kosmos een is: “This entails a radical doctrine of embodiment of God in the very substance of creation”. Dit is nie moeilik om te sien hoe die kosmiese Christus en die eenheid van God en kosmos tot panteïsme lei nie. Volgens Yungen (2006, A Time of Departing: 53) is pan-en-teisme by die Ontluikende Kerk die populêre beskouing oor God.

8          GEREFORMEERDE LEER EN IDENTITEIT

Nelus Niemandt skryf: “Die frustrasie oor die beheptheid met denominasionele strukture loop oor. Tony Jones, een van die leiers van die ontluikernde kerke in die VSA, dink nie denominasies het enige kans in ‘n postmoderne wêreld nie en sê selfs dat denominasionele strukture die koninkryk van God in die wiele ry”.(Niemandt, 2000:41). Die gereformeerde denominasies is dus onder druk. Niemandt vervolg: “As daar oor ‘n paar duisend jaar na hierdie fase van die kerkgeskiedenis teruggekyk gaan word, gaan die vermenigvuldiging van denominasies waarskynlik as die mees problematiese erfenis van die Reformasie beskou word. Dit het baie te doen met die modernistiese manier waarop belydenisskrifte in denominasies funksioneer. Dink maar aan die manier waarop Jesus se lewe en betekenis net verstaan word deur die eensydige dogmatiese bril van ons belydenisse. Daar word so eng gefokus op dogmatiese debatte oor die aard en natuur van Jesus dat die Jesus wat tussen mense gewoon en mense genees het, vervaag . Dit is egter juis die einste Jesus wat aarde toe gekom het, dissipels gemaak het en hoop gebring het, wat die fokus van egte geloof is.” (idem). Dit duidelik dat die stelling: “Eers ervaar; dan glo”, en “Die waarheid is nie in leerstellings nie…”, nie so onskuldig is nie omdat dit direk teenoor die gereformeerde leer en identiteit stelling inneem.

8             CHRISTELIKE BOEKWINKELS

Die vraag word dikwels gevra of die invloed van die Ontluikende Kerk werklik so betekenisvol is en of dit nie maar net ‘n probleem in Amerika en Europa is nie. Ek was verbaas om te verneem hoeveel lidmate nie net ingelig is, maar selfs tot teologiese beoordeling van skrywers en boeke in staat is. Die invloed van Christelike boekwinkels moet nie onderskat word nie. Sekere boekwinkels (ek laat hulle name weg maar kan hulle presies identifiseer) verkoop boeke van Leonard Sweet en die Ontluikende Kerk. Rob Bell se boek Love Wins is deur een van ons vooraanstaande boekwinkels verkoop. Daarin beredeneer Rob Bell dat daar geen sonde, hel of straf is nie en word die hele leer van verlossing deur Jesus Christus op losse skroewe geplaas. Prof. Nelus Niemandt het volgens ‘n berig in Rapport (2 April 2011) aan Johannes de Villers gesê dat hy nie Rob Bell se siening as ongehoord beskou nie! Hy word deur De Villiers soos volg aangehaal: “Die Wêreldraad van Kerke het in 1989 gesê daar is geen ander weg van verlossing as Christus nie, maar dat ons terselfdertyd nie beperkings op die reddende krag van God se wil kan plaas nie. Wat ek van Bell se boek waardeer, is sy radikale fokus op God se liefde en dat dit genoeg is om uiteindelik mense tot ’n nuwe lewe te beweeg. God se wil dat almal gered word, is deurslaggewend”.

Nog ‘n boek wat in een van die Christelike tydskrifte geadverteer word, is ‘n boek van Darrin Hufford met die titel: “Wie is God regtig?” Die subtititel is: “:Die leuens wat godsdiens ons laat glo”. Die boek word in die advertensie deur Tony Campolo, een van die leiers van die Ontluikende Kerk, onderskryf. Hy skryf oor die boek: “’n Boek wat soveel insig bied, maar maklik lees en jou sal help om te verstaan wie God is”. Dit is dieselfde Campolo wat getuig het dat hy deur die “Centering prayer” wedergebore is. Die lys van boeke wat die teologie van die ontluikende kerk propageer, is indrukwekkend lank. As hierdie boeke in Christelike tydskrifte geadverteer word en in Christelike boekwinkels verkoop word, skep dit die indruk by lidmate dat daar niks mee verkeerd is nie en word hulle maklik deur mooi gedagtes beïnvloed.

Sien ook

Skrywe Aan die Moderamen van die Algemene Sinode – Prof Johan Janse van Rensburg
Voorlegging aan die SDK deur ds. Jan Louw Oktober 2012

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: